Loeloeraai 100 jaar later

  • 0

Op 1 April 2023 is hierdie resensie voorgelees tydens die Langenhoven-gedenklesing[1] by die KKNK. Die teks is daarna met die vergunning van die Langenhoven Gedenkfonds en die skrywer aan LitNet gebied vir publikasie.

*

CJ Langenhoven is per geleentheid die vader van Afrikaans genoem. Sy nalatenskap omvat ’n ryk oeuvre wat amper elke denkbare genre insluit: romans, spookstories, didaktiese prosa, politieke publikasies, jeugverhale, poësie, rubrieke, drama – en dan het hy natuurlik “Die stem van Suid-Afrika” geskryf wat op 2 Mei 1957 tot die amptelike volkslied verklaar is en vandag nog gesing word. Langenhoven het hom daarvoor beywer om Afrikaans as amptelike landstaal te erken en hy was ’n veelsydige politikus, skrywer en regsgeleerde, en sy werk het ’n legio herdrukke beleef.

Vanjaar val die soeklig op sy roman Loeloeraai wat in 1923 die lig gesien het en ’n eeu oud is. Loeloeraai is oorspronklik geskryf as ’n vervolgverhaal vir Die Burger, maar as gevolg van die gewildheid daarvan is dit in boekvorm gepubliseer.

Dit is interessant om daarop te wys dat Loeloeraai, wat as die eerste wetenskapfiksie in Afrikaans getakseer is, twee jaar vóór Afrikaans op 8 Mei 1925 as amptelike landstaal in die parlement erken is, die lig gesien het. Dis ’n beduidende prestasie, in enige taal.

’n Eeu later kan mens jou afvra of Loeloeraai steeds as wetenskapfiksie getipeer kan word. Want wetenskapfiksie se tydlyne disintegreer en tegnologiese vooruitgang bewys vorige toekomsprojeksies as ongeldig. In kort: Wetenskapfiksie kanverouderd raak, soos die voorbeelde wat ek later gaan uitwys, sal toon. So, wat maak Loeloeraai vir die leser van 2023 steeds relevant?

Loeloeraai en die moderne leser

Ek wil begin deur die roman deur die lens van ’n moderne leser te posisioneer. Loeloeraai is in die eerste plek spekulatiewe fiksie, met eienskappe van fantasieliteratuur, wetenskapfiksie, en utopiese fiksie. Dit is dan juis hierdie ryk stoffering van die roman wat die toets van die tyd deurstaan en waarom dit as letterkundige werk steeds relevant is.

Spekulatiewe fiksie word gekenmerk deur die ingrepe van bonatuurlike of futuristiese gebeure; dit eksperimenteer met verbeelde wêrelde (of “werklikhede”) waarin ’n globale impak die moontlikheid skep dat die mens in parallelle dimensies kan bestaan.

Vir diegene wat nie die roman gelees het nie – of lank gelede gelees het – net ’n kort opsomming van die verhaal.  

Een aand land ’n ruimtetuig, wat Langenhoven ’n “sfeer” noem en wat die gedaante van ’n goue eier het, in ’n tuin in Oudtshoorn. Sagmoedige Neelsie, ook Kerneels genoem (die protagonis se alias vir Langenhoven self), sy vrou, Vroutjie (Lenie), hulle dogter, Engela, en Stoffel Gieljam gewaar ’n wese wat uit die goue sfeer klim. Hy het die voorkoms van ’n engel of hemelwese – sy hare, baard en kleed word as goudkleurig beskryf. En hy dra sandale. Sy ruimtetuig is van 18-karaat-goud.

Die belangrikheid van goud in Langenhoven se tyd moet vermeld word binne die konteks van die goudstormloop en die opstande by die goudmyne in die twintigerjare. Goud was nie net in die res van die wêreld die belangrikste kommoditeit nie, maar ook in Suid-Afrika. Die belangstelling in Loeloeraai, wat skynbaar moeiteloos onbeperkte bronne van goud van Venus kan bekom, lewer kritiek op die kapitalistiese sug na mineralerykdom, imperialisme en gepaardgaande mag.

