Foto: verskaf deur NB-Uitewers |
|
Sêgoed van Marzanne Leroux-Van der Boon “My ondervinding hier (by die Engelse skool) het my geleer die hoë literatuur raak die leerlinge nie. Dis die middelmoot-werke wat ’n liefde vir Afrikaans by hulle aankweek. En hulle is hard nuts – almal 17, 18 en Engelssprekend. Hulle het al die wêreld gesien, en aanvanklik was daar sterk weerstand teen Afrikaans, wat hulle as verdrukkerstaal beskou. Maar deels danksy die boeke wat aan hulle voorgeskryf is, het hulle ’n begrip vir die taal ontwikkel.” (Volksblad, 27 Julie 1992) “Dit is in dié tye dat die etiket ‘middelmootskrywer’ wat om jou nek gehang is, jou verskriklik skawe. Dat jy begin soek na definisies, dat jy begin wonder of dit die enigste taal ter wêreld is waar skrywers so meedoënloos in kategorieë ingedeel word. Dat die woord LETTERKUNDE vir jou ’n yslike probleem is.” (Volksblad, 27 Julie 1992) “Jy soek jou mede-middelmotors op en vra droewig by rooi wyn of Afrikaanse letterkunde hoofsaaklik deur professore uitgelê moet kan word. Dan het ek altyd onthou hoe ek met die idealisme van my twintigerjare ... gesê het: ‘Maar ek wil vir die man in die straat skrywe!’” (Volksblad, 27 Julie 1992) By die ontvangs van die FAK-prys in 1993: “As daar in ’n roman nie ’n graad van opsetlike verwikkeldheid is wat dit vir die gewone leser ontoeganklik maak nie, mag dit oënskynlik nie Afrikaanse letterkunde genoem word nie.” (Die Burger, 11 September 1993) “Die nuwe Afrikaanse letterkunde wat al die literêre pryse ontvang, is deurgaans so verwikkeld volgens intellektuele tegnieke gekomponeer dat dit byna heeltemal ontoeganklik vir die gewone leser geword het.” (Die Burger, 11 September 1993) “Dis vir my ’n hoogtepunt dat daar groei in my skryfwerk was, maar daar was minder mooi dinge ook. Deesdae besoek ek diep plekke in myself en wonder wat my skryfwerk vir die mense na aan my beteken het. Soms was ek te voortvarend in my skryfwerk en het mense seergekry, iets waaroor ek vandag spyt is. Soms het ek die verkeerde temas aangepak. Die ongeluk is, mens kan nie wegsteek wat geskryf is nie.” (Sarie, Maart 2004) “Met die ouderdom het die wysheid gekom. Dis onverantwoordelik om net wilde saad te saai. Vir elke saad wat jy plant, moet jy verantwoording kan doen.” (Sarie, Maart 2004) “Israel het mettertyd my passie geword. Dit word vir my al duideliker dat dit nie daar gaan oor ’n stryd om landbesit, oor Jood en Arabier nie, maar oor ’n veel groter plan.” (Volksblad, 10 Julie 2006) Oor die aktuele temas waaroor sy skryf: “Miskien het dit in die een opsig te make met die ewige soeke na ’n tema en andersins met die feit dat dit wat jou ontroer, waarskynlik ook jou leser sal ontroer. Dus, dis dinge wat my boei en dan kom dit sommer vanself. Dalk oordrewe by geleentheid, maar, nou ja...!” (Volksblad, 6 Augustus 2007) Wat wil sy nog in haar lewe doen? “Meer die mens word wat Hy vir my beplan het. Ek wil graag nader aan Sy voorskrifte lewe.” (Volksblad, 6 Augustus 2007) “Om oor die reis tussen mens en mens te skryf, ken geen einde nie. In elke menslike verhouding is soveel intrige dat jy by die ontginning daarvan meermale sprakeloos staan. Dit sluit vanselfsprekend die liefde in.” (Volksblad, 6 Augustus 2007) “Ek het respek gekry vir ons volharding, om ten spyte van alles wat teen ons is, deur te druk; vir die Suid-Afrikaner om te verander nadat hy homself teen ’n muur vasgeloop het.” (Rooi Rose, 18 November 1992) “Ek glo mense lag en huil en dan beskryf ek dit. Soms gebeur daar net iets tussen twee mense. Dit bly sit in my. Ek maal daaroor en mettertyd word dit karakters in ’n verhaal. Ek skep eers karakters en skryf dan om hulle heen. Die storie volg laaste.” (Rooi Rose, 18 November 1992) Oor kritiek op haar hantering van die situasie in Israel: “Daar is baie kritiek. Jy lees dit maar. Jy sluk dit af en jy luister of jy kan hoor wat die Here vir jou daarvan sê. Uiteindelik moet jy aan Hom verantwoording doen. Nie aan resensente en hul mede-literêre belangrikes nie.” (Vrouekeur, 11 Mei 2018) Volg sy ’n resep wanneer sy haar rubrieke skryf? “Vir niks wat ek skryf, het ek ooit regtig ’n ‘resep’ nie. Hoogstens ’n gedagte of ’n emosie of ’n sentiment.” (LitNet, 1 Januarie 2013) Is sy tevrede met hoe haar loopbaan en werk gegroei het? “Ek dink nie ’n mens kan ooit regtig met jou skryfvordering tevrede wees nie. Maar ek is wel dankbaar dat die Een vir Wie en deur Wie ek skrywe se Naam verheerlik word in wat ek skrywe. En dat daar mense is wat daardeur meer te wete kom oor Israel en die Jode as wat die media geneig is om toe te gee.” (LitNet, 1 Januarie 2013) Geestelike skrywers staan gewoonlik buite die letterkundige diskoers en hul werk word dikwels nie eens geresenseer nie. Verlang jy nie soms na die dae toe jy boeke geskryf het wat mense laat frons en regop laat sit het nie? “Die stelling aan die begin is inderdaad korrek. En ja, ek verlang na daardie dae en dis nie vir my aangenaam dat daardie element ‘wat mense laat frons en regop sit’ nooit in my ‘geestelike boeke’ raakgesien word nie. Is dit omdat dit nie polities korrek is om positief oor Israel en die Jode te wees nie? Of is dit sommer net swak geskryf?” (LitNet, 1 Januarie 2013) Waar kom haar liefde vir Israel en die mense van Israel vandaan? “Noem my maar ’n fanatikus of wat ook al, maar dié liefde kom van die Een af wat ek gevoel het vir my gesê het: ‘Sê vir hulle Ek hou die verbond wat Ek met Israel gemaak het.’” (LitNet, 1 Januarie 2013) |
Gebore en getoë
Marthé Suzanne (Marzanne of Sasja soos sy onder haar vriende bekend staan) Steenkamp is op 26 Desember 1940 te Somerset-Wes in die Wes-Kaap gebore. Sy was een van vier kinders – sy het ’n suster, Estelle, gehad, asook twee broers, Lectus en LeRoi. Haar pa het by ’n versekeringsmaatskappy gewerk en weens die aard van hierdie werk woon sy gedurende haar skoolloopbaan sewe verskillende skole by (sommige bronne gee dit as agt aan). Sy het in 1958 aan die Hoër Meisieskool te Worcester gematrikuleer.
Marzanne het aan Patricia Witz (Afrikaanse Skrywersvereniging – die webwerf bestaan nie meer nie) vertel dat sy maar altyd geskryf het: “Ek het gehou van opstel skryf, verhaalkompetisies, ensovoorts. Verder het ek in ’n skryfhuis grootgeword – my pa was ’n skrywer.”
Haar pa is Le Roi Steenkamp, skrywer van radiodramas, asook van Die Tydren en Twee blou fietse.
Verdere studie en werk
Ná skool het sy ’n diplomakursus in Laer Onderwys aan die Opleidingskollege te Oudtshoorn gevolg en het ook later aan Unisa gestudeer.
Uit die aard van haar opleiding was Marzanne altyd redelik nou betrokke by die onderwys en het sy deeltyds onderwys gegee aan die begaafde kind – ’n projek wat begin is as ’n proefneming en deur die Kaaplandse Onderwysdepartement ondersoek is. Tot 1993 was sy ’n Afrikaanse onderwyser aan die Rudolph Steiner Waldorfskool in Constantia in Kaapstad. Sedert 1996 het sy vir ’n paar jaar vir twee dae per week ’n vrywillige werk by ATICC/VIROS gedoen – ’n sentrum waar mense hulle laat toets vir MIV. Daarna het sy voltyds begin skryf.
Marzanne was vir ’n hele aantal jare sekretaris van die Afrikaanse Skrywersvereniging.
In 1962 is sy met Niel Leroux getroud wat in die bankwese werksaam was, en hulle het twee kinders: ’n seun, Armand, en ’n dogter, Lenska.
