Mag, staat en die kerk: ’n onderhoud

  • 6

Die onderhoud staan in verband met Johann Rossouw se LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel “Mag, die staat en die kerk in Suid-Afrika”, wat in Julie 2017 verskyn het.

Jy fokus sterk op mag in jou artikel, waarin jy veral krities is oor die moderne akademiese obsessie met mag, maar waarin jy tereg ook meer aandag vir die deurslaggewende tema van vrede vra. Tog word mag as motief nie spesifiek daarin uitgelê of gedefinieer nie. Jou artikel skep die indruk dat mag vir jou veral, of selfs uitsluitlik, ’n negatiewe karakter het. Is dit hoe jy mag verstaan?   

Om eerlik te wees, het ek laas tydens my magisterstudie oor Foucault tussen 1994 en 1998 werklik oor mag gedink. Nietemin dink ek nie mag is noodwendig negatief of uitsluitend nie. Enige individu, groep of instansie wat sig vir die verwesenliking van een of ander ideaal beywer, benodig tog een of vorm van uitvoerende vermoë, oftewel die magsmiddele om die heersende toedrag van sake op een of ander manier, in welke mate ook al, te wysig. Dit sluit dinge in soos die nodige finansiële vermoë, die nodige kommunikasiemiddele, die nodige getal mense wat bereid is om hulle aan die proses te verbind, en wat nog. As ek reg onthou, sou Hannah Arendt dié soort mag iewers as gesag beskryf het, wat dan gepaardgaan met genoegsame oorredingsvermoë – die oomblik as dwang eerder die beweging bring, is dit negatief. So had Chrysostomos dit ook in sy beroemde uitspraak dat gesag wat dwang gebruik, nie meer as Christelik geag kan word nie. 

Jou aanhaling van Machiavelli se beskouing dat oorlog eerder as vrede die eintlike werklikheid is, herinner ’n mens aan Donald Trump se bakleipraatjies, maar ook aan Ronald Reagan se intensivering van die wapenwedloop wat dan volgens sommige waarnemers uiteindelik vrede sou gebring het.

Wat dink jy van die gewilde argument, as ek nou duiwelsadvokaat kan speel, dat so ’n harde, konfronterende posisie en magsgelding wel uiteindelik die openbare belang dien en tot vrede lei, want dit het die einde van die Koue Oorlog beteken en volgens sommige ’n effektiewe afskrikmiddel geword?

Jou aanhaling van Augustinus wat vrede tot wesenskenmerk verklaar, lyk asof dit hierdie interpretasie kan dien. Dit het immers as slot: “Indeed, even when men choose war, their only wish is for victory; which shows that their desire in fighting is for peace with glory.” Machiavelli se denke oor mag, hoe kru en omstrede ook al by tye, sou byvoorbeeld ook gesien kon word binne die korttermyndoelwit om ’n sentrale staat te bou wat stabiliteit binne hoogs gefragmenteerde Italiaanse gemeenskappe sou bring (sien Die Prins, hoofstuk 26).

Dit sou kon inhou dat ’n sentralisering van mag die veiligheid van die burgery beskerm en behoorlike funksionering van die samelewing bevorder, veral waar diverse groepe of faksies met hoogs uiteenlopende waardesisteme weens ’n bepaalde geskiedenis in een gebied moet saamleef. Hoe sou jou voorbehoude oor ’n gesentraliseerde staat in dié kontekste funksioneer? 

Dit lê voor die hand dat geen regering of staatsbestel, van watter aard ook al, sigself sonder basiese magsmiddele soos ’n weermag kan handhaaf nie – en in die moderne staat, sonder ’n polisiediens en verskillende ander wetstoepassingsinstansies nie. Ek vereenselwig my met Augustinus se siening van die regverdige oorlog as dit om die verdediging van ’n goeie staatsbestel gaan, maar dit wil nie sê individue, of veral die Kerk, moet hulle daarmee inlaat nie. Christene en die Kerk behoort ten alle koste enige oorlog of geweldpleging te probeer keer, en waar dit plaasvind, help om die skade op te ruim so goed hulle kan. Soos jy Machiavelli in jou vraag hier bo lees, dink ek Augustinus sou mee gemaklik wees binne sy lering oor die geregverdigde oorlog.

