Dit was 1957 en ek was pas op universiteit, ’n skamerige eerstejaartjie wat maar nou net na musiek begin luister het en net ’n klompie langspeelplate besit het.
Vir die heel eerste keer in my lewe kon ek die wonders van klassieke musiek ontdek toe ek sommer heel toevallig ’n langspeelplaat van Dvorak se Nuwe wêreld-simfonie bekom het.
Saterdagaande in die U eie keuse-radioprogram was dit week na week die Nonnekoor uit Casanova of Joseph Schmidt se I am Happy when it’s raining of Bobby Breen se Rainbow on the river of so nou en dan ietsie Afrikaans soos Die spook van Dawid Rosenkrans of Daar onder in die vlei stap ’n mannetjie.
En toe op ’n wonderlike aand was alles skielik anders en hoor ek ’n naam wat ek nog nêrens teëgekom het nie - Mimi Coertse en sy sing Heimwee met die wonderlike woorde “My hart verlang na die stilte van die wye wuiwende veld.”

Die volgende dag het ek by Haarburgers (Bloemfontein se enigste musiekwinkel) die langspeelplaat gaan koop: Mimi Coertse. In die boonste regterhoek was geskryf: ’n Decca Recording.
En skielik was musiek en Afrikaans vir my anders en skielik was daar ’n nuwe naam in my lewe: Mimi Coertse. En haar stem was vir my so uniek en so wonderlik.
Een middag het my geliefde tante Miemie van Kimberley (toevallig met dieselfde naam, maar met verskillende spelling) ons kom besoek. Dit was deur tante Miemie dat ek van boeke bewus geword het en van haar liefde vir Langenhoven en veral vir Afrikaans.
Ek kon met tante Miemie my wonderlike nuwe ontdekking deel en ek onthou haar woorde nog so goed: “Afrikaans is so ’n mooi taal.”
Die volgende jaar is tant Miemie op ouderdom 82 oorlede en ek was tog so bly dat sy ook Mimi Coertse en haar wonderlike Afrikaanse liedere kon hoor.
In latere jare het ek self begin opera sing en na opera op langspeelplate geluister. Op daardie stadium het ek kennis gemaak met Mimi as operasageres met haar wonderlike Caro nome en haar vertolking van Mozart se Koningin van die nag met haar ongelooflike suiwer en hoë note. En Mimi se stem was so uniek soos dié van ’n Callas en ’n Joan Sutherland – ’n stem soos geen ander een s’n nie.
En toe ontmoet ek vir Mimi persoonlik in 1979 gedurende die vyf jaar dat ek humoristiese comprimario-karakterrolle vir die destydse KRUIK en SUKOVS (die kunstestreekrade van die Kaap en die Oranje-Vrystaat) gesing het.
En ja, Mimi die mens was ondeund en snaaks en het nooit voorgegee of gespog of vertel hoe bekend sy oorsee en nou hier in Suid-Afrika was nie.

In die opera Verhale van Hoffmann met Angelo Gobbato as regisseur en David Tidboald as dirigent het Mimi die drie rolle van Olympia, Giulietta en Antonia kom sing. Elke karakter is so verskillend van die ander met verskillende sang- en toneelspelvereistes.
Naas die beroemde Barcarolle in die Giulietta-toneel was daar Olympia, die pop wat meganies opgewen moes word en daarna die veeleisende bekende aria van die poppelied moes sing.
En tot die skok van die operageselskap en met latere negatiewe publieke reaksie van koerante het Mimi besluit sy gaan alles self “lewendig” op die verhoog sing behalwe die poppelied wat vooraf opgeneem moes word, met slegs Mimi wat daar op die verhoog staan en haar mond oop en toe maak sonder ’n enkele geluid.
Met gespannenheid, selfs nog voor openingsaand, onthou ek steeds goed hoe Mimi gesê het: “This show is falling apart!!” Wat die fout was, weet ek glad nie meer nie, maar daardie woorde kan ek steeds onthou.
Ek het self vier rolle in hierdie opera vertolk en aan haar reaksies kon ek agterkom dat sy van my humoristiese vertolking gehou het. En toe sy my later as “my liefie” aangespreek het, het ek gereken sy hou van my as mens ook.

Mimi Coertze (links) en Phlilip de Vos (regs) in Verhale van Hoffmann
’n Storie wat ek ook goed onthou is dié wat Mimi met smaak kom oorvertel het. Mimi en Werner Ackerman, haar destydse man, het ’n vakansiehuis in Bloubergstrand gehad en saans na ’n opvoering het sy self haastig huis toe bestuur. Een aand was dit glo ’n bietjie te haastig en sy is deur ’n verkeersbeampte beveel om stil te hou.
Nadat hy haar motor se lisensienommer neergeskryf het, vra hy haar naam.
“Mimi Coertse.”
Hy het haar glo net een kyk gegee en gesê: “Wel, as jy Mimi Coertse is, is ek Gé Korsten!”
En Mimi het self oor en oor vir haar eie storie gelag en oorvertel.