In 1985 is sy van Neil Leroux geskei. Sy is later weer getroud, met Bob van der Boon, ’n Nederlander wat as ’n mariene skeepsloods werk. Hy het ook twee kinders, Roderick en Lisa.
Vanaf ’n jong ouderdom was Marzanne baie lief vir lees en het sy dikwels geskryf. Sy het vir tien jaar gereeld ’n dagboek gehou. Aanvanklik was skryf net ’n uitlaatklep tussen huishou, skoolhou en kinders grootmaak, maar vanaf 1971 het sy vir tydskrifte begin skryf. Haar eerste vervolgverhaal wat in ’n tydskrif verskyn het, was Seisoen op ’n verlate strand, wat in 1973 verskyn het. Daarna is nog verskeie vervolgverhale en heelwat kortverhale in die tydskrifte Sarie, Landbouweekblad en Huisgenoot gepubliseer.
In 1974 is vier van haar vervolgverhale gepubliseer, naamlik Voor dit lig word, Elizabeth se kind, Seisoen op ’n verlate strand en Die weerloses. Ná hierdie eerste vier is haar boeke op ’n gereelde grondslag uitgegee en is dit baie gewild. Baie van die titels is in later jare in sagteband, asook in grootdruk uitgegee.
Marzanne het aan die vrouetydskrif Sarie (1 April 1981) vertel dat sy op ’n stadium gekom het dat sy gefrustreerd gevoel het: “Ek wou graag iets bereik. Ek het besef dat ek nooit ’n Solzjenitzin sal wees nie, want ek skiet so ver tekort. Maar ek het tog gevoel dat daar ’n groot gaping is tussen die pennie-skrywers en dié mense wat letterkunde skryf, wat ek wou probeer oorbrug.”
Dit was ook in 1974 dat sy tot bekering gekom het en dit het daartoe gelei dat nie net haar lewe nie, maar ook haar styl van skryf heeltemal verander het, het sy aan Sarie (1 April 1981) vertel: “Ek het lank gesukkel om weer ’n balans te vind. Ek wil graag die man in die straat probeer bereik, sonder om te preek. Ek wil oor God skryf, maar nie in ’n geestelike boek nie. Eerder oor die werking van God met die mens. Dit is dié dat daar altyd in my verhale ’n boodskap is, nie net ’n ligte liefdesverhaaltjie nie.”
Sy het ook haar hand gewaag aan die skryf van jeugverhale en is baie suksesvol daarmee. In Somernagdroom (1980), wat al agtien herdrukke beleef het, word die jeugliefde en al die probleme daaromheen aangespreek. Die wag vir die somer, wat in 1981 verskyn het en wat handel oor ’n jong man wat aan leukemie ly, is in 1982 aangewys as die naaswenner in Sarie en Tafelberg Uitgewers se jeugverhaalwedstryd. Dit het al sestien herdrukke beleef. Langebaan/Parys – retoer (1986) vertel die verhaal van Hanno en sy oom se besoek aan Parys kort voor Kersfees en Hanno se kennismaking met Misha.
In 1998 word Luc en Libertine gepubliseer, wat al vyf herdrukke gehad het. Dit is die storie van Libertine, ’n Ovambo-meisie van Namibië wat by die Waldorfskool in die Kaap kom skoolgaan. Hier ontmoet sy vir Luc, ’n jong man uit ’n gegoede blanke gesin. Barrie Hough (Rapport, 12 Julie 1998) skryf dat Marzanne op die man af en konfronterend oor politieke turksvye skryf. “Die karakters is fyn, drie-dimensioneel en geloofwaardig.”
In 1982 verskyn Aandmis oor Paternoster, wat opspraak gewek het omdat dit handel oor ’n liefdesverhouding oor die kleurgrens. Dit vertel die verhaal van Sasja, ’n wit joernaliste, en Geoffrey, ’n bruin teoloog, wat mekaar liefkry, en die boek gaan oor die pyn van verbode liefde, die vernedering, die kwesbaarheid en die weerloosheid van die mens voor die mag van die stelsel.
In Rapport (11 Desember 1983) het André P Brink geskryf dat Leroux dit gewaag het om ’n populêre roman te skryf oor die liefdesverhouding tussen ’n wit vrou en ’n bruin man. Hy het voorbehoude soos dat die sentimentele, asook die moraliserende baie vlak lê, maar Aandmis oor Paternoster is tog aan te beveel.
“Die eenvoudige verhaallyn,” het hy voorts geskryf, “die stel van twee mense wat mekaar liefhet teenoor ’n onmenslike sisteem, selfs die bybring van die godsdienstige dimensie – dit alles ‘werk’. (…) En daar is baie klein, vroulike, delikate trekkies in die vertel van die verhaal wat daaraan ’n oortuigende egtheid verleen. (…)
“Uiteindelik bly die vertelling vlak, kom nie by die clichés van die situasie verby nie: oor al die verbysterende afgronde daaronder word liggies geskeer. Maar dit het ’n sekere dwingende bekoorlikheid; en dit verdien terdeë om wyd gelees te word.”
Marzanne se novelle Goud uit strooi, wat in die versamelbundel Bittersoet sewe: liefdesnovelles (1991) opgeneem is, is aangewys as die wenner in Sarie/ATKV se novelle-wedstryd in 1988.
Klaprose teen die wind verskyn in 1992 by Tafelberg Uitgewers. Dit is ’n roman oor seksuele ambivalensie en vigs en vertel die verhaal van Marc en Jurgen wat op grond van politieke en gewetensbesware teen militêre diensplig die land verlaat en in Nederland teregkom. Jurgen was in ’n homoseksuele verhouding betrokke met iemand wat later aan vigs dood is en Marc is die seun van ’n Nederlandse immigrant wat as gevolg van sy homoseksualiteit van sy vrou geskei is en later selfmoord gepleeg het. Marc toon ook homoseksuele neigings, maar het ook ’n seksuele flirtasie met Anneliese, ’n Nederlandse prostituut.
Die boek is bekroon met die FAK en Helpmekaarfonds se prys vir Ontspanningsleesstof in 1993. Soos in baie van haar vorige boeke het Marzanne nie geskroom om ook in hierdie verhaal omstrede vraagstukke aan te pak nie. Sy het aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 27 Julie 1992) vertel: “Al het ek dit aanvanklik nie bewustelik gedoen nie, het ek in Klaprose my eie probleme met homoseksualiteit ontgin. As Christen het ek ’n probleem daarmee, maar ek is lief vir mense en daarom handel die roman uiteindelik oor die weerloosheid van die mens teen die stelsel en hoe hy dit as outsider hanteer."
Marzanne het reeds in die tagtigerjare ’n besoek aan ’n vigskliniek in die buiteland gebring en besluit om daaroor te skryf. Sy was egter nie tevrede met die eerste weergawe van die boek nie, maar het dit tog aan ’n uitgewer voorgelê. Sy het verder aan Theunis Engelbrecht gesê: “Daarna is ek en my man per vragboot na Nederland en daar het ek die roman oorgeskryf en die eerste weergawe een aand in die water gegooi. In Nederland het ek dit teen die militante homoseksualiteit. In die boek wou ek die verfyning en mooiheid uitbring van twee mense wat mekaar liefhet, en ná ’n ruk is ons toe Engeland toe. Die sagtheid en andersheid van die Engelse landskap het my in staat gestel om dié vlak van gay-wees te betrek.”
JC Kannemeyer (Rapport, 2 Augustus 1992) meen dat dit ’n hoogs leesbare en boeiende verhaal is, “al is die roman nie by al sy nate ewe heg toegewerk nie”.
Gretel Wybenga (Beeld, 7 September 1992) het as volg oor Klaprose geskryf: “Die groot aantal standpunte en inligting ten opsigte van gay-wees, vigs, prostitusie en dwelmverslawing word byna deurgaans goed met die verhaalkonteks geïntegreer, en ’n algemene sonde dat dialoog as inligtinggewende vertellersteks misbruik word, word hier selde gepleeg. Die skrywer behoort met hierdie publikasie ’n groot aantal en ’n wye spektrum lesers aan te spreek.”
Barrie Hough (Insig, Julie 1992) skryf dat die registrerende bewussyn in Klaprose Marc s’n is. “Hy het ’n liriese oog wat landskap, voorwerpe, die manier waarop die lig val, op ’n estetiese manier weergee. Die skryfster het hierdie bewussyn knap benut om die sterwensproses pynlik liries te maak. ’n Mens word tegelyk van die skoonheid van die lewe en die verganklikheid daarvan bewus sodat die liriese nooit sentimenteel word nie. Die klaprose (Engels poppies) wat aanvanklik leitmotief is, word simbool van die lewe se verganklikheid en die mens se weerloosheid. Hierdie sentrale idee spreek treffend uit die titel en Alida Bothma se aangrypende voorbladontwerp. (...) Die laaste deel handel skreiend oor die moeder/kind-verhouding en die finale knip van die naelstring. Die leser voel en huil saam met die karakters. Hier is ’n boek wat die hart laat inkrimp.”
