Liefde in die tyd van die internet: ’n onderhoud met Fransi Phillips

  • 0

Liefde in die tyd van die internet
Fransi Phillips
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795801686

Fransi Phillips praat met Naomi Meyer oor Fransi se roman, Liefde in die tyd van die internet.

'n Moderne stadsprokie, en 'n romanse. So word jou Liefde in die tyd van die internet deur die uitgewer en deur die resensente beskryf. Hoe beskryf jy dit?

My doel was eintlik om die heersende tydsgees met sy potensiaal vir gruwels en wonderwerke te beskryf. Aan die een kant is daar die aanhaling voor, van Paul Simon: “These are the days of miracles and wonder” en aan die ander kant ou suurgat Phillips se kommentaar: “As daar al ooit ’n gefokte tyd was, is dit reg nou.”

Teenoor die hedendaagse tydsgees wat in die boek bespreek word, is daar tekens van ’n meer nostalgiese tydsgees aan die begin van die 20ste eeu, tot 1930, waarna Hanna se juwele en artistieke belangstellings, soos Art Nouveau, Art Deco, Diaghilev, Fabergé en die Belle Époque terugverwys.

Natuurlik is daar sprake van ’n romanse in die boek, maar om die verhaal in sy geheel as ’n romanse te bemark, sou misleidend wees. Dis ’n sprokie in soverre as wat dit die werklikheid en verbeelding integreer. Dis vir my belangrik dat liefde, erotiek en verbeelding met filosofiese, politieke, kulturele en historiese insigte en ook humor gekombineer moet word.

Jy is in jou storie. Nee, regtig, jy is ... Is jy?

Ek sou graag die Portugees-Mosambiekse skrywer Mia Couto uit sy kortverhaalbundel Every man is a race” wou aanhaal as antwoord hierop. Ongelukkig is al my boeke weggepak, so ek kan nie die spesifieke aanhaling gaan soek nie. Hy sê iets wat daarop neerkom dat mens nooit net een mens is nie, maar gedurig vermenigvuldig in ’n oneindigheid van identiteite. En hy eindig daardie aanhaling met ’n frase wat ek in Afrikaans vertaal en gememoriseer het: “Selfs nou terwyl ek my geheime ontrafel, sak die duisternis oor my toe, asof daar dinge is wat net die blindes kan sien.” So, daardie Phillips, soos wat sy in daardie boek is, was op daardie tyd een van my identiteite wat op haar beurt weer vermenigvuldig het in die identiteite van haar karakters. Maar op die oomblik is ek besig met navorsing oor die Boesmankunstenaar Vetkat Regopstaan Kruiper, wat beteken dat ek reeds weer iemand anders is.

Maar jy is nie die hoofkarakter van jou storie nie. Jy weet wat ek bedoel. My gevoel is dis Hanna. Wat dink jy – wie is die belangrikste karakters hier?

Jy’s reg, Hanna is beslis die belangrikste. Op een stadium neem sy selfs die storie oor, waar sy by die see vir ’n denkbeeldige Wolf79 sê dat haar sprokie kwalik swakker as Phillips s’n kan wees.

Die verteltegniek reg aan die begin, met die shrink. Dis bietjie soos Griet skryf 'n sprokie – ten opsigte van om die weg te baan vir die res van die verhaal. Of om die “lay of the land” aan te dui. Doelbewus? Hoe skryf jy 'n storie: planmatig, of soos die karakter/storie jou lei?

Nee, ek skryf absoluut nie planmatig nie. Gewoonlik het ek ’n einde as ek begin,maar in hierdie boek was selfs die einde vir my ’n verrassing. As ek te veel vooraf weet, word die verhaal opgevreet deur verveling. Ek voer nie graag opdragte uit nie, nie eers my eie opdragte nie. Die storie moet homself skryf of anders gaan niemand dit doen nie. Ek het ook baie min tyd om te skryf. My digbundel My lied van die niet het ek in twee dae geskryf, en die grootste deel van Liefde in die tyd van die internet is tussen treine op die Moskou-metrostasies geskryf, met die mees ondenkbare lawaai in my ore.

Jou storie laat mens lag, dit laat mens huil. Daardie verkragtingsaak en die manier waarop dit geskryf word. Wat is jou agtergrond (en het jy ooit in 'n prokureurskantoor gewerk)? Anders gestel: Hoe outobiografies is elemente van die storie (waarin Fransi Phillips, die karakter, haar nie bevind nie)?

