....
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
....
Gister is ’n boek wat as “opspraakwekkend” en “skokkend” beskryf word, bekendgestel.
Die Afrikaanse titel is Die seuns van Bird Island, die Engels is The lost boys of Bird Island. Dis nie heeltemal duidelik hoekom die woord “lost” verlore gegaan het in die Afrikaanse weergawe nie. Dalk om effens sagter op die Afrikaanse gemoedere te land?
Wat die boek so skokkend en opspraakwekkend maak, ten minste vir ’n sekere sektor van die samelewing, is dat sekere hooggeplaastes binne die voormalige Nasionale Party (NP) ’n pedofiliese ring bedryf het en hul amptelike posisies misbruik het om dit te bedek. Hoekom dit meer skokkend moet wees as die bewese feite dat hulle menseregte-aktiviste gemartel en vermoor het, is vir my duister. Hoekom dit meer skokkend moet wees as die gebeure van 16 Junie 1976, weet ek ook nie.
Dis tog dieselfde groep, en dieselfde mentaliteit, wat vir albei verantwoordelik was. En in elke geval was dit óf toegesmeer óf polities so ge-whitewash dat die skape wat in elke verkiesing stem, tog nie uit hul stomme sluimering gesteur moes word nie. En vir dié wat nou dadelik protesteer omdat ek die kiesers van destyds skape noem: Is dit verkieslik dat ek glo julle het willens en wetens ’n onmenslike regime in stand gehou?
Dis tog lankal nie meer nuus dat mense gemartel, vermoor en begrawe is nie. Dis tog lankal nie meer nuus dat mense se lewens vernietig is, dat daar volgehoue staatsbefondste veldtogte was om mense se name swart te smeer, hulle te teister, aanslae op hul lewens te waag en veel meer om apartheid in stand te hou nie. Die oortreders is beskerm en selfs bevorder. Hoekom verbaas wees dat daar in sommige gevalle ’n seksuele komponent daaraan verbonde sou gewees het? Of dat van die mees weerlose lede van die samelewing, naamlik kinders, die slagoffers sou gewees het?
Ons sien dit vandag nog, ook in die kerk, dat pedofiele se oortredings toegehou word. Beheer oor ’n land is tog ’n veel groter prys om te beskerm as ’n kerk. En as iemand net sy vingers kan klap en die weermag en polisie gehoorsaam, hoekom dit nie gebruik vir hul privaat bevrediging nie? Hoekom skok dit mense?
En met “mense” bedoel ek “wit mense”. Nie een enkele bruin persoon met wie ek te doen gehad het, was verbaas nie. As daar verbasing was, was dit nie oor die bewerings nie, maar oor die tydsverloop voordat dit bekend gemaak is.
Nog minder was ek verbaas oor die teen dié tyd voorspelbare reaksie op sosiale media dat dit fopnuus moet wees. Of oor die tannie wat treur omdat sy by soveel geleenthede vir Magnus ’n angelier aangesteek het en nou word sy naam beswadder. Of, heel beste nog, die man wat kla omdat alle wit mense nou weer van voor af moet skuldig voel, en hy nou moeg is daarvan.
Huh? Ek voel nie skuldig as ’n bruin persoon steel of verkrag of moor nie. Hoekom moet ek? Ek is nie ’n dief of verkragter of moordenaar nie. Hoekom sal iemand wat vermoedelik nie self ’n pedofiel is nie, skuldig voel oor die dade van ’n pedofiel?
Of is die skuldgevoel omdat hy ’n stelsel help in stand hou het wat sulke vergrype laat gebeur het? Ai meneer, wat dink jy het gebeur met gevangenes in eensame aanhouding – heelparty van hulle kinders? Wil jy nou regtig voorgee dat daar tussen al daai polisiemanne en bewaarders nie een enkele persoon was wat seksueel met die gevangenes ingemeng het nie? En as daar verkragtings was, by wie kon die gevangenes gaan kla? Wie sou hulle glo? Wie sou in die hartjie van apartheid die storie van ’n bruin of swart persoon glo bo dié van ’n wit ampsdraer, veral ’n geregsdienaar of politikus? Wie? Glo jy regtig hulle was almal persone wat in daardie posisies geplaas was net omdat hulle ideologies en moreel suiwer was? Glo jy regtig dat daar nie een enkele martelaar was wat soggens met ’n lied in sy hart opgestaan het en kon uitsien na nog ’n dag waarin hy op staatskoste sy diepste fantasieë kon uitleef nie?
