Marthinus Basson gereed om regisseurs se hande weer vuil te kry

  • 2

Die KKNK en NATi het pas aangekondig dat Marthinus Basson die KKNK | NATi STUDIO Regiekursus vir aspirant- en ervare regisseurs gaan aanbied. Teatermakers wat by dié uitstekende inisiatief wil baat, moet vinnig spring met hul aansoeke, want die sluitingsdatum is Vrydag 19 Maart om 12:00. Volledige inligting is hier beskikbaar. Melt Myburgh het Marthinus Basson oor die projek uitgevra, en sommer ook uitgevis oor sy 50 skitterende jare in die teaterbedryf.

Marthinus Basson in die regisseurstoel. (Foto: Hans van der Veen)

Die aankondiging dat jy vanjaar die KKNK en NATI se regiekursus gaan aanbied, is uitstekende nuus vir die teater- en feestebedryf. Veral in hierdie tydsgewrig, met ’n grendelstaat wat ’n stok in die wiel kom steek het. Wat is jou indrukke oor die impak van die inperkings op die plaaslike bedryf? Hoe voel jy oor die manier waarop feeste-organiseerders en teatermakers dié ongekende uitdagings hanteer?

Die inperkings het vir ’n groot deel van die bedryf deure gesluit. Net hier en daar kon die televisiebedryf, deels om hulself aan die gang te hou, werk skep vir ’n klein groepie mense. Maar baie het reeds langs die pad geval.

Teater bestaan uit baie meer as akteurs. Daar is tegniese personeel, bestuurspanne, kostuum- en rekwisietemakers, teaterbestuurders en foyerpersoneel, skoonmakers, kroegmanne en so meer wat nie noodwendig opgevang is nie, maar sonder wie die teater ook nie kan klaarkom nie. Almal moes hulleself herbedink. Sommige bekende name het om den brode gaan werk in kwekerye, ander as kelners. En ek vermoed ’n deel sal hulle pad nie weer terug teater toe vind nie.

Staatshulp is skraps en het baie foutlyne en korrupsie uitgewys waaraan iets gedoen behoort te word. Ook was dit interessant dat die staatsteaters bitter weinig meer gedoen het as om hulle personeel op volle salarisse op “vakansie” te stuur en grotendeels nie deelgeneem het aan die debatte oor hoe om die krisis te beredder of hulp en oplossings te vind nie. Die Baxter, ’n teater sonder staatsbefondsing, kon sy personeel behou alleenlik deur vernuwend te dink, soos om ondersteunende administratiewe werk vir UCT te doen en ’n Koop ’n Koffie-veldtog van stapel te stuur.

Die feeste het koppe bymekaar moes sit. En hét. Hulle moes borge behou, akteurs en tegnici probeer help, werk probeer skep binne die nou grense wat Covid-beperkings toegelaat het. Hulpfondse is gestig. Maar aan die einde van die jaar was die bedryf grotendeels op sy knieë.

Steeds het ons nie ’n entstof in die arm nie, wat beteken dat die bedryf teen die einde van hierdie jaar heel moontlik nog grafte sal grawe. Ons bedryf het vanjaar 66 mense aan die dood afgestaan, en wat gehuldig is by die kykNET Fiëstas. Dit is ’n enorme poel talent daarmee heen.

Die feeste boer dapper voort. Sommige het dit beter as ander. Van hulle is gelukkig om aan universiteite verbonde te wees, of kry geld by die NAC, maar die meeste sukkel maar en werk op hongersnoodpersoneel en halwe salarisse.

Maar teater en teatermense, delikate blommetjies, is ook rateltaai en kliphard. Laat die reën net weer kom en die woestyn sal oortrek wees met kleur en geur.

Hoop ek ...

Tinarie van Wyk-Loots en Antoinette Kellerman in Reza de Wet se Asem, waarvan Marthinus die regisseur was. (Foto: Hans van der Veen)

Die KKNK | NATi Studio-kursus is daarop gemik om “nuwe geleenthede te ontsluit vir regisseurs wat regstaan vir die dag dat teaters weer oopgestel word vir die publiek”. Wanneer dink jy gaan feeste weer hul vlae veilig kan uithang en teaters hul deure oopstel? Dink jy die feeste wat planne het om aktiwiteite teen einde Oktober aan te bied, is realisties? Hoe optimisties mag mens wees sonder om die noodlot aan die stert te pluk?

