"Mensehandel is ’n verskuilde, misdadige bedryf": ’n onderhoud met Beatri Kruger

  • 1

.............

“Mensehandelaars is uitgeslape en stel vas wat is hul potensiële slagoffers se drome en kwesbaarhede. Hulle word dan mislei en gelok na ’n ‘beter lewe’ met sogenaamde glansryke geleenthede vir werk, opleiding, wêreldreise of wat ook al die slagoffer se drome is.”

.............

Cliffordene Norton gesels met Beatri Kruger oor haar LitNet Akademies-artikel: “Die koop en verkoop van kinders in Suid-Afrika – behoorlik gestraf, of ’n ware winskoop?

Na aanleiding van jou navorsing met hoeveel kinders word daar jaarliks handel gedryf?

Soos in die res van die wêreld is daar ook nie in Suid-Afrika akkurate, amptelike statistiek oor die presiese omvang van mensehandel nie. Daar is baie redes hiervoor. Indien iemand se motor gesteel word, word dit dadelik aangemeld by die polisie. Dit is nie die geval in mensehandel nie. Hoekom nie? Mensehandel is ’n verskuilde, misdadige bedryf. Uitgeslape handelaars werk meestal agter die skerms, van waar hulle hul slagoffers op verskeie maniere ongesiens beheer en uitbuit. Hoewel slagoffers dikwels sowel fisieke as sielkundige marteling verduur, is hulle gewoonlik te bang vir vergelding om handelaars se misdadige optrede aan te meld. Hierdie houvas op slagoffers verseker dus as’t ware die klandestiene voortbestaan van dié bedryf. Dít maak mensehandelaars vreesloos teenoor die gereg, en die misdaad van mensehandel dikwels straffeloos.

Verder is mensehandel ’n proses van veelvuldige misdade deur meerdere oortreders wat hul slagoffers voortdurend op nuwe, slinkse maniere beheer en uitbuit. Die misdade word selde aangemeld, onder andere weens slagoffers se vrees vir vergelding, of as gevolg van die komplekse “traumaband” wat soms tussen slagoffer en handelaar ontwikkel. Juis daarom sê Alexis Aronowitz: “Because trafficking is a criminal, clandestine operation, there will always remain a dark number of victims and offenders who are never identified.” Desnieteenstaande is tydens hierdie navorsing tot op hede reeds 21 sake opgespoor waar misdadigers aan kinderhandel in Suid-Afrika skuldig bevind is. Die navorsing duur voor.

Waarom het jy kwalitatiewe literatuurstudie en regsontleding gebruik om jou navorsing te doen?

Die metode is gepas vir hierdie ondersoek. Bo en behalwe ’n literatuurstudie, is die regsontleding van tersaaklike internasionale en streekskonvensies, plaaslike wetgewing asook hofsake tydens die ondersoek vereis.

Van waar jou belangstelling in mensehandel en die bekamping daarvan?

Mensehandel is ’n misdaad wat slagoffers op ’n slinkse wyses verniel en hul menseregte vertrap. Dit moet stop. Wetgewing en die toepassing daarvan in hofsake is ’n onontbeerlike instrument om mensehandelaars te stuit en geregtigheid vir slagoffers te bewerkstellig. Enigeen kan in die strik van handelaars beland – jou kind, jou vriend of jy self. Dit is dus sinvol en bevredigend om regsmiddele ter bekamping van die misdaad te ondersoek, leemtes uit te wys en aanbevelings te maak om geregtigheid toenemend te verseker.

Watter faktore dra daarnatoe by dat Suid-Afrika ’n “spilpunt vir mensehandel” is?

Uit onlangse navorsing, asook ’n oorsig van die hofsake waarin handelaars skuldig bevind is, blyk dit duidelik dat mensehandel ’n onbetwisbare werklikheid in Suid-Afrika is. Daar is velerlei risikofaktore wat mense se kwesbaarheid om in mensehandel vasgevang te word, verhoog.

Mensehandelaars is uitgeslape en stel vas wat hul potensiële slagoffers se drome en kwesbaarhede is. Hulle word dan mislei en gelok na ’n “beter lewe” met sogenaamde glansryke geleenthede vir werk, opleiding, wêreldreise of wat ook al die slagoffer se drome is.

Risikofaktore sluit in ’n gebrek aan werks- of opleidingsgeleenthede, armoede, huislike omstandighede van gesinsgeweld, politieke onstabiliteit waarvan slagoffers wil ontsnap en so meer. In 2019 het ECPAT (End Child Prostitution, Child Pornography and Trafficking of Children for Sexual Purposes) se navorsing bevind dat Suid Afrika ’n middelpunt vir kinderhandel en ’n prima bestemming is van waar internasionale sekshandelsindikate sake doen. Doelgerigte optrede teen kinderhandel in Suid-Afrika is dus noodsaaklik en dringend.

