Mik-en-tik teenoor selfgerigte leer en toetsbordvaardigheid

  • 1

Onderwysstudente moet nie net bemagtig word met vakkennis nie, maar ook toegerus word met vaardighede wat hulle in staat sal stel om verantwoordelikheid te kan neem vir hulle eie leer, en ook om eendag vir leerders op skool te kan leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir húlle eie leer. Dit is wat Elsie Lubbe dink. Lees ’n gesprek tussen haar en Estelle Kruger rondom die belang van die blindtiktegniek en Elsie Lubbe se LitNet Akademies-artikel:

Die invloed van selfgerigte leergereedheid op die aanleer van die blindtiktegniek

Elsie Lubbe

Ek sien jy is deel van NWU se navorsingsfokusarea wat spesialiseer in selfgerigte leer. Hoe het jy hierby betrokke geraak?

My betrokkenheid motiveer ek graag na aanleiding van die volgende drie aspekte:

  • Reeds in 2014 het die Fakulteit Opvoedingswetenskappe die belangrikheid van selfgerigte leer in die onderwys raakgesien en is ’n navorsingsfokusarea deur die universiteit goedgekeur wat spesifiek navorsing gedoen het in selfgerigte leer. Eerstens vervul metakognitiewe vaardighede ’n belangrike rol tydens die bemeestering van die kennis en vaardighede wat deel vorm van die vakinhoud van rekenaartoepassingstegnologie (RTT). Aangesien metakognitiewe vaardighede noodsaaklik is vir die bevordering van selfgerigte leer het ek besluit om deel te word van die span wat navorsing in dié fokusarea doen.
  • Tweedens is die bevordering van selfgerigte leer deel van die die NWU se onderrig- en leerstrategie 2016–20 wat in 2016 deur die senaat en raad goedgekeur is. Elke dosent by die NWU is dus verantwoordelik om selfgerigte leer te bevorder.
  • Derdens is een van die algemene doelwitte wat vervat is in die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) om leerders op skool toe te rus met kennis, vaardighede en waardes wat hulle nodig het vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing. Onder die beginsels wat vervat is in die NKV is die aanmoediging van leerders tot ’n aktiewe en kritiese benadering ten opsigte van leer. Die antwoord op die “hoe?”-vraag lê vir my in selfgerigte leer.

Teen hierdie agtergrond was die besluit om betrokke raak by die selfgerigte leer navorsingsfokusarea vir my ’n logiese uitvloeisel.

Wat was jou ervaring in die onderwysberoep voordat jy die akademie betree het?

Ek het as pas afgestudeerde student ’n onderwyspos by Hoërskool Ventersdorp aanvaar waar ek verantwoordelik was vir die onderrig van bedryfsekonomie en ekonomie. Aan die einde van my eerste jaar as onderwyser het een van my dosente my gekontak oor ’n deeltydse pos by die destydse Potchefstroomse Universiteit (PUK). Die onderwys is vir my ’n roeping, en aangesien aanbieding ’n sterk onderrigkomponent gehad het, maar ook vir my die geleentheid gebied het om my kwalifikasies in die opvoedkunde te kon verbeter, het ek die aanbod aanvaar.

In 2013 het jy die universiteit se institusionele toekenning vir onderriguitnemendheid ontvang. Hartlik geluk! Wat was die kriteria waaraan jy hiervoor moes voldoen?

Daar was verskeie kriteria waaraan ek moes voldoen – ek dink mens sou kon sê dat daar gekyk word hoe vergestalt die sewe rolle van die onderwyser in jou.

