Mamba deur Pieter Henning: ’n resensie

  • 0

Titel: Mamba
Skrywer:
Pieter Henning
Uitgewer: Woodrock Publishing
ISBN: 9781037004742

Om ’n plasie in die Bosveld in die Waterberge te erf is mos enigiemand se droom.

Of is dit?

Hieroor wonder Arrie Botha, die hoofkarakter in dié roman.

Die titel van hierdie spanningsroman laat reeds gevaarligte flikker. Daar is ’n reuse slang wat tydig en ontydig verskyn en verdwyn – iets wat wetenskaplikes nog nooit ervaar het nie. Benewens openbare toesprake en spinnekoppe is slange mos ook een van die mens se grootste vrese of fobies.

Die slang is ’n skrikwekkende vier en ’n halwe meter lank. Die mense wat hom sien, besluit hy is ’n oergedierte, ’n kreatuur uit ’n gans ander era.

Op die omslag is daar geen teken van die slang nie. Net ’n rustige toneel van ’n man en sy hond in die veld. ’n Slim besluit, want dit beklemtoon net hoe slinks onbereikbaar die gedierte is.

Mens sou dink die blote gedagte aan hierdie skrikwekkende reptiel is genoeg rede om enigeen die hasepad te laat kies.

.......
Die soektog na die slang raak lewensgevaarlik, selfs doodsveragtend.
.......

Maar nee, Jim, ’n Amerikaanse herpetoloog wat sy PhD oor die swartmamba doen (die biologie sowel as die legendes) se grootste ambisie is om hierdie fassinerende slang te bestudeer en later selfs te probeer vang – iets wat hy met vernuf kan doen en waarvoor hy opgelei is. Maar nie sonder erge gewetenswroeging en tragiese gevolge nie.

Hy wil ook sien waar Eugène Marais gewoon het. Slange fassineer hom al van jongs af.

Mamba is ’n spanningsroman met ingewikkelde intriges en ’n menigte invalshoeke wat jou hare behoorlik laat rys. Daar is talle avonture, maar ook sameswerende geheimsinnigheid en rugstekery. Die soektog na die slang raak lewensgevaarlik, selfs doodsveragtend.

Arrie vra later moedeloos-wanhopig hoekom hy die “ellendige plek” moes erf. En hoekom die reuse mamba voor hom in die paadjie moes kom staan het. Die mamba wat net moeilikheid gebring het.

Die agterblad meld dat die roman gaan oor Arrie, losloperargitek, wat besluit om die land te verlaat. Hy stel sy plan uit ten einde ʼn hoëprofielprojek te voltooi. Intussen erf hy ’n Bosveldplasie by ’n oupa wat hy nooit geken het nie. Terwyl hy sukkel om dié nuus te verwerk, dwing ’n voorval met ’n kliënt se vrou hom om die stad inderhaas te verlaat.

Vergesel deur sy geliefde hond, Springer, wat links en regs harte steel, gaan skuil hy op die plaas in ’n afgeleë hoek van die Waterberge. Hy is moeg vir taxi’s, geweldsmisdade soos gewapende roof en motorkapings, korrupsie en politieke binnegevegte.

.......
Vergesel deur sy geliefde hond, Springer, wat links en regs harte steel, gaan skuil hy op die plaas in ’n afgeleë hoek van die Waterberge. ... Dit lei egter glad nie tot die rustige verblyf wat mens in die middel van nêrens sou verwag nie.
.......

Dit lei egter glad nie tot die rustige verblyf wat mens in die middel van nêrens sou verwag nie.

Weens tipiese Suid-Afrikaanse gasvryheid raak hy by ’n wildvreemde Amerikaanse paartjie betrokke vir wie hy verblyf aanbied. Daarna volg die een drama op die volgende, en hy wonder wat hom besiel het om hulle na sy huis toe te nooi.

Daar is twee wulpse vroue wat met sy kop en hormone smokkel, ’n moederlike ouer vrou wat ’n geheimsinnige paaldanser vir haar kroeg huur, die gesprekke met die geleerde Thabo en Doors, ’n smerige, gierige en skelm ou man, en ’n plaasaanval. Daar is sprake van smokkelhandel deur “fanatiese mense wat asemrowende pryse vir skaars en eksotiese plante en diere betaal” en ’n verwoestende brand. ’n Ware tuimeltreinrit.

Dit alles teen die bedrieglik rustige agtergrond van die Bosveld.

Asof Arrie nie genoeg persoonlike probleme het nie, raak hy kort voor lank ook al hoe vaster verstrik deur ’n sameloop van onverwagte gebeure.

Hy begin wonder of hy nie maar van die plaas ontslae moet raak nie.

........
Hierdie plaas is pure bos. Soms skryf hy amper liries, soos: “Dagbreek se goue uur het in skelle oggendlig verander.”
........

Henning het behoorlike navorsing gedoen en beskryf die ongerepte natuurtonele in soveel besonderhede dat jy dit met al jou sintuie beleef. Hierdie plaas is pure bos. Soms skryf hy amper liries, soos: “Dagbreek se goue uur het in skelle oggendlig verander.”

Dan wil jy sommer daarheen verhuis.

Ander kere, as daar toevallige ontmoetings met die slang is, kry jy amper ’n hartstilstand, soos met die volgende beskrywing: “Arrie voel hoe die bloed koud word in sy are. Hy versteen. Die oopgesperde bek is vlak voor sy gesig – swart en klam-blink.” En: “[D]ie reptiel se lyf lê in eindelose kronkels oor die wit klippe gedrapeer. Dit is net ’n gedeelte van die ondier wat hier voor hom staan, oop bek in lyn met sy keel. Arrie kan die dofwit van die giftande teen die swart verhemelte sien.”

Met nog ’n ontmoeting met die slang skryf hy oor die nek wat in ’n “S-vormige veer teruggetrek is. Dan skiet dit vorentoe, ’n dodelike ommekeer van vlug na veg, die oopgesperde bek ’n swart streep deur die ruimte tussen slang en man.”

Dit laat mens lus voel om na die 56ste verdieping van ’n wolkekrabber te laat verhuis. Ver van die veld af.

Die monsterslang laat Arrie ril, maar raak nogtans sy verbeelding aan.

Henning skryf in ’n gemaklike verteltrant, maar val hier en daar in die slaggat van vertel eerder as wys, in plaas van die beginsel wys, moenie vertel nie, soos wanneer hy skryf oor “verstommende posisies” en “’n asemrowende dansroetine” van die paaldanser.

Veral interessant is sy ongemaklike maar openhartige gesprekke met Thabo oor rassevooroordeel, die ou en nuwe gemors in die land, en voorvadergeeste. Die skrywer skram nie weg van aktuele onderwerpe nie.

........
Dalk kan Henning volgende keer ’n stoom-Romanza aanpak!
........

En dan wil ek net noem dat die erotiese liefdestoneel in die stort party Romanzas se liefdesavonture na ’n onskuldige handjiesvashouery op ’n Sondagpiekniek kan laat lyk.

Dalk kan Henning volgende keer ’n stoom-Romanza aanpak!

Maar ek dink lesers sal dalk eers die beplande opvolg op Mamba wil lees.

Lees ook:

Mamba deur Pieter Henning, ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top