By die ontvangs van die FAK-prys vir Klaprose teen die wind het Marzanne ’n paar sterk uitlatings gemaak oor die omskrywing van ontspanningsleesstof wat aan die prys gekoppel is. “Ek sou ’n huigelaar wees as ek moet voorgee dat die omskrywing van die prys – ‘vir ontspanningslektuur’ – my nie dwars in die krop steek nie. Volgens woordeboeke beteken ontspanningslektuur ‘ligte leesstof wat met weinig inspanning gelees kan word’, wat sterk smaak na Mills & Boon. Ek glo in alle nederigheid dat Klaprose teen die wind nie in daardie kategorie val nie.” (Die Burger, 11 September 1993)
Sy het ook die “verwording” in die letterkunde skerp gekritiseer. “Kan letterkundige werke dan alleen nog maar bevolk word deur vergane, bedorwe, ontaarde, siniese karakters? Waarom lyk dit of daar nie meer hoop mag wees nie? Waarom weet jy as skrywer dat as jy die Almagtige God toelaat as ’n medewerker in jou boek, of geloof as bevrydende faktor, jy byna seker as gewild en sentimenteel aangeslaan gaan word?” (Die Burger, 11 September 1993)
Soos honde van die hemel (1995) vertel die verhaal van Ruud, ’n buite-egtelike kind van ’n Kaapse bruin vrou en ’n Nederlandse diplomaat wat terugkeer na die Kaap en ’n verhouding begin met Anne, ’n onderwyseres wat in sy grootouers se ou huis woon – die huis waar hy vir ’n jaar lank deur sy oom seksueel misbruik is.
Vir Phil du Plessis (Die Burger, 1 November 1995) was die boek ou nuus: “Ten spyte van die skryfster se vaardigheid en die verskeidenheid van karakters en situasies. Die situasie in die land is die onderwerp van lang besinnings, gesprekke en Ruud se rubrieke vir ’n Nederlandse joernaal, en dit veroorsaak soms ’n werklike verveeldheid met die roman. Die karakteruitbeelding is nie sterk genoeg nie en die noue problematiek veroorsaak ’n algemene gebrek aan varsheid.”
Gretel Wybenga (Beeld, 11 September 1995) was van mening dat die uiteindelike hoop wat die roman, en dus by implikasie die skrywer, wil gee in ’n hopelose wêreld, Christus is: “Hierdie gegewe, hoe geldig ook al, is nie altyd goed geïntegreer by die verhaal nie, want dit is ’n formidabele en gevaarlike opdrag om ’n godsdienstige, filosofiese of politieke stelsel natuurlikerwys uit ’n fiksionele werk te laat voortvloei.”
JC Kannemeyer (Rapport, 27 Augustus 1995) beskou dit as ’n “meesleurende roman oor twee verwikkelde menselewens wat in die laaste fase van die apartheidsera uiteindelik geluk vind, al lê hierdie geluk dan nog in die verskiet”.
Marzanne was die vertaler van die Zion Chronicles-boekreeks en dit het haar gemotiveer om Israel te besoek. Binne die bestek van twee en ’n halwe jaar het sy Israel sewe keer besoek. Ervarings en waarnemings op hierdie besoeke het die grondslag gelê vir haar volgende roman, Granate bloei in Jerusalem, wat in 2003 by Lux Verbi.BM verskyn het. Granate is met die ATKV-Prosaprys vir 2004 bekroon en is in dieselfde jaar deur die Christelike Boekhandelaars aangewys as die wenner in die fiksie-afdeling.
Die verhaal is ’n voortsetting van ’n verwikkelde verhaallyn wat Marzanne in Tyd van herkenning (1984) aangepak het, skryf Elize Parker (Sarie, Maart 2004). “Dit is ook ’n fyn en driedimensionele blik op die ingewikkeldheid van menslike emosies.”
“Granate is ʼn beskrywing van die geestelike soektog van die hoofkarakter, Marc, wat tydens sy reis ook na sy langverlore Joodse bloed-ouma soek midde-in ’n oorloggeteisterde Jerusalem,” het Marzanne aan Elize Parker vertel. “Ek skryf oor die oorlog omdat ek dit so intens by my besoeke beleef het. Die stemming in Jerusalem is dié van desperate mense wat vrede wil hê.”
Marzanne het die stad te voet verken aangesien dit gedurende daardie tyd al riskant was om bus te ry. “Ek het dikwels na die ou gedeelte van Jerusalem gestap en daar die vrouesoldate sien diens doen. Hulle is fantasties. Dikwels klein en fyn, maar hul toewyding aan hul werk gryp jou hart aan. Een van die karakters in die roman, Rivkah, is op dié waarnemings geskoei. Ek dra maar altyd ’n aantekeningboek saam waar ek ook al gaan.”
Marzanne vertel verder aan Elize Parker dat sy goed voel oor Granate. “Die skryf daarvan was nie altyd maklik nie. Ek het nie eens geweet of die uitgewer die roman, veral oor die tema, sal aanvaar net soos dit is nie. Maar nie ’n komma is verander nie. Net die titel is aangepas. Ek staan graag ma vir die roman en voel ek het goeie keuses oor die karakters, temas en skryf daarvan gemaak.”
In ’n onderhoud met Maryke Roberts (Vrouekeur, 11 Mei 2018) het Marzanne aan haar vertel dat sy haar navorsing in Israel doen as sy alleen daar is: “En ek noem dit ook nie navorsing nie; dis gewoon tussen mense beweeg. Ek behoort jare lank al aan ’n Joods-Messiaanse gemeente in Kaapstad en my kennis van Judaïsme kom daarvandaan en van ortodokse Israeli’s wat ek in Jerusalem ken.”
Dan vertel Marzanne aan Roberts bietjie meer van die hoofkarakters in haar Israel-reeks: “Marc, die begaafde kunstenaar, fyn besnaarde mens en eintlik bietjie van ’n vreemdeling op aarde vind op 20 uit dat hy in werklikheid Joods is. Hy gaan soek sy wortels in Israel en bly daar en word in ’n wêreld van oorlewing gegooi tussen mense wat eeue lank leer oorleef het. Hy raak in die loop van die reeks minnaar, soldaat en pa.
“Rivkah is ’n Israeli-paramedikus vir MADA, Israel se Rooi Kruis. Vreesloos mens, vrou en soldaat, maar met die innerlike weerloosheid van elke Israeli, wat met ’n vingerklap kan omswaai tot iemand wat uit die aard van haar werk daagliks deur die dood in die gesig gestaar word en daarmee saamleef. Marc is haar ewewig, al beweeg sy sensitiwiteit haar soms byna tot raserny.
“Hul kinders is Yoshi, die oudste, met sy ma se vreeslose menswees en sy pa se ontroering, Natan, met Marc se begaafdheid, en Chaya, die amper-laatlammetjie, wat byna haar ma se lewe gekos het. Ander sterk karakters is Chaim, die ortodokse rabbi, Henok, die swart Jood uit Suid-Afrika en Re’uven, Rivkah se broer en ’n luitenant.”
Helene de Kock (Beeld, 19 April 2004) skryf oor Granate dat dit ’n intens godsdienstige boek is: “Dit is uit die Christelike perspektief geskryf en die roman is inderdaad die outeur se erns. Maar daar is te veel emosie. Want ons het hier met fiksie te make. Fiksie stel eise, byvoorbeeld dat die emosie nie op dieselfde frekwensie bly nie. Selfs in ’n kunstenaarstemperament moet daar darem ’n modifikasie van emosie wees. Anders bring dit tekstueel afstomping en sentimentaliteit mee wat ’n redelik weldeurdagte verhaal skaad. ’n Droë gelate humor sou gehelp het. (...) Die ruimte waarin die verhaal hom afspeel, is deeglik ontgin en die leser word geskok deur die onsinnige, gedetailleerde geweld van ’n wêrelddeel waar daar heelwat verskuilde agendas is.”
Die verhaal van Marc en Rivkah word verder vertel in Hatikvah: land van hoop, wat in 2006 ook by Lux Verbi verskyn het. Marzanne vertel aan Willemien Marais (Volksblad, 10 Julie 2006) dat sy nie beplan het om ’n opvolg op Granate te skryf nie, “maar toe dit die vierde keer in nege maande herdruk is en ek gedurig gevra word om daaroor te praat, het ek besluit om die storie verder te vat. Nou lyk dit my moet dit ’n trilogie word! Ek besef dit gaan nie soseer oor die boek nie, dit gaan oor die belangstelling in wat in die Midde-Ooste, en veral in Israel, aan die gang is.”
