Mark Banks ON ICE! te sien tot 2 November

  • 0

Foto: Whacked Entertainment

Mark Banks ON ICE! is glad nie wat jy verwag nie, want daar is geen ys en ysskaatse betrokke nie, maar dat hy soms op dun ys beweeg met sy gewaagde uitlatings, is gewis. Ons het lanklaas vir Mark op die verhoog gesien, en wat ’n lekkerte om hom weer in aksie te ervaar.

Mark word vanjaar 60 jaar oud en volgens die teater se persvrystelling is hierdie blykbaar sy verjaardagvertoning. Die speelvak is kort, maar kragtig, en te oordeel aan die bulderende gelag uit die gehoor het hy glad nie sy slag verloor nie.

Hy bly weg van politiek in sy komiese sketse en dis ’n lekker welkome verandering, maar geen onderwerp word andersins sy skerp tong gespaar nie: nie straatkinders, pikkewyne met olie bedek, Jode, sy ma, Barry Ronge of inwoners van ryk woonbuurte nie. Selfs nie eers die eienaar van Theatre on the Bay, Pieter Toerien, is veilig nie.

Maar soos komedie tereg is, ’n spieëlbeeld van ons samelewing en sy absurdhede, word die gehoor doodstil oor sy uitlatings oor hoe verwronge ons lojaliteite is: As pikkewyne vol olie uitspoel, haas almal om hulle te voer en te was. Maar straatkinders wat doodgaan van honger en siekte, kry nie dieselfde aandag nie.

Mark Banks ON ICE!
Met: Mark Banks
Deur: Mark Banks

Plek: Theatre on the Bay, Kampsbaai, Kaapstad.
Tot: 2 November 2019
Kaartjies: aanlyn by computicket.com of Theatre on the Bay, (021) 438-3301.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top