#MeToo en #TimesUp: die nadraai

  • 1

Ronan Farrow se reeks artikels wat Harvey Weinstein se seksuele misdrywe ontbloot het, was die begin.

Dit het soos ’n Hollywood-draaiboek gelees. Sodra die ergste stof gaan lê, en die finansierders van lokettreffers besef hulle sit op ’n potensiële goudmyn, gaan daar ’n fliek hieroor gemaak word. Dis net te ryk teelaarde om nie ontgin te word nie. ’n Invloedryke filmbaas, mooi en aanloklike jong aktrises, vergrype in die bekendste hotelle in die bedryf, toesmeerdery deur studio’s om hulle finansiële belange te beskerm, dis als daar. Dan is daar die jong verslaggewer wat sy loopbaan in die weegskaal plaas om die waarheid aan die wêreld te vertel, die druk wat op hom en sy nuusredakteur geplaas was, vraagtekens oor die rol van die polisie, en meer.

Soms is die waarheid vreemder as fiksie.

Farrow se artikels het ’n byenes oopgekrap wat vinnig na ander bedrywe versprei het. Selfs die Nobelprys vir Literatuur het in die slag gebly. Hotelle, die restaurantbedryf, huishulpe, immigrante se werksbeskerming – kortom, elke arena waar vroue in arbeidsverhoudinge staan met mans, het onder die loep gekom. Die hutsmerke #MeToo en #TimesUp as strydkrete is opgeneem deur verskeie vroueregte-organisasies onder die sambreelnaam Women’s March. ’n Fonds is gestig om vroue se regte in die howe te verdedig. Feitlik weekliks is daar nou protesveldtogte om die aandag te vestig op nog oortreders wat aan die kaak gestel word.

Die nuutste is die beweringe deur Christine Blasey Ford omtrent Brett Kavanaugh, Trump se nominasie vir regter van die hoogste Amerikaanse hof. Women’s March het dadelik in aanvulling tot hul protes by die senaatsverrigtinge om sy nominasie te bevestig, ook begin om individuele senators te teiken om hulle aan te moedig om teen hom te stem. Op 27 September gee die senaat die geleentheid aan Ford om haar beskuldigings tydens openbare verrigtinge te lug, en Kavanaugh sal dan die geleentheid hê om daarop te reageer.

Aktiviste en glanspersoonlikhede het saamgewerk om by die Oscars en ander hoëprofiel sosiale geleenthede hulle standpunte te stel.

Dis als goed en wel, maar wat is die nadraai?

Harvey Weinstein is krimineel aangekla. Bitter min ander beskuldigde mans gaan die binnekant van ’n hof sien – behalwe Kavanaugh, indien hy as regter bevestig word. Die meeste beskuldigde mans is inderwaarheid yslike skeidingspakkette aangebied deur die onderskeie maatskappye waar hulle hul misdrywe sou gepleeg het.

Aan die ander kant is daar ’n oorreaksie om tog nie as ’n sekspes beskou te word nie, en maatskappye het nuwe reëls begin opstel om kontak tussen mans en vroue te reguleer. (Kevin Spacey is natuurlik ’n waarskuwing dat ook kontak tussen persone van dieselfde geslag met omsigtigheid hanteer moet word.)

Met elke nuwe fliek wat deesdae vrygestel word, word daar allerhande insetsels oor die fliek, prettige vinjette met die sterre van die flieks en dies meer op die internet geplaas. Die laaste ruk is dit nie meer veilig om op Instagram te gaan sonder om een of ander insetsel oor A simple favor, die nuwe Anna Kendrick / Blake Lively-fliek, te sien nie. Óf hulle is besig om skemerkelkies op die verhoog voor te berei, óf Lively word in ’n tuxedo gesien; of daar word kort grepies uit die film gewys.

Die insetsel wat my die meeste laat dink het, wys Lively, Kendrick en hulle direkteur Paul Feig in ’n vergadering met verteenwoordigers van ’n ateljee. Dis nie deel van die film of geposeer nie, dis ’n regte vergadering waar die geldsake bespreek word. Natuurlik word die besonderhede nie gebeeldsend nie. Die ateljeeverteenwoordigers, ’n man en ’n vrou, sit aan die hoof van die tafel. Op die hoek, skuins langs die man, sit Kendrick, met Lively langs haar. Aan die oorkant van die tafel, skuins langs die vrou, sit Feig. Net nadat hulle ’n ooreenkoms bereik, reik Lively verby Kendrick om die ateljeeverteenwoordigers se hand te skud. Die man hou onmiddellik albei sy hande in ’n hensop beweging in die lug, en sê: “No I’m not even allowed to do that.” Die vrou strek verby hom en skud ’n sigbaar verbaasde Lively se hand, en daarna Kendrick se hand.

Dus is selfs kontak waar net jou hand in kontak kom met ’n persoon van die teenoorgestelde geslag se hand, ten aanskoue van drie ander getuies, nou verbode? Dit herinner sterk aan Midde-Oosterse sjaria-wetgewing wat bepaal dat persone van teenoorgestelde geslagte net in naaste familieverband aan mekaar mag raak, en waar selfs handskud tussen ’n man en ’n vrou ontugtig en dus strafbaar is.

Sulke reëls bied nie ’n vyeblaar se beskerming aan vroue teen sekspeste nie. Verkragters en molesteerders sal nog steeds voortgaan, veilig in die wete dat selfs as hulle uitgevang word, hulle met ’n vet pensioen sal uittree. Al wat sulke reëls doen, is om selfs onskuldige, alledaagse kontak verdag te maak.

Sekspeste sal ophou net as daar daadwerklike gevolge aan hul dade gekoppel word. Dank hulle af sonder pensioen. Swartlys hulle binne hulle bedryf. Daag hulle voor die hof. Laat hulle die moontlikheid van tronkstraf in die gesig staar. Straf hulle vir hul misdrywe, moet hulle nie daarvoor beloon nie. Indien hulle skuldig bevind word, registreer hulle op ’n lys vir seksoortreders.

Net daadwerklike, negatiewe gevolge gaan die huidige sekspeste in hul spore stuit.

En vir die toekoms? Leer seuntjies dat dogtertjies nie net daar is vir seks nie; dat “nee” inderdaad “nee” beteken; dat hulle vroue moet respekteer. Leer hulle ’n ander tipe manlikheid, een wat nie op toksisiteit en machismo gebaseer is nie. Leer dogtertjies dat hulle nie onderdanig aan mans is nie. Leer hulle dat hul hoofdoel in die lewe nie is om mans gelukkig en tevrede te hou ten koste van hul eie geluk en vrede nie.

Dit beteken die samelewing soos ons dit ken, “beskawing” soos ons dit ken, moet op sy kop geswaai word.

Dis nodig. En dis goed so.

  • 1

Kommentaar

  • En dan die skokkende foto van ‘n skoolmeisie wat seks met ‘n seun in ‘n klaskamer het en daaroor lag. Party meisies het seks om toelaes van die staat vir ‘n kind te bekom. Een van my kollegas, ‘n vrou, het ons gereeld openlik en spottend oor ons sekslewe uitgevra. Sy was ‘n vakadviseur van lewensvaardighede! Vreemde wêreld van morele verval waarin ons lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top