In jou artikel noem jy dat die plegers van die ernstigste mensehandelmisdade nie by die kinderbeskermingsregister ingesluit is nie. Wat weerhou die wetgewer daarvan om dit te doen?

Een van die leemtes wat hierdie navorsing uitgewys het, is dat die Kinderwet versuim om die plegers van ernstige mensehandelmisdade by die kinderbeskermingsregister in te sluit. Dus is daar aanbeveel dat hierdie leemte deur wetswysiging reggestel word om te verseker dat veroordeelde plegers van ernstige mensehandelmisdade weggehou word uit instansies waar hulle met kinders kan werk. 

Kinders in kinderhuise (sonder ouers) kan seker as ’n groter risiko beskou word. Is daar enige addisionele wetgewing wat hierdie kinders beskerm?

Handelaars beskou kinders as ’n maklik verhandelbare kommoditeit, omdat hulle kwesbaar is en makliker gemanipuleer kan word. Die wetgewing teen mensehandel beskerm alle kinders, maar bevat nie addisionele bepalings vir kinders in kinderhuise nie. Die Kinderwet 38 van 2005 bevat egter uitgebreide bepalings om alle kinders in watter omstandighede hul ook al verkeer, te beskerm.

Volgens jou artikel bepaal die wet dat ’n persoon wat skuldig is aan mensehandel, ’n maksimum boete van tot R100 miljoen, of lewenslange gevangenisstraf, of beide kan ontvang. Wat is die minimum straf wat mensehandelaars ontvang? Voel jy die straf is regverdig?

Die Prevention and Combating of Trafficking in Persons Act 7 van 2013 bevat nie ’n minimum straf vir handelaars nie. Die ontleding van hierdie wet toon dat dit grotendeels aan internasionale standaarde voldoen, ook wat betref die voorsiening vir gepaste vonnisse. ’n Oorsig van skuldigbevindings in 16 kinderhandelsake bevestig dat handelaars suksesvol vervolg en in die meeste gevalle swaar gestraf is.

In die saak van S v Seleso het twee vrouehandelaars ’n minderjarige meisie met geweld gedwing om gereeld op die webtuiste streamatemodels.com aanlyn seksuele dade uit te voer na gelang van wat betalende kliënte vereis het. Die beskuldigdes het alle inkomste daaruit vir hulleself toegeëien. Hulle is onlangs elk tot 19 lewenslange tronkstrawwe gevonnis – die swaarste vonnis tot op datum in ’n kinderhandelsaak in Suid-Afrika. Sodanige vonnisse toon dat kinderhandel nie straffeloos geskied nie en beoog om handelaars uit die gemeenskap te verwyder en ander af te skrik om nie in die toekoms kinderhandel te pleeg nie.

Wat kan landburgers doen om kinderhandel te verhoed/beveg?

Landsburgers kan hulself bemagtig deur inligting te kry oor wat mensehandel is, hoe handelaars te werk gaan om slagoffers in hul strik te vang en hoe hulle hulself kan beveilig. Hierdie inligting is beskikbaar by betroubare bronne soos die National Freedom Network se webblad by www.nationalfreedomnetwork.co.za.

Hierbenewens is die nasionale mensehandelhulplyn 24/7 gratis en vertroulik in verskeie landstale beskikbaar by 0800 222 777, info@0800222777.org.za of op hul webtuiste by https://www.0800222777.org.za.

Op die webtuiste word die verskillende dienste wat die hulplyn verskaf, uiteengesit, soos hulp aan slagoffers, verskaffing van inligting oor mensehandelaangeleenthede, opleiding, en diensverskaffers wat landswyd beskikbaar is.

Verder kan moontlike mensehandelvoorvalle ook hier aangemeld word en wenke verkry word om veilig te reis en werk te bekom, asook algemene veiligheidsmaatreëls soos om oor ’n noodteken of spesifieke woord met familie en vriende ooreen te kom wanneer ’n noodgeval opduik. Dit is dus belangrik dat alle landsburgers, en veral kinders, hierdie hulplynnommer ken en op hul selfone stoor sodat hulle dit maklik kan gebruik wanneer nodig.

  • Foto’s: Unsplash.com

  • 1

Kommentaar

  • Dis goed om te weet mensehandelaars word swaar gestraf. Hopelik skrik dit hulle af en moedig dit die mense in die kwesbaarste gemeenskappe aan om verdagte bedrywighede sumier aan te meld. Dit sal goed wees as spoedige ernstige gevolge gesien word en die wat-help-dit-ons-verkla-misdadigers-daar-gebeur-niks-met-hulle-nie apatiese houding ook kan stop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top