Marzanne was vroeër in 2006 vir die tiende keer in ses jaar in Israel. Dis waar sy haar navorsing gedoen het, hoewel sy skrikkerig was om die woord “navorsing” te gebruik, erken sy teenoor Willemien Marais: “Netnou dink mense ek sien myself as ’n navorser. Maar ja, ek gaan Israel toe, veral Jerusalem, en soak soveel moontlik op as wat my gestel kan vat, maak materiaal bymekaar, lees en praat met mense. Ek behoort ook aan ’n Joods-Messiaanse gemeente in die Kaap waar ek baie leer.”
Dit het haar agtien maande geneem om Hatikvah te voltooi. Sy vertel dat sy agt uur per dag probeer werk, maar sy slaag nie altyd daarin nie. “As ’n sperdatum my bestorm, pak ek en my man ons goedjies en gaan werk ek ’n rukkie by Augrabies of die see.”
Die onderwerpe wat Marzanne aanpak, raak haar persoonlik en sy skram nie daarvan weg nie – nie van apartheid, homoseksualiteit of die Midde-Ooste nie. Ook Granate bloei in Jerusalem het onder heelwat kritiek deurgeloop – kritici het gemeen dat die Palestyne te eensydig uitgebeeld word, maar na twintig romans, sê sy, het haar vel al heelwat dikker geword.
Thomas Minnaar (Die Burger, 9 April 2007) skryf dat die romanstruktuur taamlik eenvoudig is en die resep van die gewone liefdesverhaal volg. “Die outeur ken haar onderwerp goed, maar die aanbieding van die brokkies inligting doen partymaal te geforseerd aan. Die taalgebruik is plek-plek steurend, maar die roman sal beslis aanklank vind by ’n spesifieke leser wat die absolute waarhede wat hier ter sprake is, onderskryf.”
Cecile Cilliers (Volksblad, 9 Oktober 2006) het as volg oor Hatikvah geskryf: “Die skrale intrige van die roman is weinig meer as ’n kapstok waaraan die skrywer haar oortuigings aangaande Israel hang. Daar is interessante gedeeltes en sommige van die karakters oortuig wel, maar die slordige taalversorging pla. Die roman is teleurstellend.”
Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah is nommer een en twee van die reeks romans wat Marzanne oor Israel geskryf het. Dit is in 2019 saam uitgegee in die eerste Israel-reeks Omnibus.
Marzanne neem die verhaal van Marc en Rivkah verder met die publikasie van Shomer Yisra’el: Beskermer van Israel, wat in 2008 gepubliseer is.
Shomer Yisr’el is die derde boek in haar Israel-reeks. Hierdie keer is die agtergrond van die verhaal wat ook in Israel afspeel, egter die Libanese oorlog van 2006. Dit het nie lank geneem voordat Marc ook opgeroep word om te gaan veg nie. Rivkah, ’n paramedikus en swanger met hul tweede kind, wil ook haar deel bydra en dit lei tot konflik tussen haar en Marc – veral gesien in die lig van haar geskiedenis met miskrame.
Siska Martin is die resensent in Volksblad van 29 Desember 2008: “Dié roman getuig van intensiewe kennis en deeglike navorsing van die Joodse geloof. Weliswaar kry die leser die indruk dat die boek die saak van Israel eensydig bevorder. Nietemin is dit seker die skrywer se goeie reg om haar verhaal te vertel soos sy dit sien, uit haar eie oogpunt en verwysingsraamwerk.
“Ietwat meer as net ontspanningsleesstof, is hierdie boeiende leesstof wat die leser ’n goeie idee gee van die Joodse leefwyse wat vir die gemiddelde Suid-Afrikaner maar vreemd is.”
Die vierde boek in die Israel-reeks is Tiferet Yisra’el: die roem van Israel. In Tiferet word die verhaal van Marc en Rivkah verder vertel. Dit speel weer in Jerusalem af, hierdie slag in 2008, en ook op Stellenbosch.
Die leser ontmoet weer van die karakters in die vorige boeke. Fiksie en feite word goed vermeng en wanneer die verhaal teen die einde aan momentum wen, word dit ’n fassinerende boek wat jy nie kan neersit nie, skryf Frits Gaum in Die Kerkbode (18 November 2011).
“Marc en Rivkah wat Messiaanse Christene is, dit wil sê hulle kombineer die Joodse tradisies met hul geloof in Jesus Christus as die Messias, het ’n vriend Henok Kambunga, ’n swart Suid-Afrikaner wat ’n Swapo-vegter was en mettertyd ook, tot sy vrou Sarah se konsternasie, sy Ethiopiese Joodse oorsprong ontdek en dit baie ernstig opneem.
“Die roman is ook ’n spannende verhaal. Maar die leser sukkel tog soms deur lang dele van die roman wat ’n opeenstapeling van feite oor die Joodse geloof, hulle gebruike en geskiedenis is. Dit word as uitgebreide gesprekke tussen die karakters vertel. Daarin word wel baie (nuttige) inligting verskaf, maar dit dreig soms om die verhaallyn erg te onderbreek. Die verhaal is ook baie eensydig pro-Israel, terwyl ’n wesenlike aspek van die Midde-Oosterse konflik, soos ’n mens dit sou kon vind in ’n Palestynse Christen of Moslem se kant van die storie, nie uitgebeeld word nie.
“Leroux-Van der Boon is ’n deeglike skrywer en lewer met haar Israel-viertal ’n eiesoortige bydrae tot die Christelike verhaalkuns.”
In 2012, ná die publikasie van Go’el Yisra’el: verlosser van Israel het Annemarié van Niekerk ’n onderhoud met haar gevoer. Van Niekerk is van mening dat sy minder godsdienstige mense of diegene wat voel dat die Palestyne ook ’n saak het, die harnas in kan jaag met haar uitgesproke pro-Israelse sentimente.
Marzanne se reaksie hierop was: “Waarom sou skrywers kontroversie wou vermy? As mense warm onder die kraag raak oor pro-Israelse sentimente hoef hulle nie my boek te lees nie. Al wat hulle hoef te lees, is die media. Wat ek wel besef is dat ‘godsdienstige’ boeke nie juis voor in die ry staan vir bekronings nie.”
Soos reeds voorheen gesê, propageer Go’el Yisra’el liewer ’n Messiaanse Joodse geloof. Marzanne het self hierdie geloofstradisie aangehang in haar gemeente in Kaapstad.
In Go’el Yisra’el ontstaan daar spanning tussen Marc en Rivkah en die konflik tussen Israel en Palestina, skryf Van Niekerk. “Hul geloof en hul Joodse tradisievastheid help hulle egter om koers te hou.
“Marc woon die herdenking van die Auschwitz-Birkenau-bevryding in Pole by, maar terug in Israel is hy opnuut bewus van die onrus en probleme in sy land. Maar tussendeur is daar sy gewaarwording van sy Joodsheid, en van Go’el, die Verlosser van Israel, van homself en sy gesin.”
Marzanne het dit aan Van Niekerk verduidelik: “Dit gaan om karakters en hul leef- en sienswyses. Nie oor ortodoks en Messiaans nie. As mense die Israel-boeke as propaganda lees, so be it. Elke leser kan uit ’n boek vat wat hy wil. As die inhoud hom nie aanstaan nie, kan hy die boek toemaak. Of een lees wat pro-Palestyns is. Hy hoef nie vreeslik ver te soek nie.”
Een van die gevolge van so ’n konflik is die skade wat kinders ly wat aan hierdie geweld blootgestel word. En dit het baie naby aan Marzanne se hart gelê: “Vir baie ouers en opvoedkundiges in Israel is dit ook ’n saak van groot kommer. Ouers daar is geneig om hulle kinders te oorbeskerm. Dit lei tot ongedissiplineerdheid, veral by die sekulêre gesinne. Hul redenasie is: ‘Laat ek hom maar alles gee wat sy hart begeer, môre sterf hy as ’n soldaat of in ’n terreuraanval.’
“Daarom klou veral die Messiaanse Jode onder meer aan die hoop dat die Messias binnekort gaan terugkeer om Israel te verlos,” het Marzanne gesê. “Dis nie net ’n bron van hoop nie. Dis hoe dit is. Ek gaan elke jaar Israel toe, ek sien hoe dit wat geskrywe staan, voor my oë waar word.”
Die sesde titel in die Israel-reeks is Kavod Adonai: die vrese van die Here wat in 2013 verskyn het. Volgens die uitgewers se inligtingstuk sal lesers hul opnuut kan verdiep in alles wat in Marc Krige en sy gesin se lewens gebeur: “Dit is Augustus 2011 in Jerusalem. Marc verlaat die Ou Stad vir sy verpligte jaarlikse reserwediens van een maand in die Negev, terwyl die kinders somerskoolvakansie hou in Bat Yam, naby Tel Aviv by die see. Dis dan wanneer Rivkah die nuus van die skietaanval hoor. Geweld en terreur is steeds deel van die normale gang van lewe in Israel. Tog probeer Marc dit by die seuns tuisbring dat geweld nie ’n oplossing is nie, terwyl hy self worstel om die grusame ervarings van oorlog te verwerk. Dan kontak Gadi Marc en nooi hom uit om hom in Parys te besoek. Dis daar waar Marc gekonfronteer word met herinneringe van sy eerste liefde, sy pa wat gay was, en die verlokkinge van die wêreld . . . Klein Natan word siek en hy moet hom huis toe haas. Ten spyte van al sy vrese plaas Marc sy vertroue in HaShem, die Een wat Adonai is, die Koning van die Heelal, wat doen wat reg is in sy oë.”
