LuBOY en V.I.T.0 se song vir die underdog – ’n onderhoud

  • 0

V.I.T.O (Fotobron: YouTube)

Op die rap-enkelsnit “Hoekom kyk jy so na my?” wat onlangs vrygestel is, sny die rapper V.I.T.O se vlymskerp lirieke soos ’n warm lem deur die musiekvervaardiger LuBOY se vet beats.

Só stel V.I.T.O hom aan luisteraars bekend:

ʼn tyd terug het iemand my uiteindelik gevra:
“hoekom is jy nog nie famous nie, my bra?”
want my lyrics is gebless
asof ek daai goed uit die Bybel uit loop haal
en my gedagtes is ryker as jou fragrance, my bra
ek laat ruk die ding, so sê my, smaak jy vir ʼn lekker jol?
spit daai vet rhymes like my lyrics het cholesterol
en voordat jy vergeet wie dit is
aangenaam, ek is meneer hulle weet wie dit is.

Vir dié wat nog nie weet nie, V.I.T.O is die verhoognaam van Vito Heyn, ʼn jong rapper uit Okiep in die Noord-Kaap wat die afgelope paar jaar ál groter opslae begin maak met sy pittige lirieke en outentieke aanslag. Veral bekend vir sy liedjies “Outjie van die platteland” en “Ek is trots”, het dié Namakwalander nou met die Pretorianer Louis Minnaar saamgewerk om ʼn waarlik treffende collaboration die lig te laat sien.

Met “Hoekom kyk jy so na my?” loods Minnaar, wat veral bekend is as lid van die Afrikaanse electro-rap-trio Bittereinder, sy nuwe musiekprojek. Onder die pseudoniem LuBOY beplan hy ʼn reeks samewerkings met rappers uit verskeie oorde van wie VITO die eerste is.

Vir hierdie debuutenkelsnit het Minnaar ook self ʼn musiekvideo vervaardig, en dié donderende debuut het my genoop om die duo nader te hark vir ʼn paar vrae ...

 

Vito, waarom het jy besluit om met LuBOY saam te werk?

Ek het 'n paar jaar terug met Peach van Pletzen (musiekvervaardiger en lid van Bittereinder) gewerk en hy het my voorgestel aan die Bittereinder-groep. Ek was van daai tyd af mal oor hulle vibe en veral die warm beats. Louis het toe op Facebook genoem dat hy bereid is om nuwe kunstenaars te feature. Ek het nie twee keer gedink nie en het toe die geleentheid met al twee arms aangegryp.

En Louis, wat het jou toe laat besluit om met Vito op te team vir ’n track?

Ek het juis oorspronklik gehoor van Vito by Peach nadat hulle aan die televisieprogram Vat die rap gewerk het. Peach het genoem watse enorme talent Vito het. Toe ek begin dink aan my nuwe musical adventure was Vito reeds eerste op my lys.

Jy’s ’n bekwame grafiese kunstenaar en lid van Bittereinder en MINNAAR (ʼn musiekprojek saam met sy suster die sopraan Magdalene Minnaar), en deesdae maak jy ook waves as filmmaker, so wat het jou laat besluit om hierdie nuwe musical adventure, as LuBOY, van stapel te stuur?

Ek het maar net gevoel dat ek nog baie het om te gee buiten Bittereinder. Dit wat ons met Bittereinder doen, is baie spesifiek tot ons drie wat saamwerk, en wanneer ek alleen werk aan musiek kom daar iets heeltemal anders uit. My passie vir rap/electro-musiek is ook groot en ek hou daarvan om met baie mense te collab. So toe dink ek dit is gepas om 'n nuwe projek te skep wat exclusively daarvoor is – electro/hip-hop/rap-collabs. Ietsie fresh op my bord. Daar is ook so baie rappers daar buite wat lus is vir beats en nie altyd die geleentheid kry om saam met ’n producer te werk nie – so daar is selfs van my collabs met mense wie nog nooit so iets kon release nie.

Maar Vito, hoe het julle te werk gegaan? Het Louis eers die beats gemaak en toe skryf jy die lirieke? Of is dit lirieke wat jy reeds in die sak gehad het?

Louis het eerste aan die beat gewerk. Hy het basically ’n paar samples aangestuur en ons het saam besluit op wat ons eerste gaan aanpak. Die beat het my onmiddellik gemove omdat dit ’n nuwe tipe style vir my was. Louis het my die vryheid gegee om my eie konsep te kies, en die gevoel van die beat alleenlik het vir my ’n storie vertel. Die konsep was dieselfde oomblik gebore toe ek die beat hoor.

En hoe sou jy daardie konsep beskryf? Wat is die storie wat jy met hierdie lirieke wil vertel?

Ek sal sê “Hoekom kyk jy so na my?” is ’n refleksie op almal wat afgedruk is, of in ’n mate al sleg behandel was. Hierdie song is daar om die underdog te bemag om vir homself op te staan. Ons het steeds probeer om die delivery van die song so skoon as moontlik oor te dra, deur middel van metafore en humoristiese punchlines.

Ja, ek moet oor daai humoristiese punchlines sê “lyrics is dieper as 'n tampon” is een van die skerpste rap-kwinkslae wat ek al in Afrikaans gehoor het!

 Maar oor die kwessie van die underdog: Dis nogal kenmerkend van veral old-school hip-hop, dan nie? Veral as mens kyk na die rap battle. Hierdie song voel amper vir my soos ’n rap battle teen ’n onsigbare teenstander: selfs al is daar nie ’n fisiese opponent met wie jy ‘n rap-bekgeveg hou nie, dink ek hierdie song is ’n draaipunt in jou loopbaan – dit sê jy is iemand om mee rekening te hou.

Alles te danke aan Louis wat die wonderlike geleentheid geskep het.

Maar terselfdertyd bly jy ook getrou aan jou roots; jy herinner hier weer vir mense daaraan dat jy van die Namakwaland is; jy is dus steeds daai “outjie van die platteland”. Jy noem jouself in hierdie song “Namakwaland se Scooby-doo” – waarom daardie bewoording?

Met die “Scooby-doo”-lyn bedoel ek eintlik “Namakwaland se hond”. En hier rond verwys die woord hond na iemand wat kwai is.

Gepraat van kwai – na watter ander LuBOY-collabs kan ons nog uitsien, Louis? Of hou jy vir eers nog die aap in die mou?

Daar is ’n klompie, maar onder andere Loufi en ook Lebo Mochudi en Boywonder.

Maar terwyl ons reikhalsend wag op daardie uitreike, gaan loer sommer intussen hier na die lokprent vir Louis se opwindende Afrikaanse wetenskapfiksiefilm Siklus wat die afgelope jaar ʼn rits indrukwekkende pryse van internasionale filmfeeste ontvang het en eersdaags op Showmax te siene sal wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top