Makhosi Khoza vir president?

  • 3

Makhosi Khoza (Foto: Youbute)

Makhosi Khoza is op hierdie stadium waarskynlik die enigste ANC-lid wie se toewyding aan waarheid ek nie as polities opportunisties beskou nie. Cyril, Lindiwe en al die ander, selfs Trevor ... dit voel regtig net te gerieflik dat almal nou skielik ’n morele rugstring ontdek het, veral wanneer mens agterkom dat hulle almal sedert ten minste 2011 geweet het hier kom covfefe.

Nie dat ek hulle blameer nie. Die politieke moorde in sommige dele van ons land, die geweld en intimidasie, kan die sterkste siel ontsenu. Dis eenvoudig makliker om jou oë te sluit, uit die spervuur te bly en te hoop vir die beste.

Ons vergeet soms dat die ANC vir ’n groot deel van hul geskiedenis ’n gewapende stryd gevoer het in exile. Dis maklik om te sê, maar moeiliker om te verstaan. Konstante aanslae van ’n vyandige regering wat jou wil doodmaak. Infiltrasie deur spioene wat jou geheime wil blootstel, sodat jy nooit regtig weet wie om te vertrou nie. Onbehandelde trauma en verhoogde stresvlakke, want jy word konstant onderwerp aan vyandiggesindheid. Seksuele geweld deur of teen jou medesoldate. En omdat jy uitgeworpe en aan die vlug is, kan jy nêrens stop en hulp kry nie. Ook nie van die howe nie. Dis dan veiliger om almal met wantroue te bejeën, selfs jou makkers. Dis vinniger om jou eie weergawe van geregtigheid uit te deel. Dis Oorlewing 101.

Ek verstaan dis moeilik om die oorskakeling te maak van rebellemag na regerende party. Heelwat van wat hulle moes doen om te oorleef, was aan die verkeerde kant van die reg. As sg situational ethics vir so lank jou konstante is, dan is dit maklik om oorboord te gaan wanneer jy die een is wat die reëls maak en die kitaar slaan. Wanneer jy die kopskuif moet maak van kroniese tekorte na beheer van die staatsfiskus, dan is dit maklik om jouself toe te laat om hier en daar jou vingers in die kasregister te sit, veral as almal rondom jou dit óf self doen óf bereid is om anderpad te kyk. As skatryk besigheidsmense wat hulle voorheen nie aan jou gesteur het nie, nou met jou hand op die blaas is want jy het invloed, is dit maklik om dit na jou kop te laat gaan. Net omdat jy kapitaliste minag, beteken dit nie jy smag nie ook na die statussimbole, die gerief, die luuksheid en die eksklusiwiteit nie.

Ons vergeet dat die mense wat nou in beheer van die land is, dikwels geweldige sielkundige letsels het as gevolg van dinge wat in exile gebeur het. Die meeste het waarskynlik nooit hulp gekry om daaroor te kom nie. Hoeveel mense wat nou beleid moet bepaal vir die land, sit met ongediagnoseerde en onbehandelde posttraumatiese stressindroom?

Onthou verder dat die meeste van hulle geveg het vir ’n ideale Suid-Afrika, een waar hulle die redder en die held is. In stede van die heldeverering wat hulle verwag het, het hulle egter ’n weerbarstige volk gekry wat van hulle verwag dat hulle binne ’n jaar of twee ongeregtighede moet ongedaan maak wat oor eeue gevestig is. Natuurlik het hulle hard daaraan gewerk om daai verwagtinge te skep, en is hulle tot ’n mate die outeur van hul eie teenspoed. Hoe groot moes hulle ontnugtering nie wees toe hulle besef hulle heldedade, hulle opofferings, word as vuil lappe weggegooi nie. Vra maar vir Moses hoe hy gesukkel het met die Israeliete.

Dan kom jou kamerade boonop en begin jou ook kritiseer. Hoe in die rug gesteek moet jy nie voel nie? Na als wat jy vir hulle gedoen het?

Ek is geen sielkundige nie, maar mens hoef nie een te wees om te verstaan dat mense onder druk teruggaan na dit wat gemaklik en bekend is nie. Die maskers wat jy voorhou, word te veel om in stand te hou en jy gaan terug na jou default settings. Dis hoekom ek nooit rassiste glo wat sê hulle het buite hulle aard opgetree as gevolg van stres nie. Die masker het dalk geglip as gevolg van stres, maar dis maar al.