Hmmm, ja. Ek het daardie verkragtingsaak bygewoon. Ek het in ’n prokureurskantoor gewerk, maar die prokureur in my boek is, net soos Hanna, denkbeeldig. Ek kry soms ’n soort agtergrond in die werklikheid, en laat dan my verbeelding daarin los. Die groot aantrekkingskrag van die skryf van ’n verhaal, en eintlik die enigste rede hoekom mens die moeite sal doen om te skryf, is juis dat jy jou verbeelding kan toelaat om ’n vervelige werklikheid te herskep soos wat jy lus kry.

'n Ent weg in die boek lewer jy sosiale kommentaar op hoe pateties die meeste vroue in heteroseksuele verhoudings is of kan wees. Mans se slawe, mans se speelgoed, I'm a Barbie girl vir wie Ken genoeg geld gee dat sy darem ook speelgoed van haar eie kan koop? Eintlik is Barbie slim. Maar sy is so dom om met hom in 'n verhouding te wees! Wat gaan aan met jou hoofkarakter, dat sy, slim soos wat sy is, by daardie prokureur is?

Die prokureur sê Hanna is dom, nie ek nie. Ek dink nie dit was domheid wat haar in die situasie met die prokureur laat beland het nie, eerder desperaatheid. Dom sou gewees het om by hom te bly. Sy was tydelik gevang in ’n situasie waar sy ter wille van oorlewing iets ondraagliks moes doen. Baie vrouens is binne die huwelik in so ’n situasie. Ek was ook al daar. Phillips was wel later vies vir Hanna omdat sy nie dadelik geval het vir Wolf79 nie, maar eers op haar simpel werk wou konsentreer. Op daardie stadium het Phillips, nie ek nie, vir haar gesê sy is onnosel om ’n kans om ’n verhouding met Wolf79 aan te knoop, deur haar vingers te laat glip. Dit gaan hier eerder oor vrouens wat feministies of onafhanklik probeer optree omdat dit “fashionable” is. Dis immers deel van die hele kringloop van stupidity waarin vrouens gevaar loop om opgeneem te raak. In Rusland is so ’n houding fisiek gevaarlik.

Die verhaal self staan teenoor die #MeToo-beweging wat mans vir alles blameer (en wat deel is van ’n tydsgees wat Phillips “gefok” noem). Hanna is dus heeltemal reg om haarself verantwoordelik te hou vir die situasie waarin sy is, en sy verwag van haarself om uit dit uit te kom. Wat dit betref, respekteer ek haar absoluut.

Die verhaal is ook teen die hedendaagse opvatting dat mans niks reg kan doen nie. Dis iets wat ek in Rusland geleer het: as daar nie die kere dat ek op die ys gegly het ’n sterk man was om my te help nie, sou ek letterlik kon verkluim het. Dis ’n harde kultuur, waarin die sterk man ’n baie belangrike plek het. Dis waar Wolf79 se karakter vandaan kom.

Is daar enige ander manier om oor die liefde te skryf as oor die absurditeit daarvan? Wat is die liefde?

Huh? Liefde sonder absurditeit? Dis te veel gevra. Ek dink absurditeit is ’n voorwaarde vir liefde.

Ek het op ’n stadium besluit ek gaan probeer uitvind wat die liefde is, maar hoe harder ek probeer het, hoe minder het ek dit reggekry. Op Doha-lughawe sê Phillips mos vir Hanna in ’n e-pos: “Ons sien deur ’n spieël in ’n raaisel”, waarop Hanna vir Phillips herinner dat sy nie op daardie oomblik, tussen vlugte, tyd het vir ’n preek uit I Korinthiërs 13 nie.

TEFL! In die negentigs en vroeë 2000's was dit Engeland, Leyton en so aan. Nou is dit die Ooste, en TEFL. Is dit wat jy ook in die werklike lewe daagliks doen om jou brood te verdien? Wil jy hiervan vertel?