Regtig? Dan glo jy seker ook nog in die tandemuis en Kersvader, neem ek aan.
Of is die skok omdat dit bruin kinders was en Magnus en ander hulleself so oor die kleurgrens heen vergryp het? En dit nogal in die dae van die Ontugwet. Het julle niks geleer uit Eugène Terre’Blanche se storie nie?
Ek verstaan in elk geval nie die skok en skuldgevoelens nie. Niemand het dan kwansuis vir die NP gestem nie. Niemand het saamgestem met die stelsel waaruit hulle so heerlik voordeel getrek het nie. Of het julle regtig gedink daar is geen koste aan verbonde om struktureel, sistemies bo ander voorgetrek te word nie? Natuurlik is daar koste aan verbonde – betaal in bruin en swart lewens en vlees. Maar solank jy nie die prys betaal nie, is koste nie iets om te veel oor te dink nie, of hoe?
Dis te verstane dat iemand dalk nog in die sewentigs en tagtigs kon beweer hulle het nie geweet van al die vergrype nie. Maar om dit in 2018 nog te probeer goedpraat? Nee wat, nou is dit nie eens meer wilful blindness nie.
Nou begin dit ’n klankie van aandadigheid kry.
Kommentaar
Beste Betinna
Is dit nie maar 'n geval van die pot wat die ketel verwyt nie? Nie een party het met skoon hande uit die konflik om die konferensietafel kom sit.
Vandag vermoor en verkrag die gepeupel ou mense en kinders. Sosialistiese rewolusie van ANC, EFF en andere is net so veragtelik as Apartheid. Punt is dat alle maghebbers van hulle tyd bedwelm word deur een of ander ideolgie en die misbruik maak van hulle mag. Romeine, Bolsjewiste (Stalin) Mau Tse Tung in China. Miljoene der miljoene wreedaardige moorde en teregstellings. Lewer ook kommentaar oor vandag as u gister se oortreders raak sien ...
Dis loutere snert. Dis polities van aard. Die persoon wat die boek geskryf het soek sensasie. As ek a familielid was het ek hom gedagvaar.
Bettina, ons was beslis skape, maar jy moet darem 'n bietjie begrip hê vir die klompie skape in die kraal wat die gehuil van die wolwe daar buite gehoor het en maklik aan grashalmpies gegryp het ter wille van oorlewing - of so is hulle wysgemaak.
Die "vergrype" wat nou op die tafel is, is darem nog nie so bewese as die ander waarvan jy praat nie. Ons moet versigtig wees om nie te gou alles as waar te aanvaar nie.
Ek is geskok oor die mensevergrype, vir seker. Wat wel ook 'n waarheid is, is dat die vergrype van baie van die huidige regering as ampsdraers ook deur sy stemmende skape in stand gehou word.
Ek is regtig ook glad nie verbaas nie. Ook ander wêreldleiers, hooggeplaastes en koninklikes maak hulle skuldig aan pedofilie. Magnus Malan was tien teen een 'n psigopaat.
Die aanval in die boek is nie op gestaafde feite gebaseer nie, eerder op wanpersepsies. Waar ek met Bettina Wyngaard saamstem, is: As jy nie sedert 1994 kon insien dat apartheid onregverdig was teenoor anderskleuriges, veral diegene met goeie eerbare ambisies nie, dan sal diesulke voormalige bevoorregtes nooit tot goeie insigte kom nie. Die werklikheid is egter dat dieselfde diskriminasie nou teen blankes toegepas word. Jy kan teem oor die onregverdigheid van voor 1994, maar wat maak dit jou dan anders as die mense wat Engeland haat oor die konsentrasiekampe 100 jaar gelede of die Duitsers haat oor Auswitch, of die mense haat wat hulle met hulle "necklaces" gedoen het, ens? Om daaroor te debatteer, gaan die huidige situasie geensins verbeter nie. Jy kan dus aanhou om Jannie Jammergat of Sannie Saniksnik te speel, of om jou moue op te rol en te sê: "Wat kan ek NOU doen om die SA-samelewing 'n beter plek te maak?
MAAR, die boek is onwaarskynlik want:
(1) Die ou SAW was in uiters min gevalle, tydens die WVK beskuldig van dade op individuele grondslag. Die marteling en daardie tipe van ding het gekom van die veiligheidspolisie ens. Die SAW was net ingeroep in gevalle waar die polisie nie die bronne gehad het om die situasie te hanteer, waar massas mense by betrokke was. Die beskuldigings in die boek is teen die werksetiek wat die SAW destyds gehandhaaf het.