Loeloeraai leer blitsvinnig Afrikaans praat en verduidelik aan die gesin dat hy van die planeet Venus af kom – daar word in die roman deurlopend toespelings gemaak dat Venus ook die aandster en môrester is, wat assosiasies met Christus voor die oog roep.

Neelsie is kniediep in die skuld en sy krediteure soek hulle geld. Die boodskap versprei dat ’n boaardse wese hom in Oudtshoorn bevind, en mense uit alle uithoeke van die wêreld reis na die plaas om Loeloeraai te sien.

Maar Loeloeraai is ’n persona non grata. Hy kom van ’n ander planeet af en die vraag ontstaan of hy menslik is. Kan hy as indringer of onwettige immigrant in hegtenis geneem word? Dit gebeur dan dat die magistraat se kantoor vir Loeloeraai laat arresteer, maar hy belowe om te vertrek, terug na Venus, wat sy tuiste is. Hy beskik oor bonatuurlike of magiese kragte – hy laat byvoorbeeld ’n bos spontaan op ’n afstand ontbrand, ’n metafoor wat herinner aan Moses se braambos. Die regering stel op hul beurt weer belang in hoe Loeloeraai die bos sonder intervensie kon laat brand – en wat sulke vermoëns in terme van gevorderde wapentuig vir ’n regering of weermag sou kon beteken.

Neelsie, Vroutjie/Lenie, Engela en Stoffel vertrek saam met Loeloeraai in die goue sfeer op ’n reis na die maan. Die maanlandskap word geskets as fantasieryke en utopiese omgewing waar hulle ’n ribbetjie braai. Loeloeraai verskaf ’n goue plaat waarop Neelsie Loeloeraai en sy vrou, dogter en Stoffel se name met ’n sakmes uitkerf – en wat as gedenkplaat vir die nageslag behoue moet bly – en vir wanneer mense dalk oor 100 000 jaar maan toe gaan!

Simboliek in Loeloeraai

Loeloeraai as fantasieliteratuur is natuurlik nóg ’n lens om die boek mee te bekyk. In fantasieliteratuur is die gebruik van simbole opvallend, soos dit bekend is in volkskuns of mitologie. ’n Simbool wat die aandag vra, is die ruimtetuig, die sfeer, wat voorgestel word as ‘n goue eier. Binne die beskouing van Hindoeïsme word ’n goue eier gesien as simbool van die primordiale staat van bewussyn wat ook die bron of oorsprong van die skepping is. ’n Goue eier is met ander woorde ’n simbool van nuwe lewe en transformasie. Volgens die Vedas dui die goue eier op ’n eersgeborene, of die saad of oorsprong van die skepping. Jung sien die goue eier as simbool van spirituele bevryding. Hoe dit ook al sy, in alle gevalle dui die simbool van die goue eier op ’n eerste (byvoorbeeld ’n eerste besoek van ’n inwoner van Venus, of ’n eerste reis na die maan), óf die gedagte dat daar met nuwe verwagting, of selfs ’n verhoogde bewussyn, na lewe in die kosmos gekyk word.

’n Moderne leser kan die ruimtereis maan toe in Loeloeraai se goue sfeer ook bloot as fantasie lees – ons weet sedert die sestigerjare dat daar nie lewe op Venus of die maan bestaan nie, maar as allegoriese fantasie kan die verhaal so vertolk word. Venus is die planeet en metafoor wat geassosieer word met liefde. En as aandster en môrester kom Venus implisiet dikwels voor in die Bybel as verwysing na Jesus Christus, soos reeds genoem. Wat interessant is, is dat die beskrywing van Loeloeraai se voorkoms – die goue hare en baard, die kleed en sandale – herinner aan antieke kleredrag vir mans, soos hulle dit onder meer in die Bybelse tyd gedra het; dit is allesbehalwe futuristies. Het Langenhoven dalk ’n allegorie van Christus in gedagte gehad met hierdie roman? Die boodskap wat Loeloeraai bring, is moraliserend en filosofies en herinner aan die uitsprake van ’n morele leermeester (soos Christus). Loeloeraai verkondig liefde, vergifnis, respek en verdraagsaamheid teenoor ander en die natuur.

