Mediaverklaring: Kraakvars-kykgenot in Januarie – VIA is in hoogste rat!

  • 0

Foto: Pexels | Pixabay

Suid-Afrika se grootste tydskrif, Huisgenoot, gryp al meer as ’n eeu lesers se verbeelding aan. In Die beste van Huisgenoot: Ware lewensdramas kyk ons terug na die 13 mees opspraakwekkende stories uit die eerste vyf reekse wat kykers laat gons het. Kry jou sit en skakel in van 11 Januarie elke Maandagaand om 21:00.

Ghoema woema is ’n spesiale dokkie vir liefhebbers van jazzmusiek en -danse. As die klanke van slim improvisasie en gepunteerde ritmes op saksofoon en klavier jou tone laat krul, sal dié eenmalige, spesiale episode jou groot plesier gee. Die verteller, Warren Carstens, is ’n bekende in Kaapse jazzkringe en beloof ’n roerende en insiggewende blik op die geskiedenis van jazzmusiek en -dans in die Kaap. Vrydagaand 8 Januarie om 17:30, met herhalings op 11 Januarie (18:30), 13 Januarie (22:00) en 15 Januarie (17:30).

In Die argitekte gaan kykers met ’n liefde vir huise en alles wat mooi is, ’n behoorlike dosis kykplesier kry. Elke Maandag tot Donderdag om 16:30 (die reeks begin op 18 Januarie) neem ’n vooraanstaande argitek kykers op ’n toer van drie ongelooflike ruimtes. Die eerste is ’n ontwerp van hul eie, die tweede ’n ontwerp waarvan hulle hou – en laastens hul eie huis. Met herhalings op Sondae om 19:30 vanaf 31 Januarie.

Kyk net wat vermag Herman Lensing in ’n mikrogolfoond. In Herman se mikro-geheime kombineer hy sy twee liefdes: gesels en kos maak. Bekendes kuier saam, en as die kos eers in die mikro is, is dit vraetyd – jy gaan meer as net kosgeheime hoor in dié splinternuwe reeks. Seisoen 1 begin Woensdag 20 Januarie om 17:00, met herhalings op Woensdae om 11:00 en Sondae om 16:30 (van 7 Februarie).

En maak gereed vir asemsnak-romanse (of nie?) in Date, agteruit waar twee wildvreemdes mekaar skraps geklee in die bed ontmoet terwyl die kameras rol. Jip, jy het reg gelees. Elke week ontmoet ons twee enkellopendes wat liefde soek, maar dinge gebeur agteruit. Eers is hulle in die bed, dan hou hulle “troue”, dan is dit ’n naweek weg, die ontmoeting met familie en vriende – en heel op die einde hul “eerste date”. Sit nader Woensdagaande om 20:00 van 20 Januarie vir ’n uur lange fassinerende werklikheidsfees. En kyk weer op Woensdae 14:00 en Sondae 18:30.

Nog kosopwinding wag in Afloskombuis, waar twee spanne elke week met mekaar meeding om ’n heerlike dis te berei. Die gewilde akteur Neels van Jaarsveld is die aanbieder. Maar daar is ’n vangplek: Die drie lede van elke span maak beurte in die kombuis, en wanneer hulle mekaar aflos, moet hulle raai wat die vorige een beplan het, en leidrade los vir die een wat nog kom en die gereg moet klaarmaak. Van die hand tot die mond, val die pap op die grond! Soms. En soms nie. Kyk saam van Vrydag 22 Januarie om 17:30, met herhalings Saterdae om 19:00.

En dan is die immergewilde Laat die potte prut terug vir seisoen 12. Donderdagaande om 17:30 van 21 Januarie word die vure gestook in die soektog na Suid-Afrika se beste potjiekosmakers, met die VIA-bekendes Alvin Bruinders en Marinda Engelbrecht as beoordelaars. Daar’s ietsie van alles. Kom kyk en prut saam. Herhalings op Saterdae om 21:00 (van 20 Februarie).

Laaste maar nie die minste nie: Minki bly ons liefling in seisoen 7 van dié gewilde geselsprogram. Dis soms ontroerend, altyd vermaaklik, en Minki het oudergewoonte spesiale gaste op haar bank en vir Herman Lensing in die kombuis. Sy is nou in ’n nuwe tydgleuf: Maandagaande om 20:00, van 25 Januarie. Met herhalings Maandae om 14:00, Saterdae om 18:00 (van 6 Februarie) en Woensdae om 22:00 (van 3 Maart).

TV-roosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Instagram om op die hoogte te bly van al die nuutste verwikkelinge.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top