CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Ek het nie juis veel te sê gehad ná London uit my kantoor is nie. Al wat enige mens met waardigheid in daardie situasie kon doen, was om die naaste doos te gryp en so vinnig moontlik al jou navorsing op te pak. Ons het geweet die dag sal aanbreek. Dit is net ’n kwessie van tyd voor God in die verkeerde hande vasgevang word.
Kuberbiologie is nie nuut nie. Ons is al dekades lank besig om die wêreld van lewe en informatika te vleg met die hoop om lewenskwaliteit te verbeter. Dink maar aan die mediese wonderwerke van die post-millennium. Ons het in die vroeë 40’s geleer dat die binêre kodeks in DNS direk verbindbaar is met kuberprogrammering en teen 2052 kon daardie intelligensie gebruik word om die meeste DNS-programfoute te herstel. Dit is moeilik om jou dit voor te stel, maar die meeste van die afwykingssindrome het iets vir die geskiedenisboeke geword. Mense sterf nie meer as gevolg van die groot K nie. Alzheimer’s is ’n vae herinnering en kinders word almal blakend en gesond gebore.
London het ons kom waarsku. Gesê ek sal moontlik ’n besoek van die Interplanetêre Konsilie ontvang. Dit beteken net een ding. Hulle het inligting ontvang oor ons projek wat die Elohimkodeks omskryf en moontlik maak. Die dag toe dit voor ons oopvou in die pragtige skulp van Fibonacci, kon beide van ons nie glo dat die antwoorde reg voor ons gelê het vir duisende jare nie. Dit het finaal die spyker in die kis geslaan vir die Randomized Theory wat meen dat seleksie die boustene van evolusie was. Die lewe is in totaliteit verbind en word deur ’n groter geheel geprogrammeer.
My oupa het my stories vertel van die soektog vir kure in die 20’s, iets wat so ooglopend voor ons oë was. Lewe is nie bloot net mens en dier nie. Lewe is energie – lig en vibrasie. Daar is meer lewe in die wesens wat nie meer vasgevang is in ’n organiese dop nie, en engele, spoke, interruimtelike wesens het alles verklaarbaar geword. ’n Algemene kennis wat vir té lank afgemaak is as heksery en bygeloof. Die wêreld was in oproer. Vrees en anargie was aan die orde van die dag. Ná eeue se swye en ontkenning kon die wêreldleiers nie meer hul leuens aan die mensdom verkoop nie. Hulle moes bieg. Ons is nie alleen in hierdie heelal nie. Ons kan net nie alles sien en beleef wat saam met ons die pad van tyd wandel nie.
Die oomblik toe ek die Elohimkodeks kraak, het alles weer eens verander. As hierdie inligting geskut word, sal daar nooit weer vrede wees nie. Om te dink, die mens het vir soveel jare in vrees geleef, in kerke gaan sit, oorlog gevoer in die naam van God – in die naam van dit wat hul verstaan van God was. Snaaks hoe die bousteen van geloof juis gemessel is in die onverstaanbare of dan die onverklaarbare. En die antwoorde was weer eens reg voor ons oë. Ons het daardie antieke bybels gelees vanuit ons eie organiese tronke. Die Elohimkodeks bewys alles en verlig alles. Ek sit hier met die sleutel tot die voordeur van ’n God waarin mense hul geloof al lank terug verloor het. Kan jy jou indink watter gevare dit inhou as hierdie mag as wapen gebruik kan word?
Ek wonder of Dalton, toe hy die atoom gevind het, ooit sou glo dat selfs ons eintlik maar net deel is van molekules van ’n groter bestaan? Ek meen, kan ’n kiem die mens sien wanneer dit onsigbaar klein reis en eindelik dit binne sy mond waag? En nou? Nou is daar bewys van ’n sewende dimensie. Ons kan dit net nie waarneem nie – net soos ons nie atome kan sien nie. Die bybelse Jesus het dit verstaan en vir ons probeer sê. Die mensdom was werklik net te blind om dit in te sien.
“Hulle is hier!” London se stem het deur die gange alarm gemaak. Almal in die gebou het verstaan. Ons enigste hoop was om so vinnig moontlik die bewyse te laat verdwyn. Dekades se werk wat vernietig moes word. Mense het op en af gehardloop om elke liewe YottaGig van die lugtablette te verwyder.
Ek het in my kantoor gestaan met die doos vol aantekeninge. In my hande en in my kop die enigste formule wat die Elohimkodeks bewys. Daar was een van twee keuses. Ek sou saam met die notaboeke uitgewis word of hulle sal my organiese informatika met ’n kubersel dupliseer. Tyd vir dink was nie regtig vir ons beskore nie. Die agente van IK het reeds die gebou betree. Daar moes nie een atoom van my biologiese wese vindbaar wees nie.
London het my met bleek oë gevind. Hy het ook geweet wat moes gebeur. Die atoom-pers. Ons het beide geweet. Ek en al my navorsing sal tot ’n enkele deeltjie verdruk moet word, sodat ek tot ’n mini-swartgat vonk. Dan sal alle data wat moontlik in my DNS leesbaar is, totaal vernietig word. Dit gebeur só vinnig. Daar sou nie pyn wees nie. Ek sou in die geskiedenisboeke opgeskryf word as die eerste biologiese wese wat tot ’n enkeldeeltjie saamgepers is. Alles om die gevaarlikste geheim van die heelal te beskerm. ’n Ware martelaar.
