Welgemeend se “Maand van kuns”

  • 0

’n Belangrike herwaardering en herinskatting van die “vergete” era van Suid-Afrikaanse abstrakte kunstenaars tussen die 1950’s en die 1970’s

’n “Maand van kuns” by Welgemeend beleef sy vierde jaarlikse aanbieding met ’n unieke geleentheid om gehaltekuns uit privaat versamelings in Kaapstad te sien. Hierdie maand is die fokus op die “vergete” kunstenaars van die periode van die 1950’s tot die 1970’s wat deel was van die abstraktekuns-beweging wat internasionaal wyd aanklank gevind het.

Hierdie “maand van kuns” is deur Frank en Lizelle Kilbourn geïnisieer om ’n geleentheid te skep om rondom ’n bepaalde tema die room van Suid-Afrikaanse kuns uit privaat versamelings, hoofsaaklik tot dusver hul eie versameling, maar vanjaar ook met die deelname van die Stellenbosse versamelaar Pieter Colyn, met ’n wyer publiek te deel.

In hierdie maand word rondleidings en lesings rondom kuns aangebied, asook spesiale funksies waar belangegroepe kan byeenkom. Dit word afgeskop met ’n deftige aandfunksie. Dwarsdeur die maand word ook geleenthede gebied vir skole om die werke op begeleide toere te besigtig. Die opvoedkundige waarde daarvan is ’n belangrike oogmerk van die projek.

Fondse word ook sodoende gegenereer vir die instandhouding van die Welgemeend Herehuis, wat aan die bekende Hofmeyr-familie behoort het, sowel as vir die versorging van die Boerneef-versameling wat hier gehuisves word. IW van der Merwe (wat die skuilnaam Boerneef gebruik het) het 50 jaar gelede die grootste deel van sy privaat versameling van Suid-Afrikaanse kuns, asook sy boekery, aan die Hoërskool Jan van Riebeeck bemaak. Welgemeend is op hierdie skool se gronde.

’n Gesellige groep tafelmaats wat die gala-aand wat die "Maand van Kuns" in Welgemeen herehuis voorafgegaan het. In die agtergrond is van die kunswerke uit die versamelings van Frank en Lizelle Kilbourn en Pieter Colyn te sien.

Van die gaste by die gala-aand

Bina Genovese, seriemoniemeester van die aand en mede-uitvoerende direkteur van Struass & Co

Helena le Roux, organiseerder van die “Maand van Kuns” by Welgemeend, met Jean le Clus Theron, kunsspesialis by Strauss & Co

Om geld in te samel vir die instandhouding van die Boerneef-versameling het wyle Stephan Welz, welbekende kunsafslaer en kunskenner, so ’n jaarlikse funksie voorgestel. Dit het tot die “Maand van kuns”-projek ontwikkel. Die afslaershuis Strauss & Co, waarvan Welz die stigter was, is ’n hoofborg. So ook die wynlandgoed Delaire Graff, Frank en Lizelle Kilbourn en Christo en Caro Wiese.

Margaret de Villiers van die Kilbourn-groep wat verantwoordelik was vir die stilering van die galadinee en Ian Hunter, senior kunsspresialis van Strauss & Co

Errol Ahrends, bekende Kaapse mode-ontwerper, Caro Wiese, kunsversamelaar en direkteur van Strauss & Co, en Herman Binge, bekende filmmaker. Beide Caro en Herman is oudleerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck.

Stefan Hundt, kurator van die Sanlam-kunsversameling, Ian Hunter, senior kunskonsultant van Strauss & Co, en Hayden Proud, kunskurator van Izikio Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad.

Sarah en Baylon Sandri – hy is die eienaar van SMAC galery geleë in Kaapstad, Stellenbosch en Johannesburg.

Die rede waarom “vergete” gevoeg word by die name van sommige van die kunstenaars is juis dat die politieke klimaat van die tyd meegebring het dat kuns in isolasie gehul is en Suid-Afrikaanse kunstenaars wat uit eie reg met buitelandse eweknieë sou kon meegeding het, nie toegelaat is om weens die kultuurboikot, wat tot 1990 sou voortduur, aan internasionale uitstallings en kompetisies deel te neem nie.

Hierdie dekades van die 1950’s tot die 1970’s word gekenmerk deur groot politieke veranderinge in Suid-Afrika na die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party in 1948. Bepaalde politieke beleide wat internasionale isolasie tot gevolg gehad het, was die wyse waarop beslag gegee is aan apartheid en republiekwording en wat tot verskeie protesopstande, die Rivonia-verhoor en aanhouding van politieke gevangenes sonder verhoor gelei het. Die kunstenaars, wat abstrakte of niefiguratiewe kuns bedryf het, is deur boikotte van die internasionale hoofstroom geïsoleer. Dikwels nog word na hierdie kunstenaars as die “verlore” generasie verwys.

