Maand van Kuns 2019

  • 0

Die Maand van Kuns, ’n gereelde instelling elke Augustus, is pas vir die sesde agtereenvolgende jaar in die Welgemeend Herehuis in Kaapstad aangebied.

Verskeie meesterklasse is aangebied wat wye aandag van kunsliefhebbers ontvang het.

’n Rekord-opkoms het opnuut die sukses van die Maand van Kuns as instelling bevestig.

Twee vergete, maar belangrike Suid-Afrikaanse kunstenaars – Alexander Podlashuc (1930–2009) en Peter Haden (1939–1997) – se werk, wat vir die eerste keer in Kaapstad uitgestal is, is in lesings in herbeskouing geneem om ook hulle posisie opnuut in die Suid-Afrikaanse kuns onder die aandag te bring en te bevestig.

Rondom die tema, Satire en Ironie, het die Maand van Kuns vir die eerste keer publieke toegang gebied om ’n keur uit die werk van die meesterkunstenaars, Robert Hodgins, Stanley Pinker, en Alexander Podlashuc, te sien, wat slegs in privaatversamelings verteenwoordig word.

Stanley Pinker se werk Vision (1978) is deel van die uitstalling, Satire en Ironie wat tydens die Maand van Kuns in die Welgemeend Herehuis aangebied word.

Die verbeeldingryke gebruik van humor is die gemene deler van die kunstenaars se werk wat manifesteer in satire en ironie, maar ook as lakonies, sarkasties, ondermynend, uitspattig, bitsig en geestig gesien kan word.

“Kollektief, is dit ’n onweerstaanbare uitnodiging op ’n reis van refleksie en (self)ontdekking terwyl daar veel is om oor te lag”, sê Frank Kilbourn, voorsitter van Strauss & Co, wat saam met die Vriende van Welgemeend die Kunsmaand aanbied.

’n Studie van Robert Hodgins, A Cosy Covern in Suburbia, is ingesluit in die uitstalling, Satire en Ironie, wat in die Maand van Kuns aangebied word.

Daar is duidelike ooreenkomste en groot verskille waarneembaar in die werk van Hodgins, Pinker en Podlashuc wat kommentaar lewer op die sosio-ekonomiese omstandighede van hul tyd, en die gebruik van kleur en humor is deurgaans belangrik in hul werk.

Hodgins gebruik kleur op ’n ongewone en dramatiese wyse, beide wat skakering en aanwending betref.

Figure word dikwels nie in groot besonderhede uitgebeeld nie, maar tog is veel af te lei van hul houding, tipering, plasing en kleredrag om die rol te eien van die persoon wat in die skildery verbeeld word.

Daarenteen is Pinker se werk meer subtiel, maar met ’n harmonieuse gebruik van kleur en komposisie. Elke werk vertel ’n storie, dikwels ’n baie komplekse een wat meer vrae vra as om antwoorde te verskaf.

’n Studie van Alexander Podlachuc, Dr Feelgood’s Big Wheel (1990), is deel van die uitstalling , Satire en Ironie, wat deel vorm van die Maand van Kuns wat nou aangebied word.

Die herhalende gebruik van sekere simbole (soos die vorige landsvlag en protea) en motiewe gee ’n aanduiding van sy spottende kommentaar op die sosiale en politieke orde in Suid-Afrika.

Die werke is altyd weldeurdag, beredeneerd en tegnies fyn uitgewerk, anders as die meer spontane aanslag van Hodgins.

Die werk van Alexander Podlashuc kom minder subtiel as dié van Pinker en Hodgins voor. Kleur en komposisie word met dramatiese effek gebruik, soms konfronterend en selfs afwysend.

Hy gebruik baie simbole en ongewone vertrekpunte om sy boodskap effektief en interessant oor te dra, meestal met ’n sardoniese ondertoon. Enigeen wat uit ’n gewaande posisie van gesag optree, is ’n teiken van bespotting.

Die werke is deel van die kunsversamelings van Frank en Lizelle Kilbourn, Jonathan en Marion Bloch, Leo en Erin Podlashuc, en Caro Wiese.

 ’n Amper vergete Suid-Afrikaanse beeldhouer word nou – 22 jaar na sy dood – vir die eerste keer onder die aandag gebring. Behalwe vir enkele tydgenote, is hy totaal onbekend en waar hy wel genoem word, word sy naam verkeerd gespel. Tog het hy hier en in die buiteland verskeie suksesvolle uitstallings gehad.

’n Beperkte uitstalling van Peter Haden (1939–1997) se beelde, wat in privaatversamelings opgespoor kon word, is vir die eerste keer byeengebring.

’n Glanskatalogus is spesiaal deur die veilingshuis Strauss & Co  saamgestel as ’n rekord van Haden se unieke bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns.

