Louis Heyneman reageer op Etienne Viviers

  • 6

Louis Heyneman (Foto: YouTube)

In reaksie op “Musiek in die tyd van COVID-19: ’n onderhoud met Etienne Viviers” skryf Louis Heyneman, die hoof uitvoerende beampte van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes:

Uiteraard is dr Viviers se stelling sy eie mening en ek dink dit is jammer dat klassieke musici in Suid-Afrika dikwels in ’n eie klein onpraktiese borrel leef.

As akademikus sou ek hoop dr Viviers is beter vertroud met presies wat alles by die orkes in Kaapstad aangaan. Dertig persent van ons lopende koste word aan opleiding (baie daarvan in die townships!) spandeer en ja, ons speel baie musiek van dooie, wit komponiste omdat dit is wat ons gehore wil hoor, al het ons nog nie "Nessun dorma" by die stampkarre probeer nie. Ons moet immers probeer om ’n volhoubare besigheid te wees en ons gehore betaal uiteraard vir hulle kaartjies! Ons kry tans geen finansiële hulp van die nasionale regering nie. Indien dr Viviers se anti-establishment politieke standpunt oor ernstige musiek beteken dat ons nie openbare befondsing verdien nie net omdat ons in Afrika woon, is dit sy goeie reg – hoe kortsigtig en verdelend ook al.

My enigste werklike beswaar is teen sy "tekort aan verbeelding"-stelling dat orkeste meer musiek van townshipmusikante moet speel. Regtig? Ek wens dit was prakties moontlik. Waar is hierdie musici, waar is hulle komposisies, en wie orkestreer kwaito (om maar een voorbeeld te noem) vir ’n simfonie-orkes? Anders as die meeste simfonie-orkeste in die res van die wêreld speel ons dikwels onkonvensionele en eksperimentele werke, maar kry kundige musikoloë om byvoorbeeld Hugh Masekela se musiek (wat nie genoteer is nie) vir orkes te verwerk. Daar is baie redes hoekom daar byna geen swart komponiste is wat hul eie musiek vir simfonie-orkes kan orkestreer nie, maar daardie probleem kan nie voor ons deur gelê word nieOns het al meermale met ander musiekgenres gewerk, maar dit is nie ons eerste prioriteit nie. Ons prioriteit en verantwoordelikheid is om ’n musikale platform van formaat te skep vir musici met ’n voorkeur vir Westerse klassieke musiek.

Ons ondersteuners en borge hoop dat ons sal oorleef en dat ons sal voortgaan om ’n konsertkultuur in Kaapstad aan die lewe te hou. Ons het pas vyf programme (meestal kamermusiek en ook werke vir kamerorkes) vir die Nasionale Kunstefees in Makhanda se kuberkonsertreeks opgeneem en sal sodra ons toegelaat word, groter projekte aanpak totdat ons weer op die verhoog toegelaat word. Ons het salarisse en ander onkostes tot op die been gesny en moet ongelukkig ook ons eie neseiertjie besteel. Maar ons het darem ook finansiële hulp van verskeie weldoeners gekry en met ’n bietjie geluk hou ons die boot deur hierdie krisis aan die dryf.

Lees ook:

Musiek in die tyd van COVID-19: ’n onderhoud met Etienne Viviers

’n Kritiese beskouing van Winfried Lüdemann se teoretisering oor ’n musikale versoeningsdialoog

COVID-19 and violin lessons for township children: an interview

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Etienne Viviers

    Ek is bewus daarvan dat die Kaapstadse Filharmoniese Orkes ʼn omvattende uitreikprogram vir die opleiding van jong musikante vanuit alle agtergronde het. Dit is prysenswaardige werk. Ek was kortsigtig om dit nie in die gepubliseerde onderhoud te noem nie.

    Dit is egter kommerwekkend dat Heyneman swart komponiste se vermeende onvermoë om musiek te orkestreer (en daar is eintlik lankal reeds genoeg uitsonderings om hierdie stelling in twyfel te trek) as probleem nie voor sy orkes se eie deur wil lê nie. In Suid-Afrika is dit enige publieke musiekinstelling se verantwoordelikheid om nie sommer net hande in die lug te gooi wanneer die onregverdige verlede en hede van ons land se musiekopvoedingsisteem kulturele diversiteit belemmer nie.

  • Ai tog hoe pateties. Jy probeer polities korrek wees en daardeur raak jy klomp onsin kwyt. Waar is die bladmusiek vir die kwaito en die ander musiek deur swart komponiste? Hoe dink jy wie gaan vir kwaito simfonie betaal?

  • Avatar
    Andrico Goosen

    Ek verstaan nie noodwendig die noodsaaklikheid om Kwaito of enige ander vorm selfs Afrikaanse musiek noodwendig te verwerk vir die orkes nie. As ek na die musiek wil luister sal ek daarna gaan luister, maar ek gaan juis na konserte toe, omdat ek my behoefte aan klassieke musiek wil vervul, iets wat nie so algemeen buite die konserte gevind kan word nie, tensy ek na Classic FM luister of op iTunes, maar ek doen nie, want ek wil ook na ander vorme van musiek luister.

    As jong volgeling van die Kaapse Filharmoniese Orkes kan ek sien dat daar wel ‘n behoefte is, om ‘n jonger generasie te lok vir die voortbestaan van klassieke musiek. Ek kan myself indink hoe moeilik so ‘n taak moet wees, want daar is ‘n geweldige behoefte om die jonger generasie, waarvan ek deel is, van oor die kleurgrense op te lei en ‘n liefde vir klassieke musiek te kweek.

  • Natuurlik is daar nie komposisies deur ander kulture as die Westerse kultuur geskep nie, want klassieke musiek is deel van die Westerse kultuur. Andre Rieu het byvoorbeeld ’n DVD met stukke uit die swart Amerikaanse musiekkultuur opgeneem, maar ek identifiseer nie daarmee nie en hou eenvoudig nie daarvan nie. Kulture hoef nie vermeng en vergrys te word nie, en almal hoef nie van alles te hou nie. Diversiteit is die vryheid vir elkeen om sy kultuur op sy manier te vier. Diversiteit is nie om almal dieselfde te maak nie.

  • Avatar
    Hetta Pieterse

    Ek het ’n kleintjie dood aan hierdie beskuldigings. NIEMAND kan vir ander kulture OPLIG as hulle nie SELF daaraan werk nie. Ek het op duur manier geleer. AFRIKANERS het NIKS gehad na die Boereoorlog maar moes self hul eie leer en oplei. Dieselfde met ons musiek en films. Jamie Uys en Al Debbo het begin en daarop is stadig gebou. Sulke dinge moet uit eie kultuur kom en SELF jou mense WIL leer en behoefte skep.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top