
Die langste maand van die jaar is verby, skep asem met aangrypende stories en goeie raad – spesiaal vir jou op VIA.
In die splinternuwe realiteitsreeks Red my hare, Junior! kan jy maar gereed maak vir oormaaksessies waarin die bobaas-haarkapper Charles Junior Louw probleemhare regklits – soos net hy kan. Maar moenie dink dié vermaaklike program gaan net oor hare nie. Junior is ’n perd van ’n ander kleur, en in sy salon is niks vervelig nie – ook nie die kliënte nie. Hy self ondergaan ’n transformasie, met sy eie troue om die draai. Maak reg vir drama-lama, elke Dinsdag om 18:30, van 9 Februarie.
Son se lesers weet nou al dié gewilde koerant se agony aunt, Antie Mona, het altyd raad, en nou kom sy kassie toe. Antie Mona se identiteit is natuurlik ‘n groot geheim, daarom stuur sy in Liewe Antie Mona drie helpers om kykers se probleme op te los. Gewapen met haar raad, besoek dié helpers huise waar die liefde net nie wil vlot nie. Kyk saam, dalk het sy ook raad vir jou. Seisoen 1 begin op Donderdagaand 25 Februarie om 20:00.
Twee programme met ’n geldsake-fokus bied jou die raad wat jy nodig het om in 2021 te floreer. In Besigheid wat saak maak, aangebied in vennootskap met Coastal Hire, kom suksesvolle besighede onder die vergrootglas – met ’n fokus op waarom dit werk. In ’n nuwe halfuur-formaat is seisoen 3 weer gepak met geldraad wat die entrepreneur in jou sal voed, elke Saterdagoggend om 08:30, van 13 Februarie. En dan is Geldhelde ook terug, in vennootskap met Momentum en met Pulane Sekepe as nuwe aanbieder. Hier val die fokus nie net op besighede nie – kyk ook hoe twee gesinne die sente tel in ’n finansiële boot camp saam met die geldghoeroe Theo Vorster. Seisoen 3 begin op Maandag 22 Februarie om 19:30.
Kaap, kerrie en koesisters het natuurlik geen bekendstelling nodig nie, want die tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Noordien is reeds ou bekendes in die TV-kamers en kuierkombuise van VIA-kykers. Die twee susters ken van kos, veral Kaaps-Maleise onthoukos wat proe na nog! Soet en sout is op hul spyskaart, en jy kan leer hoe. Seisoen 6 begin Maandagaand 15 Februarie om 17:00.
Musiek maak altyd die lewe beter, en in seisoen 3 van Musiekpaniek wag ’n uur gevul met lekker kunstenaars en hul fans wat jou naweek op net die regte noot sal laat begin. Carla Mackenzie is terug as aanbieder, en die vraag is: ken die fans die trivia van hul gunsteling-tunes? Vind uit, Vrydagaande om 20:00 van 19 Februarie.
Twee misdaadreekse sal jou dié maand vasgenael hou. In die splinternuwe reeks Die staat teen kry kykers ’n eksklusiewe blik in van die mees opspraakwekkende sake waarmee staatsaanklaers nog te doen moes kry in Suid-Afrikaanse howe. Soms skokkend, soms hartseer, bied dié reeks jou insig in wat dit verg om misdadigers aan die pen te laat ry. Seisoen 1 première op 24 Februarie om 21:00.
Dan kyk die radiojoernalis Izak du Plessis in seisoen 2 van Boereverneukers na die skelmstreke van nog ’n spul Afrikaanse kroeks. Van Marietjie Prinsloo en die Krion-miljoene, tot die meer onlangse geval van Burre Burger wat munt wou slaan uit desperate droogteslagoffers – Izak krap waar dit jeuk – ’n mens kan net jou kop in ongeloof skud oor als wat hy onthul. Seisoen 2 begin 24 Februarie om 21:30.
En laaste maar nie die minste nie, en perfek vir die maand van die liefde – soek ’n vars stel mammas dates vir hul seuns. As die kinders dit dan nie self regkry nie, moet Ma maar help in Sê vir mamma. Seisoen 3 begin op Donderdagaand 25 Februarie om 20:30.
TV-roosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar.
Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Instagram om op die hoogte te bly van al die nuutste verwikkelinge.
Vir nog besonderhede oor die programme of aanbieders, of besoek viatv.co.za.