Maar ’n mens kan nou ook nie Augustinus of selfs Machiavelli gebruik om sonder meer op vandag se internasionale politiek met die territoriale staat as hoeksteen van toepassing te maak nie. Onthou dat Machiavelli allereers ’n voorstander van die klein republiek was, waarvan sy Florence ’n destydse model was. Die huidige internasionale politiek met sy bestel van state is enigsins ’n verdere vorm van politieke gevallenheid as wat die geval met die kleiner klassieke of antieke republieke en selfs die groot ryke in die geskiedenis was, juis omdat die eietydse state in Thomas Ertmann se beroemde formulering op “war, territory and taxes” gebaseer is, wat na vore kom namate die res publica Christiana van die Middeleeuse Latynse Christendom verkrummel. Dit is maar een rede waarom die Kerk ’n baie gesonde afstand van die eietydse staat moet handhaaf. 

’n Te knusse verhouding met die staat en regering van die dag het menige kerkverband bykans dodelik verwond. Ter plaatse is dit die geval met die ou drie Susterskerke, wat oënskynlik steeds worstel met die nadraai van apartheid, onder meer deur lidmate terug te probeer wen met swak teologie en pandjieswinkelliturgie. Al my denkende vriende in die bediening is ontsettend bekommerd oor hoe hierdie kerkverbande se teologiese opleiding sienderoë in duie stort, en ek dink dit gaan die Afrikaanse wêreld nog geweldig duur te staan kom. Swak teologie is ’n veel groter bedreiging as, sê, die EFF, politieke sterkmanne, of wat ook al. Ook die Katolieke en Ortodokse Kerke betaal nog af aan ’n duur geskiedkundige rekening vir hul heulery met die staat in die moderniteit. 

Jy beklemtoon tereg in jou artikel dat die hernude gesprek tussen teologie en filosofie van deurslaggewende belang kan wees om die uitdagings van die moderniteit aan te spreek. So ’n interaksie sou die gesprek oor vrede inderdaad op ’n hoër vlak kon bring. Teologie en filosofie is egter beide terme vir dissiplines wat by tye hoogs irrelevant en selfs destruktief kan wees. Filosofie het byvoorbeeld vir lang tye sy wysheidskarakter verloor en geswig voor die aanslae van die moderniteit, soos jy self noem. Verder is dit wat “goeie” teologie vir een is, “slegte” teologie vir ’n ander. Watter soort teoloog en watter soort filosoof kwalifiseer dus vir die hernude gesprek? Watter gespreksgenote sou kon deelneem aan die gesprek oor rekonstruksie en watter onderwerpe sou ter sprake kom? 

Watter soort teoloog en filosoof? Heel eenvoudig: dié soort wat werklik kontemplatief leef. Die kontemplatiewe gespreksgenote sou almal reeds besef het hoe bankrot die hoofstroomfilosofie en teologie soos dit vandag doseer word, is, en ingesien het dat die antwoord daarin lê om uit die oerbronne van die filosofie en die teologie, of gewoon die filosofie-teologie, te gaan terughaal wat verlore en vergete is (Zizimos Lorentzatos: “Oorspronklikheid beteken om aan die oorspronklikes getrou te bly”). Ons praat hier van wat waarskynlik heel eerste in die onlangse ideegeskiedenis aangepak is deur die Katolieke ressourcement-beweging vanaf die 1930’s deur mense soos De Lubac, Congars, Von Balthazar, en meer onlangs Zizioulas in die Ortodokse Kerk – en natuurlik die Radikale Ortodoksie-beweging van Milbank, Ward, Pickstock en andere. En dit as vertrekpunte te gebruik vir die brandende vrae van ons tyd, soos:

– Hoe lyk die liturgiese gemeenskap en hoe word dit in die alledaagse beliggaam?

