Skryf, etikette en 'n blik op Lewensblik

  • 1

Titel: Lewensblik – sketse oor die lewe
Skrywer: Marzanne Leroux-Van der Boon
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796316066

 

 

 

Koop Lewensblik by Kalahari.com.

Marzanne Leroux-Van der Boon het ’n lang skryfloopbaan agter die rug waarin sy ’n hele stapel romans en jeugromans gelewer en ’n groot korps getroue aanhangers opgebou het. Sy skryf ook gereeld rubrieke vir die geestelike tydskrif Lééf – met hart & siel. ’n Keur van dié rubrieke het so pas onder die titel Lewensblik verskyn. JB Roux het met haar oor dié boek gesels.

Sover ek kan vasstel, is hierdie jou eerste boek wat nié ’n roman of jeugverhaal is nie ...?

Nee, daar het al ’n kortverhaalbundel, Dawid se jubeljare, ’n paar jaar gelede by LuxVerbi verskyn.

Hoe lank skryf jy al rubrieke vir Lééf?

Vanaf 2005.

Jy is bekend daarvoor dat om te skryf vir jou ’n moeisame, amper wroegende proses is. Geld dit ook jou rubrieke?

Dit geld wat my betref vir alles wat ek skrywe. Moeisaam, ja; “wroegend” is miskien bietjie oordrewe. Hoewel daar baie sulke oomblikke is.

Volg jy ’n “resep” wanneer jy ’n rubriek skryf, of is elkeen ’n “storie” op sy eie?

Vir niks wat ek skryf, het ek ooit regtig ’n “resep” nie. Hoogstens ’n gedagte of ’n emosie of ’n sentiment.

Daar word dikwels gesê dat rubrieke (in die algemeen) nou eenmaal bedoel is om een-een (en ver uitmekaar) gelees te word en eenvoudig nie “werk” wanneer hulle in ’n boek byeengebring word nie. Wat is jou mening hieroor?

Ek stem daar 100% mee saam!

Lewensblik sluit tematies by jou ­Israel­-romans (waarvan daar al ’n hele reeks verskyn het) aan. Waar kom jou liefde vir Israel en die mense van Israel vandaan?

Noem my maar ‘n fanatikus of wat ook al, maar dié liefde kom van die Een af wat ek gevoel het vir my gesê het: “Sê vir hulle Ek hou die verbond wat Ek met Israel gemaak het.”

Skrywers is gewoonlik lugtig vir etikette. Hoe voel jy daaroor om as ’n “geestelike” skrywer bekend te wees?

Ja, ek kan jou vertel hoe gevaarlik dit is om as ’n “geestelike” skrywer betitel te word. Maar dit is nou maar wat ek is. So wat sal dit help om daarvan weg te hardloop? In die letterkunde, en veral hier by ons, moet ’n skrywer nou maar eenmaal betitel word en daardie titel hou jy, al doen jy wat jy wil. 

Op wie is hierdie boek gemik? Dalk ook vir lesers wat nog nie jou rubrieke in Lééf gelees het nie?

Ek het nie hierdie boek “gemik” nie, so dié vraag kan ek jou nie beantwoord nie. Dit moet jy vir die uitgewer vra.

Hennie Aucamp het gesê geen skrywer kan sonder erkenning skryf nie. Voel jy dat jy genoeg erkenning kry vir jou skryfwerk van die afgelope jare?

Nee, ek voel dit nie. Miskien oor ek ‘n “geestelike skrywer” is. Miskien oor ek nie “letterkundig” genoeg is nie. Wie sal weet.

Geestelike skrywers staan gewoonlik búite die letterkundige diskoers en hul werk word dikwels nie eens geresenseer nie. Verlang jy nie soms na die dae toe jy boeke geskryf het wat mense laat frons en regop sit het nie?

Die stelling aan die begin van jou vraag is inderdaad korrek. En ja, ek verlang na daardie dae en dis nie vir my aangenaam dat daardie elemente “wat mense laat frons en regop sit” nooit in my “geestelike boeke” raakgesien word nie. Is dit omdat dit nie polities korrek is om positief oor Israel en die Jode te wees nie? Of is dit sommer net swak geskrywe?

Jy het baie lang pad gekom sedert jou heel eerste boek verskyn het. Is jy tevrede met hoe jou loopbaan en werk gegroei het?

Ek dink nie ’n mens kan ooit regtig met jou skryfvordering tevrede wees nie. Maar ek is wel dankbaar dat die Een vir Wie en deur Wie ek skrywe se Naam verheerlik word in wat ek skrywe. En dat daar mense is wat daardeur meer te wete kom oor Israel en die Jode as wat die media geneig is om toe te gee.

Kan jou lesers een of ander tyd uitsien na ’n nuwe boek wat nié by die Israel-reeks aansluit nie?

Ek glo nie. Klaprose teen die wind en Soos honde van die hemel is onlangs weer in een bundel onder die titel Skadu’s van gister deur Tafelberg uitgegee. Ons sal maar sien wat diegene wat wil frons en regop sit, daarmee gaan doen.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 1

Kommentaar

  • Goeiedag, my man het Lewensblik as geskenk gekry, hy het dit nooit gelees nie,maar ek het! O die boek, is vir die mooiste, die kosbaarste, ek het hom al amper 'n duisend keer gelees, en elke keer bind dit my so, ek het al lang trane gehuil, elke verhaal is vir my kos vir my siel. So wat in my eie lewe gebeur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top