Mediaverklaring: TRIBUO-fonds bly wawyd wakker vir die kunste

  • 0

Op Vrydag 2 Julie 2021 sal ses akteurs en twee aanbieders aanlyn aan ’n 24-uur-marathon deelneem om ’n verhoogstuk ten bate van die Tribuo-fonds te skep.

#tribuowawydwakker is deel van die derde fondsinsamelinginsiatief van die Tribuo-fonds wat in 2020 weens die impak van die Covid-19 pandemie in die lewe geroep is om uitvoerende kunstenaars in finansiële nood te ondersteun.

Op 2 tot 3 Julie gaan die Tribuo-fonds in samewerking met kunstenaars en rolspelers in die bedryf deurnagvermaak verskaf om fondse in te samel sodat ’n derde ronde van aansoeke om finansiële hulp van die Tribuo-fonds oopgestel kan word. Met Tribuo Wawyd Wakker/Tribuo Wide Awake gaan ses akteurs vanaf Vrydag 2 Julie tot Saterdag 3 Julie deurnag repeteer en improviseer tot hulle ’n verhoogstuk geskep het. Dié kreatiewe marathon gaan regstreeks gestroom word en beloof om ’n interessante proses vir die spelers en fassinerende kykstof vir die gehoor te wees. In die loop van die 24-uur-marathon sal daar verskeie verrassings vir sowel die akteurs as kykers wees. Ander bekendes sal ook inloer om die spelers op hul tone en wakker te hou.

Cintaine Schutte, Melt Sieberhagen, Dean-John Smith, Wian Taljaard, Gary Naidoo en Esther von Waltsleben het reeds bevestig dat hulle deel van dié produksie sal wees.

“Met hierdie inisiatief wil ons die aandag op die groot nood in ons kunstebedryf vestig. Die oorgrote meerderheid kunstenaars het slapelose nagte oor hul finansiële sekuriteit in ’n tyd waarin soveel teaters hul deure moet sluit en geleenthede om te werk en gehore te bereik een ná die ander opdroog. Die Tribuo-fonds kon met die eerste twee rondes van aansoeke verskeie uitbetalings maak, maar die derde vlaag van Covid-infeksies is besig om die kunste op die knieë te dwing. Verskeie kunstenaars het hul huise verloor en mense moes motors en besittings verkoop om in basiese behoeftes te voorsien. Tribuo is egter afhanklik van donasies en ons kan slegs weer aansoeke aanvaar as ons genoeg geld ingesamel het om weer uitbetalings te maak,” sê Cornelia Faasen, een van die stigterslede van die Tribuo-fonds en die uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief).

Die Wawyd Wakker-deurnagmarathon skop op Vrydag 2 Julie 2021 om 12:00 af en word regstreeks via die Tribuo-fonds se webtuiste gestroom word gestroom. www.tribuo.co.za of  bit.ly/wawydwakker

Indien borge of weldoeners wil betrokke raak, kan hulle name of logo’s tydens die uitsending vertoon word. Daar sal ook op sosiale media erkenning aan die persone of maatskappye gegee word wat bydra. Anonieme donasies en enige bedrag is welkom. Elke bietjie help.

Die Tribuo-fonds is ’n nie-winsgewende organisasie wat gestig is in samewerking met Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars finansieel te ondersteun. Die fonds is afhanklik van liefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen. Bydraes kan deur privaat persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ’n 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar. Kontak info@tribuo.co.za vir meer inligting oor skenkingsmoontlikhede.

Sedert die stigting van die Tribuo-fonds in 2020 is daar reeds meer as R3 miljoen ingesamel en versprei onder mense wat voor én agter die skerms in die kunste werk.

Besoek www.tribuo.co.za  vir meer inligting.

Facebook https://www.facebook.com/tribuofund 

Instagram https://www.instagram.com/tribuo_fund/ 

Twitter https://twitter.com/Tribuo_fund  

#tribuowawykwakker

#tribuowideawake

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top