Vertel jou storie | Tell your story | Balisa ibali lakho

  • 0

Balisa ibali lakho @ithala leencwadi lakho

Tell your story @your library

Vertel jou storie @jou biblioteek

*

Op Dinsdag 28 Junie is twee LAPA-skrywers se storie gebruik om as ’n inspirasie te dien vir ander om ook stories te vertel, ongeag ras, geslag, geloof of ekonomiese agtergrond.

Die projek word deur die Wes-Kaapse Regering uitgerol oor die hele provinsie heen. Verskeie dorpe is reeds besoek en tientalle DVD’s is reeds gevul met gewone mense se stories. Die gehoor het uittreksels gehoor en dit is fassinerend.

Bekende mense soos Dulcie September en Ashley Kriel word ook op hierdie manier gehuldig.

Die idee is egter om ook die onbekende stories neer te skryf. Bonteheuwel was ’n belangrike kern van die struggle en daardie geskiedenis is ook gedenk met ’n uitstalling by gister se geleentheid in die Bonteheuwelgemeenskapsaal.

Dit is egter geen geheim nie dat die boek Kook saam Kaaps ontstaan het as gevolg van Japie Gouws, die uitvoerende direkteur van die ATKV-Groep, se visie om die orale resepte van die Kaapse vlakte te bewaar. Hy het opdrag gegee dat LAPA die twee “anties van die Bonteheuwel”, soos hulle hier bekendstaan, moet opspoor en die boek moet maak.

Gister het Anroux Marais, minister van sport en kultuur in die Wes-Kaap, ’n kopie van die skrywers se boek aan die Bonteheuwel Biblioteek oorhandig as ’n gebaar om te wys dat gewone mense se stories in die biblioteek hoort.

Die twee skrywers is toe na die verhoog genooi om iets oor hulleself te vertel. Eerste aan die woord was Koelsoem Kamalie.

Net daarna was Flori Schrikker aan die woord.

Minister Marais, wat hier op haar knieë staan om die twee vroue af te neem, het daarna die verhoog betree en het almal aangemoedig om hulle eie stories te gaan vertel by hulle biblioteke.

Sy het na die sukses van Kook saam Kaaps gewys en impak wat die boek reeds oor die hele land het. "Wat meer," het sy gesê, "luister mooi: Hier is ’n Moslemvrou en ’n Christenvrou wat hande vat en saam iets bereik het."

Sy wou dit egter nog eens duidelik stel dat hierdie twee vroue hulleself as gewone mense sien, soos hulle ook in hulle eie vertellings gesê het; en die Wes-Kaapse regering soek juis gewone mense se stories.

Iets vir die taalliefhebbers: In die Bonteheuwel sal mense na  die minister op haar knieë kyk en, in die variant van Kaaps wat daar gepraat word, sê: "Die minister is plat." Dit is ’n kompliment wat beteken: "Die minister is self ’n nederige mens."

Ukuze ufumane iinkcukacha eziphangaleleyo ngokuba yintoni na imbali yomlomo, nceda uye kwithala leencwadi engingqini yakho.

*

For more information on oral history, please contact your local library.

*

Kontak asseblief jou plaaslike biblioteek vir meer inligting oor mondelinge geskiedenis.

*

Diegene wat meer wil weet oor die ATKV se projek om mondelinge geskiedenis te bewaar, kan met Benjamin Bock kontak maak by benjaminb@atkv.org.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top