Die abstraktekuns-periode word deur die kunskenner Wilhelm van Rensburg afgebaken as tussen die Overseas Exhibition of South African Art in die Tate Galery in Londen in 1948 tot die 1979-kunssimposium State of the Art in South Africa wat aan die Universiteit van Kaapstad gehou is. Die 1948-baken verteenwoordig ’n algemeen-aanvaarde inventaris van die ontwikkeling van vroeë modernisme, terwyl die 1979-simposium ’n besinning was oor hoe kuns gebruik kon word om die aftakeling van apartheid te bewerkstellig, wat dié isolasie onomkeerbaar gemaak het.

Hoewel daar in hierdie tydperk bepaalde hoogtepunte in die Suid-Afrikaanse kunswêreld was, is dit geheel en al oorskadu deur die politieke boikot. Suid-Afrika kon nog deelneem aan die Venesiese Biënnale in 1952, maar daarna is verdere deelname opgeskort tot in die 1990’s. Tydens die São Paulo Biënnale in 1957 het die beeldhouer Eduardo Villa ’n toekenning ontvang en in 1967 – die laaste deelname – het Kenneth Bakker ’n prys gewen.

Op plaaslike front was daar verskeie aktiwiteite van belang, wat insluit die stigting van kunstydskrifte soos ArtCheck en Artlook, asook die opkoms van ’n aantal avant-garde galerye – baie van korte duur. Belangrik was Linda Givron se stigting in 1976 van die Goodman-galery in Johannesburg, die enigste galery wat kontak met ’n aantal buitelandse galerye gehad het. Dit het meegebring dat die Goodman-galery tot in die 1990’s die enigste Suid-Afrikaanse galery (en lank die enigste Afrika-galery) was wat aan die prestige-Basel Art Fair deelgeneem het.

’n Mylpaalgeleentheid was ook dat Esmé Berman in 1970 ons eerste kunsgeskiedenis gepubliseer het – Art and artists in South Africa. Dit bly steeds ’n gerekende verwysingsbron. ’n Paar ander kunsboeke kon ook die lig sien, waarvan die bekendste die boeke van die kunsresensent FL Alexander was.

Abstraksie was die dominante invloed in die periode van die 1950’s tot die 1970’s en omvat diverse stilistiese afsplinterings, soos abstrakte ekspressionisme, aksieskilderwerk, informalisme, skerpbelynde abstraksie (“hard-edge”), geometriese abstraksie en kleurveldskilderkuns.

Die Killbourn- en Colyn-versamelings het van die beste voorbeelde van hierdie periode. Dit sluit die volgende kunstenaars se werk in: Walter Battiss, Alexis Preller, Paul du Toit, Cecily Sash, Douglas Portway, Larry Scully, Fred Schimmel, Sydney Khumalo, Louis Maqhubela, Maud Sumner, Cecily Higgs, Albert Newall, Georgina Ormiston, Erik Laubscher, Christo Coetzee, Kenneth Bakker, Lionel Abrams, Kevin Atkinson, Bernardine Biden, Wim Blom, Gregoire Boonzaier, Claude Bouscharain, George Boys, Nils Burwitz, Bettie Cilliers-Barnard, Trevor Coleman, Jan Dingemans, Charles Gassner, Jack Heath, Dorothy Kay, Johannes Koorzen, Eugene Labuschagne, Dirk Meerkotter, Ronald Mylchreest, Hannatjie van der Wat, Anna Vorster, Gordon Vorster, Dumele Feni-Mhlaba, Ezrom Legae, Lucas Sithole en Eduardo Villa.

’n Bespreking van die kunswerke met die versamelaars Pieter Colyn (links) en Frank Kilbourn (regs) is deur die kunsskrywer –en joernalis Sean O’Toole gelei.

Abstrakte kuns het ’n eie visuele taal van vorm, fatsoen, kleur en lyn gebruik om ’n komposisie te vorm wat eie bestaansreg het en onafhanklik staan van aanvaarde (realistiese) verwysings. Abstrakte kuns is gemoeid met lyne, vorm en kleur en die verhouding tussen hierdie elemente. Dit omvat die fundamentele veranderinge wat industrialisering, tegnologie, wetenskap en die filosofie in die vroeë 20ste eeu meegebring het.

Suid-Afrikaanse kunstenaars het al vanaf die 1930’s met abstrakte of niefiguratiewe kuns kennis gemaak. In hierdie periode is Bettie Cilliers-Barnard, Paul du Toit, Cecily Sash, Douglas Portway, Albert Newall, Claude Bouscharain, Erik Laubscher en Christo Coetzee, om maar enkeles te noem, in Londen en Parys aan abstrakte kuns blootgestel, hetsy deur hulle aanraking met vooraanstaande beoefenaars daarvan of deur studie onder leidende abstrakte kunstenaars.

