Meevoerend elegant en melancholies: William Kentridge se kortprente

  • 1

Op 22 Februarie 2022 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n aanlyn lesing deur Alex Duffey aangebied: “William Kentridge: Nege tekeninge vir projeksie – grusame tonele van herinnering”. Johan Myburg deel sy indrukke daaroor met LitNet se lesers.

William Kentridge, tekening vir Johannesburg, 2nd greatest city after Paris, 1989 (Captive of the city), houtskool op papier (96 x 151 cm); gebruik met die toestemming van die Kentridge Studio

“William Kentridge is een van die diepdenkende kunstenaars van ons tyd en sy werk spreek tot ’n universele gehoor, ten spyte daarvan dat dit spesifiek komplekse temas oor die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis uitbeeld.” Met dié taksering het Alex Duffey sy aanlyn aanbieding oor nege kortprente van Kentridge (sy tiende en laaste aflewering oor buitengewone Suid-Afrikaanse kunswerke) afgesluit.

Dié lesing is op 22 Februarie deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aanlyn aangebied en is nou op YouTube beskikbaar.

Duffey, ’n kunshistorikus en voorsitter van die Akademie se kommissie vir visuele kunste, het Kentridge (gebore in 1955) beskryf as “ewe vaardig in animasie, teken, beeldhou, optrede, toneelontwerp en boekmaak. Daar is slegs ’n handjie vol kunstenaars wat ’n mens in jou leeftyd sal laat dínk en anders laat voel oor dít wat om jou aangaan. En Kentridge is een van hulle.”

In sy voordrag het Duffey ’n oorsig gegee van die nege opeenvolgende geanimeerde kortprente wat Kentridge tussen 1989 en 2003 gemaak het en wat stap vir stap bygedra het tot Kentridge se statuur in die internasionale kunswêreld én hom gevestig het as kunstenaar wat belang het in politieke kuns – met al die dubbelsinnighede, teenstrydighede, onafgehandelde gesprekke en onseker uitkomste.

Vir elkeen van die sekwense van elke animasieprent maak Kentridge gebruik van ’n enkele houtskooltekening waaraan hy tydsaam verander – deur te teken en deur onvolledig uit te vee. Elke tekening is tot 500 keer verander/oorgewerk en telkens gefotografeer. In die proses kom ’n narratief tot stand wat meevoerend elegant is en tegelyk melancholies aandoen.

Dit is in dié animasieprente waarin onthou en vergeet, benadruk en uitwis, die gewig van geheue en die kortstondigheid van vergeet vasgevang word in houtskool en uitveër. Sedert die eerste van dié animasieprente, geskiet met ’n 35 mm-kamera, het Kentridge aan die uitveër as medium ’n plek gelyk aan dié van houtskool gegee.

Met dié teken en uitvee, met die bo-oor teken en veral die onvolledige uitveemerke wat gelaat word, het die palimpses-kwaliteit van onthou en die herinneringsvermoë in die voorgrond kom staan. Maar daarby moet ’n mens in gedagte hou dat elke nuwe beeld ’n wonderlike teken is van die uitwissing van die vorige tekening. “My werk gaan oor die voorlopigheid van die oomblik,” het Kentridge by geleentheid gesê.

Dié reeks is mettertyd aangevul met ’n tiende kortprent, Other faces, in 2011, en ’n 11de kortprent, City deep, in 2020.

Nietemin is dit die eerste nege Drawings for projection wat die fokus was van Duffey se aanbieding en het hy in die bestek van 45 minute aan die hand van stilgrepe uit die kortprente ’n oorsig van elk van die nege projeksies gegee.

Soveel van die emosionele en politieke stryd wat deel was van die lewe van talle Suid-Afrikaners voor en ná 1994 kry gestalte in die figure Soho Eckstein en Felix Teitlebaum in dié reeks animasieprente: Johannesburg, 2nd greatest city after Paris (1989), Monument (1990), Mine (1991), Sobriety, obesity & growing old (1991), Felix in exile (1994), History of the main complaint (1996), Weighing ... and wanting (1997), Stereoscope (1999) en Tide table (2003).

