Titel: Lewensreis deur die teater sit in my bloed, danksy die Here
Skrywer: Mari Mocke (gebore Doubell)
Genre: ’n Memoir
Uitgewer: Ebenezer-uitgewers
ISBN 9780639743974
Eerste uitgawe, eerste druk in 2023
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Hierdie herinneringsboek kan met geesdrif aanbeveel word!
Dit is vir jou as jy ’n toneelliefhebber is, iemand met of sonder dramaopleiding, met moontlike ervaring van spel, regie, verhoogbestuur, kostumering, grimering, stelontwerp en -bou, beligting, reklame en resensering.
Mari Mocke (gebore Doubell) bespreek die inhoud en letterkundige waarde van die toneeltekste waarby sy as speler of regisseur betrokke was. Ook haar eggenoot Johan Mocke (reeds oorlede) het bydraes gelewer met sy skilderkuns en taalvaardigheid. Hy het byvoorbeeld gehelp met vertalings, stelontwerp en die gebruik van grimering, soos wanneer ’n speler van ouderdom moet verander.
Die boek begin by haar jeug en die invloed van haar ma:
My verstand en hart weet my ma se passie vir vertolking van gedigte en toneelrolle het my kreatief aangesteek, vanaf my lê in haar moederarms op daardie Tarkastadse bed, waar ek my eerste skree op 9 Oktober 1936 gegee het (bl.10).
Toe breek Oktober 1957 aan. André Huguenet adverteer sy oudisies vir sy voorgenome 1958-toer met die vertaling van Elmer Harris se Johnny Belinda as Belinda is doofstom. Onder moeilike huislike omstandighede woon sy, pas mondig, dit tog by en “verwesenlik haar jeugdroom om professionele aktrise te word”. Die goedgunstigheid en vriendelikheid van haar bedagsame baas, destyds by ICI in Port Elizabeth, om ’n toer vir haar moontlik te maak, skryf sy toe aan die Here se wil. “Ek hou vol: my lewensreis deur die teater is die Here se wil [...]” (bl.23). Talle ander voorbeelde van haar godsdienstige oortuigings verskyn in die boek.
Op kleinerige dorpies ry hulle deur die strate in ’n kombi. Huguenet vertel oor ’n luidspreker van die opvoering wat daardie aand opwinding na die dorp sal bring. Hierdie “kleurryke mens het ook ’n onnutsige streep gehad – soms het hy aangekondig dat Andries Huisgenoot se toneelgeselskap in die dorp was en dat hulle hom nie moes misloop nie!” (bl.32). Teen 28 Junie 1958 het hulle ongeveer 145 optredes vanaf Robertson deur die Unie heen gehad.
Mari kan werklik die Here nie genoeg bedank nie vir hierdie buitengewone hoofrol waarin sy met liggaam en gees haar ten volle kreatief en vindingryk kon uitleef (bl.40).
Mari vertel hoe spelers met minder verhoogervaring gevaar het saam met meer ervarenes, of dié met ’n natuurlike speeltalent. Die karakter Stella moet begin gil as sy sien dat haar geliefde, die boertjie Lokkie, geskiet is. Maar sy kry dit nie reg nie. Dit het Huguenet “uit sy nate uit gefrustreer”. Toe help die verhooginkleding. Uit een van “die vol graansakke maak ’n dapper muis skielik, onverwags” sy verskyning. Vir dié piepklein, pienkgevreetjie het Stella “haar boeglam geskrik en gegil dat die dak wou meegee” (bl.28).
Dit is ’n bron van inligting vir verhooglui, letterkundiges, toneelkritici en onderwysers wanneer haar voorlegging aan ’n geselskap hier opgeneem word. Op grond van haar siening van die teks, die intriges en die uitdagings van die vertolkings is besluit of hulle die drama sal opvoer met haar as regisseur. Ook as resensies in Engels en Afrikaans ingesluit word, kan dit help met die opvoerings van die toekoms. Nuttig is haar beskrywing van repetisies op bladsy 131, ook hoe sy die teks in kleiner tonele verdeel sodat instudering deeglik kan wees. Afwesigheid van repetisies is ongewens.
Vanaf bladsy 133 ervaar ’n mens die fases van twee opvoerings: BAT met Frances Goodrich se Die dagboek van Anna Frank (vertaal deur Fred Nel, 1981) en Hoërskool Milnerton; ook William Gibson se Die Wonderwerk (oor Helen Keller, vertaal deur Johan Mocke).
In die gepubliseerde teks is enkele hinderlikhede: In sommige paragrawe is die spasies tussen die woorde nie eweredig nie. Skielik is daar groter wit spasies in die sin as elders. Titels van boeke, tydskrifte en koerante is nie orals gekursiveer nie. Dit is tog ’n tipografiese gebruik?
Maar die bladsye is breed sodat jy maklik die verskeidenheid inligting kan lees en ook ’n omvangryke fotoversameling kan waardeer.

Mari ontvang haar boeke.
Telkens kry Mari gunstige resensies:
In April 1967 is Johan Theart regisseur van Die Italiaanse Strooihoed deur Eugéne Labiche. Sy vertolk die ontroue Anais as ’n prettige toevoeging tot die groot verskeidenheid van rolle wat sy al gespeel het. Heloise Meiring van Die Oosterlig noem ook Mari saam met ander wat “besondere vermelding” verdien. Maar in Die Italiaanse Strooihoed is dit spanwerk wat tel en dié is uitstaande, waar nie een enkele speler ooit die fyn gespanne draad laat kinkel of knoop nie (bl.52).
26 Maart 1973:
Oor C.J. Langenhoven se Sonde met die bure skryf R.R.W. Nixon in Show Herald: That rare thing, an original theatrical presentation, is an event in itself. When it succeeds as Mari Mocke’s adaptation [...] it becomes a notable event on which the innovator is to be congratulated. Mari Mocke may pride herself on having made another of her valuable contributions to local Afrikaans theatre (bl.117).
- Fotografie: Fanus Bothma