Die titels in Marzanne se Israel-reeks het uit haar pen gevloei en in 2014 verskyn die sewende roman onder die titel HaKotel: die muur waarin die lotgevalle van die Krige-gesin in Israel voortgesit word. Die uitgewers, Lux Verbi, skryf as volg oor HaKotel: “Hoewel Marc en Rivkah in die vorige boek verlig was dat hul jongste veilig uit ’n baie gevaarlike operasie gekom het nadat daar ’n gewas op sy brein gevind is, is hy nog lank nie buite gevaar nie. Natan moet weer vir ’n breinskandering gaan. Spanning loop uiteraard hoog in die Krige-huishouding. Veral omdat Natan die afgelope tyd weer bleek en lusteloos was. Ná ’n ongeluk op die Beit-Shemesh-pad bevind Rivkah haar in ’n ambulans saam met Aviel, die man met wie sy ’n seksuele verhouding gehad het in Tahiti . . . Sal sy haar skuldgevoelens en verlange na hom te bowe kan kom? Marc kry ’n horlosie as geskenk van sy grootmoeder Ruwth en Ofer Doron merk dat Ruwth nie heeltemal haarself is nie.”
Hetta van Niekerk is Die Kerkbode van 5 Februarie 2016 se resensent van die agste Israel-roman, Tikkun Ha’olam: herstel die wêreld: “Rivkah se ouers – rabbi Chaim en Hadassah Cohen – is, soos die Krige-gesin, Messiaanse Jode (Jode wat Jesus as Verlosser ken) en hulle woon in Jerusalem. Die leser beleef dié familie se wel en wee wanneer hulle tussen 27 November 2013 en 9 Januarie 2015 by verskillende geleenthede met terreur gekonfronteer word. Dit meng met Marc en Rivkah se liefdesverhouding in en stel Yoshi en Natan bloot aan indrukke wat hulle uit ’n ontwikkelingsoogpunt eintlik nog nie gereed is om te verwerk nie. Hoe die impak hiervan hanteer word, gee die leser ook ’n kykie in die rykdom van sekere Joodse religieuse rituele.
“Die titel van die boek verklaar die invalshoek van die teks. Tikkun Ha’olam beteken ‘om die wêreld te herstel’. Dit wat deur die Joodse volksmoord in die Hitler-era afgebreek is, word volgens Joodse tradisie herbou deur gebed, die studie van die Tora en dade van welwillendheid. Terwyl IS (‘Islamitiese Staat’ in Irak en Sirië) en sy saamlopers wêreldwyd dood en donker bring, staan Israel vir lewe en lig. Om die Here se kinders te wees, is ’n lewenswyse. (…)
“Marzanne Leroux-Van der Boon toon haar met die beelde en simbole wat sy gebruik, in hierdie roman opnuut as ’n skrywer van formaat. Haar eerste roman in dié reeks het dan ook destyds die ATKV-prys ontvang. Haar Israel-reeks is uit ’n bepaalde perspektief geskryf en sy toon daarin grondige kennis van Joodse gebruike, die huidige Israel, en die Bybel. In haar werk word bepaalde Joodse gebruike deur die Messiaanse Jode as ’t ware verchristelik en dit maak deel uit van hulle geloof as volgelinge van Jesus. Marzanne se historiese en kontekstuele navorsing beïndruk. Dit sal lesers met kennis van die Bybel en belangstelling in die wel en wee van Israel, enduit boei.”
JB Roux het Tikkun Ha’olam op LitNet bespreek en sy slotsom was nie altyd so vleiend soos ander resensente s’n nie: “In Herstel die wêreld is Rivkah, Marc se vrou en ’n paramedikus, in die hospitaal nadat sy haar been tydens ’n reddingsoperasie in die Filippyne beseer het. Rivkah word ontslaan – dan word drie Israeli-tieners ontvoer en vermoor. Dié ware gebeurtenis word ’n kettingreaksie en nog gebeure uit Israel se onlangse geskiedenis word betrek. Israel loods ’n grondoffensief en Marc word as reservis na die Gasa-grens gestuur.
“Bladsy ná bladsy en hoofstuk ná hoofstuk word in beslag geneem deur ritse dialoog waarin die Joodse geloof uitgelê word sonder dat dit enigiets tot die storie bydra. ’n Skrywer met soveel ervaring het tog seker al gehoor van ‘show, don’t tell’?
“Verder word bladsy na bladsy daaraan afgestaan om karakters te laat verduidelik hoekom die Israeliete stralende engeltjies is wat deur die wêreld misverstaan word terwyl die Palestyne min of meer uit die vagevuur gekruip het. Dié dialoog word lukraak onderbreek deur ’n spreker wat aan sy koffie slurp of in sy lieste krap, maar dan duur die getjommel voort. Die konflik in die Midde-Ooste is sekerlik nie so eenvoudig en eensydig soos dit hier beskryf word nie – geen konflik is nie. Dalk moes die skrywer teruggegaan het na die 1930’s toe Jode, met die hulp van die Haganah-beweging, siviele Arabiere van hulle grond verdryf en in sommige gevalle vermoor het. Sou dit verkeerd wees om te sê dat die Palestyne se kollektiewe geheue hiervan vergelyk kan word met Israeli’s se herinneringe aan die Tweede Wêreldoorlog, wat ook hier ter sprake kom?
“Indien Leroux-Van der Boon se karakters sulke aanvegbare uitlatings móét maak om getrou te bly aan wie hulle is, was dit dalk ’n ander saak, maar met dié braaksels wil die skrywer haar eie sienswyses by lesers se kele afdwing – maar die dame protesteer eenvoudig te veel.
“Later in die boek is daar ’n oplewing wanneer Marc en Rivkah in Parys saam met ander gyselaars in ’n kosjer supermark aangehou word, maar dis heeltemal te laat en heeltemal te min. Hierdie voorval het, soos baie ander in die boek, ’n jaar of wat gelede die nuusopskrifte oorheers. Dit bring ’n interessante realiteit, maar dis nie genoeg om die boek ‘bymekaar te hou’ nie.
“Die nuttelose dialoog wat aan lesers opgedring word, dra grootliks daartoe by dat Herstel die wêreld geen struktuur en geen ruggraat het nie: die boek is ’n vormlose massa woorde. Wat die teleurstelling soveel erger maak, is dat ’n skrywer se jongste boek altyd met haar béste boek vergelyk word: Hoe kan die skrywer van ’n roman soos Klaprose teen die wind ’n onding soos Herstel die wêreld die wêreld instuur? Herstel die wêreld oorleef nie sy gewildheid nie. Mag God ons behoed van nog ’n boek soos hierdie.”
Die negende titel in die reeks, Hasukkah shel David: die tent van Dawid is in 2016 gepubliseer en neem die storie van Marc en Rivkah en hulle twee kinders, Yoshi en Natan, verder. “Rivkah is weer swanger. Terwyl die terreuraanvalle toeneem, wonder beide Marc en Rivkah: Is hierdie die tyd en die plek om nog ’n kind in die wêreld te bring? Dit raak net gevaarliker in Jerusalem se strate. Soos die geboortepyne van sy ma begin, vind Yoshi egter troos in Yeshua se woorde dat sy terugkoms ook soos 'n geboorte gaan wees en dit sal beteken dat die tyd naby is vir Hom om weer Hanukkah shel David op te rig.” (Uitgewers se inligtingstuk)
In 2018 publiseer Lux Verbi die tiende roman in die Israel-reeks onder die titel Ter wille van die vaders (Zechut Avot). Hierdie verhaal het Israel en Suid-Afrika in 2016 en 2017 as agtergrond, skryf Jeanne Els in Rapport van 15 April 2018. Lesers sal weer vir Henok (uit Tiferet Yisra’el) ontmoet saam met sy vrou Sarah.
Sarah beskou die “gedurige” herdenking van die Holocaust as oordrewe en neem ook standpunt in vir die Palestyne in die gevegte met die Jode. Op besoek aan Israel dring sy aan op ’n besoek aan die konsentrasiekampe Auschwitz-Birkenau in Pole. Daar kom sy onder die indruk van die lyding wat die Jode ervaar het. Sarah besluit om saam met Henok in Israel te bly nadat sy Marc se skoonouers ontmoet het.
