#MeToo, #TimesUp ... en die Nobel-literatuurprys duik in die hek

  • 1

Dit het begin met Harvey Weinstein. Nie lank nie, of Bill Cosby word ook genoem. So ook ’n string mans in ander bedrywe.

Die era waar mans tot verantwoording geroep word vir hul seksuele wanpraktyke, het met ’n #MeToo-ontploffing afgeskop. Aanvanklik was die mening dat #MeToo so doeltreffend is omdat die klaagsters almal bekende aktrises is en die beskuldigde een van die suksesvolste, rykste en invloedrykste persone in Hollywood. #MeToo sou ’n vinnige dood sterf, is voorspel.

Wat niemand kon voorspel nie, is dat die aktrises sou saamspan met aktiviste wat om den brode sulke gevegte veg. Die gevolg was #TimesUp, wat ’n aktivistiese droomvennootskap tussen die aktiviste en die beroemdes tot gevolg gehad het. Kort voor lank was dit ook nie beperk tot Amerika nie. Vroue dwarsoor die wêreld het stem dik gemaak. In Suid-Afrika, vreemd genoeg, was die reaksie baie gedemp. Die Jennifer Ferguson-Danny Jordaan-geveg word by die dag al meer bisar, en sal waarskynlik op die ou end ’n politieke eerder as kriminele oplossing vind.

Toe, ’n week terug, word daar aangekondig dat daar hierdie jaar nie ’n Nobelprys vir literatuur toegeken sal word nie. Dis die eerste keer sedert 1949 dat dit gebeur. Die rede? ’n Seksskandaal. Harvey Weinstein: die Sweedse weergawe.

Daar word beweer dat Jean-Claude Arnault, ’n Franse fotograaf wat getroud is met ’n lid van die Sweedse akademie wat die prys toeken, oor ’n tydperk van 20 jaar seksuele misdrywe met 18 vroue gepleeg het. Van hierdie misdrywe het plaasgevind op eiendom van die Akademie, of terwyl hulle besig was met programme wat deur die Akademie befonds is.

Terwyl dit op sigself seker nie voldoende was om die weerhouding van die Nobelprys te regverdig nie (daar is byvoorbeeld nie enige aanduiding dat pryswenners onder sy slagoffers was nie), was daar verdere kommerwekkende inligting wat aan die lig gekom het. Arnault het die name van pryswenners, minstens sewe van hulle, onder wie Bob Dylan, gelek. Gegewe die feit dat daar hewige weddenskappe met groot somme geld aangegaan word rondom die pryswenners, het dit geweldige finansiële implikasies.

Die eerste vroulike permanente sekretaris van die Akademie, Sara Danius, het toe politieke verantwoordelikheid hiervoor aanvaar, alhoewel daar geen aanduiding is dat sy bewus was van, of betrokke was by, die hele situasie nie. Sy het bedank. Arnault se vrou, die digter Katarina Frostenson (wat aktief moes meegedoen het aan Arnault se vergrype, want waar anders het hy vooraf die name van die pryswenners gekry?), het besluit sy bly aan. Ander lede van die Akademie het toe uit protes bedank, en die publiek het protesoptogte by die Akademie se kantore begin hou. Eers hierna het Frostenson bedank, waarskynlik onder druk van die oorblywende lede van die Akademie.

Daar is natuurlik een belangrike tegniese vraag wat in die lug bly hang. Lede word lewenslank aangestel, en hul aanstellings word net by sterfte beëindig. Hulle mag hul posisies vakant laat, maar hulle bedank nie. Kan hierdie bedankings dus aanvaar word? Hoe dit ook al sy, die bedankings het een belangrike gevolg gehad: van die 18 lede wat veronderstel is om die Nobelprys toe te ken, het net 10 oorgebly. Net agt is ingevolge hul reglemente nodig om te besluit oor die toekenning van die prys, maar die Akademie het wyslik besluit om die toekenning eerder tot met die volgende siklus uit te stel.

Intussen het koning Carl XVI Gustav aangekondig dat die reglemente hersien sal word sodat ’n soortgelyke situasie verhoed word. Die relevantheid van die literatuurprys, asook die wyse waarop daar op ’n wenner besluit word, word sedertdien druk bespreek. Kriminele ondersoeke deur die Eenheid vir Ekonomiese Misdrywe van die Sweedse polisie het ook alreeds begin.

Die prestige van die Nobelprys, die legitimiteit van een van die belangrikste pryse in die wêreld, is in die gedrang omdat een man nie sy drange kon of wou beheer nie.

Die waarskuwing vir ander instellings, ongeag grootte of mag? #TimesUp.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top