
Titel: Lucas Mangope: a life
Skrywer: Oupa Segalwe
ISBN: 9780624095019
Uitgewer: Tafelberg
Met Suid-Afrika se fiskale, politieke en sosio-ekonomiese uitdagings wat skyn om jaar na jaar verder te versleg, die agteruitgang van infrastruktuur en die algemene verval waaraan die land gekenmerk word na 30 jaar van demokrasie, skyn daar ’n mate van oplewing en belangstelling in alternatiewe, soos onder meer die geskiedenis van die land se tuislandsisteem, te wees. Proponente van gedesentraliseerde politieke sisteme stel veral belang daarin, hopelik nie om daardie jare te verromantiseer nie, maar eerder om te sien hoe lelik skeef ook gedesentraliseerde sisteme kan loop. Oupa Segalwe is ’n joernalis, en nie net het hy grootgeword in dieselfde omgewing as waar Lucas Mangope (1923–2018) gewoon het nie, hy het van die gebeure waaroor hy skryf in die boek self meegemaak en het ook vir Mangope persoonlik geken. Hy beskik oor ’n intieme kennis van Mangope en was dus in die ideale posisie om ’n boek oor hom te skryf. Uit die bronverwysings is dit duidelik dat Segalwe omvattende onderhoude gedoen het en dit aangevul het met addisionele bronne soos hofstukke, verslae, boeke en koerantberigte. Maar dit is asof Mangope, ten spyte van oor die 300 bladsye van teks, steeds ’n ontwykende figuur bly.
Die storie van Lucas Mangope is in ’n groot mate die storie van Bophuthatswana. Dit is moontlik dat, ten opsigte van die tuislandsisteem, Bophuthatswana die tuisland is waaroor daar al die meeste publikasies verskyn het (hoewel ek hier onder korreksie praat en geen amptelike statistiek tot my beskikking het nie). Bophuthatswana is een van die prominentste tuislande wat bestaan het. Dit hou waarskynlik verband met die ligging van Bophuthatswana en die invloed wat die staat uitgeoefen het op die ekonomiese hartland van Suid-Afrika, die gedeeltes wat vandag as die Gauteng-provinsie bekendstaan. Voeg daarby die feit, en dit word ook so in die heel eerste sin op die boek se agterblad gestel, dat Bophuthatswana as Suid-Afrika se “suksesvolste” tuisland beskou word. Hierdie “sukses” is geen politieke sukses nie, maar verwys waarskynlik eerder na die ekonomiese “sukses” waaraan Bophuthatswana gekenmerk is, as die tuisland wat die minste op Pretoria sou steun vir ekonomiese volhoubaarheid.
Die boek bevat geen inleiding nie. Daar is nie ’n deeglike uiteensetting van die metodologiese benadering wat gevolg is nie. Aan die einde van die boek verskyn ’n woord van dank, waarin daar wel kortliks meer gelees kan word ten opsigte van hoe die boek ontwikkel en nagevors is. Die skrywer brei ook in sommige gedeeltes van die teks self meer uit op van sy interaksies met die Mangope-familie en hoe dit sy navorsing vir die boek beïnvloed het, maar ’n deeglike inleiding sou wel die leser beter kon oriënteer. Voeg daarby die lang gedeeltes van die boek waarin daar maar eintlik min oor Mangope self vertel word, en eerder die storie van Bophuthatswana vertel word, en dit bring mens dan tot by die gevolgtrekking dat hierdie nie ’n boek is wat sonder gebreke is nie. Dit is nie dat hierdie gedeeltes oor Bophuthatswana onbelangrik en oorbodig is nie, maar mens sou wel groter integrasie wou sien tussen hierdie hoofstukke en die persona van Mangope.
Daar is egter ander aspekte aan die biografie wat die boek wel merkwaardig maak. Die boek is, sover my kennis strek, die omvattendste biografie wat al ooit oor Lucas Mangope geskryf is. Anders as sommige ander perspektiewe, is Segalwe se boek besonder ewewigtig geskryf. Hy skryf simpatiek en sensitief oor ’n familie wat hy persoonlik en intiem ken, sonder om ’n gesonde kritiese perspektief op die loopbaan van Lucas Mangope in te boet. Trouens, waar sommige bronne soms op versigtige wyses die politieke loopbaan en persona van Mangope verromantiseer, hang Segalwe al die vuil wasgoed waartoe hy toegang kon kry aan die groot klok. Daar is die korrupsie, die politieke onverdraagsaamheid, asook ander omstrede onthullings wat in die boek na vore tree. Benewens die reeds gemelde deeglike navorsing wat die outeur onderneem het, bevat die boek ook ’n indeks, wat altyd ’n besondere nuttige toevoeging tot enige niefiksie boek is en die werk van toekomstige navorsers sal vergemaklik.