In die huidige regime, is staatsveiligheid al misbruik om party politieke belange te bevorder. Dis die begin van 'n diktatorale regering. So is die regering nie genoeë om vislisensies toe te ken aan mense wat voorheen hulle lewensonderhoud daarmee gemaak het nie. Dit word toegeken aan party politieke vriende.
(2) Sonder om die dade goed te praat: Sou 'n professionele soldaat iemand in die anus skiet, met die risiko dat daardie persoon teen hom, in die hof kon getuig? Baie onwaarskynlik. So, die boek is ongeloofwaardig.
Miskien moes Bettina eers die volgende artikel gelees het voordat sy die skapies
begin beskuldig oor hul ondersteuning aan die vorige regering.
https://mg.co.za/article/2017-10-27-00-our-women-freedom-fighters-tell-of-sexual-abuse-in-camps
"Female soldiers who experienced sexual assault – or its constant threat – still struggle against the myth of the untouchable men they fought alongside. And they are angry that this culture persists."
Nie een wat net 'n bietjie empatie met die slagoffers uitspreek, sonder om een of ander verontskuldiging aan te las nie?
"Power corrupts and absolute power corrupts absolutely". Dit is waar vir alle tye waar regerings (en/of persone) absolute mag in die hande kry, van die vroegste tye af en vandag nog steeds so.
Tracey, jy sê dit is louter snert! Het jy klinkklare bewyse daarvoor? Vra net.
Dis maklik om enige nonsens te skryf, veral as jy in 'n ander land sit. Hierdie skrywers soek 'n maklike manier van geld maak, wat hulle heelwaarskynlik sal kry. Daar is geen bewys van hulle bewerings nie en hoekom weet niemand anders daarvan nie?
Dankie, ek stem met elke woord van jou saam.
Bettina wat probeer jy nou eintlik sê? Die bewerings mag waar of onwaar wees, maar vir my lyk dit darem alteveel of jy die saak gebruik as sweep om veral Afrikaners by te kom. En het nog altyd respek vir jou gehad en en hoop regtig ek is verkeerd.
Ek swymel nog in skok ... ek het Sondagoggend Rapport gelees, daarna Sosiale Media gefynkam ... ek voel of my hele lewe 'n leuen was, want my geskiedenis was dan 'n leuen. Ek hét twee keer NP gestem, op 18 vir Kobie Coetzee en toe weer toe ek JA gestem het.
Maar ek sit hier en ek besef net ons leer NIKS. Ons, die sg AFRIKANER ... die Here help die etter wat my weer DIT noem het die voorbeeld by die Nazi's gekry, nádat dieselfde ding deur die Engelse aan ons gedoen is EN ons het die meerderheid swartes geleer hoe om eintlik beter Nasionaliste te wees.
So ek KAN dit bykans nie verwerk nie ... ek het 'n intense behoefte om nou ALLES te wil weet. Ek wil weet wie die ander is – ek het 'n reg om te weet.
Om hierdie storie af te maak as kaf is dieselfde as om die Holocaust af te maak as opmaakstories of om nié te erken dat selfs die van ons wat die armste van armes was, steeds white privilege gehad het nie. Jy is steeds deur die skoolverpleegster ingeënt en deurgecheck ... jy het 'n bril gekry as jy hom nodig gehad het, jy is deur varke in die onderwys byna doodgeslaan maar jy is opgevoed. Jy het Gesondheidsleer gehad en Kruik het na jou skool gekom saam met die Coke-lorrie ... so NEE – Alles was nie sleg van die NP nie, maar laat ons nie NOU maak asof ons net goed bedoel het nie!
Saam met die ander vergryp, veral die van die polisie en veiligheidspolisie, ken ons nog net ten dele. Daar steek geen waarde in om die vergrype van Malan en sy misdadigers met die van die huidige dispensasie te vergelyk nie. Indien mens dit wil doen dan sal die huidige opset se wandade 'n slegte tweede plek kom.
In die wese van elke mens is daar die volle versameling van alle soorte sade van sonde wat wag vir die regte omstandighede om te ontkiem. Selfs al bevind 'n mens as regter jou onskuldig, mag jy steeds skuldig wees. Net jou Skepper weet wat werklik in jou hart en gedagtes aangaan. Net Hy weet wat werklik gebeur het en of jy inderdaad skuldig is. Laat ons almal altyd beskeie bly en strewe na geregtigheid en naasteliefde, hoe moeilik dit ookal mag wees.