Ek weet die feeste beplan aktiwiteite, maar hulle weet ook dat dit moontlik gekanselleer sal moet word. En ás dit wel gaan gebeur, staan sommige ongelukkig ’n goeie kans om permanent te sink. Mens is baie dankbaar vir die volgehoue ondersteuning van organisasies soos NATi wat byvoorbeeld hierdie projek moontlik maak. En ook korporatiewe maatskappye soos Absa, Media24 en Toyota wat steeds die feeste en sodoende die bedryf ondersteun.

Voor die land nie ingeënt is nie, is daar geen hoop in die hel dat dit moontlik gaan wees dat grootskaalse feeste kan plaasvind nie. Dit lyk nie goed nie, want dit ís nie goed nie.

Wat wel gebeur, is dat feeste kleiner, beheerbare aanbiedinge maak wat in veilige omstandighede kan plaasvind. Aanlyn produksies, volgens wat ek gesê word deur dié wat weet, is nie ’n winsgewende opsie nie. Die staatsteaters wat goed ondersteun word deur die regering kon hier ’n baie belangrike rol gespeel het deur ’n konstante stroom van werk te huisves. Hulle ruimtes is groot genoeg om halwe gehore te kan dra met genoeg getalle, en sou hulle nie huur vra nie, sodoende werk lewensvatbaar kon maak. Dit sou ’n bietjie geld in die sakke van teaterwerkers kon sit, maar sover ek weet, neem hulle nie juis deel aan die gesprek nie.

So waar is ons inentingsprogram? Het ek vertroue in die regering om dit te beheer? Hoeveel loop-en-val-gevalle was daar met aankope, verkeerde of ongereguleerde medikasie, hulpgeld wat verdwyn in sakke? So nee.

Die regiekursus is inderdaad ’n “droomprojek” vir gevestigde en opkomende teatermakers, soos Hugo Theart van die KKNK gesê het. Ek vermoed veral jong regisseurs se broeke bewe van opwinding oor die geleentheid om hul vaardighede onder jou leiding te slyp. En die kursus strek oor nege maande. Waarna sien jy die meeste uit?

Ek het nog nooit aanlyn klas moes gee nie. En ongelukkig is regie ’n baie, baie praktiese proses. Dit het te doen met ruimtelike ontginning, fokus lei, visuele kommunikasie en ’n magdom tegniese aspekte wat skree om ’n hande-in-die-modder-ervaring. Maar ek sal my bes probeer om daardie aspekte op ander maniere te probeer beredder. Dit in sigself is ’n groot uitdaging vir my.

Ek gaan kyk na ’n handvol grootse en belangrike stukke oor ’n breë spektrum van skrywers, genres en style wat as springplank vir idees sal dien. Vir my is dit net heerlik om met bekende en minder bekende tekste te woeker ter voorbereiding. Daar sal huiswerk wees om gedoen te word en hopelik sal ons saam leer wat op afstand moontlik kan wees in soverre dit praktiese toepassing aangaan. Ten minste weet ek die deelnemers sal beslis leer lees. Hardop. Voor en saam met ander mense. Miskien word sommige regisseurs spelers in die toekoms. Wie weet …

Waarna ek wel baie uitsien, is om nuwe mense te leer ken, gedagtes te kan wissel, debatte te voer, en weer eens net met ’n groep belangstellendes te kan praat oor dit waaroor ons omgee en om van mekaar te kan leer.

Ons was so geïsoleer die afgelope jaar.

Ons droom maar almal van op die vloer wees met ’n teks en spelers, en hierdie projek is ter voorbereiding van daardie dag wanneer ons weer iets kan doen, saam, vir ’n gehoor.

Antoinette Kellermann en Neels van Jaarsveld in Koningin Lear (Foto: Nardus Engelbrecht)

Aansoeke vir voornemende deelnemers sluit eerskomende Vrydag, 19 Maart, om 12:00, en die eerste sessie vind reeds op Sondag 28 Maart plaas. Laatslapers sal dus hulle litte moet roer. Op ’n praktiese vlak, hoe en waar geskied die sessies? Alles vind darem seker nie net via Zoom plaas nie? Hoe skakel die amateurs by die gevestigde teatermakers in tydens die kursus? En daar sal seker gemasker en gesaniteer moet word vir die vale?