Ek het dit vir die afgelope ses jaar gedoen, meestal in Rusland, maar ook vir ’n paar maande in Kroasië en in die Kalahari onder die Boesmans. Om met skeepsmagnate, Sberbank-bestuurders en Putin se raadgewers te werk was ongelooflik interessant. Die probleem is dat, in die huidige ekonomiese klimaat in Rusland, waarvoor ons Westerse sanksies moet bedank, mense eerder vir hulle kinders as vir hulleself betaal vir Engelse klasse. En al is die kinders hoe oulik, raak mens na ses jaar bietjie gatvol om voor ’n klas te staan en “one potato, two potato, three potato four” te sing. Ek wil nou iets anders doen.

Wat in jou verhaal is waar en wat is fiksie? Diek Grobler is ook daar. En Elsibe Loubser-McGuffog. Dit kan nog werk as Fransi Phillips vir Hanna skryf, maar hoe gemaak as Diek Grobler dit doen? Of Liekie Fouché (ek's nou al naby aan klaar gelees)? Wie's aan die woord: Is dit jy, is dit hy?

Ek hou glad nie rekening met wat is waar en wat is fiksie nie – ek gun myself al die vryheid op aarde om tussen die twee te fluktueer. In my heel vroegste werk regverdig ek hierdie neiging deur terug te val op die kwantumfisika, waar die onmoontlikheid om te onderskei tussen partikels en golwe ook die onderskeid tussen ’n “werklike” en “droom”-situasie ophef.

Diek Grobler se woorde kom uit sy mond; Liekie s’n het ek opgemaak. Agtergrondskarakters, net soos agtergrondswinkels, -geboue, -kerke en -stede bestaan iewers tussen die werklikheid en fiksie. As ek die naam van Moskou kan gebruik, kan ek die naam van Elsibe Loubser-McGuffog gebruik. By mense vra ek darem eers toestemming.

Wie is Hanna, uit Fransi Phillips (in die storie) se oë? En uit joune?

Hanna se karakter het geleidelik ontstaan. Haar voorkoms is ’n mengsel tussen dié van prinses Charlotte van Monaco en Danté Gabrielle Rosetti se La Ghirlandata. Soos baie van my ander vroulike hoofkarakters verwys ook haar karakter terug na die wilde, selfdestruktiewe en geheimsinnige Melisande in Maeterlink se Pelléas en Mélisande, na wie ek ’n paar keer verwys. Sy dra juwele en bestudeer kuns, ontwerpe en geboue wat terugdateer na die vroeë twintigste eeu, wat die tyd is toe Maeterlink die drama geskryf het. Sy het dieselfde geweldig lang hare, en ook die ring, ’n simbool van trou, speel by haar en by Melisande ’n rol. Uiteindelik keer Hanna egter Melisande se selfvernietiging, wat ook tot ’n groot mate deur haar spesifieke tydsgees teweeggebring word, in ’n postmoderne wonderwerk om.

Vir Phillips is Hanna ’n moeilike, eiesinnige en soms onnosel en ondankbare hoofkarakter, wat op ’n stadium selfs verdwyn uit die verhaal waarvan sy nie hou nie. Maar ek is trots op haar: sy’s mooi, classy, slim en ordentliker en meer diplomaties as Phillips. Sy staan haar man teen Phillips, werk haar eie heil uit en skryf selfs teen die einde haar eie storie.

Vertel my van Rusland wat jy leer ken het die afgelope tyd?