Ten eerste moes ek kon bewys lewer dat ek oor die vermoë beskik om te kan onderrig. ’n Paneel van kundiges het per afspraak by twee geskeduleerde kontaksessies en een keer sonder afspraak kom “klasbesoek” doen. Tydens hierdie sessies is my onderrigvaardighede geëvalueer. Ek moes verder ook ’n portefeuljelêer saamstel. In hierdie lêer moes jy jou onderrigfilosofie verduidelik, bewys lewer van hoe jy assessering doen en rekord hou van jou assessering. Daar is verder ook ’n afdeling vir kurrikulering. In hierdie afdeling moes jy voorbeelde van studiegidsontwikkeling insluit. Ander afdelings wat ook deel was van die lêer, was evaluasies wat deur studente gedoen is ten opsigte van jou onderrig en leer, ’n aanduiding van hoe jy vernuwing in die onderrig- en leersituasie toepas en jou navorsingsfokus.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter omstandighede het hierdie navorsing van jou wat fokus op selfgerigte leer in RTT geïnspireer? Hoe het jy bewus geword van die probleme in die aanleer van die blindtiktegniek en die implikasies daarvan in die onderwys?

Metakognitiewe vaardighede vervul ’n belangrike rol tydens die leerproses, en die QWERTY-toetsbord kan beskou word as die moderne “pen” wat daagliks gebruik word om data mee in te voer, of dit nou is om ’n e-pos vir iemand te stuur, te facebook, inligting te soek of sommer net ’n rekenaarspeletjie te speel.

Aangesien mense die QWERTY-toetsbord op verskillende ouderdomme begin gebruik, probeer baie mense hierdie vaardigheid op hulle eie bemeester sonder dat hulle navorsing gaan doen oor wat die korrekte manier is om dit te doen.

Tydens die kontaksessies wat ek aanbied, het ek waargeneem dat daar min studente is wat teks kan intik sonder om op hulle hande te kyk terwyl hulle tik. Soos reeds genoem, kan een van die redes wees dat hulle self die vaardigheid aangeleer het sonder dat hulle navorsing gedoen het oor die aard van die vaardigheid. Verder moet ook in gedagte gehou word dat in die Suid-Afrikaanse konteks slegs leerders wat RTT as ’n keusevak neem die geleentheid kry om hierdie vaardigheid op skool aan te leer. Aangesien daar ongelukkig nie veel tyd in die RTT-kurrikulum vir die aanleer van hierdie vaardigheid voorsiening gemaak word nie, leer min leerders hierdie vaardigheid volgens die blindtiktegniek en sou die ideaal wees dat RTT-leerders eintlik self verantwoordelikheid neem om ekstra tyd te skeduleer vir die bemeestering van toetsbordvaardigheid en die inoefening van die blindtiktegniek. Nie alle leerders, of selfs studente, beskik oor hierdie vermoë om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie leer nie en moet daarop attent gemaak word sodat hulle lewenslange leerders sal word wat oor vaardighede beskik om aan te pas by ’n veranderende wêreld.

Vir my is dit belangrik om studente nie net te bemagtig met vakkennis nie, maar ook om hulle toe te rus met vaardighede wat hulle nie net in staat sal stel om verantwoordelikheid te kan neem vir hulle eie leer nie, maar ook om eendag vir leerders op skool te kan leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie leer. Ek voel dat indien ek studente kan bewus maak van die waarde van selfgerigte leer en ek verder kan bydra tot die ontwikkeling van selfgerigte-leer-karaktereienskappe by studente, hulle in staat sal wees om hulleself te kan bemagtig om kennis te versamel ten opsigte van die nuutste ontwikkelings, maar ook om voortdurend hulle onderrigstrategieë en benaderings aan te pas om die 21ste-eeuse-leerder in die klas te kan akkommodeer.

Hoe sou jy die konsep selfgerigte leer kortliks verduidelik aan belangstellende (maar oningeligte) onderwysers om hulle meer betrokke te kry by die probleem?

Malcolm Knowles se definisie van selfgerigte leer vorm die basis van my beskouing van selfgerigte leer. Alhoewel Knowles selfgerigte leer as ’n proses beskou, is ek van mening dat dit eerder oor bepaalde vermoëns gaan waaroor ’n leerder moet beskik. Die volgende vyf vermoëns is vir my kenmerkend van selfgerigte leerders:

  • Die vermoë om self verantwoordelikheid vir jou eie leer te aanvaar, byvoorbeeld om die gapings in jou kennis/vaardighede in elke situasie/omstandigheid waarin jy jou bevind te kan identifiseer en daadwerklik ’n poging aan te wend om van weet-nie na weet en van kan-nie na kan te beweeg.
  • Die vermoë om doelwitte te formuleer, wat impliseer dat leerders in staat moet wees om vir hulleself uitdagende, maar bereikbare doelstellings te formuleer ten opsigte van elke leertaak wat hulle moet uitvoer.
  • Die vermoë om hulpbronne (menslik en studiemateriaal) te identifiseer, wat impliseer dat leerders moet weet hoe hulle die beste leer, byvoorbeeld deurdat iemand aan hulle verduidelik (menslik) of deur ’n handboek te lees, ’n video te kyk (studiemateriaal).
  • Die vermoë om leerstrategieë (begripskaarte, rympies) te kies ten einde leerinhoud te bemeester.
  • Die vermoë om hulle eie vordering te evalueer, wat impliseer dat leerders moet leer hoe om te bepaal of hulle verstaan wat hulle lees, of moet weet hoe om ’n leertaak uit te voer. Weet hulle wat om te doen en wanneer om dit te doen sodat hulle kan verstaan wat hulle lees of hoe om die leertaak uit te voer?

In ’n ideale wêreld: hoe sou die implementering van die onderrigraamwerk vir RTT wat jy in jou PhD ontwikkel het, toegepas kon word?

Vir seker is die toepassing van die onderrigraamwerk nie ontwikkel vir die ideale wêreld nie en ek sou graag wou sien dat dit in die RTT-laboratoriums deur die onderwysers geïntegreer word. Geletterdheid is wêreldwyd ’n probleem. Alhoewel daar in die titel verwys word na werktoegangsvaardighede, fokus ek in die onderrigraamwerk op hoe geletterdheidsvaardighede (met spesifieke verwysing na prosa-, dokument- en kwantitatiewe geletterdheidvaardighede) in die RTT-laboratorium ontwikkel kan word ten einde geletterdheid as een van die vaardighede in die werkplek te kan verbeter. Die gedagte van dié onderrigraamwerk is om vir RTT-onderwysers leiding te gee oor hoe om geletterdheidsvaardighede in die bestaande RTT-kurrikulum te integreer en sodoende by te dra tot die verhoging van leerders se geletterdheidsvlak. Die onderrigraamwerk sluit ’n werkboek in. Die doel van die werkboek is nie om enige skoolhandboek te vervang nie, maar om aanvullend tot die bestaande handboeke gebruik te word. Al die aktiwiteite in die boek is gekoppel aan die temas/subtemas wat deur RTT-onderwysers onderrig moet word in die vak. Die aktiwiteite in die werkboek fokus op die aanleer van strategieë wat leerders kan gebruik om beter te verstaan wat hulle lees en ook op die ontwikkeling van prosa-, dokument- en kwantitatiewe geletterdheid.

Jy meld dat die blindtiktegniek in Finland as rekenaarvaardigheid onderrig word in plaas van handskrif ...

a. Wat is die voordele en nadele hiervan?

Ek is absoluut ’n kampvegter vir die onderrig van toetsbordvaardigheid met die klem op die bemeestering van die blindtiktegniek. Leerders begin alreeds op ’n baie vroeë ouderdom die rekenaar gebruik om speletjies op te speel en vir die uitvoering van skooltake. Dit sal vir my wonderlik wees as ek dit kan regkry dat leerders in Suid-Afrika ook die waarde van hierdie vaardigheid in die tegnologiese era waarin ons ons bevind kan besef en hierdie vaardigheid ook reeds in laerskole (vanaf graad 4) in ons Suid-Afrikaanse skole onderrig kan word, want dit hou beslis voordele in vir die leerders. Onder die voordele is hoër produktiwiteit wanneer take op die rekenaar gedoen word, beter-geformuleerde sinne met minder spelfoute ten opsigte van teks wat op die rekenaar getik word, en moontlik kan dit ook bydra tot beter punte wat studente kry vir akademiese toetse wat op die rekenaar gedoen word. Iets wat nogal deel is van assessering op universiteitsvlak.

