Margaret Atwood en The testaments

  • 4

Die sekuriteit rondom die vrystelling van The testaments was so streng dat die bemarkers nie eens vooraf insae in die boek gehad het nie. Ek weet, want ek het bitter hard probeer om vooraf ʼn kopie van die boek te bekom. Vergeefs probeer, moet ek byvoeg.

Intussen, selfs voor dit vrygestel is, is die boek alreeds gekortlys vir die gesogte Booker-prys.

Om middernag op 10 September 2019 was daar ʼn bekendstelling in Londen, wat gelyktydig uitgesaai is na ietsie oor ʼn duisend teaters dwarsoor die wêreld. In Suid-Afrika het ons eers bietjie later die bekendstelling gesien. Op 26 September is dit gelyktydig vertoon aan genooide gaste by bekendstellings in die Cinema Nouveau by Rosebank Mall en die V&A Waterfront. Die naweek daarna kon ʼn breër gehoor dit sien.

Ek het die Kaapse geleentheid op die 26ste bygewoon. Op daardie stadium het ek natuurlik al die boek gelees, en ek kon nie wag om die bekendstelling te ervaar nie.

Ietsie oor die agtergrond van The testaments: Dit is die opvolg op The handmaid’s tale, wat natuurlik intussen al as rolprent vervaardig is, en nou ʼn opbloei ervaar na aanleiding van die baie gewilde, bekroonde gelyknamige televisiereeks, wat pas sy derde seisoen voltooi het. The handmaid’s tale het in 1985 verskyn, en is sedertdien konstant in druk. Atwood sê self dat The testaments geskryf is om van die vrae in The handmaid’s tale te beantwoord - vier en dertig jaar later. En net betyds.

Die aanslae op vroueregte in Trump se Amerika het waarskynlik net gehelp om die relevansie van The handmaid’s tale te bevestig. Dit blyk alte duidelik uit die protesveldtogte die afgelope twee jaar waar vroue in die kenmerkende rooi handmaid’s-uitrusting met wit kappie oral begin opduik het. In 2019 hoef jy net die uniform te sien om te weet waaroor die protes gaan. Plakkate is onnodig. Die skree van slagspreuke is onnodig.

Dit kan nie van baie boeke gesê word nie.

Die bekendstelling van The testaments was skouspelagtig. Die onderhoud is gevoer op ʼn verhoogstel wat nie onbekend sou lyk vir gereelde kykers van die televisiereeks nie. Drie aktrises, Ann Dowd, Sally Hawkins en Lily James, het voorlesings uit die boek gedoen. Die onderhoud met Atwood is gevoer deur die bekroonde Britse joernalis Samira Ahmed.

Die drie lesers was uitstekend. Dis op hierdie stadium seker geen geheim meer dat The testaments geskryf is uit die perspektiewe van drie karakters nie – anders as The handmaid’s tale, wat geskryf is uit die perspektief van een karakter. Ek het hoendervleis gekry terwyl ek geluister het na die drie lesers. Hulle het meer gedoen as net voorlees. Hulle het die drie karakters beliggaam op die verstommendste wyse moontlik.

My metgesel het nog nie die boek gelees nie, maar ook sy het die voorlesing as uitsonderlik ervaar.

Die onderhoud self was ʼn belewenis. Ahmed is belese en is duidelik nie net welbekend met Atwood se oeuvre nie, maar ook met wêreldpolitiek. Atwood is natuurlik ʼn uitstekende gespreksgenoot. Ek het opnuut onder die indruk van haar intelligensie, die beredeneerde wyse waarop sy gesels, en veral haar sin vir humor gekom. Nêrens is haar sin vir humor duideliker as in die grasgroen naellak, dieselfde kleur as die omslag van die boek, waarmee sy die verhoog betree vir die onderhoud nie.