Ek verstaan nie so mooi as ek na die skrywers se redenasies oor hoekom dit nie al lankal terug gepubliseer is nie lees. Dit was die dae van Vrye weekblad en as die feite dan nou waar was sou hulle baie eerder Magnus aangevat het as Lothar Neethling. Die impak sou baie groter gewees het Coetzee se Vlakplaas onthullings, ens, ens
Waar is die seuns dan dat hulle nie self praat nie? Dis vir my uiters onwaarskynlik ...
Bettina ek het nie woorde nie! WOW!
GeagteMeBettinaWyngaard
OnthouAltydAlleSoogdiereHomoSapiensSapiensHetVoeteVanKlei.
OnsVerlangOpbouendeSuksesstoriesOorToekomshoopVirNageslagte.
AmenSelaGroetnisTotJouVolgendeArtikel.
Die sogenaamde aktiviste was ook nie almal engeltjies nie as ek so kyk na hoe die oorblyfsel van die comrades die land in die grond in bestuur. Net soos in daardie tyd word dinge toegesmeer en die hoofstroommedia laat nie radikale stemme wat nie polities korrek berig toe om hul saak onomwonde te stel nie.
Ek is deur weermag in 1982.Vreemde gevoelens omarm my,om die waarheid te reflekteer ek voel baie siek.
Laat die seuns eers kom getuig dan sal ek dit eers glo!
"Hoekom dit meer skokkend moet wees as die bewese feite dat hulle menseregte-aktiviste gemartel en vermoor het, is vir my duister. Hoekom dit meer skokkend moet wees as die gebeure van 16 Junie 1976, weet ek ook nie."
Het die weermag enigiets hiermee te doen gehad?
In elk geval, was die moorde ens onwettig in terme van die landswette. Dit is nie asof dit deur die meerderheid blankes geduld is nie.
Gegewe dat ek nie die boek gelees het nie: Is daar darem feite wat die spul staaf? Magnus en kie was nie mak nie, maar ek vind dit nogal moeilik om om my voor te stel met kinders oor die kleurgrens. In elk geval, as dit gebeur het, was dit steeds onwettig en weerspieël dit nie die meeste wittes se etiek nie - selfs nou nog nie.
Bettina, ek sien mense reageer meestal met vergelykende verwysings na die vergrype van die huidige onbevoegde en dikwels kriminele regime, wat deur hulle laksheid en korrupsie veroorsaak dat miljoene ly wat lankal nie meer moes ly nie, maar natuurlik beweeg die redenasies en bewerings weg van die kern van die aanvanklike kwessie wat opgehaal is; dalk omdat so baie verkeerd is in hierdie land en ons 'n tragiese rekord daarvan het. Pedofiele en psigopate kom oral voor ja, maar ons almal het 'n geneigdheid om diesulkes van ander groepe meer te verag as uit ons eie gemeenskappe. Vir jou as regsgeleerde behoort dit sekerlik 'n spesiale uitdaging te wees om NIE kant te kies nie. Jy behoort tog te weet dat matige optrede en gebalanseerde denke ononderhandelbaar is in sulke gevalle, maar emosie en dalk die versugting na erkenning deur jou eie gemeenskap weeg blykbaar swaarder. Indien die beskuldigdes wel skuldig is, behoort hulle laakbare misdade wel oopgevlek te word, maar is dit steeds nie ons - my en jou - plek om op 'n openbare forum summier by te dra daartoe nie.
Ja, ek bloos saam met Louis Scheepers oor die geskarrel van ons skapies om onsself te verontskuldig op grond van die vergrype van die huidige magshebbers, en sodoende die slagoffers van die vorige magshebbers te ontken. En ai, die skielike smagting na geloofwaardigheid ... soos 'n vriend sê, jy kan net jou kop skud. Niemand so bilnd soos dié wat nie wil sien nie. Dankie, Bettina, vir jou nugter bestekopname.
Ek glo die boek. Glad nie verbaas nie.
Johann Basson, mag ek jou skrywe omskryf?
In die wese van alle mans wat die lewenslig aanskou is daar die volle versameling van alle soorte seksuele fantasieë wat wag om bevredig te word.
Laat ons mans altyd beskeie bly en nie ons broers hulle vergrype beny nie, hoe moeilik dit ook al mag wees.
Die boek is goeie voorbeeld van Vals Nuus wat deesdae volop in Afrikaanse media is.
Hoe kan ek so vermetel wees?