Sedertdien het daar, ironies genoeg, nog beperkte inligting na vore gekom wat daarop wys dat daar nóg verkeerde aannames gemaak is. So byvoorbeeld word vermeld dat hy universiteitsopleiding gehad het, terwyl dit glo nie so is nie. Hy het homself opgelei en het die kunstenaar Ernst Ullman as mentor erken.

’n Rede vir sy onbekendheid kan wees dat hy selfs tussen 1968 en 1971 hoofsaaklik in Johannesburg uitgestal het voordat hy na Genève, Switserland geëmigreer het.

Tog was hy besonder produktief en het hy saam met die bekendste kunstenaars van dié periode uitgestal. Hy was lid van die prestige groep wat deur Egon Guenther bemark is en later bekendheid verwerf het as die Amadlozi-groep.  Hierdie kunstenaars sluit in Eduardo Villa, Cecil Skotnes, Sydney Kumalo, Ezrom Legae, Hannes Harrs, Giuseppe Cattaneo en Cecily Sachs.

Peter Haden se Batman, brons op marmerbasis.

Haden self het later ’n kunsskool, “The Academy,” in Craighall, Johannesburg gehad. Hier tel onder sy studente Wopko Jensma, Cyril Kumalo, Julian Motau, Stanley Nkosi, Naomi Press, Wendy Vincent en Rhona Beck.

Sy eerste solo-uitstalling in 1968 in die Lidski Galery is gekenmerk deur die klein formaat van sy beelde. Volgens die kunsresensent Shirley Eskapa was sommige van sy werk so klein dat dit in ’n vuurhoutjieboks kon pas.

In dieselfde jaar word hy ingesluit in Guenther se groep-uitstalling, Unknown Masters of Africa. Dit was ’n belangrike deurbraak. Hy is veral geprys vir sy langwerpige, vertikale en monolitiese vorms, gevestig op ’n soliede basis wat in komposisie suggereer dat sy vertrekpunt gehaal kan word by die primitiewe en antieke Egiptiese beelde.

Sy beelde op die Welgemeend-uitstalling bewys sy onteenseglike meesterskap. Dit is abstrak, simbolies boeiend en esteties hoogs bevredigend.

Tussen 1968 en 1971 het Haden veertig beelde in Suid-Afrika gemaak. Ses daarvan is voor produksie onttrek. Altesaam 182 bronsgietsels is gemaak.

Sedert 1990 is ’n totaal van slegs 14 beelde op veilings in Suid-Afrika verkoop. Sy beelde, Reënkoning en Reënkoningin, is as ’n paar gekoop deur die Amerikaanse skrywer, Irving Stone, wat roem verwerf het vir sy boeke, The Agony and the Ecstay, en Lust for Life.

Nou is die dwingende vraag: Waar is die res?

Die meesterklasse wat aangebied is, het ’n wye spektrum gedek – van die kultuur-historiese tot humoristiese vertellings oor die stories rondom skilderye en kunstenaars.

.........

Die deelnemers vanjaar:
  • Gera de Villiers se lesings oor die geskiedenis en die mense wat die Welgemeend Herehuis – die tweede oudste opstal in Suid-Afrika – bewoon het, onder andere argivale materiaal van die bekende Kaapse Hofmeyr-familie; 
  • Amanda Botha oor Boerneef (IW van der Merwe) as kunsversamelaar. Sy versameling word in Welgemeend gehuisves; 
  • Michael Godby in gesprek met Sean O’Toole oor die lewe en werk van Robert Hodgins; 
  • Matthew Partridge oor die Suid-Afrikaanse deelname aan die Venesiese Biënnales sedert die 1950s; 
  • Lizelle Kilbourn se lesing oor kunswaardering (vir beginners);
  • Amanda Botha se staaltjies oor kunstenaars en hul werk onder die titel, Art as a dinner table conversation;
  • Vanessa Philips oor Almost Forgotten: Peter Haden
  • Hayden Proud oor die werk van Alexander Podlashuc met die titel, The Acerbic Eye; en
  • Alistair Meredith oor die kunshandelaar Egon Guenther en sy groep kunstenaars wat later bekendheid verwerf het as die Amadlozi-groep.

.........

Die première van die dokumentêre film oor die lewe en werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Simon Stone is ook gewys. Verskeie rondleidings is hanteer en ’n wynproe-aand met gesogte veilingswyne is ook aangebied.

Die openingsgeleentheid wat deur 90 mense bygewoon is, was ’n formele dinee waar Frank Kilbourn en Jonathan Bloch vertel het hoe hulle hul onderskeie versamelings oor die jare opgebou het.

Die Maand van Kuns is die geesteskind van Frank en Lizelle Kilbourn, in samewerking met die Vriende van Welgemeend, die veilingshuis Strauss & Co en Delaire Graff.

  • Foto’s: verskaf

Lees ook

Kunsuitstalling vier die grensverskuiwende rol van vrouekunstenaars

Welgemeend se “Maand van kuns”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top