As jy dan boonop in ’n posisie is waar jy die regte mense in sleutelposisies onder jou duim het, is dit maklik om te vergeet jy is nie meer in exile, besig met ’n hand-en-tand-geveg vir oorlewing nie. As die luukse lewe waaraan jy gewoond geraak het, nou in gevaar is, dan is dit maklik genoeg om te besluit dat dit beter is om jou opponent te verwyder. After all, jy het dit in exile gedoen. Niks het verander nie.

Ek verstaan dit. Ek begryp dat dit moeilik is om ’n ou hond nuwe toertjies te leer, veral as die ou toertjies so effektief is. Ek begryp dit. Dit beteken nie ek moet daarvan hou nie. Dit beteken nie ek moet dit goedkeur nie. Dit beteken veral nie ek moet stem om daai disfunksionele sisteem in stand te hou nie.

Ek dink Makhosi Khoza verstaan dit ook. Die enigste manier om die disfunksie te stuit, is om die sisteem te vernietig. Using the master’s tools to dismantle the master’s house. En sy is bereid om ’n hoë prys te betaal om daai huis af te breek.

Ek het die grootste respek vir Khoza se beginsels. Sy veg teen oormag, en sy weet dit. Reeds sedert April is daar verskeie sekuriteitsondersoeke gehou om die vlak van die dreigemente teen haar lewe te ondersoek. Dis nou Julie, en sy het nog steeds nie lyfwagte nie. Dat sy so lank oorleef het, is ’n wonderwerk. Die parlement het uiteindelik besluit dat sy beskerming kan kry, maar een van die persone teen wie sy kritiek gelewer het, die Minister van Polisie, moet aan haar beskerming verleen. Praat van wolf skaapwagter maak. Boonop inspireer die bewoording van die parlement se mediavrystelling nie groot vertroue nie: “In this regard, Parliament is working with SAPS to ensure that the two institutions collaboratively provide the necessary support to Dr Khoza as soon as possible.” Daar is ’n reuseverskil tussen “as soon as possible” en “immediately”, wat mens sou verwag die parlement se houding behoort te wees. Dit moet vir Khoza ’n bitter pil wees wanneer Nkosazana Dlamini-Zuma so maklik ’n sekurititeitsdetail gekry het, sonder om deur enige van die kanale te gaan.

Ek haal my hoed af vir Makhosi Khoza. Maar ek kan nooit hoop dat sy president van hierdie land word nie. Dit sal nie die huis tot op sy fondamente afbreek nie, dit sal ten beste ’n herrangskikking van die verswakte bakstene wees. Wat nodig is om hierdie land te red, is om die huis heeltemal af te breek en sy fondasie te versterk. Enigiets anders is net ’n vars laag verf oor ’n verkrummelende huis – en ons almal, Makhosi Khoza inkluis, verdien beter.

  • 3

Kommentaar

  • Estelle Kruger

    Wow, Bettina. Ek haal my hoed af vir jou gebalanseerde siening - dit laat 'n mens dink.

  • Jeanette Snyman

    Bettina, is sy nie a "woman of substance" nie! Het nog baie van haar soort nodig. Vrouens is buitendien nie so magsbedonnerd nie - meer oor sosiale kwessies gepla. SA nog ver om te gaan voor dit sal gebeur- nog gans te patriargaal - eish😢

  • Hier word twee derdes apologeties gewei oor die onetiese optredes van sekere parlementslede en kabinetsministers, en dan siestog en apologeties, hulle kan mos hulself nie help nie, want die vorige regering het veroorsaak dat hulle so geword het?! Ons moet hulle optredes verbykyk want daar moet in aanmerking geneem word dat hulle deur die vorige regering 23jare GELEDE (in die verlede) getraumatiseerd is, wat hulle HUIDIGE gedragspatroon beïnvloed! En natuurlik is net ANC "struggle veterane" genoem wat deur die vorige regering getraumatiseerd is, geen genoem van die ander in opposisie geledere nie wat hulle funksies met eerbaarheid beklee.
    Oor Dr Khosa word vlugtig oorgesmeer (glossed over): "Ek het die grootste respek vir Khoza se beginsels ... Ek haal my hoed af vir Makhosi Khoza." En dit is haar uitsluitlike kriteria om Dr Khosa as presidentskandidaat voor te stel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top