Gesinsfoto in Blouberg
Gedurende haar besoek aan die Kaap het sy gehoor ek kan foto’s neem en gevra dat ek vir haar en haar gesin in Blouberg moet kom fotografeer. Ek onthou dié middag nog goed, met Mimi se trots oor haar twee aangenome kinders: Werner met sy “Die Fledermaus” T-hemp en Mimi wat haar dogter Mia se hande styf vashou.
My tweede herinnering is toe ek in Pretoria kom optree het met Willem Vogel se musiekgroep in die Brooklyn-teater. ’n Gedeelte daarvan was toonsettings van my versies deur die komponis Albie Louw.
Weens my belangstellings in fotografie het ek foto’s van kreatiewe Suid-Afrikaners geneem en gepubliseer in ’n fotoboek getitel Milieu. My besoek aan Pretoria was die ideale geleentheid om ’n paar Pretorianers te gaan afneem, onder andere Bettie Cilliers-Barnard, Stefans Grové, Joubero Malherbe en natuurlik Mimi Coertse self.
My vriendin, Damaris Loubser, het my twee dae lank goedgunstiglik en vriendelik rondgery van die een persoon na die ander.

Mimi in Waterkloof
Mimi Coertse in haar Waterkloof-huis het my soos in die verlede met groot vriendelikheid ontvang, en my nie vir ’n enkele oomblik gevra het wat ek in Pretoria kom maak het nie.
Ek dink sy het goed geweet, maar tjoepstil gebly en wat die rede was weet ek glad nie.
Wat ek wel van dié middag onthou was haar woorde:
“Ek haat die geluid van die hadidas wat so dag na dag bokant my huis verbyvlieg.”
En dit was die laaste keer dat ek vir Mimi gesien het.
In 2002 het Johan van Rooyen ’n boek getitel Mimi, met bydraes van verskillende bekendes ter ere van haar 70ste verjaarsdag, saamgestel.
My bydrae was die volgende limeriek:
’n Operaster – onse Mimi
hou baie van knoffel en tiemie.
Die knoffelgebrou
is om griep wag te hou.
En tiemie? Vi Do … Re … en Mi …mi.

En voor in my geskenkboek wat vir my aangestuur is, het Mimi geskryf:
Aan Flippie – my liefie
’n Groot soenkie
en drukkie en
Baie dankie
– Mimi.
Op Mimi se 90ste verjaarsdag het ek ’n lang biografiese versie vir haar geskryf, maar ek sal nooit weet of sy daarvan gehou het nie:
Mimi Coertse
Eens in Durban, lank gelede,
was die Coertses heel tevrede.
Hulle Mimi was só pragtig -
’n mooie bybie, ja, so wragtig!
Die liewe kind se eerste skree,
was wrintiewaar ’n hoë C!
Sê haar moeder “Glo vir my,
Hierdie bybie maak ons bly.
Eendag sing sy strakkies Norma
maar nimmer, nimmer Nessun Dorma.
Ons kind is só ’n gawe ding.
Hééldag lank wil sy net sing:
Oor en oor en oor en oor
neurie sy die Pelgrimskoor
en pleks van speel en ginnegaap
sing selwers in haar slaap,
En toe – oplaas op een en twintig
seil Miemsie C so ewe wrintig
na oorsee om te gaan leer
haar diafragma te beheer.
En weldra sing sy gou die wysie
van Parsifal se blommemeisie.
En kort daarna sing sy in Wene
en sug die mense daar: “O hene!
Hier kruip dié vrou ons harte in
as Towerfluit se koningin!
En as die bruid van Lammermoor
is sy ook eintlik glad nie goor!”
En hierna bou ons Miems sowaar
’n yslik grote repertoire.
en was gehore gou-gou gaande
en aan die einde – altyd staande.
En met elke hoë F
het hulle al te gou besef.
Sy’s ’n Boerevrou soos min
daarby ’n kammersängerin.
Maar in haar veertigs het sy weer
na ons land toe t’ruggekeer
en wys sy hoe ons taal kan sing
en sou sy gou ’n trotsheid bring
oor Boereplaas en Woeperdal
waar ’n berggans eens ’n veer laat val -
en elke keer as sy Heimwee sing
kruip sy in ons harte in.
En toe oplaas – na jare tagtig.
word sy ’n Doktor o ja wragtig.
(Nié een wat jou kan opereer nie,
want dít sou sy nie eens probeer nie.)
’n DokTOR met ’n O nie E nie,
en vir dié eer sê sy nie nee nie.
Gou is neëntig jaar verby
en nou sal jy vir Mimi kry
waar al haar pêlle glasies klink
en sy aan haar verlede dink:
Dae vol lag, en soms vol leed.
Dae om nimmer te vergeet.
En selfs – ál loop die tyd verby
sal sy ewig ONSE Mimi bly.
Twee dae gelede het ek gelees dat Onse Mimi oorlede is en kon ek weer met liefde na snitte van haar 1957-langspeelplaat luister. Toe hoor ek weer hoe mooi sing Mimi en hoe ek deur haar vertolking van Afrikaanse liedere besef het hoe mooi is Afrikaans met hierdie woorde uit haar langspeelplaat:
Koud is die wind
waar Dafne droom.
Sy wat so teer en warm was…
Onse Mimi – Mag jy sag slaap.
Van Flippie – jou liefie.
30 April 2026
- Foto’s deur Philip de Vos of uit sy privaatversameling

