Life Itself, ’n filmresensie

  • 0

Life Itself

Draaiboek en regie: Dan Fogelman

Spelers: Oscar Isaac, Olivia Wilde, Annette Bening, Antonio Banderas, Sergio Peris-Mencheta

Dan Fogelman is bekend as draaiboekskrywer van die wonderlike Crazy, Stupid, Love (2011). Met Life Itself “gradueer” hy met ’n baie bekwame verfilming van sy eie draaiboek. Dis egter nie jou gewone fliekstorie met ’n begin, middel en einde nie, dis eerder ’n filosofiese besinning oor die lewe, soos die titel ook aandui.

Die film word in hoofstukke aangebied (die rede daarvoor blyk heel teen die einde) en hou hom besig met die oorkoepelende vraag van die onbetroubare verteller, ’n bekende literêre tegniek. Daarom moet die kyker veral aan die begin kophou, en ook geduldig wees om te sien waarheen dit alles lei. Kortliks gaan dit oor Will (Oscar Isaac) wat in ’n sielkundige (Annette Bening) se kantoor sit en worstel met die verlies van sy groot liefde, Abby (Olivia Wilde).

Die eerste deel van die film beweeg te stadig en kon ingekort gewees het, maar dit word mettertyd ’n boeiende ondersoek na liefde en familie. Met ten slotte ’n groot uitspraak oor die lewe self ˗ moeilik soos dit ook al is om iets samehangend oor dié komplekse aangeleentheid te sê.

Oscar Isaac doen goed in ’n uitdagende rol, maar dis veral Olivia Wilde wat beïndruk, terwyl Annette Bening en Antonio Banderas die soort betroubare vertolkings gee wat ’n mens van hulle verwag. Die Spanjaard Sergio Peris-Mencheta is ’n relatiewe nuweling in Hollywood en ’n akteur om dop te hou.

Life Itself is allesbehalwe hoofstroomvermaak, maar kykers met ’n filosofiese en literêre belangstelling kan beslis gaan kyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top