– Hoe word mense weer geleer om kontemplatief te leef?

– Watter soort kerk is nodig om met die “cultural imaginary” (Graham Ward) in gesprek te tree?

– Hoe lyk ’n deugdelike politieke betrokkenheid?

– Hoe lyk ’n ekonomie gebaseer op die geskenk eerder as op skaarste, en waarin selfstandigheid eerder as rykdom nagejaag word?

– Hoe herwin die mens die voogdyskap vir die geskape werklikheid wat omgeslaan het in ’n suiwer oorheersing (en wat nie God se opdrag aan die mens in Genesis was nie)?

– Hoe gaan ons om met die geskenk van taal om mekaar anders te maak?

Jy skryf: “’n Kerk wat twyfel aan haar eie gesag in ’n sekulêre moderniteit, is besig met ’n proses van selfsekularisering, wat nóg vir die kerk, nóg vir die wêreld goed kan wees” en jy waarsku (tereg) teen ’n privatisering van geloofsoortuiginge wat politiek aan die staat oorlaat. Maar die standpunt is ook ’n tweesnydende staat: Terwyl die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke met groot gesag ’n merkwaardig aktiewe en selfs leidende rol gespeel het om die staatskaping aan die kaak te stel, doen sommige kerke ekstra moeite om die vorige bestel te verdedig en selfs te wil herstel. Hierdie spanning in die politieke betrokkenheid van kerke problematiseer die idee van profetiese getuienis en reflekteer negatief op kerklike integriteit. Hoe oordeel jy hieroor? Dit opper die vraag wanneer profetiese getuienisse en ’n openbare rol van die kerk geloofwaardig en eg sal wees. Hoe oordeel jy oor die diskoers van openbare teologie (public theology) wat tans veral ook in sommige Suid-Afrikaanse teologiese kringe so gewild is? Sou hierdie teologie nie dieselfde pad loop as die gewilde teorie in die apartheidsjare dat die kerk ’n profetiese taak het wat die kerk tot ’n meeloper van die staat gemaak het of wat maar net nog ’n magsgreep uitoefen nie?  

Openbare teologie is ’n toutologie. Goeie teologie en goeie filosofie is per definisie openbaar – maar laat ons nie vergeet nie: die blote begrip van die openbare ruimte is as sodanig die resultaat van die herdefiniëring van die verhouding tussen die tydelike en die geestelike gesag van die Latyns-Christelike Middeleeue. Tradisiegebonde Christene moet dus nie situ-situ die openbare tot die alfa en die omega verhef nie. Om die punt te beklemtoon – en doelbewus kripties – herhaal ek graag hier met instemming die staaltjie van ’n Ortodokse afgevaardigde wat ’n paar dekades gelede in ’n ekumeniese wêreldberaad gevra is wat die Ortodoksie se maatskaplike standpunt is, waarop hy antwoord: “Die Drie-eenheid.” Dis minder kripties as ’n mens die soort gemeenskap tussen die Drie, en Christus se versugting dat sy volgelinge een is soos Hy en die Vader een is, deurdink. Dit is daardie soort gemeenskap wat die Kerk behoort na te streef en te beliggaam. In ons gebroke wêreld is dit skaars, maar dit beteken nie die strewe daarna moet laat vaar word nie. Op daardie rare plekke en tye waar dit wel beliggaam word, breek die hemelse die aardse in, skyn die lig deur die krake (Leonard Cohen).