Op hierdie stadium sal alles aanlyn moet geskied. Vir veiligheid en gemoedsrus. Natuurlik weet ons nog nie waarvandaan al die gekeurdes sal kom nie, maar hopelik uit al die uithoeke van ons geliefde land. Dit maak dit haas onmoontlik om mekaar in dieselfde ruimte te sien. Maar Hugo Theart van KKNK en Cornelia Faasen van NATi hoop, afhangende van hoe sake ontwikkel, dat ons nader aan die einde van die projek tog ’n tydperk sou kon bymekaarkom om ons hande vuil te kry.

Ons beplan om tussendeur die proses ten minste via Zoom die lewe vir die deelnemers en kykers op te kikker met gesprekke met teatermakers, ontwerpers, komediante, skrywers en akteurs.

Cornelia Faasen beklemtoon juis die belangrikheid van goeie mentorskap, veral in die heersende omstandighede, waar dit vanweë die inperkings sin maak om projekte soos hierdie kursus aan te pak. Jou luisterryke loopbaan strek terug tot die dae toe die eertydse kunsterade nog staatsondersteuning geniet het. Watter tendense en verskuiwings het jou die afgelope dekades opgeval in terme van die manier waarop die ontwikkeling van nuwe talent gestimuleer en ondersteun is? Is jong rolspelers in die bedryf vandag baie beter daaraan toe, met ontwikkelingsprojekte wat deur veral feeste ondersteun en gedryf word, as in die dae van Kruik, Sukovs, Swaruk en dies meer?

Hierdie is ’n netelige vraag en een waardeur ek gereeld op sensitiewe tone trap …

So, om te pas by die tydsgees: TRIGGER WARNING!

Ek glo aan ’n geselskapsisteem.

Ek glo daaraan om in ’n gebou te werk waar jy almal ken – van die skoonmaker tot die direkteur, van wie jy moontlik baie minder hou – en sodoende deel is van ’n groot, warm, weerspannige familie.

Ek glo daaraan dat jy baie kan leer van ander dissiplines buite dié van jou eie.

Dus verkies ek om in ’n gebou te werk waar daar musiek, dans, opera en teater kan plaasvind, en waar jy toegang het om hulle prosesse as waarnemer te kan volg en alles wat jy kan, op te slurp. Dan ook nog met ’n uitstalruimte vir kuns daarby. Soos dit was by The Space Theatre of by Kruik / Nico Malan, waar ek die grootste deel van my kreatiewe lewe en opvoeding gehad het voor ek grotendeels onderwyser geword het met wat ek beskou as ’n sytak as amateurteatermaker.

Want is jy ’n dokter as jy net 7% van die jaar jou vak beoefen? Ek glo nie.

Ek was in die middel-90’s baie blootgestel aan al die debatte en groot idees en die Witpapierbesprekings in die oorgangstydperk, en het my hart vasgehou vir wat kom. Ongelukkig het bitter min van dit wat so entoesiasties deur baie omarm is, gemanifesteer in iets waarop mens kon bou. Staatsteaters funksioneer nou as geslote eenhede met niemand om hulle verantwoordelik te hou uit kunstenaarsgeledere nie. Want vóór dit kon ons die bestuur se hand soms met sukses in die as kon slaan – en ons hét! Dink maar byvoorbeeld aan die drama rondom die opspraakwekkende Piekniek by Dingaan-debakel.

Daar het goddank ’n feesstruktuur ontstaan wat, grotendeels onafhanklik, dinge vir Afrikaanse teater aan die gang kon hou. En dit is natuurlik baie beter as niks. Maar dit kan nie genoegsaam werk verskaf aan akteurs om hulle in die teater te hou nie, en daar is ook ’n menigte newe-effekte, soos die byna totale verval van ontwerp, die gebrek aan afronding van werk, die enorme druk van min tyd en min geld, ens. Die bedryfstrukture – soos feeste en teaters – moet saam positief dink. Daar is egter maar ’n bietjie van ’n koning-op-eie-mishoop-sindroom wat dinge regtig kortwiek in terme van langtermyndenke en werklik bou aan ’n stabiele, volhoubare teaterinfrastruktuur.

Wat jongmense betref … Elke jaar wat ek klas gegee het, was daar uitsonderlike mense wat sou kon baat vind en blom deur deel te wees van ’n teatergeselskap waar hulle sou kon groei deur daagliks met hulle dissipline om te gaan, saam met senior mense as voorbeelde, binne ’n beplande, gestruktureerde, konstante groei voor ’n gehoor. Nou sien ek hoe feeste vele van hulle entoesiasties óór die perd tel en van hulle eendagsvlieë maak.

