
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Mamba
Skrywer: Pieter Henning
Uitgewer: Woodrock Publishing
Ook op Amazon beskikbaar as e-boek
Hoeveel kanse het ’n debuutskrywer om sy naam te vestig as romanskrywer? As dit ’n bekende model, akteur of rugbyspeler is, blykbaar met elke boek. As dit egter iemand is wat nie om ander redes bekend is nie, is ’n debuutroman baie belangrik. Soveel te meer as daar baie tyd en geld in bemarking gesteek word.
Pieter Henning se debuut Mamba beloof op die agterblad dat dit ’n spanningsroman met kronkels is. Dit pas nie gemaklik in die genre nie; soms lees dit soos ’n riller, soms soos ’n verhoudingsroman.
Die verhaal speel af op ’n plaas in die Waterberge, met hedendaagse korrupsie en misdaad ook bygegooi, wat dit baie realisties maak. Die tonele met die polisie werk baie goed.
Daar is ook letterlike kronkels, met ’n slang as karakter. Dit is ’n vars aanslag om soms uit die slang se perspektief te kyk. Welgedaan!
Dit is egter nie enige slang nie; dit is ’n reusemamba waarvan daar maar enkeles oor is in die Waterberge.
Anders as die persepsie wat ekself van mambas het, is dit nie vreesaanjaend om daaroor te lees nie. Jy kan gemaklik saans voor slapenstyd lees. Jou simpatie lê selfs by die mamba en jy hoop stilletjies vir sy veiligheid en dat hy die Amerikaanse navorser sal ontglip.
Die leser moet hom weerhou om die boek met Die onsigbare van PJO Jonker se meer literêre aanslag te vergelyk, waar die rooikat ’n sentrale karakter is. Mamba gee nie voor om enige iets anders as ’n lekker storieboek te wees nie, wat dit wel is.
Henning het dalk net ’n gulde geleentheid gemis om ’n bietjie dieper in die mitologie te delf. Die slang in die paradys self, die spel met goed en kwaad, asook die waterslang Mamogašwa waarvan die bejaarde Mokgalabje hulle vertel. Mokgalabje as karakter is een van my gunstelingstukke in die boek.
Dit was slim om slangmetafore te gebruik en daar is dikwels onverwagse mooi taal. “Sy stem het die sis van ’n slang bevat” (p 279).
Ongelukkig is daar ook heelwat lastighede. Die seksuele innuendo’s raak te veel. ’n Mens kan net soveel van deininge en borsies en heupe wat beur teen die klere lees, veral as dit elke vrouekarakter beskryf. Tog beland die hoofkarakter Arrie in ’n situasie waar sy integriteit duidelik is. Die erotiese stukke word bederf deur woorde soos skaamheuwel, undulasies en vulva. Dit bring die vraag op wat nog nooit beantwoord is nie: Kan mans erotiese tonele oortuigend skryf?
Die skrywerstem kom te veel deur. Drie verskillende mans noem mekaar “ou maat”. Ook die spel tussen Arrie se Id, ego en superego is oordrewe en oorgebruik.
In geheel is Mamba ’n heerlike storie wat lekker lees. Die skrywer het reeds aangedui dat hy besig is met ’n opvolg. Henning is ’n goeie skrywer; ek hoop dat hy die kritiek in resensies ter harte sal neem en nie in dieselfde slaggate sal trap met ’n opvolg nie.