Die onderrig van die vaardigheid is dus beslis belangrik, maar ek sou my vir seker nié daarvoor beywer dat die vaardigheid bo handskrif in die Suid-Afrikaanse laerskole vir leerders geleer word nie. Net soos babas eers moet kan sit, kruip, staan en loop voordat hulle kan hardloop, is dit belangrik dat leerders eers moet leer hoe om te skryf voordat hulle kan leer hoe om te tik. Alhoewel albei verband hou met fyn motoriese vaardighede, is dit noodsaaklik dat leerders eers die gevoel moet ontwikkel van hoe om alfabetsletters te skryf voordat hulle dit op die toetsbord moet identifiseer. Verder word die alfabetsletters net as hoofletters op standaard QWERTY-toetsborde uitgebeeld, en dit kan ook moontlik verwarring meebring by leerders wat moet leer om te lees, aangesien hulle nie die geleentheid kry om ook die kleinletter te oefen terwyl hulle tik nie.

Laastens het ek ook my bedenkinge oor die invloed van die fisieke ontwikkeling (handgrootte en lengte van vingers) van ’n graad 1-leerder en die gebruik van ’n standaard QWERTY-toetsbord. Ek dink dat nie alle graad 4-leerders se handjies al groot genoeg gaan wees om gemaklik op ’n standaard QWERTY-sleutelbord te pas nie.

b. Is daar nie iets wat verlore gaan as mense nie meer behoorlik kan skryf nie?

Ek koppel “skryf” in die beantwoording van hierdie vraag aan die maak van letters/syfers op ’n papier met ’n pen of ’n potlood en verwys dus nie na die formulering van teks nie. Ja, ek dink ’n mens kan lekker hieroor debatteer. Wat is skryf / wat impliseer “behoorlik skryf”? Soos ek reeds gemeld het, hou skryf (hantering van pen/potlood om letters te maak op papier) verband met fyn motoriese vaardigheid. Daar sal beslis iets verlore gaan as mense nie meer behoorlik kan skryf nie. Alhoewel ons in ’n tegnologiese era leef, word daar van ons verwag om byvoorbeeld vorms met die hand in te vul, ons handtekening te maak, edm, so ons moet ons kinders steeds in die skool leer hoe om te skryf. Wanneer ek besin oor navorsing, verkies ek om te skryf met ’n pen op ’n stuk papier. Vir my help dit om my gedagtes te vergestalt, dus is  ek dat ek goed kan “skryf”, maar ook die blindtiktegniek bemeester het om dié gedagtes effektief elektronies te kommunikeer.

Jou navorsing handel oor die onderrig van onderwysstudente se toetsbordvaardighede.

a. Kan jy agterkom dat hulle hierdie kennis en vaardighede effektief oordra na leerders wanneer hulle by skole werksaam is?

Ek sou graag wou “ja” sê, maar ek kom nie so baie uit in die praktyk (hoofsaaklik net tydens die geskeduleerde werkgeïntegreerde leersessies) om dit met sekerheid te kan sê nie. Moontlik doen ek in die nabye toekoms ’n longitudinale studie hieroor, en dan kan ek ’n navorsingsbegronde antwoord op hierdie vraag gee.

b. Hoe weet die onderwyser die leerder sal self deur al die doelgerigte aktiwiteite werk om toetsbordvaardig te word?

Die onderwyser weet dit nie – ek dink hulle vertrou maar dat die leerder dit sal doen. Daarom is dit so belangrik dat selfgerigte leer op skole bevorder moet word, sodat onderwysers nie hoef te wonder oor of die leerders sélf verantwoordelikheid ten opsigte van hulle eie leer sal aanvaar nie, maar dat hulle wéét dat die leerders dit sal doen.

Die meeste mense in die ouer generasies het waarskynlik dmv selfonderrig geleer om met die mik-en-tik-tegniek op rekenaars te tik en het op hierdie manier redelik vaardig geword. Hoekom is jou metode meer effektief as dit uit die oog van die buitestander lyk na baie werk wat ’n mens self moet baasraak? Verduidelik asseblief.

