Mangosuthu Buthelezi en die Ingonyama Trust

  • 0

Grafika deur Rob Bogaerts / Anefo, TUBS en Simpiwe Mxakaza via WikiMedia CC3.0

Manga wa Usuthu!

“Leuen van die Usuthu-stam!” is die woorde wat die vroedvrou uitgeroep het die dag met Mangosuthu Buthelezi se geboorte op 27 Augustus 1928. In Afrikaans vertaal hierdie woorde pleinweg na “te goed om waar te wees!”

Enkele dae voor die land se eerste demokratiese verkiesing het Mangosuthu Buthelezi ’n politieke bal na sy teenstanders gespeel wat ook byna te goed is om waar te wees. Die Ingonyama Trust sal vir baie lank ná sy dood steeds mense laat wonder.

Agtergrond

In 1975 het prins Mangosuthu Buthelezi die Inkatha Vryheidsparty (IVP) gestig, ’n party hoofsaaklik gevorm rondom die konsep van Zoeloesprekendes as ’n etniese eenheid. In die stigting van hierdie binnelandse, etnies-gebaseerde party het Buthelezi hom die argwaan van die ANC op die hals gehaal. Op daardie stadium was die ANC ’n vryheidsorganisasie wat buite die land onder verbanning bestaan het. Tot ’n baie groot mate het Buthelezi se IVP in medewerking met die destydse apartheidregering tot stand gekom en het die ontstaan van die IVP in beginsel die destydse beleid van afsonderlike ontwikkeling ondersteun. Die ANC, hierteenoor, was gekant teen etniese verdeling van swart mense en het die beginsel van “one people” en totale oorname van die wit regime ondersteun.

In hierdie stukkie mini-geskiedenis lê daar ’n ironie. Historici probeer nog steeds verklaar waarom die Zoeloesprekendes, met kern die Usuthu-stam van Buthelezi, in die 19de eeu so ’n ongekende militêre mag in Afrika suid van die ewenaar geword het. Een sterk verklaring – weliswaar nie die enigste nie – is dat die Usuthu-stam in die 18de en vroeg 19de eeue die bolwerk teen slawehandelaars aan die noordekant van Zoeloesprekende gebied geword het. Uit hulle suksesvolle terugdrywing van slawehandelaars se invalle sou die uitsonderlike militêre vermoë van die Usuthu dan sy noodwendige gevolg gehad het.

Die IVP, ’n etniese eenheid met ’n oorspronklike geskiedenis van verset teen wit inname, bots in die 1970’s met die nuwe gedaante van verset teen wit oorname, die ANC. In die vier jaar tussen die ontbanning van die ANC op 2 Februarie 1990 en die eerste algemene verkiesing van 27 April 1994 het daar bloedige gevegte tussen die IVP en die ANC in KwaZulu-Natal uitgebreek. Hele woonbuurte in die Pietermaritzburg-Durban-omgewing is deur hierdie geweld lamgelê.

Die IVP het, as ’n mens dit so kan noem, oor ’n “eiendom” beskik by name die stamgebiede van die 280 tradisionele stamme in KwaZulu-Natal. Vanuit hulle trotse herkoms eerbiedig hulle nog die stamstelsel as vorm van plaaslike regering. Die ANC het op daardie stadium minder positiewe geluide oor die voortsetting van die stamstelsel gemaak. Die ANC, met sy mikpunt die Parlement, het die stamstelsel as uitgediend beskryf.

Die geskiedenis van stamgronde

Stamgronde in KwaZulu-Natal dateer sedert 1834. Ek herhaal die datum, vir duidelikheid: 1834. Dit is 114 jaar voor apartheid. Die destydse Britse kommissaris van Brittanje, Theophilus Shepstone, het sewe gebiede rondom Durban en Pietermaritzburg gereserveer waarbinne Zoeloesprekendes steeds onder die stamstelsel kon voortleef. Hierdie stamgebiede het deur die geskiedenis die name van Native Reserves en Crown Reserves en andere gedra. Die stamgebiede is deur die Britse Kroon uitgehou, gereserveer vir oorspronklike inwoners van die land, en inkomende wit maatskappye is daarvan weerhou om hierdie “uitgehoude reservate” te privatiseer vir eie gewin. Die Britse Kroon, of dan die Britse regering, het eienaarskap oor hierdie gronde aanvaar en die stamgronde “besit” en geadministreer. Hierdie uitheemse besitreg het een doel en een gevolg gehad: Die doel was om kapitalistiese maatskappye te weerhou van privatisering van grond; die ironiese gevolg was dat inheemse mense in dieselfde oefening ook hulle inheemse eienaarskapsreg oor die grond verloor het.

Soos wat regeringsvorme verander het, het die name van hierdie stamgronde verander. Native Reserves het Crown Reserves en later Union Lands en sedert 1936 trustgronde geword, bedoelend die regering hou die grond in ’n trust vir die oorspronklike inwoners. Sedert 1962 het die titelakte-eienaar van die stamgronde die Republiek van Suid-Afrika geword. Terwyl die naam van die titelaktehouer telkens verander het, het die situasie op die grond weinig vanaf 1830 verander. Die stamstelsel van plaaslike regering, histories kosbaar en bekend en gewaardeer, het vir die IVP nog hoë waarde gedra. Met die bloedige kultuurstryd, as ’n mens dit so kan noem, tussen die IVP en die ANC in die vroeg 1990’s het die strategiese vrees ontstaan dat die ANC as meerderheidsparty die bewind van die land gaan oorneem en die eienaarskap van die IVP-stamgronde as politieke hefboom teen die IVP gaan gebruik. Wanneer aan bewind, sou die ANC effektief die eienaars van ook die IVP-stamgronde wees en in die aangesig van die heersende bloedige geweld tussen die twee het vrae ontstaan oor die ANC se moontlike toekomstige hantering van die IVP-stamgronde.

In die doodsnikke van die vorige regering is die titelakte-eienaarskap van die KwaZulu-Natalse stamgronde oorgedra na die Zoeloe-koning by wyse van die Ingonyama Trust Wet van 24 April 1994, drie dae voor die eerste algemene verkiesing (waarin die ANC met ’n geweldige meerderheid gewen het). Die grondwetlike onderhandelinge het daarin geslaag om die Ingonyama Trust Wet in die grondwet op te neem en het op so ’n wyse die potensiële konflik tussen die IVP en die ANC te berde gebring.

In ’n verdere ironiese wending het ’n Zoeloesprekende ANC-lid in 2009 president van die ANC en die land geword. Sy historiese tuiste is die stamgebied van Nkandla waar hy nog steeds onder die Trust van die Zoeloe-koning historiese besitreg tot sy stamgronde geniet.

Lees ook:

Uit die argief: Daar’s ’n Zoeloe in my ateljee

Mangosuthu Buthelezi: Good and evil in one person

The contested legacy of Mangosuthu Buthelezi

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top