
https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780624096047
Los bietjie plek vir magic
Cliffordene Norton
Jonathan Ball-uitgewers
ISBN: 9780624096047
Die titel van Cliffordene Norton se nuutste boek Los bietjie plek vir magic impliseer dat iets magies of bonatuurliks moet of gaan gebeur. Al waarsku die agterplat dat die hoofkarakter se tannie as spook opdaag, en al lys verklarende woordeboeke toordery, toorkrag, toorkuns, towermag en towery as sinonieme vir magie, het ek verwag dat die magiese of bonatuurlike waarna die titel verwys, iets liefliks en welbehaagliks gaan wees of uitdraai.
In Los bietjie plek vir magic is Cliffordene Norton se hoofkarakter Nairobi die hoofmeisie van haar skool en jou tipiese pliggie. Kompleet met ’n hele spul skedules, “beplanningsapps” en doenlysies. Alles verander egter toe Nadine, haar ma se suster wat in háár agtiende lewensjaar verdwyn het, by haar begin spook, én Grant hulle verhouding op die eerste dag van die laaste kwartaal van hulle skoolloopbaan beëindig. Nie een van haar lysies sou dié situasie kon voorkom nie en geen skedule kan die saak beredder nie. Inderdaad ’n mondvol in die eerste sowat 20 bladsye van dié nuwe jeugroman. En dit nadat die innemende én asof lighartige voorblad jou die boek ingelok het.
Aanvanklik is Nairobi bloot baie geïrriteerd met haar spooktannie in haar kamer, maar dan begin die storie van die verdwyning van Nadine Holly Langeveldt deurskyn en is daar ’n duidelike verskuiwing van grootword- en skoolverhaal na iets meer misterieus en uiteindelik ’n redelik makabere speurverhaal. Met die hulp van Kai en sy wyse ouma, wat met die helm gebore is, en haar beste vriendin Erin begin Nairobi weldra om die geheime van die verlede te ontrafel.
.......
Dis belangrik dat voornemende lesers kennis neem dat daar in hierdie boek, met sy mooi en vriendelike omslag, ook baie spannende en angswekkende en donker oomblikke vir hulle voorlê. ’n Spook op die hoofkarakter se bed is vir seker nie die mees onheilspellende gebeurtenis wat hulle gaan beleef nie.
.........
Dis belangrik dat voornemende lesers kennis neem dat daar in hierdie boek, met sy mooi en vriendelike omslag, ook baie spannende en angswekkende en donker oomblikke vir hulle voorlê. ’n Spook op die hoofkarakter se bed is vir seker nie die mees onheilspellende gebeurtenis wat hulle gaan beleef nie. Los bietjie plek vir magic is meer as ’n tradisionele spookstorie en voel allermins soos fantasie. Ja, fantasie sluit per definisie wel kommunikasie met geeste en diegene op pad na die hiernamaals in, maar hierdie verhaal bied veel meer of gaan baie verder.
Die tafel word wel reeds aan die begin van die boek gedek met moderne verwysings na Charmed en deurdat Nairobi noem dat Erin haarself ’n trotse Wiccan noem. Norton en haar spook-geïnspireerde storie gooi hierná wye draaie. Draai verby mense wat met die helm gebore is, ’n paar misterieuse ervarings, grusame ontdekkings en selfs pogings tot moord tot uiteindelik versoening en tweede kanse.
Sy slaag inderdaad daarin om telkens ’n spookagtige, soms grieselrige atmosfeer te skep. Met ’n seance probeer Nairobi, Nadine en Erin om met “die later deel van Nadine se gees” te kommunikeer. En tydens dié sessie “kruip” ’n koue “stadig uit die vloer en vou soos dou” om Nairobi se enkels, waarna die kersvlamme begin flikker. ’n Paar van Nadine se “verduidelikings” oor haar rol en verpligtinge teenoor ander gestorwenes en wanneer sy aan hulle verskyn, het hierdie leser ’n paar keer ongemaklik gehad.
Maar Norton skryf onderhoudend en Norton skryf mooi, so ek sou niemand aanraai om Los bietjie plek vir magic voor die slottoneel kort te knip nie. Aan die einde van die verhaal wanneer Nairobi en haar gesin bevry is van die geheime wat vir jare verantwoordelik was vir mure wat hulle almal om hulle opgebou het, en haar vriende vroegoggend oorkom, is die mooi woorde wat Norton aan Nairobi se gedagtes gee: “Die oggend hou nog aan gisteraand vas, maar my vriende is hier.”
Heel aan die begin van die verhaal beantwoord Nairobi haar ouma se selfoonboodskap laat, en Norton gee dit so mooi weer met: “Ek hou die mikrofoontjie in en stuur vir haar ’n boodskap verby die skuldgevoel in my keel.”
Dis moeilik om Los bietjie plek vir magic in ’n genre-boksie te liasseer. In wese vertel dit die verhaal van die lief en leed van ’n gesin en hulle baie unieke omstandighede. Party lesers mag opgaan in die bonatuurlike en makabere en dit as magie of magic, soos die titel sê, interpreteer. Ek het die magic gevind in die vriendskap tussen Nairobi en Erin, die romantiese flikkering tussen Nairobi en Kai, die versoening tussen Nadine en Phoebe en selfs die lomp en eerlike manier hoe Grant vir Nairobi afgesê het. Hy was vir my nooit een van die varke van die verhaal nie. Die lekkerste magic bly wel Cliffordene Norton se vars en boeiende vertelstyl.
Lees ook:

