Een van die oudste beginsels in ons regstelsel is dat mense net gestraf kan word vir ’n oortreding as hulle geweet het hulle doen verkeerd. Daarom dat wette wat terugwerkend ingestel word, selde in suksesvolle vervolgings slaag.
Daarmee bedoel ek nie gemeenregtelike misdrywe wat nou ter skrif gestel is nie. Tot baie onlangs was daar nie ’n wet op ons wetboeke wat moord onwettig verklaar het nie. Tog het ons almal geweet ons moenie moor nie – selfs dié wat nog nooit die Tien Gebooie onder oë gehad het nie. En mense is suksesvol vervolg wanneer hulle moord gepleeg het. Dis ’n reël wat sin maak. Geen samelewing kan lank funksioneer as ons mekaar goedsmoeds kan doodmaak en daar geen gevolge aan is nie.
Met hierdie grendeltyd is ons nou in ongekende gebied. Ons mag nie sigarette koop nie, ons mag nie drank koop nie. Ons mag gaar hoender koop as dit in die yskas is, maar nie in die warmrak van die winkel nie. Ons mag pynappels, suiker en gis koop, maar ons mag dit nie gebruik om bier te maak nie. ’n Loodgieter mag benodighede by hardewarewinkels koop soos wat hy wil, maar ’n arm weduwee wat nie loodgietersdienste kan bekostig nie, mag nie ’n wassertjie koop om haar kraan self reg te maak nie. Sou die hardewarewinkel dit verkoop, loop hulle gevaar om gesluit te word. Reg aan die begin van lockdown kon koerante verkoop word, maar nie tydskrifte nie. Nou mag opvoedkundige boeke verkoop word, maar nie boeke wat vir plesier gelees word nie.
Ons mag in winkels ingaan om kos te koop, maar sommige winkels weier om byvoorbeeld batterye, wat soms reg langs die lekkers by die kassiere staan, te verkoop.
Die werk van staatsaanklaers en landdroste word beskou as noodsaaklike dienste, maar ek hoor soveel kommentaar van prokureurs in privaatpraktyk wat sukkel om as essensiële dienste verklaar te word. ’n Kind in die middel van ’n custody stryd tussen ma en pa is tog net so belangrik soos die misdadiger wat doelbewus hierdie tydperk gebruik om misdaad te pleeg.
Van komende Vrydag 1 Mei af mag restaurante gaar kos verkoop as hulle aflewer, maar mense mag nie kos daar gaan haal nie. Dis als goed en wel in die groter sentra, soos Kaapstad, maar in die meeste plattelandse gebiede is dit betekenisloos. In my tuisdorp byvoorbeeld is daar ’n Debonairs wat ’n baie beperkte aanbieding van pizzas afgelewer het voor die lockdown. Geen ander afleweringsdienste bestaan nie. Daar is geen aanduiding dat ander restaurante dit oorweeg om af te lewer, of selfs dat hulle in staat is om dit ekonomies te laat werk nie. Waar ek voorheen wegneemetes kon koop, is dit nou onwettig. Sou ek dit doen, kan ek met ’n boete gestraf word as ek gelukkig is. Is ek ongelukkig, loop ek my vas teen ’n sadis in uniform wat sy nuutgevonde mag met oorgawe en gewelddadig afdwing. Die restaurant kan geforseer word om te sluit.
Daar is nie duidelikheid oor presies wat toegelaat word en wat nie. In daardie onduidelikhede lê daar geleenthede vir misbruik van mag. Laat nou nog boonop 73 000 soldate op ons samelewing los met ’n variasie op die "skop skiet en donner"-mandaat wat Bheki Cele so graag aan die polisie gee, en die potensiaal vir moeilikheid neem net toe.
In minstens een geval is ’n persoon na bewering gemartel en gedood omdat hy drank in sy huis gehad het – iets wat nie verbied word nie. Ek het verskeie anekdotes gehoor van polisiebeamptes wat mense se kruideniersware uitgooi en sakke skeur. Een jong vrou vertel op Facebook dat sy in haar erf was, besig om haar baba se klere op die wasgoeddraad te hang, toe polisiebeamptes op haar skree en vloek dat sy in haar huis moet bly en nie haar erf mag betree nie. Sy het angsbevange in haar huis in gevlug. Dit was tog nooit die bedoeling met die beleid van social distancing en die #staysafestayhome-bewusmakingsveldtog nie?
Weermaglede en polisiebeamptes word nie behoorlik opgelei in wat hulle pligte en regte tydens die lockdown is nie. Hulle kry boodskappe van bo dat dit ’n "anything goes"-geleentheid is om kragdadig op te tree.
Is daar mense wat die geleentheid gebruik om moeilikheid te stook? Natuurlik. Is daar mense wat nie by die lockdown-reëls hou nie? Beslis. Maar dit gee nie persone in uniform mag om sonder meer geweld te gebruik in die volste vertroue dat daar geen gevolge vir hulle gaan wees nie. Dit gee hulle nie die reg om op te tree asof alle lede van die publiek kriminele is wat met geweld onderdruk moet word nie.
Die polisie en weermag tree op asof ons in ’n noodtoestand is, waar die publiek in opstand kom teen die regering. Hulle het klaarblyklik moeite om te besef dat ’n ramptoestand ’n geleentheid is vir hulle om die publiek by te staan en te help. Hulle vergeet dat dit nou al jare is dat hulle ’n polisiediens en nie polisiemag is nie. Daar was ’n goeie rede hoekom die naamsverandering gemaak is.
Maar dit help niks as die naamsverandering nie gepaard gaan met ’n verandering in gesindheid nie.
En die gesindheid sal net verander as daar direkte, onmiddellike gevolge is aan magsvergrype. En dit behoort te begin met hul hoofde. Die beeldmateriaal van Bheki Cele wat by ’n Shoprite aankom omring deur polisiebeamptes met R5- outomatiese gewere en haelgewere sal my lank bybly. Was daar gevaar van onluste? Nee, hy het persoonlik gaan seker maak dat mense die 1-meter-afstand in die toue nakom. Hy het ou tannies gepluk om hulle in lyn te kry.
Natuurlik gaan sy polisielede dink hulle kan dit ook maar doen.
Cele moes toe al van sy plig onthef gewees het. Die versuim om teen hom op te tree gaan nog lewens kos. Lewens wat nie verlore is as gevolg van korona nie, maar as gevolg van polisiebrutaliteit.



Kommentaar
Dit help nie die president kan nie mense soos Cele in toom hou nie! Gedurige diskriminasie teen blankes tree na vore. Besluitneming deur mense wat rondval nadat dinge aangekondig word, soos met skole se heropening, skep verwarring en onsekerheid. Mev Zuma ook! Kan mens glo jy word verbied om te rook want volgens haar sal jy dan onnodig kafee toe ry om sigarette te koop! Waarom die drankverbod? Moet ons aanmekaar soos kinders behandel word!
Soos altyd, to the point, Bettina!
"Lockdown" = (alfabeties) afsluiting, afsondering, grendelstaat, huisarres, ingrendeling, inhokking, inkerkering, inperking - ASB.
Die onderdaniges volg die voorbeeld van die minister. Daar is alreeds ten minste een mens dood a.g.v. van die hardhandige optrede van die polisie en/of die weermag. Ek stem heelhartig met jou saam, Bettina. Hierdie is niks anders as ’n brutale magsvergryp nie.
ANC, waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
https://www.youtube.com/watch?v=EOnSh3QlpbQ