Sosiale media, gemeenskapsradio’s en televisiekanale in Suid-Afrika is deurspek met programme waarin ’n Amerikaanse voorspoedsteologie aan die orde is. Veral opvallend is predikers wat op allerhande maniere wondergenesings aan hul ondersteuners verkoop en dan ongekende rykdom vir hulleself verkry. Op die oomblik is gesprekke aan die gang waardeur die staat dié roekelose uitbuitery wil bestry, maar waarin die kerke waarsku dat dit geloofsvryheid kan kompromitteer. Hoewel kerke die probleem kan aanspreek deur ’n verantwoordelike teologiese gesprek en opleiding te bevorder, help dit niemand teen gewetenlose uitbuiters van goedgelowige kerkgangers nie. Hoe dink jy oor die rol van die staat om dié verskynsel aan te spreek? 

Ek dink dis gevaarlik as die staat religie wil reguleer. Daar is meer as genoeg wetgewing wat misdadige gedrag van valse profete dek. Die versugting na bereëling lyk vir my na ’n korttermynillusie. Al genade – om dit nou so te stel – is behoorlike teologiese en liturgiese opvoeding van die gelowiges. En dit neem tyd.

Is daar vir jou voorbeelde van ’n niesentralistiese staat elders in die wêreld wat ook in Suid-Afrika sou kon werk? 

In die Westerse wêreld kom Kanada met sterk federale trekke naby daaraan; hier in Afrika is goeie werk op federale gebied in die Horing van Afrika gedoen. Maar laat ons maar onthou dat staatsentralisme ter plaatse teruggedruk kan word slegs by wyse van burgerlike druk in die algemeen, maar ook kerklik gesproke deur werklik die gesag van die Evangelie konsekwent te probeer beliggaam. Die Kerk desentraliseer die staat wanneer Sy die burgery tot iets werklik skoon, goed en waar kan verlei. Maar onthou Lucebert: “Alles van waarde is weerloos.”

Jou formulering is indrukwekkend waar jy praat van ’n Christelike tradisie wat soek na ’n maatskaplike orde waarin die mens die geskenk van die goeie werklikheid volledig uit die hand van die Mensliewende kan ontvang. Dit is sonder twyfel by uitstek die tipe diskoers wat kerke konsekwent behoort te bevorder. Wat opvallend is, nietemin, is dat sulke teoretiese insigte reeds vir dekades lank in die Wêreldraad van Kerke ontwikkel is, maar dan ook verder in praktiese kontekste geïntegreer is en programmaties ontwikkel is. Uitgebreide studiegroepe in die Verenigde Nasies is nou al dekades lank besig met diepgaande studie oor vrede, die kweek van ’n vredesbewussyn en ’n programmatiese aksieplan vir die bevordering van vrede. Dit is egter opvallend hoe min hiervan by individuele kerke bekend is, laat staan nog geïmplementeer word. Dit is teleurstellend, gegewe die deurslaggewende rol wat die kerk sou kon speel in die bevordering van ’n vredesbewussyn en in vredesaksie. Van waar die gebrek aan insigte? En hoe kan die gesprek van teologie en filosofie oor hierdie sake ’n praktiese karakter kry wat transformatief inwerk? 

Hierdie soort diskoers word nié allereers deur studie bevorder nie – hoe onontbeerlik dit ook al is – maar allereers deur gesonde liturgiese praktyke soos die Christelike tradisie uit haar voormoderne bronne dit vir ons leer (waarmee ek nie sê slegs een soort liturgie kan werk nie!). As jy my vra wat mense werklik verander, is dit in die vierde plek studie en die goeie argument; in die derde plek goeie verhale; in die tweede plek die gesaghebbende morele voorbeeld; en in die eerste plek volgehoue liturgiese deelname. Om dag na dag die Jesus-gebed te herhaal, die kers op die huisaltaar aan te steek, te vas soos voorgeskryf, deel te neem aan die kerksang en die Kommunie – dít is wat ons saam anders maak.  

Hoe sou jy reageer op lesers wat jou artikel sien as ’n magsgreep om ’n bepaalde liturgiese tradisie te bevorder? 

