Media24 maak wenners van boekpryse bekend: WA Hofmeyr-prys vierde keer na Winterbach

  • 0

Die wenners van die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2016 is vanaand (Woensdag, 22 Junie 2016) in Kaapstad aangekondig. Meer as 50 boeke wat in 2015 by uitgewerye in die Media24-stal verskyn het, is ingeskryf vir dié pryse met ’n gesamentlike prysgeld van meer as R200 000.

Die wenner van die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie is Ingrid Winterbach vir haar roman Vlakwater, uitgegee deur Human & Rousseau. Dit is die vierde keer dat Winterbach hierdie belangrike prys ontvang. Vlakwater is deur die beoordelaars geloof as ’n werk waarmee die skrywer ’n reeds indrukwekkende oeuvre verruim. Die roman is beskryf as “’n besinning oor die rol en aard van kuns in roerige tye; ’n moedelose wekroep teen die tirannie van middelmatigheid en geestelike vervlakking, asook ’n soeke na mistieke rigtingwysers in ’n andersyds onherbergsame heelal.”

LitNet Akademies-resensie-essay: Vlakwater deur Ingrid Winterbach
Andries Visagie

"Met haar roman skryf sy dus voort binne die tradisie van die betrokke literatuur in Afrikaans, maar soos geen ander Afrikaanse skrywer tot dusver nie, slaag sy daarin om die dilemma van die metamodernisme vas te vat."

Die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie is toegeken aan Finuala Dowling vir The Fetch, uitgegee deur Kwela. Die beoordelaars het Dowling onder meer geprys vir haar subtiele, humoristiese taalgebruik en haar vermoë om geloofwaardige, komplekse karakters te skep wat die belangstelling prikkel.

Book Review: The Fetch by Finuala Dowling
Eva Hunter

"There is much to charm and delight – not least some very funny dialogue – in this story about a motley ('mixed') group of South Africans living their 'ordinary' lives and learning to express love for one another in practical ways."

A-perfect-stormMilton Shain het die Recht Malan-prys vir nie­fiksie verower met sy A Perfect Storm: Antisemitism in South Africa 1930-1948, uitgegee deur Jonathan Ball. Dié werk is deur die beoordelaars beskryf as ’n wonderlike boek en ’n gepaste waarskuwing, in ’n tyd waarin xenofobie gereeld in Suid-Afrika en oor die wêreld heen tot geweld lei, teen wat kan gebeur wanneer magsbehepte politici ’n weerlose groep as boos uitmaak.

Gilbert Gibson is met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie beloon vir sy bundel Vry-. wat die leser volgens die beoordelaars konfronteer met ’n unieke stilistiese wyse waarop temas ontgin word. Hierdeur “kom die voorheen bekende Vrystaatse gegewe skielik in ander gedaantes na vore – verryk met ’n verbrokkelende, stamelende broosheid.”

Nie-akademiese notas by die lees van Vry- deur Gilbert Gibson
Natie Botes

"Ek het gestem, ek het ’n stem. Ek is dus vry.

Of is ek net kwansuis
vry-?"

En so is Vry-.

Elton-AprilDingesfabriek_TydmasjienDie MER-prys vir jeugromans is toegeken aan Carin Krahtz vir Elton amper famous April en juffrou Brom, uitgegee deur Tafelberg, en die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke aan Elizabeth Wasserman en Astrid Castle (illustreerder) vir Die Dingesfabriek 4: Jannus en Kriek en die tydmasjien, ook uitgegee deur Tafelberg.

Die beoordelaars was: Vir die WA Hofmeyr-prys: Thys Human, Danie Marais en Bernard Odendaal; vir die ­Herman Charles Bosman-prys: Johan Jacobs, Molly Brown en Ann Donald; vir die Recht Malan-prys: John Maytham, Elsa van Huyssteen en Max du Preez; vir die Elisabeth Eybers-prys: Henning Pieterse, Antjie Krog en Francois Smith; vir die MER-prys vir jeugromans: Louise Steyn, Verushka Louw en Wendy Maartens; en vir die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Lona ­Gericke, Paddy Bouma en Magdel Vorster.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top