Persverklaring: Program vir 14de Klein Karoo Klassique bied klassieke verskeidenheid

  • 0

Lukhanyo Moyake (tenoor) in die AKTV-Galakonsert. Foto: Verskaf

Klassieke musiekliefhebbers kan gereedmaak vir ’n propvol program van klassieke musiek by die 14de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.

Dié viering van klassieke musiek, kuns, kos en wyn word van Donderdag 3 tot Sondag 6 Augustus in die Klein Karoo aangebied, met hope musiek deur ’n keur van Suid-Afrika se top klassieke musici. ’n Wye verskeidenheid werke word uitgevoer, wat unieke werke en kombinasies insluit.

Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, met die ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting, die ATKV, Le Lude en Rosenhof Country House.

Donderdagaand 3 Augustus om 18:00 speel plaaslike pianis Sulayman Human ’n program wat van die variasietegniek gebruikmaak in Let’s change tunes. Sy program bevat van die mooiste melodieë in klavierliteratuur deur Scarlatti, Beethoven, Mendelssohn, Schumann en Liszt. Kaartjies sluit aandete deur Tall Goose Restaurant in.

Peter Martens speel elke oggend (4 tot 6 Augustus) om 09:00 van Bach se suites vir onbegeleide tjello in Bach for Breakfast. Dit word gratis in die Banketsaal aangebied en feesgangers kan hier ’n heerlike ontbyt, voorberei deur Nostalgie Restaurant, saam met die pragtige tjellomusiek geniet.

Vrydagoggend 4 Augustus om 10:30 is fluitspeler Louisa Theart en pianis Nina Schumann in Aquila Duo: Echoes of Arcadia te sien. Hulle gebruik ’n wye reeks musiekstyle en poog om lewe te gee aan Pan, die satiriese god van die natuur en Undine, ’n waternimf. Op die program is Albert Roussel se “Joueurs de flûte”, op. 27, Claude Debussy se “Syrinx”, Matthijs van Dijk se “Van Hunks”, Carl Reinecke se “Sonate Undine”, op. 167 en Gabriel Fauré se “Fantaisie” in. Die fees se eerste gratis musiekgesprek word hierna aangebied.

Om 14:00 deel Theart (fluit en altfluit) die verhoog met Dylan Tabisher (marimba en vibrafoon) wanneer die Mizar Duo ’n unieke kombinasie van instrumente gebruik en die gehoor toelaat om ’n kleurvolle klankpalet te verken met Bach se “Partita” in A-mineur vir solo-fluit, Klatzow se “Figures in a Landscape”, Piazzola se “Histoire du Tango”, Abe se “Wind Sketch” vir solo-marimba en “Sicilienne” deur Von Paradis. ’n Gratis musiekgesprek volg.

Fluitspeler Louisa Theart in Mizar Duo. Foto: Verskaf

Erik Dippenaar (orrel en klavesimbel) en Ralitza Macheva (barokviool) bied om 16:30 in Variations ’n program van virtuose stelle variasies uit die Barok aan, waaronder musiek van Corelli en Buxtehude. Die program sluit ’n versameling nuut-gekomponeerde stelle variasies vir solo-viool in die Barokstyl, deur Montreal-gebaseerde komponis en vroeëmusiekspesialis Matthias Maute, asook ’n geïmproviseerde stel variasies op die orrel deur Dippenaar, in.

Vrydagaand om 19:00 sluit ’n Karoonag met die Suid-Kaap Kinderkoor en vriende die musiekprogram op ’n hoogtepunt af. Coenie de Villiers sluit spesiaal by die Suid-Kaap Kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart aan vir “Katedraal” en “Karoonag”, waarna Alida Scheepers en Brittany Smith, soprane van Kaapstad Opera, onderskeidelik Le Roux Marais se “Heimwee” en Mozart se “Laudate Dominum” saam met die koor sing. Dit beloof om ’n onvergeetlike musikale hoogtepunt te wees.

Pianis Megan-Geoffrey Prins, tjellis Peter Martens en violis Suzanne Martens speel Saterdagoggend om 10:30 in Harmony of Serenity: Arvo Pärt’s Musical Meditations Pärt se mees geliefde werke. Hierdie huldeblyk is ’n moet vir jarelange aanhangers van Pärt se werk, asook diegene vir wie sy musiek nuut is. ’n Gratis musiekgesprek volg.

In Sublime Sextets Saterdagmiddag om 14:00 speel Suzanne Martens (viool), Matthew Stead (viool), Petrus Coetzee (altviool), Jana Smit (altviool), Peter Martens (tjello), Rosamund Ender (tjello), Fèroll-Jon Davids (klarinet), Shannon Thebus (Franse horing) en Nina Schumann (klavier) Brahms se eerste sekstet vir strykers in B-mol majeur. Hierdie werk is die eerste noemenswaardige werk wat vir hierdie kombinasie van twee viole, twee altviole en twee tjello’s gekombineer is. Ernő Dohnányi se sekstet in C-majeur, op. 37, ’n asemrowende werk vir die ongewone kombinasie van viool, altviool, tjello, Franse horing, klarinet en klavier word ook gehoor. ’n Gratis musiekgesprek volg.