Loeloeraai beskik, soos reeds genoem, oor elemente van utopiese fiksie. Utopiese fiksie is fiktiewe verhale wat binne ’n hoogs gevorderde milieu afspeel, en waarin distopiese, of disfunksionele elemente, binne ’n sosiale sfeer afwesig is.

In hoofstuk 8 lewer Loeloeraai ’n betoog wat belangrike universele waarhede bevat. Hy verwys na die aarde, sy mense en sy wetenskaplike vooruitgang as slawerny – binne die strukture van ekologiese kettings, maar ook in menslike samelewings onderdruk spesies mekaar. Wetenskaplike vooruitgang geskied ten koste van sekere mense, soos fabriekswerkers. Die mens moet eers leer om die natuur(-wette) te “oorkom” (bemeester); dan moet die mens leer om homself as mens te oorkom/bemeester – ’n proses wat volgens Jung bekend staan as individuasie. Die mens se innerlike tugmeesters en dryfvere vir voortbestaan is honger, liefde en vrees. In die voorwoord van hierdie roman word verwys na Adam en Eva, na die mens se verlore paradys – wat inderdaad strook met die Christelike subteks van die roman.

Loeloeraai skets dan Venus as ’n planeet waar daar geen ongehoorsaamheid of wetteloosheid en geen wedywering of kapitalisme bestaan nie. Op ’n manier herinner Loeloeraai mens aan ’n tydsreisiger wat aarde toe kom en die aardlinge verduidelik dat hulle, ten spyte van vooruitgang, nog oor ’n gebrekkige morele kompas beskik. Venus is die utopie, en Loeloeraai sy verteenwoordiger.

’n Toekomsvisie?

Loeloeraai het aanvanklik bekendheid verwerf as die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans. Inderdaad so, alhoewel heelwat van die veronderstelde futuristiese verwysings in hierdie verhaal reeds verouderd is. Wat egter interessant is, is die verwysing na die draadlose telefoontjie waarmee Neelsie sy berigte aan Die Burger dikteer. Onthou, die roman het in 1923 verskyn en eers in 1926 het die uitvinder en ingenieur, Nikola Tesla, die koms van die selfoon voorspel. Hy het onder andere genoem dat ’n klein koordlose telefoon die mens se deelgenoot sal word en dat alle mense se fone met mekaar in verbinding sal wees. Mense sal mekaar kan sien op hierdie foontjies en gesprekke kan voer, duisende kilometer uitmekaar, omdat al die fone soos een groot brein sal funksioneer. Tesla het hier gesinspeel op die moontlikheid dat kommunikasie deur middel van satelliete sou geskied. Die res is geskiedenis.

Die feit dat daar “foute” in verouderde wetenskapfiksie bestaan, devalueer hierdie fiksie glad nie. HG Wells se The first men in the moon bevat ook wetenskaplike onjuisthede. Langenhoven se verwysing na die sfeer as ’n “vliegmasjien” is inderdaad argaïes, maar die leser het begrip daarvoor. Sy beskrywings van instrumente wat Loeloeraai in die sfeer gebruik, is ook vaag; so ook die feit dat die sfeer deurlopend in verbinding met Venus bly – hieroor brei Langenhoven nie uit nie.

Loeloeraai het in 1923 verskyn. Met ander woorde: Wat is die nut van wetenskapfiksie wanneer tydlyne disintegreer en die verhaal (deur die lens van wetenskapfiksie), oudmodies raak? Hou so ’n boek enige waarde in vir die nageslag? Die antwoord is ja. In wetenskapfiksie word universele etiese dilemmas aangespreek, en wetenskapfiksie besin oor die samelewingskwessies van die dag. Volgens die bekende fisikus en wetenskapkommunikeerder Carl Sagan stel die mens homself as middelpunt van die heelal. Die aarde is die spilpunt van die kosmos, en die mens die gewaande heerser van die heelal. Hierdie beskouing word antroposentrisme genoem. En dit is dan juis hierdie boodskap wat Loeloeraai verkondig (bl 71): “Vat moed, aardbewoners! Julle bestemming is van ouds aan julle aangekondig; heerskappy, heerskappy, heerskappy. [...] Lees Genesis 1 vers 28: dis ’n gebod en ’n voorspelling.” Ek haal laasgenoemde teksvers aan: “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” Sagan het hierdie antroposentristiese beskouing fel gekritiseer – maar skynbaar voer die mens steeds ’n alleenheerskappy in die kosmos sónder ander bekende buiteaardse lewe, al is dit ongelukkig ten koste van die planeet.