Ná die eerste drie hoofstukke skuif die fokus van die verhaal terug na Marc en Rivkah en hulle gesin. En Sarah en Henok se lewens kom eers in die laaste hoofstuk weer na vore.
Jeanne Els sluit haar bespreking van Ter wille van die vaders af: “Die omslag is treffend, maar die gebrek aan ’n deeglike teksversorger met insig laat die skrywer liederlik in die steek.” (En Els gaan voort om van die talle foute in die teks op te noem.)
“Nogtans is Ter wille van die vaders onderhoudende leesstof. Deur Leroux-Van der Boon se gereelde besoeke aan Israel ken sy die land, sy kultuur en mense. Die Hebreeus wat sy inweef, gee haar verhaal tekstuur en uit die volledige bronnelys is dit duidelik dat die skrywer deeglike navorsing gedoen het.”
Marzanne glo nie dat dit ’n risiko is om in elke verhaal in die reeks dieselfde karakters te gebruik nie, sê sy aan Maryke Roberts in Vrouekeur: “By elke boekbekendstelling vra mense my altyd om tog nie die karakters te laat doodgaan nie. (…) Elke boek staan tot ’n mate in afsondering en tog met ’n bekendheid van wat om van die karakters te verwag in die onstuimige omstandighede waarin hulle leef.”
In 2020 publiseer Lux Verbi die elfde verhaal in die Israel-reeks – een wat later die laaste een blyk te wees – met die titel Hooglied: Shir HaShirim. Die uitgewers het as volg oor Hooglied geskryf: “Marc se ou kunsdosent Simon kom kuier en hulle wys die hele land vir hom. Ma se Mara en haar oppasser Anna kom kuier in Jerusalem en Mara begin al meer haar Joodse afkoms verwelkom. Dit is Yoshi se bar mitzvah? Die dae is vir die Kriges soms donker, maar soms ook wondermooi. Shir-HaShirim – ’n hooglied? Dikwels nie. Tog is daar altyd ’n lied om te sing.”
In 2013 publiseer Tafelberg ’n tweeluik van Marzanne onder die titel Skadu’s van gister. Dit is ’n gesamentlike heruitgawe van Klaprose teen die wind en Soos honde van die hemel.
Marida Fitzpatrick het Skadu’s van gister vir Beeld (3 Junie 2013) bespreek en sy het sekere voorbehoude gehad oor die twee verhale daarin: “Leroux-Van der Boon is ’n uitgesproke Christen en daar is natuurlik niks daarmee verkeerd nie, maar die manier waarop sy dit in haar boeke indwing, doen die romans skade aan. Dit maak andersins aangrypende en oortuigende stories sentimenteel en by tye selfs prekerig. (…)
“Dit hinder ook dat die skrywer se eie vooroordele oor homoseksualiteit blykbaar neerslag gevind het in die karakters en stories. Sy het al in ’n onderhoud erken sy het as Christen ‘’n probleem daarmee’ en dis ongelukkig duidelik in Skadu’s. In die gevalle waar die karakters hul homoseksualiteit uitleef, eindig dit feitlik sonder uitsondering in siekte, dood, kindermolestering of selfmoord. Al wanneer daar vir die ‘homofiel’ hoop is, is wanneer hy sterk genoeg is om die ‘regte ding’ te doen en selibaat te bly.
“Goeie romans vra vrae pleks om antwoorde te bied, laat die leser wonder pleks van weet, woel onsekerhede los pleks van om absolute waarhede te gee.”
Ook JB Roux was op LitNet nie oortuig van die besluit van die uitgewers om juis Klaprose teen die wind en Soos honde van die hemel weer uit te gee nie. Hy skryf as volg: “Albei verhale skep steeds die indruk van ’n emosionele geroesemoes, van ámperse soetsappigheid (in teenstelling met die gevoelvolheid van die skrywer se vroegste werke). Nie in een van hierdie twee verhale is daar veel sprake van intrige nie; pleks daarvan is daar eindelose paragrawe dialoog wat allermins boei. Die geestelike aspek word so half aan die hare bygesleep. Die karakters se grenslose gewroeg irriteer pleks daarvan om deernis te skep. Leroux-Van der Boon verstáán pyn en sy het ’n goeie begrip van die ‘menslike kondisie’, maar om sinvol daaroor te kan skryf, tel – na aanleiding van hierdie twee verhale – nie onder haar talente nie. ’n Mens wonder deurentyd wát die skrywer eintlik probeer sê. En die verhale is oudmodies: Wil ons regtig nog lees oor ’n tyd toe Vigs sinoniem was met homoseksualiteit en die massas probeer het om apartheid met brandende buitebande uit die weg te probeer ruim? Dié dinge is, wat die letterkunde betref, lankal afgehandel en moes liefs in die skadu’s gebly het.”
Marzanne Leroux-Van der Boon het sedert 2005 rubrieke vir die geestelike tydskrif Lééf met hart & siel geskryf. ’n Keur van die rubrieke is in 2013 onder die titel Lewensblik: sketse oor die lewe uitgegee.
JB Roux het op LitNet ’n klompie vrae oor Lewensblik aan Marzanne gevra. Hy wou weet of skryf, ook die skryf van rubrieke, ’n “moeisame en wroegende” proses vir haar is. Haar antwoord: “Dit geld wat my betref vir alles wat ek skrywe. Moeisaam, ja; ‘wroegend’ is miskien bietjie oordrewe. Hoewel daar baie sulke oomblikke is.”
Sy het ook aan Roux gesê dat sy nie die boek enigsins op enige spesifieke iemand “gemik” het nie. Sy het ook gevoel dat sy nie genoeg erkenning vir haar skryfwerk gekry het nie – “miskien oor ek ’n ‘geestelike’ skrywer is. Miskien oor ek nie ‘letterkundig’ genoeg is nie. Wie sal weet.”
Soos duidelik uit Marzanne se boeke sedert 2000 het daar ’n wonderlike nuwe hartstog by haar oopgegaan, naamlik die Ewige God se voorneme met Israel, sy verbondsvolk, en uiteindelik deur Israel met die nasies. Sy het aan Danila Liebenberg (Volksblad, 6 Augustus 2007) vertel: “Ander temas wat my ten diepste raak, is ook die reis tussen mens en mens, sowel as die reis tussen mens en God. Ook die liefde, want daar is soveel om lief te hê.”
Marzanne is ’n skrywer wat haar roeping volg en altyd probeer om haar lesers ’n kykie in die werklikheid te gee. Sy het daarvan gehou om te skryf oor dit waarmee sy bekend is, en wanneer sy oor ’n plek geskryf het wat sy nie ken nie, het sy gesorg dat sy daarheen gaan om die atmosfeer vas te vang. In die meeste van haar werke speel God en Christus se dood groot rolle, en ook die romantiese liefde is ’n deurlopende tema in haar boeke.
Marzanne doen deesdae ook vertaalwerk en sy vertaal haar boeke oor Israel self. Sy vertaal meestal uit Engels in Afrikaans, maar het ook al heelwat uit Afrikaans in Engels vertaal en by geleentheid uit Nederlands in Engels. Sy voel dat sy “makliker” vertaal as wat sy skryf. “As jy ’n los halfuur het, kan jy gaan sit en ’n bladsy vertaal, wat jy hoegenaamd nie met skryfwerk kan doen nie. Die dissipline van ’n stuk vertaalwerk binne ’n spertyd te moet lewer, is báie goed vir my – wat alles tot die laaste oomblik los om klaar te maak,” vertel sy aan Danila Liebenberg. (Volksblad, 6 Augustus 2007) “Ek is nogal baie, baie daarop ingestel om nie met ’n ander skrywer se werk te peuter nie. Ek probeer so na as menslik moontlik aan die oorspronklike bly. Miskien is dit verkeerd, ek weet nie. Maar ek sal nie daarvan hou as iemand my werk vertaal en sy eie storie daarvan maak nie.”
Marzanne erken dat haar Christenskap deurlopend is in haar lewe. Aan Erika van Rooyen (Die Voorligter, Februarie 1996) vertel sy: “Ek is ’n gelowige met ’n innige verhouding met God. Ek kan glad nie skryf sonder God nie. Ek probeer God op só ’n manier in my boeke aanbied dat die wêreld amper nie agterkom ek bied Hom aan nie. ’n Mens kan nie mense in God geïnteresseerd kry as jy prekerig praat nie.” Marzanne het godsdienstig grootgeword, maar nie werklik ’n persoonlike verhouding met Jesus gehad nie. In 1974 is sy in ’n charismatiese kerk gedoop en het dinge verander. “Ek wil egter glad nie sê die Nederduitse Gereformeerde Kerk is dood nie. [...] Natuurlik het van my familielede skeef opgekyk toe ek na die charismatiese kerk is. Sondagoggende gaan ek steeds saam met my man na die Hollandse Presbiteriaanse Kerk.”