Die groot glaskluis het agter my gesluit. Die deure in die agterste gang wat na die vlughysers lei, het oopgeswaai. Ek het die agente sien instorm terwyl lugtablette een vir een soos mis voor die son verdwyn. London het die rooi skakelaar afgetrek asof hy ’n outydse granaat gooi. En toe stop die wêreld meteens. Almal het gevries. Tyd het gevries. Ek was besig om deur die vierde dimensie te beweeg en daar was geen manier om dit te keer of om vir London te vertel wat pas gebeur het nie.
Die man in die wit hemp en dun swart das neem ’n laaste trek van sy sigaret en druk dit in die oorvol asbak dood. Hy kyk lank na die son wat deur die roosters beur. Dit fortifiseer die groot vensters waar dit onprakties aan rame vasgesweis is. Hy blaas stadig die rook met ’n sug uit. Hy tik twee keer met die agterkant van sy potlood op die kant van sy notaboek voor sy ongeloof die pasiënt vind. “Wat is ’n YottaGig?”
Die pasiënt vryf moedeloos deur sy olierige hare. Sy hand stop oor sy oë. “Dit is ’n stooreenheid vir rekenaars.” Hy kyk blitsig in die kamer rond. “Soos... soos jou boekrak. Elke boek is soos ’n gig en elke lettertjie in die boek is ’n byte.” Hy sien die verwardheid. “Dit is soos groot biblioteke met miljoene boeke in.”
“En jy sê dit is alles op tablette wat in die lug hang?” Die man in die wit hemp kry dit nie reg om die lag te keer wat in een ruk uit sy lyf sug nie.
“In my wêreld is tablette nie van klei of klip nie. Dis soos ’n filmskerm, maar jy projekteer dit in die lug.” Hy probeer die wonder denkbeeldig met sy hande wys.
“Wat behels al die dimensies waarvan jy so gepraat het? Is dit soos drome?” Die man in die wit hemp haal nog ’n sigaret uit.
“Daar is so baie dinge wat die mens nog moet leer. Julle kan nou net sien soos iemand wat geblinddoek is. Eendag sal julle ’n nuwe wêreld sien.”
Die man in die wit hemp trek ’n vuurhoutjie en bring dit na die sigaret in sy mond. Hy teug diep. “Jy kan seker verstaan dat hierdie fantastiese storie moeilik is om te glo sonder enige bewyse.” Die rook wapper ritmies met sy klankgrepe uit.
“Watter bewyse kan ek gee? Ek het geen empiriese bewyse om te wys nie. Ek is nie eens in dieselfde organiese wese as toe ek my wêreld verlaat het nie.”
“Nou waar kom jou liggaam dan vandaan?”
“Ek het nie antwoorde nie. Dit was net daar. Ek het op presies dieselfde oomblik bewus geraak van hierdie wêreld en-en-en hierdie wese ná die atomiese vonk plaasgevind het. Dit is asof alles net van nuuts af uit die enkeldeeltjie gematerialiseer het.” Hy kyk onwillekeurig na sy hande asof hy dit vir die eerste keer sien. “Ek weet jy glo niks wat ek sê nie. Die wêreld is nog nie gereed vir die volle waarheid nie. Dit is waarom ek glo ek hierheen gestuur is om seker te maak dat die Elohimkodeks nooit gevind sal word nie.”
“En hoe beplan jy om dit te doen?”
Die pasiënt se gesig verstrak in ’n erns. “My voorvaders kom van hierdie landstreek af.”
Die man in die wit hemp se kop knik na links. Sy wenkbroue lig.
“My oupa se oupagrootjie het in 1918 hier getrou.”
Die man in die wit hemp rol sy oë. “Dis eers oor twee jaar.”
“Presies. As hy nie kinders in die lewe bring nie, meen dit dat ek nooit tot bestaan sal kan kom nie. En so sal ek en die kodeks tot in ewigheid buite bereik van die IK wees.” Sy blik bly gefokus op die sielkundige wat oorkant hom sit in sy wit hemp, smal das en die sigaret wat tussen sy vingers rus.
“Vertel meer?” Die sielkundige begin die ongemak wys deur sy gewig te verskuif in sy stoel.
“Die een ding van ons voorsprong met inligting wat in jou DNS gestoor kan word, is dat ek die megaruim van alle kennis op die punte van my vingers het. My voorvader, Karel Hermanus Strauss, gebore op 14 April 1887, trou op 31-jarige ouderdom in 1918 met Hanna Magdaleen Cloete uit die Paarl-distrik.”
Die sielkundige skuif sy das met een hand los en druk sy sigaret ontsteld dood. “Hoe weet jy hierdie dinge?”
“Ek sê mos. Ek het al die inligting in my DNS.”
Die sielkundige se hand skiet uit na die telefoon wat op die tafeltjie langs hom staan. Voor hy dit by sy oor kan kry is die pasiënt reeds langs hom.
“Ek is jammer, dit moet gebeur.” Die pasiënt draai met moeite die koord om die sielkundige se keel.
“Vader, wees hom genadig. Hy weet nie waarom ek dit moet doen nie.”
Die laaste wat die pasiënt sien, is hoe sy voorvader se hand slap oor die stoel se armleuning val. Dan, soos ’n antieke buisskerm, skakel die bestaan net af. Hy wens in die laaste oomblik dat hy dit met London kon deel.
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!