Dit is duidelik dat die outeur probeer om met hierdie biografie die teenstrydighede rondom die lewe van Lucas Mangope te probeer versoen. Waar Mangope aan die een kant, veral in die media en geskiedskrywing, dikwels uitgebeeld word as ’n diktator wat saam met ander tuislandleiers, soos Mangosuthu Buthelezi, et al, as lakeie van die apartheidsregering beskou word, is daar vandag nog mense wat ’n heel ander beeld van Mangope koester, veral diegene wat hom persoonlik geken het. Voeg daarby die tragedie van wat vandag die Noordwes-provinsie is, waar Bophuthatswana grootliks geleë was. Die Noordwes-provinsie is vandag die provinsie in Suid-Afrika met die hoogste werkloosheidskoers, met na raming 54% van die inwoners wat geen werk het nie, en armoede gedy onder die omstandighede. Hierdie stand van sake kan mens kontrasteer met die vinnige ekonomiese vooruitgang waaraan die gebied gekenmerk was gedurende die tuislandjare. Mangope had ’n lang en gekompliseerde geskiedenis met die African National Congress (ANC), waarvan hy self lid was in sy jonger jare. Mangope het selfs ook klas gehad by die ANC-president Oliver Tambo (1917–1993) toe hy ’n leerling was aan die St Peter’s Sekondêre Skool in Rosettenville, Johannesburg gedurende die 1940’s.
Die verhouding tussen Mangope en die ANC het egter later jare drasties versleg, soos wat die geval was met al die ander tuislande se leiers, en met die 1994-verkiesing het Mangope probeer om die soewereiniteit van Bophuthatswana te behou. Bekende feite word weer afgestof, soos hoe die Afrikaner Weerstandsbeweging sonder enige politieke gesag by die situasie in Mmabatho betrokke geraak het en hoe hulle lede skouspelagtig ten aanskoue van televisiekameras gedood is. Die boek bespreek al hierdie ontwikkelinge, asook ander interessante gevalle, soos die mislukte staatsgreep van 1988. ’n Noemenswaardige deel van die werk fokus dan ook op Mangope in die “nuwe” Suid-Afrika. Weens die feit dat Mangope geweier het om aan die 1994-verkiesing deel te neem, het hy sy politieke loopbaan amper vernietig. Volgens Segalwe sou Mangope maklik ’n posisie vir homself in Suid-Afrika se heel eerste regering van nasionale eenheid se kabinet onder Nelson Mandela (1918–2013) kon beding, as hy net sou deelgeneem het aan die onderhandelinge en die verkiesing (bl 209). Met die nuwe regering met Popo Molefe as die eerste premier van Noordwes, het die ANC nie gewag om ’n kommissie van ondersoek aan te stel om die wanbestuur onder Mangope se regering te ondersoek nie. Segalwe maak ruim gebruik van hierdie verslag in sy boek. Mangope se politieke tuiste, die Bophuthatswana Nasionale Party, is in 1997 weer heropgerig en herposisioneer as ’n Christelike party, die United Christian Democratic Party (UCDP), maar enige moontlike momentum wat die party kon neem uit die vorige staat wat dit regeer het, was grootliks daarmee heen, alhoewel die party tog ’n aantal setels in die provinsiale en nasionale verkiesings kon inpalm. Mangope se besluit om nie die UCDP in die nasionale parlement in Kaapstad te lei nie, was ’n verdere spyker in die party se doodskis.
Waar Mangope se openbare lewe as stormagtig beskryf kan word, met die tipiese elemente van sukses, verraad, geweld, twis, mislukking, tragedie en drama waaraan politici se loopbane dikwels gekenmerk word, is daar veel aan sy persoonlike lewe wat eweneens as stormagtig beskou kan word. Ook hierdie aspekte van sy lewe word deeglik in die boek ondersoek. Verskeie van Mangope se familielede, waaronder van sy kinders, is onder verdagte omstandighede oorlede. Mangope se tweede huwelik met die verpleegkundige Violet Mongale het geweldige spanning in die familie veroorsaak en sou uiteindelik uitloop op hofsake. Maar bowenal is Mangope se naam verewig in die geskiedenisboeke saam met Suid-Afrika se wit minderheidsregering, wat skuldig staan aan die misdaad teen die mensdom genaamd apartheid.
*
Ten spyte van sommige gebreke, is Oupa Segalwe se weergawe van die lewe van Lucas Mangope beslis die moeite werd om te lees, veral vir diegene wat ’n besondere belangstelling in die geskiedenis van Bophuthatswana en Suid-Afrika se tuislandsisteem het. ’n Gedesentraliseerde politieke sisteem, soos dié van Suid-Afrika se tuislandsisteem, bied wel ’n alternatief wat die mag meer eweredig versprei, maar sonder etiese en morele leierskap kan selfs so ’n sisteem ook grotendeels faal. Die manier waarop Bophuthatswana bestuur is, was glad nie besonder demokraties nie, ten spyte van gereelde verkiesings en ’n parlementêre sisteem. Dit is derhalwe geen wonder nie dat die staat nooit internasionale erkenning geniet het nie. Omdat Mangope nie graag ontvanklik was vir kritiek nie, het hy baie spoedig in ongewildheid verval, en is selfs uiteindelik deur sy eie party, die UCDP, die deur gewys. So het sy politieke loopbaan op ’n laagtepunt doodgeloop.
Lees ook:
Vertellings uit die vergetelheid deur Danie Schoeman: ’n lesersindruk
Omkoopbaarheid en ons demokrasie, ’n lesersindruk van Our poisoned land deur Jacques Pauw


Kommentaar
Dear Mr Van der Merwe,
I am bowled over by your wonderful review. Admittedly, I had to rely on Google Translate to get through it. Thank you for obtaining a copy of the book, for reading it and for offering a perspective on it. I take both the compliments and the constructive criticism. I am indebted to people like you.
Regards,
Oupa
I enjoyed your book. My late father was an official at the Ruth Mompati district municipality (in Vryburg) and my conversations with him as a kid left me with a lifelong interest in the history of the North West province areas, although I grew up at the southern tip of the province, in the little town of Christiana.