Haar man, Bob, is al dertig jaar in Suid-Afrika, maar hulle gaan nog baie na Nederland, sy geboorteland. Marzanne hou van Nederland, maar sy wil liewer in die nuwe Suid-Afrika woon waarvoor sy lief geword het. Sy hoef nou nie meer haar liberale hoedjie op te hê nie. Hulle beplan egter om ná Bob se aftrede meer tyd in Nederland te bestee.
Sy en Bob is baie lief om saam te reis. “Omdat hy skofte werk, het hy vrye tyd wanneer ander mense werk. Ons het onlangs (1995) in Namibië getoer. Die mense daar het werklik ’n vonkelkwaliteit en Windhoek is ’n opwindende, kosmopolitiese stad. In Namibië is daar nie so ’n skeidslyn tussen ’n nuwe en ou bedeling soos in Suid-Afrika nie.” (Die Kerkbode, 4 Augustus 1995)
Marzanne erken dat sy ’n bietjie “ongewoon besete” is oor diere. Sy en Bob het op ’n stadium vier gehad en beskou hulle as een van God se heerlikste gawes aan die mens.
Op ’n vraag van Danila Liebenberg (Volksblad, 6 Augustus 2007) oor wat sy nog in haar skryfloopbaan wil doen en bereik, antwoord Marzanne: “Ek weet eerlik nie wat die Here se plan met my is nie. Op die oomblik gaan dit om Israel. Dit mag vroom klink, maar dis eerlik so dat ek in hierdie stadium van my lewe dit nie wil waag om ’n tree buite Sy wil te gaan nie. Watter talent ek ook al het, het ek van Hom gekry. Ek sal daarvoor moet rekenskap gee.”
In 2004 het die Afrikaanse Skrywersvereniging die Patrick Petersen-gedenkprys aan Marzanne toegeken. By die oorhandiging van die prys aan haar het Danie Botha onder andere gesê: “Elke boek van Marzanne Leroux het, soos ons in die uitgewersbedryf sê, ’n hart. (…) Oorsigtelik kan ’n mens beweer dat Marzanne Leroux ’n betrokke skrywer is. Sy neem waar, sy doen baie navorsing en skryf dan oor sake van die dag. Daarmee is sy dan ’n voorloper, ’n baanbreker. (…) Dié omvangryke skryfwerk en betrokkenheid van Marzanne getuig vir haar, maak haar ’n ware aanspraakmaker op die Patrick Patersen-verering.” (Die Burger, 23 November 2004)
Watter skryftemas raak haar ten diepte? “Inderdaad is dit die reis tussen mens en mens, en die reis tussen mens en God, wat my nog altyd geweldig aangegryp het. So ook die liefde, want daar is soveel om lief te hê. Maar sedert 2000 het ’n wonderlike nuwe hartstog by my oopgegaan as mens dit so kan stel: Die Ewige God se voorneme met Israel, sy verbondsvolk – en uiteindelik deur Israel met die nasies.” (Volksblad, 6 Augustus 2007)
Tydens 2015 se Woordfees op Stellenbosch is Marzanne vereer met ’n profielaanbieding oor haar lewe en werk. Die ouduitgewer Danie Botha en Susan Jordaan van Lux Verbi het met haar gesels. Sy het aan hulle vertel dat ’n joernalistieke onderbou vir haar romans baie belangrik is: “Ek wil sien, en voel en hoor hoe dit daar is, om daaroor te kan skryf. Navorsing is ’n baie groot woord, maar as jy in Israel is, kom die gegewens na jou toe aangevlieg, soos na ’n magneet.” (Netwerk24, 11 Maart 2015)
Haar volgende projek het nooit met ’n storie begin nie, maar liewer met ’n vae tema, het sy aan Maryke Roberts verduidelik: “Die karakters en gebeure – werklike gebeure – waarin ek hulle plaas, maak die storie. Ek dink onder meer aan Soos honde van die hemel wat ek oor die politieke omwenteling in 1994 geskrywe het of die een oor vigs, Klaprose teen die wind. Dis altyd maar oor werklike feite.”
En haar idees het uit haar tye in Israel na vore gekom: “My vele bronne van inligting wat van oraloor kom en my Joodse vriende. Die idees is nie nuut nie; dis eenvoudig wat gedurende ’n jaar of twee in Israel gebeur het. As jy jou karakters ken en jy het die gegewe, vertel hulle self die storie. En uit die aard van hul Joodsheid en hul Israeli-identiteit, praat hulle soos hulle praat en leef hulle soos hulle leef.” (Vrouekeur, 11 Mei 2018)
Op 16 Augustus 2022 Is Marzanne Leroux-Van der Boon op die ouderdom van 81 oorlede nadat sy in Junie 2022 ernstig siek geword het as gevolg van ’n aorta en twee kleppe in haar hart wat gelek het en ’n aktiewe aneurisme, het haar dogter Lenska Lourens aan Netwerk24 vertel. Sy is toe opgeneem in die Mediclinic in Hermanus en later oorgeplaas na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad se waakeenheid. ’n Opehartoperasie is op 1 Augustus gedoen en sy was op lewensondersteuning tot haar afsterwe. Sy word deur twee kinders, Lenska en Armand, en twee kleinkinders, Aliyah en Laylah, oorleef.
Huldeblyke:
- Lenska Lourens, haar dogter: “Ek onthou my ma as ’n ‘kind van God’ wat Jesus-liefde uitgestraal het met almal met wie sy te doen gehad het. Sy was ’n ongelooflike menseliefhebber, en het ongelooflike kennis gehad. Israel was haar passie. Dit was haar tweede huis. Toe ek in 2013 saam met haar was en ons by die doeane aankom en sy haar paspoortboekie oopmaak, toe sê hulle: ‘welcome home’, omdat sy so baie daar was.” (Netwerk24, 19 Augustus 2022)
- Christine Ferreira, vriendin en redakteur van Lééf: “Die tema van haar agterblad het altyd gegaan oor Israel. En sy het altyd hoop gebring, maar sy het nooit weggeskram om oor die harde realiteite, die pyn en die seer van die lewe te skryf nie. Veral van die Joodse volk en hoe hulle maar deur die jare vervolg is.” (Netwerk24, 19 Augustus 2022)
- Heindrich Wyngaard, radio- en TV-aanbieder: “Sy was ’n gevestigde skrywer wat met passie en toegewydheid haar steun gebied het aan die negentigers wat ná die demokratiese omwenteling in ons politiek ’n stem in die hoofstroom van die Afrikaanse letterkunde begin kry het. Haar vriendelikheid, opregtheid en sagte benadering het heelpaar beginnerskrywers die moed gegee om voort te skryf, vér soos wat hul aanvanklike pogings dalk aan publikasie-gereed was.” (Netwerk24, 19 Augustus 2022)
- Helene de Kock, skrywer: “Marzanne Leroux-Van der Boon was ’n nederige mens. En ’n nederige skrywer. Sy het uit die moed van haar oortuiging, wat soms lynreg teenoor die huidige tydgees ingedruis het, geskryf.
“Leroux-Van der Boon het onverskrokke, moeilike temas soos onder andere vigs, homoseksualiteit en liefde oor die kleurgrens aangepak en dit met groot sukses in haar verhale ingeweef. In Aandmis oor Paternoster raak sy byvoorbeeld die liefde tussen ’n wit joernalis en ’n bruin teoloog aan. Daardeur het sy die lesende publiek bewus gemaak van hierdie en ander gekompliseerde, sosiopolitiese kwessies. Tog slaag sy fyn daarin om die storie voorop te stel en die storie self dra telkens die tema oor. Dit is bepaald die geheim van ’n tema suksesvol oordra – dat die fiktiewe verhaal dit self openbaar moet maak. Daarin het Marzanne Leroux-Van der Boon in haar romans goed geslaag. (…)
“As mens was Marzanne Leroux-Van der Boon aangenaam en meelewend. Sy het nie teruggedeins daarvoor om ’n resensent vir ’n stewige dog gebalanseerde resensie te bedank nie. Sy was wel sensitief, nie vir regverdige kritiek nie, maar vir die byt van diegene wat neerhalend teenoor haar werk was. Sy het ten spyte hiervan haar skryfwerk onverpoosd voortgesit. Marzanne was ’n skrywer, vertaler, berader, onderwyser en het op verskeie rade gedien. So het sy sinvolle bydraes gemaak tot die samelewing en nogtans ’n redelik-lae profiel gehandhaaf omdat sy sag van aard en wys was. Marzanne Leroux-Van der Boon sal op vele terreine gemis word.” (LitNet, 26 Augustus 2022)
- Tafelberg Uitgewers: “Ons verneem met groot hartseer en leedwese van die afsterwe van geliefde skrywer Marzanne Leroux-Van der Boon. Sy sal altyd onthou word vir haar liefde vir Israel en die Joodse kultuur.” (Maroela Media, 18 Augustus 2022)
Publikasies
As Marzanne Leroux
|
Publikasie |
Voor dit lig word |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Elizabeth se kind |
|
Publikasiedatum |
1974 (Grootdruk) |
|
ISBN |
0909231060 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Op Safari |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Seisoen op ’n verlate strand |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die weerloses |
|
Publikasiedatum |
1974 |
|
ISBN |
0798130504 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ver land van vrede |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lente van die rooi papawers |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Somernagdroom |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Aandmis oor Paternoster |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die wag vir die somer |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Tweede prys in Tafelberg-Sanlam-wedstryd vir tieners 1982 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die blywendste seisoen |
|
Publikasiedatum |
1983 |
|
ISBN |
0907992188 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Waterkant Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Tyd van herkenning |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0907992234 (hb) |
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Beste Christelike boek: fiksie 2003 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Langebaan/Parys – retoer |
|
Publikasiedatum |
1986 |
|
ISBN |
062402332X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Dosyn dae, dosyn maande |
|
Publikasiedatum |
1987 |
|
ISBN |
062402492X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Sarie-ATKV-wedstryd vir Vervolgverhale 1986 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
As Marzanne Leroux-Van der Boon
|
Publikasie |
Klaprose teen die wind |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
0624029808 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
FAK en Kaaplandse Helpmekaar-studiefonds Prestigeprys vir Ontspanningsleesstof 1993 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Soos honde van die hemel |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
0624033988 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Luc en Libertine |
|
Publikasiedatum |
1998 |
|
ISBN |
0624036677 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Granate bloei in Jerusalem |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
07963012122 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi.BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
|
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Dawid se jubeljaar en ander kortverhale |
|
Publikasiedatum |
2003 |
|
ISBN |
0796301085 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi.BM |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Hatikvah: land van hoop |
|
Publikasiedatum |
2006 |
|
ISBN |
079630520X (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi.BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engelse vertaling deur die skrywer 2006 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Shomer Yisra’el: beskermer van Israel |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780796305527 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi.BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engelse vertaling 2008 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Tiferet Yisra’el: die roem van Israel |
|
Publikasiedatum |
2010 |
|
ISBN |
9780796318909 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Engelse vertaling 2011 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Go’el Yisra’el: verlosser van Israel |
|
Publikasiedatum |
2012 |
|
ISBN |
9780796312624 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Kavod Adonai: die vrese van die Here |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780796316233 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Lewensblik: sketse oor die lewe |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780796318237 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Skadu’s van gister |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780624058816 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
HaKotel: die muur |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9780796316066 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Tikkun Ha’olam: herstel die wêreld |
|
Publikasiedatum |
2015 |
|
ISBN |
9780796318657 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Hasukkah shel David: die tent van Dawid |
|
Publikasiedatum |
2016 |
|
ISBN |
9780796319968 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Ter wille van die vaders: (Zechut Avot) |
|
Publikasiedatum |
2018 |
|
ISBN |
9780796320841 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Hooglied: Shir HaShirim |
|
Publikasiedatum |
2020 |
|
ISBN |
9780796321695 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Israel-reeks. Omnibus 1 (Granate bloei in Jerusalem en Hatikvah: land van hoop) |
|
Publikasiedatum |
2019 |
|
ISBN |
9780796321978 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Israel-reeks. Omnibus 2 (Shomer Yisra’el: beskermer van Israel en Tiferet Yisra’el: die roem van Israel) |
|
Publikasiedatum |
2021 |
|
ISBN |
9780796322722 (sb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
Vertalings deur Marzanne Leroux-Van der Boon
Fuller, Cherie: Gesinne wat bid. Wellington: Lux Verbi.BM, 2003
Fuller, Cherie: Die ma wat jy graag wil wees. Wellington: Lux Verbi.BM, 2005
Hawkins, Kathy: Die moed van ’n leeu: ’n Bybelse roman. Wellington: Waterkant, 2000 [ISBN 0907002889 (sb)]
Hawkins, Kathy: Die hart van ’n vreemdeling: ’n Bybelse roman. Wellington: Lux Verbi.BM, 2001 [ISBN 0869979914 (sb)]
Thoene, Bodie: Dogter van Sion. Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2001 [ISBN 1868234096 (sb)]
Artikels deur Marzanne Leroux-Van der Boon:
- Breekbaar (Lewensblik). Lééf, November 2009
- Dagbreek (Lewensblik). Lééf, September 2009
- Die fliek wat my insig gee – Marzanne Leroux-Van der Boon
- Hy het die stilte help oopbreek. Beeld, 26 November 2004
- Hy wat sorg. Lééf, Oktober 2009
- Is die keiser dalk kaal? Kaapse Bibliotekaris, Januarie 1994
- Jy’s myne (Lewensblik). Lééf, Mei 2010
- Lof aan Pat Petersen. Die Burger, 23 November 2004
- Manne met murg in hul pype. Finesse, Oktober 1998
- My lente-liefde. Sarie, 14 September 1994
- Om te skryf is goed. In: In ons goeie boekies: skrywers en redakteurs oor Tafelberg-Uitgewers, saamgestel deur Danie Botha. Kaapstad: Tafelberg 1991
- ’n Skrywer se passie [oor haar liefde vir Israel]. Vrouekeur, 20 Februarie 2004
- Stad van trou (Lewensblik). Lééf, Augustus 2008
- Vioolmusiek, see-uitsig … en ’n geestelike feesmaal. Finesse, Julie 1998
- Wié is die Afrikaanse vrou en wát is haar status? Algemene Kerkbode, 14 Oktober 1994
Artikels oor Marzanne Leroux-Van der Boon:
- Barnard, A: Onderhoud met Marzanne Leroux-Van der Boon op MedFM
- Boekprys-etiket krap skrywer om. Volksblad, 15 September 1993
- Botha, Danie: Marzanne “betroubare spioen”. Die Burger, 23 November 2004
- De Beer, Suna: Marzanne Leroux: ’n oomblik van ontroering. Kaapse Bibliotekaris, Junie–Julie 1987
- De Kock, Helene: In memoriam: Marzanne Leroux-Van der Boon (26 Desember 1940–17 Augustus 2022)
- De Vries, Willem: Hulde aan skrywer van Israel-romans
- Eie belewenisse skryfster se bron van inspirasie. Die Burger, 27 Mei 1983
- Engelbrecht, Theunis: Middelmoot-etiket kan jou “skawe”. Beeld, 27 Julie 1992
- Hulde aan Marzanne Leroux-Van der Boon
- Jantjies, Candice: Marzanne Leroux-Van der Boon was lief vir mens en dier én Israel
- “Klaprose” wen prys vir ontspanningsleesstof. Beeld, 14 September 1993
- Liebenberg, Danila: Lande en papawers. Volksblad, 6 Augustus 2007
- Marais, Willemien: Marzanne Leroux-Van der Boon se land van hoop. Volksblad, 10 Julie 2006
- Marzanne Leroux van der Boon
- Marzanne Leroux-Van der Boon
- Meer oor Marzanne Leroux. Sarie, 1 April 1981
- Mittner, Esme: Einddeelnemer word ’n wenner. Sarie Marais, 25 Februarie 1987
- Roberts, Maryke: Karakters maak die storie. Vrouekeur, 11 Mei 2018
- Skrywer Marzanne Leroux-Van der Boon sterf
- Skrywers en Boeke 24 Augustus 2022
- Steyn-Bezuidenhout, Christa: Skrywer (81) met passie vir Israel sterf
- Van der Merwe, Romi: Sy pen die roerende vas. Rooi Rose, 18 November 1992
- Van Rooyen, Erika: “Ek kan nie skryf sonder God nie” – Marzanne Leroux-Van der Boon. Die Kerkbode, 4 Augustus 1995
- Van Rooyen, Erika: “Ek kan nie skryf sonder God nie”. Die Voorligter, Februarie 1996
- Van Staden, Christo: Van der Boon se bekroonde boek “nie vir ontspanning”. Die Burger, 11 September 1993
Marzanne Leroux-Van der Boon se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-09-16 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: verskaf deur NB-Uitewers
Kommentaar
In sad shock, as had not heard back from Sasja (Shoshana) for almost a year.
Sat and talked and dined with her on a few Jerusalem visits in the Christian Humble Hotel she stayed at sometimes.
She told me I would be in future books as another brief character. Only own books 1-4. Sure hope to obtain 5-11.
She was a wonderful, Godly woman and told me much of her life not in print here that I cannot share without her permission. Such a loss to her children and grandchildren and the world. Guess Israel series completed her work God had ordained. She's out of this collapsing world and I hope I'm worthy that Yeshua will know me and then I will see her again after Christ soon returns. Blessings to Lenska who has lost both husband and mom. My sadness is most good people in this world have left before me. It's a recipe to cling to God and do his bidding yet more.
Rest in your short nap, Sasja, as it's a short nap.