Malcolm & Marie: ’n filmresensie

  • 0

Foto van die filmplakkaat: imdb.com

Regie: Sam Levinson
Akteurs: Zendaya, John David Washington

Malcolm & Marie begin in ’n glansryke huis wanneer ’n filmmaker en sy vriendin terugkeer van die première van sy eerste groot fliek. Malcolm, die hoofkarakter, is duidelik in ’n bui om te vier, maar sy vriendin, Marie, is opgewerk, om dit ligtelik te stel.

Malcolm (John David Washington) is honger, en sy maak vir hom macaroni en kaas. Marie (Zendaya) luister na Malcolm, maar kommunikeer haar mismoedigheid met swaar sugte en deur haar oë te rol. Terwyl hy eet, vra Malcolm herhaaldelik wat haar pla en sy verloor haar humeur. Die kykers ontdek dat Malcolm nie vir Marie tydens sy toespraak bedank het nie. Iets wat aanvanklik klein lyk, is die garing wat al die konflik in hul verhouding laat ontrafel.

Dit word later duidelik dat hierdie fliek waarvoor Malcolm soveel krediet kry, gedeeltelik deur Marie se stryd met dwelms geïnspireer is. En hy het haar nie krediet daarvoor gegee nie.

Vanaf die begin hinder die vraag: Waarom bly Marie by Malcolm? en hierdie vraag word nooit ten volle beantwoord nie. Aanvanklik wil dit voorkom asof Malcolm die skurk in die fliek en in Marie se lewe is, maar die leser kom vinnig agter daar is meer aan hul verhouding. Marie het ook foute in haar lewe en in hierdie verhouding gemaak.  

Die tema is nie oorspronklik nie – die storie van ’n kunstenaar en sy/haar muse is al in verskeie vorme vertel. Sam Levinson bring ook nie iets nuuts na die tema nie, maar dis steeds boeiend om te kyk.

Malcolm oordonder egter die storielyn, miskien omdat hy so ’n teenstrydige karakter is. Aan die een kant erken hy dat die fliek sonder Marie nie die diepte sou gehad het wat dit tans het nie, en later in die aand ontken hy haar invloed. Volgens hom is sy slegs een van die bronne wat tot die fliek en die hoofkarakter bygedra het. Hy trap ander uit oor hul voorreg, maar erken nooit sy eie nie.

En deurgaans bly hinder die vraag: Waarom bly sy by hom?

Die verhouding tussen Malcolm en Marie is gekompliseerd, toksies. Die karakters is selfgesentreerd en dit maak dit moeilik om van hulle te hou. Marie se self-awareness maak van haar ’n meer simpatieke karakter.

Malcolm & Marie is ’n lekker fliek, maar omdat die storielyn slegs op die twee karakters fokus, voel dit uitgerek. Die verhaal sou sterker gewees het indien Marie haar eintlike kwelling (ek sal dit nie bederf nie) vroeër bekend gemaak het. Die einde is beide voorspelbaar en frustrerend, want die uiteinde is nie die konflik werd waardeur Malcolm en Marie gaan nie.   

  • Malcolm & Marie is beskikbaar op Netflix.
  • Sterre:3
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top