Dit grief my. Intens. Want dit is uiters onverantwoordelik.

Stian Bam en Ludwig Binge in Die koninkryk van die diere – ook deur Marthinus geregisseer. (Foto: Hans van der Veen)

In jou lang loopbaan het jy keer op keer die grense van veral Afrikaanse teater uitgedaag en dramaties verskuif. Watter produksies uit jou jong dae het die grootste invloed op jou ontwikkeling as regisseur gehad?

Ek het in die platteland grootgeword as boerseun. Maar ons kon dan en wan rondreisende geselskappe en die werk van Kruik op die kerksaalverhoog sien. Almal moes dit bywoon, want my hoërskool het dit belangrik geag.

Daar het ek Ampie van Jochem van Bruggen gesien en die donkie se lat het uitgesak op die verhoog. Dit het konsternasie veroorsaak. Dit kon ek op die plaas ook sien. So …

Ek het Wena Naudé uittreksels sien doen uit haar lang loopbaan, maar sy het nie koningin Margaret uit Richard die Derde gedoen waarvan daar ’n baie mooi foto in die program was nie. Seker gedink dit sou oor ons koppe vlieg. Maar ek wou dít sien. Met daardie kostuum …

Toe kom Peter Kleinschmidt met sy weergawe van Calderón de le Barca se Kom spook by my, ook Wilma Stockenström se plattelandse fabel Die patatta, waarin ’n patat altyd teruggroei, maak nie saak hoeveel keer mense stukke daarvan afsny nie. Maar in my standerd 9-jaar in die Paarl was dit weer eens Kleinschmidt se manjifieke produksie van Pavel Kohout se August, August, August wat my gevang het vir teater. Ook wat ek kon lees oor Titus Andronicus en Koning Lear wat Dieter Reible gedoen het, want my hoërskool het nie gedink dis goed wat ons behoort te sien nie.

Toe ek later nie geweet het wat om met myself te doen nie – soverre toekoms – was dit Pieter Fourie se produksie van Die selfmoordenaar van Nikolai Erdmann en Robert Möhr se Hamlet van Shakespeare met die opwindende, briljante Cobus Rossouw in die naamrol wat my die hupstoot teater toe gegee het.

Gary Burne se ballet gebaseer op die Oscar Wilde-verhaal The selfish giant was onvergeetlik, met die wonderlikste ontwerpe deur Raymond Schoop. Ook Burke se Variations in space op Wendy Carlos se Moog-weergawes van Bach. By die Space was dit Fugard se Hello and goodbye met Yvonne Bryceland en Bill Flynn, The maids van Genet, Futz van Rachelle Owens, Superman van Pip Simmons, What the butler saw van Joe Orton en vele, vele meer. Wat ’n opwindende tyd. Ek kon werk met mense soos Dieter Reible en Jannie Gildenhuys en later Chris Pretorius, wat so ’n diep anargistiese streep gehad het dat ek tot vandag toe nog nie weer so opgewonde was oor teater as toe nie …

Jy was regisseur van Breyten Breytenbach se trilogie, Boklied, Die toneelstuk en Johnny Cockroach. Dié produksies het destyds omtrent ’n beroering onder feesgangers ontketen, en dit moes ongetwyfeld ’n uitsonderlike ervaring wees om met Breyten saam te werk? Watter herinneringe koester jy vandag as jy terugkyk na daardie tydperk?

Breyten Breytenbach (Foto: Naomi Bruwer)

Dit was inderdaad almal debakels. Die eerste een het Artscape nie gehaal nie. Ná die opening by KKNK, waar mense uitgestorm het by die hordes, met deure wat doelbewus geklap is, het die bestuur van Artscape besluit die stuk is “nie vir hulle nie”. (So much for the New South Africa, nè …) Al drie stukke was berge om uit te klim. Groot, woordryk en dig. Sommige was meer suksesvol as ander; die laaste het gesukkel met ’n gehoor wat nie kon bybly met ’n Xhosa/Afrikaanse teks nie. Daardie een het net een keer gewerk, en dit op die openingsaand in Artscape toe daar genoeg Xhosasprekende gehoorlede was om die spanning in die gehoor te veroorsaak.