My eerste indruk, terwyl die vliegtuig land, was eindelose woude. Dit was in September, vroegherfs. My woonstel was naby so ’n woud, buite Moskou. Daarna die parke vol van hierdie witgesigmense wat snaakse geluide uitkners terwyl hulle skaak speel en langs die fonteine loop en vry, Baboesjkas met bloedrooigekleurde hare en plat goue skoene, ballerinas in die metro by Frunzenskaya, en jongmense met viole nader aan Metro Teatralnaya, wilde honde uit die woude wat sonder betaling op die metro’s saamry. Dae wat geleidelik kouer en donkerder word, die sneeuwerkers met die plat gesigte uit die suide wat my leer hoe om op ys te loop, die vodkatoue in die supermark, die winde uit Siberië wat my Tunisiese woonstelmaat van haar rocker af dryf, die onheilspellende gevoel dat een of ander moerse tragiese opera die uitspansel gaan tref. Pelsmusse en -jasse, kerkklokke wat mens deur die sneeubedekte woude lok na ’n binnekant van ikone en kersvlamme wat in goud weerkaats en waarvan die harmonieë in kore herhaal word. Stukkende houthuisies onder sneeu, tienerseuns in skaatsringe wat meisies se voete onder hulle uit skaats om hulle aandag te kry, ys in my keel en oë, ’n verlore teddiebeer in ’n ysblok, stukke ys wat van ’n lamppaal af teen mens kop vasslet. Pannekoekfees op die plein waartydens ’n strooiheks verbrand word wat winter verteenwoordig. My patetiese verlange na die son, wat wanneer hy terugkom byna deur die nag bly skyn sodat die voëls waansinnig raak en uit die bome val. Vrek stoute kinders wat mens versmoor onder blomme en geskenke, seuntjies in kerkpakke en meisietjies met intricate vlegseltjies om hulle koppe. Kremlin, Rooi Plein, Gorky Park, Moskourivier, die Bolsjoi, die vreemde huis van Gogol in ’n styl tussen Art Nouveau en Gotiek, metrostasies wat meer soos paleise lyk, eindelose goue koepels teen die horison, knaende vuurwerke. Wanneer ek daar is, die gevoel dat ek nooit grondvat nie; wanneer ek terug is, ’n verlange wat nooit weer sal ophou nie.

Wat was die inspirasie(s) van die verhaal?

Aanvanklik het ek bloot begin tob oor die snaakse ding van ’n netwerk wat alle plekke op aarde met mekaar verbind. Daarna was ek in die Kalahari, waar ek video’s gemaak het van die veranderende skaduwees. Êrens tussen hierdie twee eienaardige uiterstes het my storie begin uitbroei, en ek het dit geskryf toe ek ’n ruk later terug is Rusland toe.

Wat lees die Russe?

Russe moet op ’n baie jong ouderdom die Russiese klassieke werke lees, waarskynlik voordat hulle heeltemal gereed is daarvoor. Ek was eenkeer verstom oor twee sewejarige seuntjies wat mekaar beledig het met name soos Tolstoi en Poesjkin voordat hulle mekaar te lyf gegaan het. In ’n klas van volwassenes wat bestaan uit mans en vrouens, is dit opvallend hoe sentimenteel die vrouens steeds oor Anna Karenina en Onegin voel, en hoe hulle Tsjechof, Gogol, Dostojewski, Turgenev en ander groot Russiese skrywers bewonder, terwyl die mans dit haat. Die laaste plek waar ek gewerk het, Zheleznodorozhny, is bekend daarvoor dat dit die stasie is waar Anna Karenina voor ’n trein ingespring het. Die naam beteken “by die treinspoor”. Daar was lang besprekings in ons klas oor die verskille in die karakters Anna Karenina en Tatiana uit Onegin, tot groot irritasie van die mans. Dit lyk my die mans verkies deesdae wetenskapsfiksie: hulle hou van dinge soos “artificial intelligence” en robothonde wat hulle as soldate in ’n oorlog sou kon vervang. Ek is trots om te kan sê dat van my studente, voordat ek daar weg is, begin lees het aan The beautiful and damned van Scott Fitzgerald.

Een van daardie groep van Russiese jongmense wat ons verlede jaar hier kom beïndruk het met hulle perfekte Afrikaans, Dasha Turyanitsa, het in Moskou vir my Bulgakov se The master and Margaritha present gegee. En vir ’n ander een van my vriende in Moskou, Evgeny Artemov, wat besig is met ’n Russies-Afrikaanse woordeboek en ’n kortverhaalbundel in Afrikaans, het ek onlangs op sy versoek die 1942-uitgawe van ID du Plessiss se Goëlstories oorgestuur: net een van baie versoeke deur hom vir Afrikaanse boeke die afgelope paar jaar. Hy lees ook graag Lawrence Green se boeke oor Kaapstad.

 Die Russiese tieners is versot op Harry Potter, maar is ook lief vir Japannese animasiestories.

Die titel, en Love in the time of cholera: Is jou prokureur 'n seksuele predator, soos Florinto (is Florinto een)? Is Liefde in die tyd van die internet doelbewus 'n spel met Love in the time of cholera, of net 'n kopknik in daardie rigting?