Dit sou darem ’n bietjie dik vir ’n daalder wees om ’n geskiedkundig begronde beredenering van ’n breë argument met ’n “magsgreep” gelyk te stel. Dít is juis die soort alomteenwoordigstelling van mag waarteen ek in my artikel betoog. In my geval het ek oplaas die Ortodoksie gekies, of is ek, juister gestel, reddeloos daardeur verlei, omdat dit na my ervaring die beste liturgiese, teologiese, filosofiese en – baie belangrik – affektiewe antwoorde op menswees in ons tyd bied. En oplaas kan ek hieroor bloot vanuit my ervaring getuig. Wie anders kies, maak ’n eie keuse en oefen hul Godgegewe vrye wil uit. So hoort dit. 

Is jy ’n pasifis? 

Wel, in die sin dat ek nie dink geweld kan enigiets op die lange duur oplos nie, beslis, ja – hoewel ek helaas moet toegee dat geweld in ons gevalle, gebroke wêreld as teken van hierdie gevallenheid soveel maal amper onvermydelik blyk te wees.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Theodorus du Plessis

    Ek hou besonder baie van hierdie lewensles:
    As jy my vra wat mense werklik verander, is dit in die vierde plek studie en die goeie argument; in die derde plek goeie verhale; in die tweede plek die gesaghebbende morele voorbeeld; en in die eerste plek volgehoue liturgiese deelname.
    Waarlik inspirerend.

  • Heeltemal te gekultiveerd vir my. So gaan julle ook niemand bereik bereik nie. Net mekaar sit en verveel ...

    • Avatar
      Heidi Newby-Rose

      As ons nie ons Godgegewe gawe van 'n brein tot sy uiterste gebruik om ook die diep dinge te verstaan nie, sondig ons deur nalatigheid. Dis moeilik om te lees, maar belangrik.

  • Avatar
    Maria Steenkamp

    Hoogsdrawendheid.Mens lees swaar aan al die groooooot woorde.
    Taai soos toffies.
    Wat van die gewone mens wat Afrikaans bid ,kers aansteek en sy Afrikaanse bybel lees?

  • Beste Pieter GR de Villiers, Johann Rossouw,
    Graag beantwoord ek daardie “brandende vraagstukke”.
    1. Met die “liturgiese gemeenskappe” gaan dit deesdae, geluk bo geluk, al slegter en slegter. ʼn Gemeenskap waar vrye denke die botoon voer, dis waarna ons moet streef.
    2. Om mens te leer om kontemplatief te leef, kan op verskeie maniere gedoen word. Ek stel voor dat julle oa Richard Dawkins se boeke begin propageer.
    3. Ek stel ʼn soort van boskerk voor, en jy “imagine” dat jy jou in een of ander Latyns-Amerikaanse land bevind.
    4. Deugdelike politieke betrokkenheid lyk vir my heel wit sonder om stoele op mekaar se koppe stukkend te slaan soos in die politieke verlede, en sonder bande brand soos in die politieke hede.
    5. ʼn Ekonomie gebaseer op geskenk lyk vir my lei na die terugkeer van die Berlynse muur. Dit kan nie anders as omkantel nie. Hou maar by een gebaseer op vraag en aanbod.
    6. Die mens moet bo alles nie “die voogdyskap vir die geskape werklikheid” enigsins herwin as hy dit verloor het nie. Waarom steeds bly vasklou aan dogmas? Waarom steeds glo aan die sesdaeskepping, slange en bome wat praat en die ewige vuur as daar van ʼn sekere boom se vrugte geëet word? Vrye denke is die antwoord.
    7. Taal is nie ʼn geskenk nie, dis ʼn menslike vermoë om verbaal te kommunikeer. As die mens nie ʼn taal gehad het nie, dan was hy nie nou hier nie, en dan het ons niks gehad om vir mekaar te sê nie. Hoe sal ons almal lyk as ons almal anders was? Twak “brandende vraagstuk”!
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top