Maar wat ek daaruit kon leer! En die plesier om met Breyten te kon werk. Hy was so warm en oop en bereidwillig. Inderdaad was dit vir my ’n uitsonderlike voorreg. Die hele proses is deur Pieter Fourie die wêreld ingedwing. Na dit het die klimaat begin verander en het daar al meer en meer versigtige suutjiespoep op die verhoog gebeur, en nou, nou is alles so benouend woke dat jy nie meer die waarheid kan praat of net bloot uitspattig anargisties kan wees nie. Tragies. En meer as dit, vervelig en aanmatigend.

Jy was ook betrokke by Tom Lanoye se Mamma Medea, Bloed en rose en Koningin Lear. Hier op LitNet het Antjie Krog onlangs vertel hoe gerusstellend en inspirerend dit is om op mense soos jy se kundigheid en advies te kan staatmaak. Jy het ook nou saamgewerk met ander prominente Afrikaanse skrywers soos Reza de Wet (Mis, Drif en Breathing in), Marlene van Niekerk (Die kortstondige raklewe van Anastasia W) en Pieter Fourie – om maar enkeles te noem. Het jou paaie in die teater ooit met Wilma Stockenström s’n gekruis? Hoe ervaar ’n regisseur van Marthinus Basson se statuur die samewerking met die grootste literêre geeste in Afrikaans?

Wilma Stockenström (Foto: Naomi Bruwer)

Kortom, al hierdie mense intimideer my. Ek is iemand met ’n matriek en ’n paar handevol ervaring. Hierdie mense is denkers en digters van formaat, met breine so groot en imposant soos universums. So, dit is deur die bank vreesaanjaend om met hulle materiaal om te gaan en dit hopelik tot wasdom te laat kom. ’n Verskriklike verantwoordelikheid. Maar ek sou soveel armer gewees het as ek nie die geleentheid gehad het nie. Daarvoor is ek ewig dankbaar.

Wilma se Die patatta het my as kind baie beïndruk. Later in my tyd by The Space Theatre het sy ’n Afrikaanse dramakompetisie gewen met Laaste middagmaal. Ons het aan die stuk begin repeteer. Die regisseuse was na my mening nie opgewasse nie en die stuk het toe ongelukkig nooit die planke gehaal nie. Inderhaas het ons in tien dae Pieter-Dirk Uys se Selle ou storie ingestudeer en die res is geskiedenis. Daardie stuk het die land leer vloek.

So Wilma, as jy wil, ek staan gereed …

In jou meer as 20 jaar as dosent in die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement is daar generasies akteurs, regisseurs, teaterontwerpers en tegnici deur jou hande. Hoe het jy die universiteitsomgewing ervaar? Verlang jy terug na daardie tydperk, of was Stellenbosch vir jou ook “die groen hel” soos wat iemand anders al na dié skynbaar idilliese omgewing verwys het?

My ouers was bitter ongelukkig dat ek kuns wou gaan studeer by Michaelis waar ek aanvaar is. Hulle het ’n stokkie daarvoor gesteek. Hier op Stellenbosch het ek, sonder om hulle te sê, my taalwetenskapstudies verander na drama. Hulle wou my natuurlik net beskerm teen die wisselvalligheid van ’n lewe in die kunste en wou hê ek moet in die onderwys gaan.

Na groot dramas het hulle my ’n keuse gegee en ek het gekies om te gaan werk, in teater as rekwisietemaker by Kruik, en as speler/verhoogbestuurder en enigiets anders in die aande en oor middagetes by The Space Theatre. Ek het my voete later by Kruik gevind deur ses jaar lank opvoedkundige teater te doen, en nadat ons in 1997 afgedank is en die wilde jare net-net oorleef het, het die US se Dramadepartement my genader om twee klasse aan te bied oor ontwerp. Dit het, danksy Marie Kruger, gegroei tot ’n voltydse C2-personeelpos. Eensklaps was ek weer terug in ’n komplekse familie waar jy die skoonmakers by die naam kon groet en bloedige gevegte in die personeelkamer kon hou.

Maar met dié groot verskil: Hierdie keer het dit oor blinkoog kinders gegaan wat wou droom en wou wees. ’n Verskriklike verantwoordelikheid wat ek in alle eerlikheid soms wonder of hierdie tipe instansies werklik ernstig opneem.