Ek was gelukkig genoeg om Atwood ʼn paar jaar gelede in Quebec te ontmoet. Die bewondering wat ek voor die tyd gehad het, het in onverbloemde heldeverering oorgeslaan. In persoon is sy presies dieselfde as op televisie. Sy stel intens belang in die mense om haar, en in die wêreld. Sy is nie ʼn diva nie. Ek vermoed dat sy waarskynlik die ophef wat daar oor haar gemaak word, amusant vind.

Foto van Margaret Atwood en Bettina Wyngaard verskaf deur Bettina Wyngaard

Die onderhoud maak een ding baie duidelik. Atwood se werk mag dalk as distopiese fiksie geklassifiseer word, maar niks word in enige van die twee tekste (en die televisiereeks) uitgebeeld wat nie alreeds iewers in die wêreld gebeur het nie. Dit maak Atwood se werk skrikwekkend relevant.

Atwood erken ook self dat sy The testaments nie vroeër sou kon skryf nie. Die tydsvak waarin ons nou is, maak die werk relevant omdat ons kan sien wat aan ’t gebeur is. Méér as dit: gebaseer op wat al in ander wêrelddele gebeur het, kan ons voorspel waarheen ons op pad is.

Ons het agterna, op pad huis toe, gewonder of hierdie boek juis impak het omdat ons oud genoeg is om die pendulum te kon sien swaai. In 1985, toe The handmaid’s tale verskyn het, was Suid-Afrika midde-in hewige protesoptogte teen ʼn onderdrukkende regime. Ek onthou dat ek daardie jaar in standerd agt was. Ons het net drie maande van formele skoolopleiding gehad. Die res van die jaar was die skool gesluit, want dit was gewoon nie veilig nie. Ons moes ons woorde tel, want mens weet nie wie is vriend en wie gaan jou woorde aan die owerhede oordra nie. Dieselfde onderdrukking wat in The handmaid’s tale beskryf is, het ons in realititeit ervaar. Nie dat ons toe die boek kon lees nie. Ek was al op universiteit voordat ek dit die eerste keer onder oë gehad het.

Gedurende die 1990’s en vroeë 2000’s, wat eintlik ʼn ongekende tyd van optimisme was, sou ʼn boek wat Gilead beskryf, nie werk nie. Die Berlynse muur het geval, institusionele apartheid is vernietig, die rooi gevaar van die Sowjet-Unie is beëindig. En toe begin die pendulum weer swaai na die ander kant. Al Qaida. ISIS. Neo-Nazis. Trump. Johnson.

Die troos wat The testaments, en ook The handmaid’s tale bied, is dat sulke onderdrukkende regimes nie lank volgehou kan word nie. Die saad van hul vernietiging is alreeds in hul ontstaan gesaai. Ons kan net hoop dat dit reeds besig is om te ontkiem.

Tot dan: Nolite te bastardes carborundorum.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Vrydenker Wildevark

    Bevat die ANC se National Democratic Revolution vir die daarstelling van hul beoogde sosialisties-kommunisties gebaseerde South African National Democratic Society (NDS) nie alreeds die selfvernietigende DNS van gierigheid en magsvergrype wat alle Suid-Afrikaners duur te staan mag kom nie? Of is dit nie polities korrek om hieroor te skrywe totdat dit te laat is nie? “This a wake-up call”. Publiseer gerus NOU ‘n artikel oor wat die SA-burgers onder ‘n NDS te wagte kan wees.

    Gaan LitNet die waagmoed toon om sodanige artikel te publiseer?

  • Ek stem saam met die skrywer. Die regime (onderdrukkende regimes) wat tans in die land die septer probeer swaai se dae is ook reeds getel. Die klok het reeds vir die bende gelui. Die ineenstorting is op hande. Die gevaar is egter sal die bende die nederlae en bespotting kan aanvaar en wegstap. Ek glo nie.

  • Avatar
    Marietjie le Roux

    Die verskil tussen 1994 se bewindsoorname en die onvermydelike val van die huidige regime is dat lg. 'n Eerstewêreldland met n uitstekende infrastruktuur en onderwysbeleid geérf het. Daarvan is niks oor nie. Wee die arme drommels wat die kastaiings uit die vuur sal moet krap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top