“Redelik vaardig” is ’n relatiewe begrip. In my artikel word dit pertinent gestel wanneer ’n persoon as vaardig beskou kan word. Wanneer ek met my studente oor vaardigheid in die klas praat, vergelyk ek dit altyd met elke individu se vermoë om te sing. As iemand vir my vandag vra of ek kan sing, gaan ek vir seker ja sê. Die verskil tussen my vermoë om te sing en ’n beroemde sanger/sangeres s’n lê in die feit dat ek nie daarmee sal kan geld verdien nie. Alhoewel ek dus kan sing, doen ek dit nie goed genoeg nie – daar is ruimte vir verbetering. Iemand wat van die mik-en-tik-tegniek gebruik maak om data in te tik, kan wel tik, maar iemand wat kan blindtik, kan dit soveel beter doen.

Ek wil ook met jou verskil ten opsigte van die ouer generasie. Ek is van mening dat daar meer van die ouer generasie is wat kan blindtik as die jonger generasie. Die rede waarom ek so sê is dat daar ’n tyd was toe hoërskoolleerders in standerd 6 en 7 die geleentheid gehad het om tik as skoolvak te neem. In hierdie vak het hulle onder andere onderrig in toetsbordvaardigheid ontvang. Verder is die spoed waarteen leerders wat tik as skoolvak geneem het, tydens eksamensessies geassesseer. Leerders het dan ook ’n endossement op hulle matrieksertifikate gekry wat aangedui het hoeveel woorde per minuut hulle kon tik. Vandag is daar nie meer dieselfde geleentheid om hierdie vaardigheid op skool te bemeester nie; die moontlikheid bestaan dus dat daar meer van die nuwe generasie is wat nie die blindtiktegniek aangeleer het nie.

Die blindtiktegniek is nie ’n nuwe tegniek wat gebruik kan word om inligting in te tik nie. Dit is alreeds in 1888 vir die eerste keer deur Frank McGurrin op ’n tikmasjien gebruik in ’n tikkompetisie tussen hom en Louis Taub. Van die redes waarom tegniek bo die mik-en-tik-tegniek aanbeveel word, is dat dit bydra tot groter produktiwiteit van rekenaargebruikers en skryfvaardigheid (formulering van langer en beter sinne) op die rekenaar. Die bemeestering van die vaardigheid is nie baie werk nie, maar vereis toegewydheid en doelgerigte oefening, albei aspekte wat deel van die karaktereienskappe van selfgerigte leerders is.

Jou studie is vanuit ’n kwantitatiewe benadering gedoen. Is jy bewus van enige kwalitatiewe navorsing wat in hierdie verband gedoen is? Sou dit aanvullend tot jou navorsing kon wees? Indien wel, hoe en in watter mate?

Ja, daar is al kwalitatiewe navorsing hieroor gedoen, alhoewel ek nog nie artikels gelees het waarin daar kwalitatiewe navorsing in een studie gedoen is ten opsigte die blindtiktegniek en selfgerigte leer nie.

’n Mens kan uit enige navorsing wat in jou studieveld gedoen is, iets leer, en daarom gaan ek beslis in my volgende navorsingsprojek ook van kwalitatiewe meetinstrumente gebruik om data mee in te samel.

Waarmee het jy gesukkel in hierdie navorsingsproses? Het jy enige kritiek van huidige onderwysers gekry?

Die navorsing het ek gedoen met eerstejaarstudente wat van voorneme is om eendag RTT as skoolvak te gaan onderrig, dus is huidige RTT-onderwysers in die praktyk glad nie by hierdie navorsing betrek nie.

Die studente het die navorsing positief ervaar, aangesien hulle die waarde daarvan besef om toetsbordvaardig te wees deels omdat die meeste van hulle opdragte in getikte formaat moet inlewer op universiteit, en omdat hulle self die vaardigheid eendag in die praktyk vir RTT-leerders moet gaan onderrig.

Watter verrassings het jy gekry in hierdie navorsingsprojek?

Alhoewel ek gedink het dat daar ’n verband gaan wees tussen die saamstel van die toetsbordvaardigheidhandleiding en die mate waarin die studente se tikaanslae verbeter het, het dit nie so geblyk uit die navorsingsresultate nie. Sulke resultate is deel van navorsing en kon gelukkig verklaar waarom dit so is.