Om 19:00 Saterdagaand bekoor vier lede van Kaapstad Opera die gehoor tydens die ATKV-Galakonsert. Brittany Smith (sopraan), Alida Scheepers (sopraan), Lukhanyo Moyake (tenoor), Conroy Scott (bariton) en José Dias (klavier) blaas nuwe lewe in arias en ensembles uit van die bekendste operas en musiekblyspeltreffers. Op die program is die liefdestoneel uit La traviata, die beeldskone “Flower Duet” van Lakmé en die bekende Rigoletto, asook die opwinding van West Side Story, die melodieë van “Some Enchanted Evening” en Phantom of the Opera, uitgevoer deur Afrika se voorste operageselskap.

An evening of jazz sluit verrigting Saterdagaand om 20:30 af. Dit beloof ’n betowerende aand van gevoelvolle jazz-melodieë en ritmiese betowering te wees.

In Take Four Piano Quartet speel Zanta Hofmeyr (viool), Susan Mouton (tjello), Elna van der Merwe (klavier) en Jeanne-Louise Moolman (altviool) twee groot werke van Johannes Brahms en Antonin Dvořák: Brahms se Klavierkwartet no. 1 in G-mineur, op. 25 en Dvořák se Klavierkwartet no.2 in E-mol majeur, op. 87. Hierdie uitvoering Sondagoggend om 10:30 is ’n viering van vriendskap en die opbouende krag van musiek. ’n Gratis musiekgesprek volg.

Die span agter die bekroonde Handel at Home-konsertprogram keer terug na Klassique vir Handel’s Roman Cantatas Sondagmiddag om 14:00. Lede van die Kaapstad Barokorkes – Ralitza Macheva (barokviool), Rosamund Ender (baroktjello & viola da gamba), Dale de Windt (kamerorrel) en Erik Dippenaar (klavesimbel & musikale leier) – bied saam met soprane Lynelle Kenned en Hlengiwe Mkhwanazi ’n keur van Handel se dramatiese en uitdrukkingsvolle kantate juwele aan. ’n Gratis musiekgesprek volg.

Soprane Lynelle Kenned (foto) en Hlengiwe Mkhwanazi bied saam met lede van lede van die Kaapstad Barokorkes ’n keur van Handel’s Roman Cantatas aan. Foto: Verskaf

Coenie de Villiers sluit vir eerste keer by Klassique aan en gesels na afloop van uitgesoekte uitvoerings op 4 en 5 Augustus met musikante, wat hul insig oor die musiek wat uitgevoer word, met hom en die gehoor deel.

Drie boekstories, moontlik gemaak deur NB Uitgewers, word tydens Klassique aangebied. Tom Dreyer gesels Vrydag 4 Augustus 12:30 oor sy digbundel Nou in infrarooi. Saterdag 5 Augustus 12:30 deel Wisani Mushwana meer oor sy debuutroman A Soft Landing en Nicole Jaekel Strauss gesels Sondag 6 Augustus 12:30 oor haar roman Deelfontein. Elna van der Merwe tree as gespreksleier op.

Gevestigde en opkomende visuele kunstenaars uit die Klein Karoo bring hulle kunswerke na Klassique vir ’n uitstalling getiteld Earth has Music for those who Listen, onder kuratorskap van Janet Dixon. Dié uitstalling is ’n viering van die komplekse verhouding tussen die natuur en musiek vanuit ’n Klein Karoo-perspektief. Werk van onder andere Liza Grobler, Hermann Niebuhr, François Tiran, Ina Marx, Lisl Barry en ander vorm deel van dié uitstalling, wat daagliks gratis in die Banketsaal besoek kan word.

Oudtshoorn se Burgersentrum en Banketsaal word as kern vir Klassique gebruik, met verskeie geleenthede om lekker in dié area te kuier. Feesgangers kan uitsien na smulkos deur Nostalgie Restaurant, heerlike wyne, koffie en ander lekkernye om die winterkoue te verdryf. Boeke, klassieke musiek CD’s en DVD’s is ook hier te koop.

Historiese wandeltoere word vir die eerste keer soggens om 08:00 deur Roydin Engelbrecht aangebied. Feesgangers kan op die gemaklike staptoer die uniekheid van verskeie belangrike argitektoniese geboue op Oudtshoorn ervaar.

n Eksklusiewe Klassique-pakket is beskikbaar wat aan feesgangers die geleentheid gee om nege uitvoerings by te woon teen ’n totale besparing van 30%. Daar is slegs ’n beperkte aantal pakkette beskikbaar. As ’n bykomende voordeel vir Klassique-pakkethouers, bied die Queen’s Hotel 30% afslag op feesverblyf vir feesgangers met dié pakket. Kamers is beperk.

Vir ander verblyfopsies in en om Oudtshoorn kan feesgangers ook Klassique se verblyfvennoot LekkeSlaap besoek.

Die volledige program is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies by Webtickets, by Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid.

Uitgereik deur die KKNK op 27 Junie 2023

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top