Liberty Books gaan groot

  • 0

Foto’s van Liberty Books: verskaf

In ʼn jaar waar die koronavirus verwoesting gesaai het, nie net in ons gesondheidsektor nie, maar ook in baie bedrywe wat staatmaak op voete deur die deur, het ons gewoond geraak aan besighede wat hul deure moes sluit, soms permanent.

Juis daarom sit Liberty Books se nuwe woonplek ʼn huppel in die stap. Daar is maar min onafhanklike boekwinkels in ons land, en die meeste is geleë in groter sentra. Liberty gaan in die teenoorgestelde rigting, deur in ʼn dorp meer bekend vir landbou te open. En nou, net voor Kersfees, moes hulle skuif na ʼn groter perseel, want hul ruimte in die Grabouw Mall het te klein geword. Wat ʼn lekker probleem om te hê! Die verskeidenheid boeke is indrukwekkend.

Christy Loedolff Weyer, eienaar van Liberty, het my met groot trots haar nuwe tuiste gewys. Ek erken, my mond het oopgehang. Dis loshande die mooiste boekwinkel waarin ek my nog bevind het, en ek was al in ʼn paar mooies.

Maar eers ietsie oor Christy. Sy het ʼn PhD in Engelse literatuur, en het ʼn tyd lank by die Universiteit Stellenbosch se Engels departement gewerk. Nou maak sy Grabouw haar tuiste saam met haar man en jong dogtertjie. Mense wat die Elgin Grabouw Krimifees bygewoon het in 2019 sou haar ontmoet het. Saam met my, Izak de Vries en Jonathan Amid, het sy die fees organiseer. In die toekoms maak ons weer so.

Christy het ook twee satelliet-"boekwinkels". Ek sit dit in aanhalings, want ʼn brandweerwa en ʼn skoolbus is nie juis tradisionele boekverkoopsetels nie. Dit is wel groot pret.

Besoekers by Peregrine-padstal is teen hierdie tyd goed bekend met die bloedrooi brandweerwa, met sy heerlike kompartement waar kinders kan sit en lees. Die skoolbus is by die Elgin Railway Mark, nog ʼn bekende toeriste-aantreklikheid in Grabouw.

Dan is daar die nuwe Liberty, ook by Peregrine.

Dit het die gevoel van ʼn katedraal. Dis nie net die hoëplafon en die amper gewyde rustigheid wat jou tref met die intrapslag nie. Dis ook al die klein dingetjies wat opval. Dis in die gebrandskilderde vensters in die vorm van ʼn biskopsmus, met die tema wat herhaal word in die spesiaal-ontwerpte boekrak bokant die ingang. Dis in die ronde leesruimte regoor die ingang, wat ek vermoed ʼn gewilde selfie-ruimte gaan word vir besoekers.

Dis in die leeshoekies met gemaklike stoele wat strategies geplaas is om son, uitsig en gerief te kombineer. En, soos wat al meer die geval is met boekwinkels, is dit langs ʼn restaurant en koffiewinkel. Peregrine het natuurlik geen bekendstelling nodig nie.

Op die tweede verdieping vind jy die wye verskeidenheid kinderboeke.

Ook die aanbieding van Afrikaanse boeke het aansienlik gegroei. Andre P Brink, Deon Meyer, Eben Venter, Chanette Paul en vele meer, is te vinde op die spierwit rakke.

Iets wat my soms irriteer omtrent boekwinkels is die nou gangetjies. Ook hier gee Liberty nie een tree verkeerd nie. Die ruim gange, die verrassings wat om elke hoek en draai wag, maak dit ʼn ervaring vir elke sintuig.

Dis die perfekte ruimte om lekker boekbekendstellings te hou, met ʼn balkon waar mense van bo kan kyk, ʼn ruim foyer onder, en dubbeldeure wat oopmaak en mens selfs toelaat om buite onder die druiwe-prieel te sit.

Ek het begin deur te sê dis een van die mooiste boekwinkels waarin ek nog was. Dis meer as dit. Dis Instagrammable, as daar so ʼn woord is. Dis fotogenies.

Maar moenie my woord daarvoor aanvaar nie. Volgende keer as jy oor Sir Lowryspas ry, draai in by Peregrine-padstal. Drink ʼn koffie en eet ʼn pastei, maar moenie wegry voordat jy ʼn draai by Liberty gemaak het nie.

En, natuurlik, dra ʼn masker. Daar is handreiniger beskikbaar en alle COVID-protokolle word gehandhaaf. Liberty het selfs ʼn afleweringsdiens vir mense wat verkies om te isoleer.

Met Kersfees om die draai is dit die perfekte plek om ʼn boek of twee as geskenke te koop, vir jou geliefdes of jouself. Gaan maak ʼn draai.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top