Wat het jy as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van jou bevindinge?

Navorsing kan nie lukraak gedoen word nie. Dit moet deeglik beplan en bestuur word as mens wil hê dat die navorsing die antwoorde moet verskaf op die probleme/navorsingsvrae wat hulle oorsprong het in die praktyk.

Net soos die doen van navorsing ’n tydsame proses is, is die publikasie van bevindinge ook ’n tydsame proses, maar ’n wonderlike platform waar kundigheid gedeel kan word.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?

Ja, en ek is baie opgewonde daaroor. Alvin Toffler het gesê: “The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn, and relearn.”

Ek werk tans aan ’n navorsingsprojek waarin ek gaan fokus op “Learning, unlearning and relearning” van toetsbordvaardigheid. Alhoewel ek slegs gaan fokus op hoe die “unlearning” van die mik-en-tik-tegniek en die “learning” en “relearning” van die blindtiktegniek plaasvind, dink ek dat die navorsingsresultate wat hieruit voortspruit, moontlik ook in ander studievelde toegepas sal kan word, byvoorbeeld hoe om die foutiewe uitvoering van ’n voorhandhou in tennis af te leer en dit dan daarna reg aan te leer.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Wayne Kitching

    Interessante artikel. Ek stem volkome saam met die idee van selfonderrig. Dit is een van die belangrikste vaardighede wat nodig is om suksesvol te wees in die snel-veranderende beroepslewe.
    Ek wil graag twee punte maak:
    1. Die QWERTY-toetsbord se uitleg is nie optimaal nie en is oorspronklik ontwikkel om tiksters se spoed te verlaag om nie te ou meganiese tikmasjiene te laat "jam" nie. Hoekom nie die kinders leer om op bv die DVORAK-toetsbord te tik nie? Die rede hoekom laasgenoemde uitleg nie gewild is nie, is omdat dit te veel moeite vir die meeste mense is om weer te leer tik, veral as hulle redelik behendig is met die QWERTY-uitleg. Kinders sal in elk geval die QWERTY-uitleg leer uit algemene gebruik. Alle moderne bedryfstelsels (operating systems soos Windows, MacOS en Linux) kan oorskakel tussen verskillende uitlegte. As 'n groot persentasie leerders die DVORAK-uitleg leer, sal dit 'n aanvraag skep wat sal beteken dat toetsborde met dié uitleg meer geredelik beskikbaar sal word in handel.
    2. Deur uitsluitlik te fokus op die baasraak van bestaande tegnologie, is dit moontlik dat die aangeleerde vaardighede verouderd kan wees teen die tyd dat die leerder die beroepswêreld betree. So byvoorbeeld het duisende leerders jare gelede snelskrif geleer, 'n vaardigheid wat deesdae baie selde gebruik word. Niemand kan met sekerheid sê hoe mense met rekenaars sal omgaan oor 20 of selfs 10 jaar nie. Ek het byvoorbeeld in 2001 my graad in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese behaal, en het nie verwag dat oor 10-15 jaar, slimfone, tablette en sosiale media sou oorneem nie.
    "Touch screens," stemherkenning, handskrifherkenning, sal sekerlik 'n groter wordende rol speel in die toekoms. Miskien selfs direkte neurale koppelvlakke (interfaces) - alhoewel ek ongemaklik voel met die konsep. Miskien moet leerders rekenaars of tablette gebruik met speletjies wat vereis dat op verskillende maniere met die toestel gekommunikeer word, sodat hulle die heeltyd moet innoveer. Miskien sal dit sin maak om met kenners in die veld van mens-masjien-interaksie (human machine interaction) te skakel oor wat hulle dink wat die toekoms inhou. Wie weet, miskien selfs 'n moontlikheid om snelskrif met 'n stilus op 'n tablet te skryf?
    Ek hoop dat my kommentaar 'n positiewe bydrae lewer tot die voorbereiding van ons jeug om kompeterend te wees in die wêreld van die toekoms.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top