Matie-konvokasie: hoekom Jan Heunis die trekpas gekry het

  • 0

Foto: LitNet-argief

...
Die video’s was professioneel gedoen. Die een het as opskrif “Dringende boodskap aan alle Oud-Maties” en “Sê nee vir die Khampepe-verslag” met as agtergrondmusiek Steve Hofmeyr se “Die land” en beelde van die kampus wat verbyflits.
...

In die aanloop tot die buitengewone konvokasievergadering op 1 Junie 2023 het ek ’n aantal video’s ontvang wat my probeer oortuig het om Jan Heunis te ondersteun.

Of meer korrek, ’n vriendin het dit ontvang en met my gedeel. Die video’s was professioneel gedoen. Die een het as opskrif “Dringende boodskap aan alle Oud-Maties” en “Sê nee vir die Khampepe-verslag” met as agtergrondmusiek Steve Hofmeyr se “Die land” en beelde van die kampus wat verbyflits. Die video was meer ’n duidelike beroep op nostalgiese emosionele herinneringe van ’n vergane era as wat dit die kwessies waaroor die vergadering sou gaan, te berde bring.

 ’n Ander video is ’n ad hominem-aanval op Louise van Rhyn, wat mosie 1, die mosie om Jan Heunis en die res van die uitvoerende komitee, Rudi Buys uitgesluit, uit die kussings te lig, ingestel het. Weer was die werklike kwessies geïgnoreer ten gunste van slim goëlary. Ook nie te slim nie – ek twyfel of enigeen van gemiddelde intelligensie om die bos gelei was daardeur. Selfs tydens die vergadering op 1 Junie het dit by tye baie meer gevoel soos ’n losgemaal tussen die hoofboelie in die laerskool en sy slagoffers as ’n beredeneerde bespreking van beginsels.

Heunis het die gehoor probeer oortuig dat hy nie ’n rassis is nie. Sover ek weet, het niemand behalwe hy self daai bewering geopper nie. Daarom ook heeltemal korrek dat Christo Wiese opgestaan het en hom daaroor gekorrigeer het. Natuurlik is daar heelwat bespiegelinge, hoofsaaklik versprei deur Heunis-ondersteuners, dat die konvokasievergadering eintlik gaan oor Afrikaans se voortbestaan in die land. Hierdie mening is met ywer opgeneem deur mense wat nie lede van die konvokasie is nie en wat ook nie die mosie onder oë gehad het nie.

Om te beweer dat die mosie eintlik ’n referendum oor Afrikaans was, is moedswillig en gewoon verkeerd. Om verder te kenne te gee dat enigeen wat ten gunste van mosie 1 gestem het, eintlik vir nepotisme stem, is ewe verkeerd. As mosie 1 ’n referendum oor enigiets was, dan was dit oor die patriargale, paternalistiese wyse waarop die uitvoerende bestuur onder adv Heunis aangeleenthede hanteer het. Dit het gegaan oor die wyse waarop besluite in geheimhouding gehul was en daar gebrekkige of geen kommunikasie was nie met die lede namens wie besluite geneem was. Konvokasielede is moeg daarvoor dat daar namens hulle, en sonder dat hulle geken word in die saak, ingrypende besluite geneem word. Konvokasielede het hulle stem dik gemaak daaroor dat Heunis en andere op die uitvoerende komitee hulle persoonlike oortuigings as konvokasiebesluite voorhou. Enigeen wat dan ’n ander siening huldig, word met venyn stilgemaak.

Die konvokasie het met ’n oortuigende meerderheid hierdie manier van doen verwerp, en aangedui dat hulle nie meer deur Heunis verteenwoordig wil word nie. Hy het dan ook kort nadat die uitslag bekend geword het, sy bedanking ingedien.

Ek kan net hoop dat die volgende uitvoerende komitee meer verteenwoordigend sal wees van hoe die konvokasie in 2023 daar uitsien. Daar is veral ’n paar indrukwekkende jonger lede van konvokasie wat hopelik vernuwing kan bring, en wat met die nodige respek vir inklusiewe besluitneming sal omgaan.

Konvokasielede verdien dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top