Nie so onskuldig nie

In hierdie roman, met sy lokaal-gemoedelike inslag, word die Afrikaner – as uitverkore spesie – deur ’n ruimtewese besoek. Dit was byvoorbeeld ondenkbaar dat die bruin werker, Kiewiet, saamgenooi sou word na ’n reis maan toe. Dit is insiggewend dat dit dan ook tydens die opbloei van Afrikanernasionalisme was dat hierdie verkorenes maan toe gegaan het. Wat aanvanklik lees as ’n onskuldige verhaal, is terugskouend nié so onskuldig nie. Wetenskapfiksie wys die ongelyke klasseverskille op ’n gegewe tydstip in die geskiedenis uit. Elders vermeld ’n navorser van wetenskapfiksie dat die mens nog nie behoorlik deur die nalatenskap van postkolonialisme gewerk het nie – terwyl futuristiese fiksie reeds die fantasie dat die mens kolonies op ander planete kan vorm, huldig.

Die rol van etiek in wetenskapfiksie kan nie genoeg beklemtoon word nie. Langenhoven maak graag gebruik van betoë – dit is interessant as mens in ag neem dat hy as regsgeleerde opgelei was, en dat hierdie betoë – die bou van ’n argument en die toespreek van ’n gehoor – waarskynlik gebore was uit sy beroep as prokureur en advokaat.  

Vir die moderne leser kan die lokaal-gemoedelike styl in Loeloeraai ietwat onrealisties voorkom, ook as mens na die besoek aan die maan kyk. Maar weer eens: Hierdie plattelandse warmte en uitruil van gemeenplase was deel van Langenhoven se leefsfeer; deel van die lingua franca van sy tyd.

Verskillende lense

Om deur verskillende lense na Loeloeraai te kyk – spekulatiewe fiksie met elemente van fantasieliteratuur, utopiese fiksie en wetenskapfiksie – ontsluit ’n rykdom ánder leesstrategieë. En alhoewel tydlyne disintegreer en wetenskapfiksie as’t ware koud opgedien word, bly die tydlose relase in die roman steeds relevant vir die moderne leser. Langenhoven se werk word gekenmerk deur ’n menslikheid, empatie en humor wat spreek van oud tot jonk. Loeloeraai se relaas oor die gebruik van sonenergie op Venus, is insiggewend; ook die kritiek, wat elders in die roman gelewer word oor omgewingsbesoedeling en die uitbuiting van werkers in die naam van industrialisasie.

Wetenskapfiksie as genre – in boekvorm – is egter besig om minder te raak. Dit is ironies júis die tegnologiese vooruitgang wat in wetenskapfiksie beklemtoon word wat hierdie medium meer aanskoulik maak in films en rekenaarspeletjies. Ek dink byvoorbeeld dadelik aan ’n novelle van Isaac Asimov, The bicentennial man, wat verwerk is tot film – en wat as gevolg van die onmiddellikheid van die filmmedium ’n reusesukses was by die loket. Maar, alles in ag genome bly Loeloeraai ’n baken in ons Afrikaanse letterkunde. Aan vernuwing en verbeelding het dit Langenhoven nooit ontbreek nie.

*

Die roman is steeds te koop, koop dit nou by Graffiti:

Loeloeraai
CJ Langenhoven
Protea Boekhuis (2007)
9781869191405

Eindnota:

[1] Die Langenhoven-gedenklesing is moontlik gemaak deur ’n skenking van die LW Hiemstra-trust.

Lees ook:

Langenhoven-gedenklesing 2023: Ontmoet die paneellede

Langenhoven se 1923-verbeeldingsvlug maan toe

Op soek na Saartjie: In gesprek met Langenhoven se agterkleinkind

Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top