Omdat ek myself in sovele van die kinders kon sien, en omdat ek geweet het wat die impak van ’n goeie dosent soos Neels Hansen of Elaine en Emile Aucamp op mens kan hê, het ek baie, baie hard gewerk om die kursusse in ontwerp, kabaret, regie en spel vir hulle so uitdagend as moontlik te maak. Want as jy nie elke dag die lat ietwat hoër stel, vir hulle of jouself nie, eindig jy nie met iets uitsonderlik nie. En daar was ’n bloeityd waar ’n paar handevol studente dit moontlik gemaak het om te begin praat oor ’n geselskap verbonde aan die HB Thom. Die meeste van daardie groep is nou die ruggraat van ons verhoog-, TV- en filmlandskap.

Die Thom is met groot moeite opgegradeer ná jare van baklei. Die Lotto het geld gegee vir ’n semiprofessionele geselskap, maar die enigste ding wat tot dusver gebeur het, is dat die naam verander is, en verder staan die gebou meestal leeg of huisves konferensies en kerkdienste, want dis onbekostigbaar duur om daar te gaan speel.

Maar ek dink aan die tyd by die US Dramadepartement as van die bevredigendste van my lewe. Alles was moontlik en alles is gedoen, van Molière tot Wedekind, van Durang tot Ionesco, van Müller tot Lorca. ’n Honneurs-eindeksamen was, afhangende van die grootte van die groep, sewe vollengte stukke wat roterend drie op ’n dag vir ’n week lank gespeel het, sodat hulle as ’n geselskap kon funksioneer.

So, my ouers was reg.

Maar ek het vroeg afgetree omdat ek die grond kon voel skuif …

Marthinus Basson in 2020 by die KKNK se programbekendstelling. (Foto: Menán van Heerden)

Marthinus, in jou 50 jaar in die bedryf was jy as ’t ware ’n eerstehandse getuie van die onlangse geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater. Is jy vol moed oor die toekoms, veral oor Afrikaanse teater? Waarop moet mense in die bedryf, en ook die publiek, bedag wees om die sukses van die bedryf in die toekoms te verseker?

Die akteur en dosent James Blanckenberg het eenmaal gesê dat elke generasie in Suid-Afrika altyd ’n pionier moet wees. Onlangs het iemand kultuur beskryf as ’n groep wat ’n goeie idee kan hê en beséf dat dit ’n goeie idee is en dat daardie idee dan in stand gehou moet word. So bou jy ’n fondament. Ons wil altyd alles breek. En meestal dóén ons dit ook. Dit kom ons duur te staan.

Het ek moed? Nie regtig nie. Ek voel baie keer dat besluite geneem word wat meer polities van aard is as wat dit die onderskeie dissiplines dien. Niemand durf meer iets bevraagteken nie. Alles moet pro-iets wees. Kuns is nie dit nie. Maar dit is ook nie net doen nie.

Al die groot name in kontemporêre dans gebruik die dissipline van klassieke ballet as afspringpunt.

Dit sê alles.

Omtrent elke gerespekteerde Afrikaanse akteur was al op ’n verhoog wat voor jou regisseurstoel opgestel is. En almal praat oor hoe hard jy werk, dat jy nie bang is om in die nagtelike ure agter ’n naaimasjien in te skuif en kostuums te maak nie. Dit sou seker onregverdig wees om mense met wie jy saamgewerk het, uit te sonder. Maar as jy saam met twee van hulle in dieselfde graf moet beland, wie sou dit wees?

Maklik. Die twee oudste reisgenote. Dawie Malan, wat lank reeds oorlede is op die ouderdom van 35 en wat niemand meer onthou nie, maar hy het beide my en Antoinette Kellermann in die teater ingedra met durf en daad en humor en giftige kritiek. En Antoinette, met wie ek al soveel sakke sout opgevreet het. En glo my, sout sluk swaar.

Maar ten minste sal ons nie net rus nie; ons sal lag en baklei en huil en weer skater van die lag. En Dawie se lag was ’n mirakel – ’n wilde, woeste, onrustige ewigheid …

 

  • 2

Kommentaar

  • Wonderlik, Marthinus, dat jy steeds positief kan - of wil - wees en kans sien om selfs afstandsgewys die verskillende kunsrigtings te vermeng en opgradeer vir belangstellende/voornemende teaterlui. Sterkte!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top