Lewenswetenskappe: Liewenheersbesie – of ’n monstertjie?

  • 0

My plant is oortrek van hulle! Gister was hy nog mooi gesond groen. Vandag sit die plantluise in sulke stringe aan die takkies en suig stadig maar seker die lewe uit die plant. Die arme ding begin eintlik opkrul van ongelukkigheid.

’n Paar dae later, toe ek weer die hartseer saak so staan en bekyk, sien ek skielik klein geel eiertjies op die plant se blare. Ek steur my eers nie daaraan nie, maar drie dae later loop daar klein monstertjies op en af oor die blare en smul feestelik aan elke luis!

Liewenheersbesie – of ’n monstertjie? (Foto: verskaf)

Die klein kruipertjies lyk voorwaar of hulle uit ’n bangmaakstorie kom. Orals oor hulle lyfies is stekelrige uitgroeisels. ’n Lang dik stert laat hulle so ’n bietjie soos ’n dinosourus lyk, en met ses bene beweeg hulle plat op hulle mae rond. Hulle is swart met ’n bietjie geel vlekkies en voelertjies rondom die mond. Vir die plantluise het die einde aangebreek en in ’n oogwink het ek weer ’n gelukkige plant.

Hierdie is liewenheersbesielarwes. ’n Mens sou dit nooit raai nie! Hulle lyk nie naastenby soos ons die volwasse kewers ken nie.

Liewenheersbesies is baie gewild onder boere en tuiniers omdat hulle so vinnig van jou peste ontslae kan raak. Hulle kan jou egter nie help as jy eers jou eie ding begin doen nie.

Die volwasse wyfiekewer sal haar eiers op plante lê slegs waar duisende plantluise teenwoordig is. Die larwes kan nie vlieg om op ’n ander plek kos te soek nie, dus moet genoeg kos beskikbaar wees op die plant waarop hulle uitgebroei het. Die larwes kan tot soveel as 400 plantluise binne die twee weke eet, voordat hulle papies word. As daar omtrent 15 eiers gelê word, beteken dit dat daar minstens 6 000 plantluise beskikbaar moet wees voordat Mamma Liewenheersbesie tevrede sal wees!

Die Lunate-Liewenheersbesie is inheems aan Suid-Afrika. (Foto: verskaf)

Die Adonis-Liewenheersbesie is ingevoer vir plaagbeheer en het gelukkig nie handuit geruk nie.

As ek van die plantluise op my plant verwyder het, sou sy nooit haar eiers daar gelê het nie. Die meeste tuiniers verwyder plantluise met die hand, of deur hulle met chemiese of organiese gif te spuit. ’n Mens is egter nie so goed daarmee om plantluise uit te snuffel nie, en die luise wat ons miskyk, sal dan net weer vermeerder en verder skade aanrig. Gifstowwe is weer net so skadelik vir liewenheersbesies as wat dit vir plantluise is. Selfs organiese gifstowwe kan liewenheersbesies doodmaak.

Dus: Gee maar eerder vir Moeder Natuur ’n kans. Sy weet wat sy doen. Ons moet net geduldig wees.

Het jy al ooit gewonder waar hierdie kewer se lang naam vandaan kom?

Gedurende die Middeleeue in Europa was daar ’n vreeslik groot plantluisplaag wat al die boere se groente kom vernietig het.  Die mense het baie hard gebid. En toe kom die liewenheersbesie! Binne enkele dae was die plaag iets van die verlede. So het die liewenheersbesie geliefd geword en sy naam gekry toe almal saam tot die Liewe Heer gebid het.

Is Europa se liewenheersbesies dan ook dieselfde as ons s’n hier in Suid Afrika?

Die antwoord is ja en nee.

Die Harlekynliewenheersbesie is ’n indringer en val ons inheemse spesies aan. (Foto: verskaf)

Die Swart Geringde Liewenheersbesie is ook inheems en kom spesifiek in die Wes-Kaap voor. (Foto: verskaf)

Daar is duisende liewenheersbesiespesies wêreldwyd. In Suid-Afrika is meer as 300 spesies inheems. Ons het ook ’n paar uitheemse spesies wat spesifiek ingevoer is om die boere met plaagbeheer te help. En natuurlik is daar ook die wilde weglopers wat moeilikheid maak.  Die uitheemse Harlekynliewenheersbesie eet ons inheemse spesies se eiers op en het al oor al die provinsies van Suid-Afrika versprei. Wetenskaplikes werk baie hard om hulle te probeer beheer.

Baie mense glo dat liewenheersbesies geluk bring, en almal is mal oor hulle. Tog ken min mense hul larwes. Lok hulle na jou tuin met blomme en ’n bietjie onkruid, ’n vlak piering met water en ’n hopie droë blare. En los maar die plantluise op jou plante. Kort voor lank sal klein monstertjies die werk namens jou kom doen.

Lees ook:

Lewenswetenskappe: Gee paddas vratte?

Lewenswetenskappe: Blou pajamas en muskiete

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top