Ek het gedink Love in the time of cholera is ’n mooi titel, omdat dit my herinner het aan Thomas Mann se Dood in Venesië, maar om een of ander rede het ek die boek na die eerste paar bladsye neergesmyt. Ek sou sê dat Marquez se Memories of my melancholy whores, wat Hanna tydens ’n Skype-klas met Wolf79 bespreek het, in werklikheid meer raakpunte het met Liefde in die tyd van die internet. Die titel het wel in my kop vasgesteek.

Liefde in die tyd van die internet en die vraag of dit bestaan. Ten spyte van. Soos met cholera. Gaan dit maar voort, meedoënloos, die liefde? Te midde van die moderne wêreld?

Liefde bestaan in my storie, as dit nêrens anders bestaan nie. Of dit ewig is? Niks op aarde is ewig nie. Meedoënloos? Ek dink dis meer meedoënloos as cholera. In die moderne wêreld floreer die hele popkultuur op die liefde. In my storie maak die internet die fisiese verwerkliking daarvan moontlik, en vorm sodoende ’n brug tussen die oersprokie en die inligtingseeu.

Vertel my van Wolf79.

Eers vertel ek jou hoe Russiese mans is. Russiese mans beskerm hulle vrouens en kinders. Verkrag ’n Russiese vrou, en jou keel word afgesny. Dis die rede hoekom die Russe oorloë wen: hulle beskerm wat hulle s’n is, en vra nie om verskoning daarvoor nie, en hou niks terug nie. Hulle gaan voluit, met ’n karakteristieke mengsel van fatalisme en vrygewigheid, wat op ’n sekere punt dieselfde ding is. Daarby is hulle ’n klein bietjie arrogant, soos Wolf79 wat totaal verbaas is wanneer Hanna nie dadelik vir hom val nie. Wolf79 se karakter was vir my ’n verrassing in die sin dat hy, meer as wat ek self verwag het, vir my gewys het presies hoe ek die Russiese mans wat ek in my tyd in Rusland ontmoet het, ervaar het. En dan natuurlik die voorkoms van Rudolph Nureyev, wat my vroegste kennismaking met ’n Russiese man was.

Het jy, Fransi, ooit tjello gespeel?

Nee, die dwarsfluit was my instrument.

Watter van die genres waarvoor jy al boeke geskryf het, is jou gunsteling?

Ek dink absoluut glad nie aan die verskil tussen genres nie. ’n Storie, of ’n gedagte, moet ’n vorm kry waarin hy gemaklik voel. Dis dit.

Wie is jou ideale leser? (Sê maar Bill Clinton kon Afrikaans verstaan?)

Ek het geen ideale leser in gedagte nie. Alles wat Bill Clinton oor homself in my boek kan lees, sou hy reeds op Wikileaks kon gelees het, in Engels. Blykbaar hou hy maar sy bek eerder as om nog meer aandag daarop te vestig deur daarop te reageer. Die waarheid van wat in Wikileaks staan, is op geen stadium bevraagteken nie. En die pogings om die boodskapper te skiet, kan op geen manier moreel regverdig word nie. Die bestaan van Julian Assange is wat my betref een van die “miracles and wonders” waarna die Paul Simon-aanhaling voor in my boek verwys.

En meng Fransi Phillips nie te veel in met haar karakters nie?

Ja wel, Wolf79 het haar eenkeer in die nag gaan wurg omdat sy nie genoeg aandag aan die verhaal gegee het nie, terwyl Hanna meestal net gewens het sy wil verdwyn. So, dit hang van die karakter af: wat vir een te min is, is vir die ander een te veel.

As jy bedoel polities: nee, polities is dit die karakters wat met Phillips ingemeng het. Net soos Wolf79, maak Russiese mans geen geheim van hulle politieke oortuigings, wat grotendeels met Wolf79 s’n ooreenstem, nie. En ek self, en Phillips, en ook Hanna, het hierdie menings teen wil en dank gekry.

Is daar liefde in die tyd van die internet? Is daar liefde in enige tyd? Is daar liefde? Wat is liefde? En die sin van die lewe?

Ja, daar is liefde. Op die internet werk dit vir my persoonlik beter: dit lê my minder aan bande en gee my meer kans om te droom. Die internet as medium tussen droom en werklikheid leen hom uitstekend tot die liefde.

Die sin van die lewe het te doen met ons eie projeksie van drome en vorme op ’n chaotiese realiteit, wat ook die punt is waar ons die goddelike in onsself ontmoet.

  • Alle foto's verskaf deur Fransi Phillips
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top