Media24 Boeke 2019: M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke – motiverings

  • 0

MEDIA24 BOEKE LITERêRE PRYSE 2019 2019 MEDIA24 BOOKS LITERARY PRIZES

M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke MER Prize for Illustrated Children’s Books

Keurders │ Judges: Magdel Vorster, Jaco Jacobs, Aldré Lategan

WENNER │ WINNER

Dihanna Taute & illustreerder Theodore Key: Die legendariese Lua Verwey: Wilder as die wildtuin (Human & Rousseau)

Die legendariese Lua Verwey is modern en vars geskryf en lees soos ’n dagboekverhaal, ’n baie gewilde genre vir die teikengroep. Verwarrende en uitdagende rolle in moderne gesinsverband word realisties, maar gemaklik en humoristies, aangespreek om jong lesers te onderskraag én vermaak. Key se illustrasies in karikatuurstyl ondersteun die narratief en dra die atmosfeer van die verhaal en gemoedstoestand van karakters duidelik oor. Die keuse van illustrasiemedium en -styl is in ooreenstemming met internasionale dagboekverhale en slaag goed.

Lua is die oudste van die vier Verwey-kinders. Sy is die enigste dogter, maar ’n rabbedoe wat meer van J-boarding en krieket as spieëls en tradisionele dogtertjiedinge hou. Sy wil graag die skool se krieketspan haal, maar tussendeur versorg sy haar boeties, moet sy haar ma se buie vryspring, is sy nie seker of en waar haar pa werk nie, en is skoolwerk óók ’n uitdaging. Gelukkig is sy inderdaad legendaries. Seuns sou moontlik ook dié pienk boek geniet.

Taute en Key maak met hierdie boek ’n belangrike bydrae tot Suid-Afrikaanse kinderliteratuur: ’n grootwordverhaal vir ’n jonger leespeil- en ouderdomsteikengroep, wat goed met die internasionale mark vergelyk. Bravo!

..................................

KORTLYS | SHORTLIST

Gertie Smit & illustreerders Samantha van Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Tumi K. Steyn: Stories vir Pikkies en Peuters (Tafelberg)

Hierdie lekker lywige voorleesstoriebundel, keurig en in duursame hardeband uitgegee, bevat 41 kort stories wat in eenvoudige taal tot jong kinders se leef- en ervaringswêreld spreek. Die skrywer is deeglik onderlê in die kinderopvoedkunde, en bekende temas soos die seisoene, troeteldiere, plaasdiere, vervoermiddels, speeltyd en higiëne kom aan die bod, wat verseker dat jong kinders met die stories en karakters sal identifiseer, en kan dien as aanknopingspunt om met kinders te gesels en hulle te help om die wêreld te leer ken en te ontdek. Die stories is prettig en vermaaklik genoeg om op hul eie as voorleesverhale te slaag, maar vir opvoeders wat op soek is na leesmateriaal wat by bekende kleuterskooltemas inskakel én vir ouers wat die kleinspan wil help om speel-speel te leer, is daar ook ’n nuttige gebruikersgids agterin die boek wat verduidelik hoe die stories aansluit by die Nasionale Kurrikulumraamwerk vir kinders van geboorte tot vier jaar. Die helder, vrolike volkleurillustrasies deur vier talentvolle Suid-Afrikaanse illustreerders is ’n fees vir die oog, en maak hierdie boek ’n wonderlike, omvangryke hulpbron vir ouers, opvoeders en versorgers. Stories vir pikkies en peuters is ’n gehaltepublikasie wat ’n plekkie op elke Afrikaanssprekende kleinding se boekrak verdien. 

..................................

Louise Smit & illustreerder Johann Strauss: Bennie Boekwurm se mooiste sprokies (Human & Rousseau)

Bennie is nie verniet ’n boekwurm nie. Hy is baie lief vir lees en het rakke en rakke vol boeke in sy boeketonnel in die Wielie Walie-parkie. Maar hy is ook baie lief daarvoor om vir die maatjies stories te vertel en uit sy boeke voor te lees. Hierdie geliefde karakterjie kruip al vir jare lank in oumas en oupas, mammas en pappas en kinders se harte in, en het al volkseie geword. In hierdie pragtig geïllustreerde boek bring Bennie Boekwurm nuwe sprankel en unieke kinkels na ou bekende sprokies, wat hy in ’n eenvoudige en kindervriendelike trant oorvertel en toelig met klankryke, speelse rympies. Sprokies sal altyd gewild bly vanweë die dramatiese aard daarvan, die deurlopende spanningslyn en ’n bevredigende ontknoping wat kleintjies gerusstel wanneer die goeie oor die bose seëvier, hetsy dit ’n nare, wrede wolf of ’n kwaai dwerg en ’n mensvreterheks is. Die bekroonde kunstenaar Johann Strauss se kostelike illustrasies en humoristiese perspektief dra by tot die bekoorlikheid van hierdie mooi publikasie, asook die ontwerper, Teresa Williams, se fyn aanvoeling vir kunstige uitleg.

Lees ook

Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2019 bekend

Jong lesers: Nicole White resenseer Die legendariese Lua Verwey – Wilder as die wildtuin deur Dihanna Taute

Jong lesers: Die legendariese Lua Verwey – Wilder as die wildtuin deur Dihanna Taute

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top