Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika deur Jaco van Wyk: ’n lesersindruk

  • 0

Foto: Hennie van Deventer

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Jaco van Wyk
Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika
In samewerking met Dream Africa-uitgewery

Geen ander spesie op aarde lewer soveel onvergeetlike individue op nie, hetsy weens hul sterstatus, heldedade of kwaaddoenery. Om geen ander dier is soveel legendes geweef of kleef daar soveel raaisels en misterie aan nie.

Die olifant, grootste van alle diere, is voorwaar ’n unieke verskynsel in die natuur.

Oor olifante is al biblioteke vol boeke geskryf: oor hul sosiale strukture, rituele, habitatte, hebbelikhede en gedragspatrone. Baie is ryklik geïllustreer met dramatiese foto’s.

Van olifante hang skilderye in die wêreld se voorste kunsgalerye, is liedere gekomponeer en staan beelde in beroemde museums soos Amerika se Smithsonian. (In Suid-Afrika ook in Letaba, by die Voortrekkermonument en Sun City.)

Hier ter lande het ’n Pretoriase leerkrag met ’n lewenslange passie vir die groot diere pas die uitdaging aangedurf om tot die boekemark oor olifante toe te tree.

Jaco van Wyk se boek, Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika (in samewerking met Dream Africa-uitgewery), is vir hom die verwesenliking van ’n lewensdroom; aangevuur deur onder meer die betowerende belewenis van aangesig tot aangesig wees met ’n sogenaamde honderdponder, ’n indrukwekkende ivoordraer, 20 jaar gelede.

Die vraag is: Is syne nie maar net nog ’n olifantboek in ’n lang ry nie? Die antwoord ontdek jy gou as jy die formidabele publikasie van 225 bladsye met talryke relevante foto’s op duursame glanspapier opneem.

In die woorde van die natuurkundige Johan Marais in die voorwoord, “trakteer [die outeur] ons deur sy passie met staaltjies en geskiedenis, soms met gruwelike en verbysterende informasie”. By daardie woorde wil ek aanhaak as ek verklaar: Dit is beslis ’n boek met ’n eie stem hierdie een. Jaco en Dream Africa het ’n boek gelewer waarsonder geen boekery oor olifante durf wees nie.

In Van Wyk se boek word die fassinerende spore van ’n formidabele klomp olifante gevolg. Dit sluit in die Krugerwildtuin se sogenaamde Manjifieke Sewe: Dzombo, Kambaku, Mafunyane, Ndlulamithi, Shawu, Shingwedzi en João (die Kruger se grootste ivoordraer?), waarvan die tande ongelukkig in 1984 afgebreek het en nooit gevind is nie. Maar daar was verreweg nie net sewe manjifieke olifante nie.

Van Wyk sonder 40 kranige grootvoete uit en lewer oor elk ’n pikante klein “biografie” wat die leser se kennis verbreed, tot nuwe insigte lei en plek-plek lekker amuseer. Onder sy 40 uitverkorenes – ’n subjektiewe seleksie wat hy oop verklaar vir debat – kom ’n mooi klompie uit buurlande, maak ook matriarge hul buiging en is die uitsonderlikheid van hul tande of ander fisieke eienskappe nie al maatstaf nie.

Die omvattende en diverse terrein wat hy bestryk, is klaar van die betekenisvolle merkwaardighede van die boek en skep ruimte vir die insluiting van juwele wat in ’n enger benadering maklik verlore sou raak. Die “reus van die Hoanib” wat Suid-Afrika se Manjifieke Sewe sou verdwerg, val in die kategorie. Hierdie leser sou nooit kon raai nie dat die wêreld se grootste olifant (skouerhoogte 4,42 m) uit Kaokoland kom.

Van die “gruwelike en verbysterende informasie” waarna die voorwoordskrywer verwys, kom uit die jagveld waar jagetiek, goeie oordeel en respek vir die natuur nie altyd staande bly voor geldsug, oorontwikkelde ego’s en wrede bloeddorstigheid nie. Dat verskeie jagters in hul leeftyd elk derduisende olifante kon afmaai, is bloedstollende statistieke.

