Aandag alle aspirant-liedjieskrywers: jou groot geleentheid is dalk nét om die draai met ATKV-Crescendo
Enige iemand met ’n hart vol lirieke en ’n notaboekie vol deuntjies kan nou aansoek doen vir die ATKV-Crescendo-program. Jy kan dalk in die musikale voetspore van die Suid-Afrikaanse supersterre soos Anneli van Rooyen, Whaden Johannes en Jodi Jantjies volg, deur aan te sluit by die ATKV-Crescendo-gesin.

Jodi Jantjies
Om ’n oudisie vir dié gesogte jaarlikse musikale ontwikkelingsprogram los te slaan, hoef jy slegs ’n liedjie in te dien teen Maandag, 31 Januarie 2022. Wie weet? Dalk is jy Mzansi se volgende musieksensasie.
- Laai ’n inskrywingsvorm van die ATKV webwerf af.
- Stuur die voltooide inskrywing, tesame met ’n MP3 of stemboodskapopname van jou liedjie, sowel as ’n bewys van betaling per e-pos na crescendo01@atkv.org.za.
- Hou jou e-pos dan fyn dop vir jou moontlike uitnodiging na een van vier oudisiegeleenthede, wat in samewerking met Expression Sessionaangebied word.
Suksesvolle finaliste sal op 1 Maart 2022 bekend gemaak word en na ’n opleidingsprogram, wat oor vier dae strek, genooi word. Die doel van dié program is om aan die finaliste kennis en kundigheid oor te dra wat hul vaardighede sal opskerp en hulle só toe te rus dat hulle tot soveel as 60 oorspronklike/nuwe liedjies kan skryf.

Whaden Johannes
Na afloop van die mentorskapprogram, word die finaliste aangewys wat deurdring na die ATKV-Crescendo-finaal, wat ’n laaste werkswinkel insluit en afsluit met ’n bekendstellingskonsert. Tydens die werkswinkel repeteer hulle met die Crescendo-orkes, ter voorbereiding van die bekendstellingskonsert, wat die finaliste die geleentheid bied om die verhoog met die mentors van die program te deel.
’n Deel van die opleiding wat aangebied word, is ’n kursus oor entrepreneurskap in die kunste. Dié kursus, wat poog om kunstenaars as entrepreneurs te bemagtig en te verseker dat hulle hulself finansieel kan onderhou, word deur NWU PUK Artema aangebied.
Hierdie projek fokus sterk op menslike ontwikkeling en die kern van die opleiding en ontwikkeling is gegrond op twee eienskappe; karakter en integriteit.
Die span mentors is uit ’n diverse poel musikante en kunstenaars gekies wat dus verseker dat elke finalis soveel moontlik kundigheid, kennis en toepaslike ervaring, wat elk van die mentors binne hul onderskeie verwysingsraamwerke kan bied, ontvang.
Volgens AKTV-Crescendo se projekorganiseerder, Morné van Staden, is hierdie nie ’n talentkompetisie nie – dit is ’n ontwikkelingsprogram wat daarop gemik is om liedjieskrywers toe te rus met kennis en kundigheid.
"Die projek fokus ook daarop om nuwe klanke in Afrikaans te ontdek en alle deelnemers word aangemoedig om in hul eie dialek te skryf en sing. Met hierdie aanslag verseker die projek dat daar ’n konstante vloei van nuwe talent, nuwe liedjies en nuwe klanke in die Afrikaanse musiekindustrie is."