Net een stelling, 'n 9mm pistool in 'n seun se anus gedruk en skoot afgevuur? Daar is die korrel bo-op die sluitstuk, wat alles in flarde sou ruk, waar dokters bang is om te opereer agv hoeveelheid bloedvate. Dan het ek nog nie begin oor die skade van koeël in al die sagte organe nie.
Hoekom 42 jaar wag om die spul hoorsê in swak smaak te smous?
Die eerste domino in die storie kan nie eers bevestig word en nou word daar oor die res geredeneer. Amper soos om te bewys dat daar UFOs is ... vreeslik waarskynlik en baie wil en sal dit glo maar selfs die foto's wat feite moet wees is sulke swak uitfokus items en so aan. Nee wat, papier is geduldig en die feit dat iemand dit grskryf het dra geen feite-waarde! Totdat daar feite is bly dit 'n goedkoop storie!
Aan hierdie versinsels glo ek glad nie, want hoekom kom die dinge uit na soveel jare? Dit is een stem teen ’n ander een. Waaroor sal 'n mens ’n eeu wag voor dit gesê word om wat te maak as die manne of vroue al op so 'n ouderdom is? Ek verstaan nie; het al so 'n geval beleef en hoekom praat hulle nie vroeër nie?
Dit herinner tog aan die Smit-moorde wat so goed toegesmeer is. Die dood van Minnie laat die wenkbroue verder lig. Lees "Ek is Liza Smit".
Nou drieselfdode; twee uit 1987 en een in 2018, almal rondom een tema. Die onbeantwoorde vraag is: Hoekom?
In antwoord op Belinda Klein en andere se vraag: 'hoekom kom die dinge uit na soveel jare?': Die Generaal en die Minister se na-uurse bedywighede is al geruime tyd 'n oop geheim. In die jare tagtig was dit algemene kennis in skinder-kringe. Daar word skuinsweg na verwys in ten minste drie romans: Mark Behr se Die Reuk van appels, Eben Venter se Foxtrot van die vleiseters en my eie The Reluctant Passenger. Lees maar, dit staan daar. En nee, skrywers suig nie alles uit hulle duim nie.
Hoe vertroostend om so ‘n nugter, reguit betoog te lees. Ek bewonder Bettina.
Jammer vir almal wat hierdie bewerings aanvaar as waar, maar voordat dit nie bo redelike twyfel bewys is dat dit waar is nie, is die boek fiktief en nikseggend.
As jy met ateïste oor Jesus en sy verlossingswerk praat, sal baie se eerste vraag aan jou wees: "Bewys dat Jesus bestaan het, want die feit dat daar in die Bybel van Hom geskryf is, is geen bewys dat Hy bestaan het nie!”
Ons weet dat Malan en die figure rondom hom werklike mense was. Ook dat joernaliste en uitgewer hulself aan siviele vervolging blootstel, as daar geen bewyse is nie, maar bloot laster.
Net soos menige Duitser in ontkenning geleef het oor die gruweldade van hul sekuriteitsmagte en daar tans talle mense is wat die 'holocaust' bloot as Westerse 'propaganda' het talle (myself ingesluit) in ontkenning van die Vlakplaas-gebeure geleef.
'n Mens kan dus nie net dit wat op Bird Island gebeur het sommer net as kwaadwillig en nonsens afskryf nie, daarvoor is die risiko’s waaraan skrywers en uitgewer hul blootstel te groot.
Een vegryp regverdig natuurlik nie 'n ander nie. Daar is ook met skok gereageer op ander vergrype tydens apartheid. Nou word ons gekonfronteer met die huidige euwels. Die Bird Island ring is nou 'n nuwe en skokkende (wit of swart hoofkarakters) verskynsel. Dis al.
Ons moet onthou dat daar bewerings in die boek gemaak word wat nog getoets moet word. Die vraag wat ek het is: Hoekom tot nou gewag? Waar is die jong mans se stemme? Aan die ander kant het ek ook geleer dat absolute mag maak mense korrup en verhewe bo die wet. Ek sukkel nog om my aan enige kant te skaar. Ek soek meer inligting.
Ons kan almal 'n boek skryf en net kundig genoeg wees om dit te dramatiseer met moontlike waarskynlike feite en dan geld maak.
Behalwe of dit waar is of nie, is die boek swak geskryf. Dit kon met meer as die helfte verminder gewees het. Ek voel ook die boek is swak geredigeer. Mens aanvaar veral Mark Minnie is nie 'n skrywer nie, maar daarvoor word 'n boek mos geredigeer? Teleurstellend.