Manlikheid innie maalkolk

  • 1

Jy is die manifestasie van rape culture. Jou hongerte vir mededinging is deel van 'n tiranniese impuls. Jou erfenis is deel van 'n onderdrukkende patriargie. Hoe stap jy vorentoe met selfvertroue met hierdie juk op jou skouers?

Om myself 'n man te noem in vandag se klimaat van gender-based violence is nogal stifling. Dit los my met hierdie vrae: Wat inform my manlikheid? Wat beteken dit om 'n man te wees in my gemeenskap?

Ons samelewing se oorweldigende bron van geweld lê aan die voet van ons definisie van manlikheid en plaas die man in die posisie van slagoffer sowel as oortreder. Jy hoef nie ver te soek om die chaos te bespeur nie.

So, op hierdie volmaanaand durf ek om die manlike rol te verken wat elke aspek van die samelewing tans in 'n kritieke toestand plaas.

Intimiteit

In Suid-Afrika is baie jongmanne dit eens dat jy 'n dame moet control in intieme verhoudings. Sulke gedrag is essential om jou manlikheid te bevestig. Hierdie neiging sê ook die ideale man besit 'n moerse penis, is fisiek sterk en is die dominante figuur in seksuele verhoudings. Die verspreiding van sensasionele urban legends en fabels vergiftig die jongman se perspektief, veral waar dit die teenoorgestelde geslag betref.

In my upbringing het baie dwalende inventions die rondes gedoen tussen die ouer seuns; byvoorbeeld, jy kon 'n dame “bowl” of bekoor met net vyf woorde …

Vyf!

Waar of vals, my tienerjarige brein het geworstel met hierdie kitskonsep dat die vroulike geslag, in al haar skoonheid en genetiese progressive make-up, so 'n diep swakheid het vir woorde. En dat 'n man die mag besit om haar daarmee te oorrompel met die minste effort. Die verwarring was verdiep toe 'n selfversekerde lid van die groep sy girlfriend toelaat om haar hande aan sy nuwe denimhemp af te vee nadat sy 'n lemoen geëet het. Ek weet nie hoekom nie, maar die gesture het almal tot 'n ongemaklike stilte gebring. So 'n selfless move het ek nog nooit aanskou nie. Dit was nie net buitensporig nie, maar het 'n admirerende applous van die ander meisies tot gevolg gehad. Selfs die leier van die groep, met sy pistool terug onder sy leerbaadjie, het sy manskap generously op die skouer gekap van trots en hom onophoudelik geprys. Dit was sy beste hemp.

Van daardie dag af het ek 'n sakdoek gedra net ingeval.

Hegemonie

Reg bo aan die totem pole van toxic manlikheid rus hierdie vorm soos 'n boa constrictor wat deur corporate culture versterk word. Dit choke die werkersklas, nieblankes en die nieheteroseksuele met behulp van die voorregte van patriargie. Dit domineer alle ander vorme van manlikheid met 'n deeglike dosis haat vir vroue. Hier is die kompetisie vir menslike hulpbronne 'n key ingredient en 'n top posisie hou natuurlik die oorhand oor die res. Talle voorbeelde hiervan is voor die hand liggend.

Geslagsrolle

Dis nou 'n bitter pil om te sluk vir baie van ons onder die broodlyn. Die alreeds hoë geweldspersentasie doen nie die saak enige favours nie. Sodra die vrou in die verhouding meer geld verdien as haar manlike counterpart maak dit hom kwesbaar en verloor hy sy rol as broodwinner, 'n title wat die samelewing aan die manlike rol geskenk het vir 'n geruime tyd nou al. Moet nie dat die man werkloos is nie! Die vervulling van 'n stewige salaris bied mos materiële tevredenheid en selfvoldaanheid. Met die unemployment syfers wat tot innie hemel reik, is dit geen wonder hoekom excessive gedrag van manne toeneem as dit by geweld kom nie.

Gedragskode

Moet nie vrees of pyn wys nie. Wees gereed vir 'n geveg. Geweld en aggressie word as wettig beskou. Die man is die leier in alle opsigte: skool, werk, verhouding, ens. Emosies is van min of geen toepassing nie. Net hardhandigheid waar dit nou discipline betref. Die samelewing het nie eintlik seuns aangemoedig om te praat nie. Die vaderfiguur is emotionally afwesig, praat nie oor seks en die gevare van byvoorbeeld seksueel oordraagbare siektes en vigs nie. Ek en my brasse het innie blinde kol van die samelewing ons horisonne gestrek of beperk. Drugs en ander negatiewe invloede was gereelde en bekende demone in my pad wat met pêrels van wysheid deur buttonkoppe en merchants soos konfetti gestrooi was.

Man staan

Geslagsgebaseerde geweld kan nie sonder die betrokkenheid van die manne opgelos word nie. Ons posisie in die samelewing is reeds onder die mikroskoop en ons ondervind teenkanting van diep gefrustreerdes uit alle oorde. Hoe gaan jy dan nou die samewerking van die man opsy stoot en net met die seuns werk? NGO’s beter nie hulle oog vannie bal af hou nie. Huishoudings verskaf die vital hoekstene van ons gemeenskap en dis waar rolmodelle gekies word. Dis waar die primêre verhouding en verbintenis met ons teenoorgestelde geslagte gevorm word, met ander woorde: 'n Ma is haar seun se eerste vrou, 'n pa sy dogter se eerste man.

Tradisionele konsepte van manlikheid moet na gekyk word as ons geslagsgebaseerde geweld wil curb. Gedragspatrone word reeds op kaboutervlak of preschool level by die laaities ingedwing van entertainment tot education. Daar is 'n moerse groot wanbalans tussen die geslagte en ons beter so gou as moontlik ons sosiale posisies en identiteite herdefinieer en selfs transform vir 'n meer toeganklike en veilige toekoms. Net soos ons apartheid op 'n persoonlike vlak moet tackle, moet ons die fondasie van ons filosofieë en redenering oor die manlike rol in die samelewing ondersoek en herontdek. Die verwagtinge en oortuigings in 'n sosio-ekonomies verdrukte realiteit weeg swaar op die skouers van 'n jongman wat sy pad na 'n meer positiewe uitkoms wil maak.

Hipermanlikheid kom na vore wanneer manne wil oorkompenseer vir hulle onsekerheid oor hul geslag. Seksueel aggressiewe, onemosionele en gewelddadige gedrag impakteer die individu en die samelewing tegelyk. Toe, roer jou! Sulke oorkompensasie word deur die vrees vir vroulikheid beïnvloed of wanneer 'n man hom soos 'n vrou gedra op enige manier.

Die menslike inhibisie vir kompetisie is noodsaaklik en bied nie die fondasie vir tirannie nie. Speeltyd in die skool is belangrik, solank daar by die reëls gehou word. Die samewerking van ons geslagte strek vir millennia.

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Moenie tog ook nooit die ou kerk op die hoek vergeet nie - die een wat volgende maand weer 'n seminaar hou oor die onderwerp - Hoe lyk die lewe van 'n Christenman?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top