Onder buitelandse kunstenaars met wie die groep in aanraking was, tel onder andere Ben Nicholson, Piet Mondrian, Joan Miró, Barbara Hepworth, Max Ernst, André Bréton en Fernand Léger.

In die 1950’s is ’n aantal Suid-Afrikaners na die VSA en is hulle hoofsaaklik deur kunstenaars soos Robert Motherwell, Helen Frankenthaler, Cy Twomby, Mark Rotho en Georgina O’Keeffe beïnvloed. Onder die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat daarheen gereis en daar studeer het, is Claude Bouscharain, Erik Laubscher, Kevin Atkinson en Rene le Roux.

In ’n gesprek oor hul versamelings het Frank en Lizette Kilbourn en Pieter Colyn as volg op vrae geantwoord:

Wat beteken deelname aan die “Maand van kuns” vir jou, as versamelaar?

Frank Kilbourn: Ek dink daar is ’n noue verband tussen die versameling van kuns en die beskerming van historiese geboue. Versameling van kuns is ook ’n vorm van beskerming van kultuurgoedere – dis dikwels ou goed waarvan ons praat. Welgemeend is een van die oudste wonings in Suid-Afrika en ’n grootliks onontdekte juweel in die stadskom. Die Boerneef-kunsversameling en boeke wat daar bewaar word, is ook ’n belangrike deel van ons kultuurgeskiedenis.

Kuns móét gesien word om waardeer te word en ek dink privaat versamelaars wat hul kuns met ander deel, kry dubbel die vreugde. Die uitstalling by Welgemeend doen twee dinge: die publiek kry kunswerke te sien wat selde vir openbare besigtiging beskikbaar is en die Welgemeend/Boerneef-versameling se welstand word bevorder. Die spreekwoordelike twee vlieë in een klap.

Pieter Colyn met Lizette en Frank Kilbourn by hulle skildery van Erik Laubscher (1927–2013) se werk, "Still life with Pumpkin Slice" (1965) – olie op doek.

Jy versamel reeds vir die afgelope 17 jaar kuns. Fokus jy op besondere kunstenaars of temas?

Pieter Colyn: Ek het kuns sedert 2000 op ouderdom 30 begin versamel. In daardie stadium het ek nog nie ’n huis besit nie. Ek is deur ’n vriendin, wyle May van der Merwe, na ’n kunsuitstalling by die Stellenbosch-kunsgalery genooi. Dit was ’n keerpunt in my lewe. Abstrakte of niefiguratiewe kuns het my aangegryp.

My eerste kunswerk wat ek aangeskaf het, was van Erik Laubscher. Sy werke vorm ’n kern van my versameling met werke van Walter Battiss, Christo Coetzee, Larry Scully, Kenneth Bakker, Cecily Sash en ander meesters van die 1950’s en 1970’s. Ek versamel spesifiek Suid-Afrikaanse kunstenaars van hierdie periode.

Ek het my versameling uitgebrei om abstrakte en niefiguratiewe kontemporêre kuns van Suid-Afrika en Afrika te versamel. Ek stel belang in kunstenaars soos Mshekwa Langa, Mongezi Ncaphayi, Turiya Magadlela, Sandile Zulu, Jan-Henri Booyens, Zander Blom, Alexandra Karakashian en ook Odili Donald Odita (Nigerië), Wallen Mapondera (Zimbabwe) en Serge Alain Nitegeka (Burundi).

Pieter Colyn, ’n Stellenbosse kunsversamelaar, my een van gunsteling werke – Walter Battiss (1906–1982) – "Abstract" – olie op doek.

Watter persoonlike vreugde is daar vir jou in die versameling van kuns? Wat is jou voorkeure en/of spesiale kunstenaars?

Frank Kilbourn: Om kuns te versamel is om op ’n ontdekkingsreis te gaan. Jy leer nie net voortdurend oor nuwe kunstenaars, nuwe werke en nuwe kunsbewegings nie, jy leer ook meer van jouself. ’n Goeie kunswerk het altyd ’n element van misterie en ’n mens kan dit nooit “klaar” kyk nie. Ek put bevrediging uit die werke wat die intellek uitdaag, en die estetiese is goed vir die siel.

Wat voorkeure en spesiale kunstenaars betref, is daar te veel om op te noem. Ek hou van kunstenaars wie se werk ’n mengsel van estetika en kreatiewe intelligensie bevat. In dié verband is Preller, Battiss, Hodgins, Pinker en Penny Siopsis onder my gunstelinge. Dit is dikwels ook die satiriese en ironiese aanslag van die kunstenaars wat ek geniet. Ek het ook waardering vir Suid-Afrikaanse kunstenaars wat internasionaal gereis en hulself oopgemaak het vir invloede van ander kunsskole, denkrigtings en style. Dit is boeiend om te sien hoe hierdie blootstelling in hul eie werke gesintetiseer is. Ek geniet ook konseptuele werke soos dié van Wim Botha, Zander Blom en Nicholas Hlobo. Die uitdaging is om voortdurend nuwe kunstenaars te ontdek.

Frank en Lizette Kilbourn by hul skildery van Alexis Preller (1911–1975), getiteld "Fountain" (1967) – olie op doek.

As jy kuns aankoop, word jy gedryf deur die beleggingswaarde van goeie Suid-Afrikaanse kuns? Hoe bestuur jy jou versameling? Verkoop jy dalk ook soms werke?

Pieter Colyn: Ek koop eerstens kunswerke waarvan ek hou. Die besluit om swaarverdiende geld aan kunswerke te bestee word verder geregverdig deur die potensiële monetêre groei. Die aankoop van kuns kan tweeledig as ’n belegging gesien word: dit is ’n belegging in die vreugde wat die werk aan jou en ander mag bring en dit kan ook ’n finansiële belegging wees indien jy beplan om dit te gelde te maak.

Ek versamel spesifieke kunstenaars se werke en is deurgaans op soek na werke wat beskikbaar word, hetsy deur ’n kunsgalery, ’n kunsveiling of ’n kunshandelaar of vanaf ander versamelaars. Ons speel nog albasters dan ruil ons soms ons werke uit. Ek maak nie gebruik van kunskonsultante nie. Ek is gemaklik met my eie waarneming en interpretasie oor die meriete van ’n kunstenaar se werk en die potensiële groei in waarde van spesifieke werke.

Ek sien myself as ’n versamelaar en nie as ’n handelaar nie. Ek versamel kunswerke van kunstenaars wat oor ’n besondere styl of tegniek beskik om – volgens my mening – “lewe” aan ’n kunswerk te gee. ’n Goeie kunswerk is tydloos, die kunswerk self is die handtekening van die kunstenaar.

Soms oorweeg ek dit om van my kunswerke te verkoop as daardie werk ten opbrengs in ander kunswerke herbelê kan word of om my ander passie, die bewaring van natuurterreine, te verseker of te bevorder.”

Wat is die opvoedkundige aard van die Welgemeend “Maand van kuns” en wie baat daarby?

Lizette Kilbourn: Ons wil graag aan skoolleerders die geleentheid (en waar dit versoek word, meer inligting) gee om die kunswerke wat uitgestal word te geniet. Uit ervaring weet ons dat leerders, veral diegene wat kuns as vak neem, inspirasie put uit die Welgemeend “Maand van kuns”. Ons wil veral graag ’n vuurtjie aansteek en ’n liefde vir kuns kweek by jongmense wat nie noodwendig self kuns beoefen of andersins veel blootstelling aan kuns het nie. Skole word uitgenooi om hul leerders te bring en ons sal graag soveel rondleidings hou as wat ons kapasiteit toelaat.

Ons teiken is nie net jongmense nie, maar volwassenes wat ons glo ook by opvoedkundige inisiatiewe rondom kuns kan baat. Baie volwassenes het ’n behoefte om meer van kuns en eintlik kunswaardering te leer. Soos alle vaardighede is kunswaardering iets wat mens met tyd en oefening kan ontwikkel, veral wat moderne en kontemporêre kuns betref, waar die werke nie altyd rasioneel “sin” maak nie. Baie mense vind die kunsmilieu soms ontoeganklik en intimiderend. Dit raak ’n selfvertroue-ding en mense sluit af, want hulle is bang hulle sê of vra iets simpels.

Wat ons graag by Welgemeend wil regkry is dat mense moet voel hulle is welkom, ongeag hul vlakke van kundigheid of blootstelling. Elkeen moet vry voel om vrae te vra en inligting te bekom wat die werke vir hulle sal “oopmaak”. Elkeen moet hulle eie mening kan lug en ons wil graag hê dat elke persoon wat Welgemeend besoek, moet huis toe gaan met ’n gevoel dat dit hulle verryk het.

  • Welgemeend Herehuis en die Boerneef-versameling van kuns en boeke wat daar gehuisves word, is kultuurskatte in die hart van Kaapstad. Die Hoërskool Jan van Riebeeck besit en bestuur die geriewe en die versameling. ’n Vrywillige organisasie genaamd Vriende van Welgemeend en die Boerneef-versameling is gestig om Welgemeend en die Boerneef-versameling te bevorder en in stand te hou. Kontak Helena le Roux by [email protected]
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top