William Kentridge, tekening vir Monument, 1989, houtskool op papier en pastel op papier; gebruik met die toestemming van die Kentridge Studio

In die eerste animasieprent, Johannesburg, 2nd greatest city after Paris (net langer as 8 min), kom die kyker benewens Johannesburg as die plek waar die verhaal gesetel is twee karakters in ’n soort narratief teë: Soho Eckstein, ’n welvarende middeljarige sakeman in die stad, en Felix Teitlebaum, sy teenhanger, ’n stil dromer wat die wêreld bewonder én bevraagteken. Moontlik is die twee nie eens twee karakters nie, maar twee kante van dieselfde mens. Duffey meen dié twee figure is ontleen aan ’n voorstelling van die kunstenaar self.

Dié animasieprent is gemaak van 25 tekeninge en voorsien van ’n klankbaan wat die musiek van Duke Ellington en South Kaserne Choir insluit. Eckstein is in die prent nie net onsimpatiek teenoor die behoeftes van sy werkers nie, maar ook dié van sy vrou. Hy word voorgestel in sy strepiespak agter ’n groot lessenaar vanwaar hy sy sakeryk bedryf. Teitlebaum, hier naak voorgestel, tuur uit oor ’n landskap en sy groeiende hunkering na Eckstein se vrou kry gestalte in etlike fantasieë. Rye gesiglose swart werkers swel aan en word letterlik uitgewis deur Eckstein (steeds agter sy lessenaar) wat kos van sy tafel na hulle gooi. Eckstein en Teitlebaum raak slaags. Teitlebaum tree aan die einde van die prent uit as die oorwinnaar.

Hoewel die prent gemaak is toe buitelandse druk op Suid-Afrika om af te sien van sy apartheidsbeleid waarskynlik sy piek bereik het, wys Duffey ook op die prent as ’n herinnering aan die feit dat Westerse gemeenskappe ook vroeër gebou is op soortgelyke onmenslike beginsels. Nietemin gee hy toe dat hierdie animasieprent as gevolg van die “baie lae van medepligtigheid en verantwoordelikheid … moeilik interpreteerbaar [bly]”.

Wat vas staan, is die ironiese titel van dié prent: Die woesteny wat verbeeld word – sover dit die land én die verhouding tussen Eckstein en sy vrou betref – is die gevolg van Eckstein se magsug en gulsigheid. En dit is dalk waarop die “grusame tonele van herinnering” in die titel van die aanbieding sinspeel. Maar dit is ook op dié punt waar die grusame tonele van die herinnering bly voortspook in die magsug en gulsigheid wat ’n mens steeds teëkom in die Ecksteins van die wêreld.

William Kentridge, tekening vir Mine, 1991, houtskool en pastel op papier (120 x 150 cm); gebruik met die toestemming van die Kentridge Studio

Hoewel Duffey se aanbieding en beskrywing van die individuele animasieprente bestaan uit die vertoning van sommige van die statiese tekeninge, gee hy toe dat ’n mens met enkele beelde uit dié nege animasieprente, wat juis tydsverloop en beweging insluit, nie ’n geheelbeeld van Kentridge se nege Drawings for projection kry nie. Daarom sluit hy die aanbieding af met ’n uittreksel uit die animasieprent History of the main complaint.

Wat duidelik blyk, is dat Duffey se oorsig oor die nege animasieprente bedoel is as ’n soort inleiding tot dié genre in Kentridge se werk, as ’n lusmaker om die nege prente die een na die ander te siene te kry.

Kentridge het in 2015 die eerste tien animasieprente in Drawings for projection – van Johannesburg, 2nd greatest city after Paris (1989) tot Other faces (2011) – aan die Eye Filmmuseum in Amsterdam geskenk. Van die animasieprente of dele daarvan is egter steeds op YouTube en Vimeo beskikbaar.

 

Lees meer:

Besoek die Kentridge Studio se webwerf hier.

Kyk op YouTube na Alex Duffey se aanlyn aanbieding waaroor Johan Myburg verslag doen.

Hazel Barnes: William Kentridge – Flute: A book to be savoured and returned to

Dominic Davies: Drawing South Africa Now: Writing Urban Environments in the Graphic Novel Form?

 

  • Foto’s en materiaal in hierdie artikel, asook die fokusprent, word gebruik met die vriendelike vergunning van die Kentridge Studio.
  • 1

Kommentaar

  • Estelle Neethling

    Wonderlike kommentaar - Johan Myburg se Afrikaans! - oor 'n ongelooflik begaafde kunstenaar boonop uit ons bodem. Ek het dit so interessant gevind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top