Van Wyk huiwer nie om die waarheid oop te vlek oor ’n besonge jagboek met Africana-waarde, Kambaku! deur ’n grootwildjagter soos min Harry Manners, nie. Soos hier dekades al gelede in en oor die boek gelieg en bedrieg isarry Manners bue, , selfs met behulp van fopfotografie, laat party van die hedendaagse sosiale media se ergste liegbekke soos amateurs lyk.

Dan was daar in die sfeer van grootwildjag ook ’n karakter soos olifantstroper en avonturier Bvekenya Barnard uit die berugte Crook’s Corner. Barnard het in sy tyd byna kultusstatus verwerf. Sy beweerde doen en late op jagtogte wil-wil plek-plek egter na pure onsin klink. Oor sy eerbied vir die waarheid pak maar donker wolke saam.

Dalk genoeg om van die windmaker-jagter van die vorstelike Dhlulamiti die volgende vir perspektief aan te haal: “Hy het met smaak vertel hoe hy die grensbaken tussen Suid-Afrika en Mosambiek losgewikkel en heen en weer verskuif het, afhangend van watter land se polisie hom in hegtenis wou neem!”

Maar terug na die olifante self, die hart en siel van die boek. Die soberende mededeling dat die geen van die groot ivoordraers reeds uitgesterf het en die voldonge feit dat daar nie op ’n volgende generasie “langtande” staatgemaak kan word nie, maak hul stories net des te meer van waarde.

Oor gewig, skouerhoogtes en omvang van pote bied Van Wyk ’n skatkis van inligting. Dit is egter sy karakteriserings wat hoogs bekoorlik is. Hy skryf:

Van die bulle sou ’n mens amper op sig aanval. Ander sou hulle uit die voete maak as hulle slegs snuf in die neus van ’n mens gekry het. ’n Derde groep het van mense se nabyheid gehou en was lief om in en om kampe te beweeg.

Onder die iesegrimmiges noem die skrywer die beroemde Mafunyane, Ndlulamithi en Tshokwane en onder die sagsinniges Shingwedzi, die “rustige reus”.

Van almal is daar natuurlik stories. Omdat Tshokwane die voorblad haal, vertel ek syne as tiperend van die omgekrapte soort. Trouens, daardie foto waarop die stof so staan, vertel die storie self beter as wat woorde kan. Dit is geneem deur die natuurfotograaf Daryl Balfour tydens ’n amper noodlottige stormloop in Desember 1992.

Balfour en sy vrou Sharna was besig met ’n boek oor Afrika-olifante. Hy het Tshokwane se aandag probeer trek deur met sy trouring teen die driepoot te tik. Die geluid het ’n verwoede reaksie uitgelok. Balfour is deur die slurp getref en het soos ’n vrot vel tot in ’n doringbos getrek, die olifant op hom met sy massiewe pote wat skop en trap. Die arme man kon sien hoe die een reuse-ivoortand reg op sy gesig afkom – die doodskoot, het hy gedink.

Wat hom gered het, was ironies genoeg die verwoede bul se reusetande. Tshokwane het blykbaar afgebuig om Balfour met die basis van sy slurp te verbrysel. Toe steek sy tande in die grond vas.

Die fotograaf se lewe was lank aan ’n draadjie, maar uiteindelik is hy tog wonderbaarlik gered. Ook sy kamera met die dramatiese foto’s waarvoor hy amper met sy lewe geboet het, het ongeskonde uit die konfrontasie gekom.

Die kalme Shingwedzi was ’n teenpool. Sy rustige geaardheid is benadruk toe Danie Marais, ’n padvoorman met ’n reputasie vir vinnig ry, een aand om ’n draai kom en die niksvermoedende olifant op die boud tref. Laasgenoemde se reaksie was bloot om op die enjinkap van die bakkie te gaan sit. Die bakkie was ’n wrak, maar benewens ’n gekrenkte ego en skok, het Oom Daan (nes Shingwedzi) ongeskonde daarvan afgekom. Sê nou net daardie olifant was Tshokwane!

Van Wyk vertel insiggewend oor naamgewing. Die naam Mandleve – nommer een onder die Manjifieke Sewe – beteken byvoorbeeld “ore” in Tsonga. Die herkoms van die vernoeming is interessant genoeg ’n mens: die bekroonde veldwagter Louis Olivier wie se bakore al op skool vir hom die bynaam verdien het. Toe word dit sy lewende monument.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top