Mara deur Marida Fitzpatrick: ’n boekresensie

  • 1

Mara
Marida Fitzpatrick
Tafelberg
ISBN: 9780624093404 

..........
“Hoe het sy haar ma oorleef? Hoe het sy 38 jaar as hierdie vrou se dogter oorleef?”
Sommer met die intrapslag word die leser binnegelaat in die stand van die ma-dogter-verhouding, daar waar Rakie oorkant haar ma, Salomé Bruwer, op die sorgsentrum se stoep sit.
...........

“Hoe het sy haar ma oorleef? Hoe het sy 38 jaar as hierdie vrou se dogter oorleef?”

Sommer met die intrapslag word die leser binnegelaat in die stand van die ma-dogter-verhouding, daar waar Rakie oorkant haar ma, Salomé Bruwer, op die sorgsentrum se stoep sit. Haar ma, die trotse vrou, wie se brein en persoonlikheid besig is om te disintegreer vanweë demensie. In ’n wasige oomblik beskuldig sy haar dogter daarvan dat sy verantwoordelik was vir die dood van Viljoen, Rakie se jonger broer.

Hierdie konfrontasie skop ’n hele netwerk van gebeure af. Want wat hét Viljoen se dood veroorsaak? “Hoe is Viljoen dood? Die vraag voel oeroud, onder lae saamgeperste grond en klip versteen. ’n Klein fossiel, volmaak met al sy beentjies en werwels en oopgesperde bekkie. Sy’s te bang om daaraan te raak, te bang dit val uitmekaar, en dan sal sy nooit weet wat die oorspronklike was nie” (23).

Die verhaal beweeg heen en weer tussen die paradoksale uiterstes van menswees. Rakie, die sensitiewe, bang kind is die tweelingsuster van die uitgesproke, sarkastiese en aanhitsende Mara. Pa Bruwer, is die hardwerkende ouer wat die veilige hawe vir sy kinders is, maar wanneer Viljoen sterf, raak hy afwesig en onbeholpe. Salomé, die komplekse, bedorwe vrou wat nooit met die middelklas bestaan wat haar man vir haar wou skep, kon vrede maak nie. Die ma wat “duiwelsbesete” raak, maar ook oomblikke van uitbundige genot vir die kinders skep. Viljoen, die gehoorsame seuntjie wat uiteindelik die ouerlike gesag teëgaan.

En deur alles heen is daar een konstante persoon: Rebecca, die immerteenwoordige huishulp en redder. Die tyd waarin die verhaal afspeel, is midde in die apartheidsjare toe huishulpe kinders grootgemaak het, maar op die vloer moes sit in die huis en uit ’n blikbord geëet het. Toe dit gevaarlik was om ’n opinie te hê en werknemers stilgebly het oor enige onreg om hulle skamele inkomste te verseker. Ek wonder hoeveel kinders het uit huise wat deur woedende ouers in oorlogsones omskep is, na die veiligheid van die “bediendekamer” gevlug? En koestering gekry by ’n vrou wat haar skoot en pap met die bang kind deel. Asook haar werkgewer se kind oor menstruasie inlig wanneer sy te bang is om haar ma daaroor te vra, soos in Rakie se geval.

En dan die ander konstante: ’n emosie. Kwaad. Die hele tyd wissel dit in verskillende grade van kwaad, woede, aggressie en uitbarstings. En die vrees wat dit veroorsaak by ’n hele gesin. ’n Gesin wat hieraan onderwerp word, kan nie ongeskonde gelaat word nie. Hulle stemme word gestil en die pyn in die onderbewussyn gebêre. Tot op ’n dag wanneer die sweer oopbars.

Rakie gaan op ’n soektog, terug in haar verlede, om by die waarheid uit te kom: Hoe is Viljoen dood? Sal Rebecca die antwoord hê en hoe gaan sy haar opspoor? Om haar te help, stel ’n speurder, De Wet, sy dienste beskikbaar. Maar ongelukkig op meer as een manier. Die onbetaamlike verhouding met De Wet is nie ’n uitsondering nie. Geleidelik besef die leser dat alles nie heeltemal wel is met Rakie nie. Maar hoe dan anders – die primêre verhouding tussen ma en kind is uit die staanspoor onder verdenking. Geen kind sal veilig voel by Salomé Bruwer, ’n duidelik geestesongestelde mens nie. Daar is vrouens wat nie kinders moes gehad het nie – Salomé Bruwer is een van hulle.

En tog is ook sý die produk van haar verlede. Maar desnieteenstaande was ek nie in staat om vir haar simpatie te ontwikkel nie. Daar voel ek soos Fiela Komoetie: “God sal ons baie vergewe, maar nie die onreg wat aan ’n kind gedoen word nie.” In teenstelling met Rakie, vir wie dit maklik is om alle misstappe te vergewe. En Mara, vir wie mens bewonder dat sy so sterk kan staan ten spyte van die omstandighede.

Geestesongesteldheid is ’n belangrike tema in Mara. Alhoewel die lig hieroor sterk op die ma, Salomé Bruwer, val, word die leser geleidelik by ’n kat-en-muis-speletjie wat in die kantlyn gebeur, ingetrek. Die tekens waarvan die skrywer net so hier en daar ’n leidraad los en die leser mee aan die raai hou.

.........
Mara is ’n donker, ontstellende verhaal. En tog ook met ligter, humoristiese oomblikke. Dit het menseverhoudings as tema, en veral waar dit in sy primêre fase verkeerd loop – die ouerhuis.
..........

Mara is ’n donker, ontstellende verhaal. En tog ook met ligter, humoristiese oomblikke. Dit het menseverhoudings as tema, en veral waar dit in sy primêre fase verkeerd loop – die ouerhuis. Die verhaal wissel die hele tyd tussen hede en verlede, en omdat laasgenoemde in die eerste persoon vertel word, word die leser direk by die kinders asook Rebecca se realiteit ingetrek. Die verhaal is fiktief, maar die trauma op die psige van ’n kind is lewensgetrou beskryf. Dit het met my kop gesmokkel en my lank daarna nog bygebly.

Die verloop van die verhaal word met ’n ferm hand van ’n begaafde skrywer beheer. En tog is weinig soos wat dit op die oog af lyk – soos wat dit ook nêrens in die werklike lewe is nie. Die aanhaling voor in die boek onderstreep die stelling: “We are so accustomed to disguise ourselves to others, that, in the end, we become disguised to ourselves.”

Lees ook:

Mara deur Marida Fitzpatrick: ’n onderhoud met die skrywer

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top