
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Oorspronklike uitgawe
Lessons in chemistry
Uitgewer: Doubleday, New York, 2022.
ISBN: 9780385547345
Duitse weergawe
Eine Frage der Chemie
Uitgewer: Piper Verlag GmbH, München, 2022.
ISBN: 9783492071093
Ek het die Duitse weergawe (sewende uitgawe, 2022) gelees en dus verwys ek na die bladsye van daardie weergawe. Aanhalings is deur my vanuit Duits na Afrikaans vertaal.
*
Ons weet dat ’n mens ’n boek nie op grond van die voorblad moet beoordeel nie, maar hierdie een het tog my oog dadelik gevang. Ek is mal daaroor. Ek sien ’n selfversekerde, sterk vrou wat nie in vandag se tyd inpas nie. Sy is ’n vrou van die ’60’s.
Toe besluit ek ek moet dit lees...
Die boek se Engelse titel lui Lessons in chemistry. Wat die Duitse weergawe betref, is besluit op die titel Eine Frage der Chemie. Dit is in Afrikaans “’n Kwessie van chemie”.
Ek het dadelik begin dink oor wat dié buitengewone titel presies kan beteken. Die eerste waaraan ek gedink het, is liefde, want of twee mense bymekaar pas, is ’n kwessie van chemie. Daar is ’n klomp boodskapperstowwe wat die liggaam, en veral die brein, prikkel om dinge te doen wat ons nie verstaan nie, want ons het verlief geraak op iemand. Dit is al lank te laat wanneer ons dit besef.
Die verhaal speel af in die 1960’s in die VSA. Die hoofkarakter, Elizabeth Zott, is eenvoudig onweerstaanbaar. Van kleintyd af is sy erg deur die lewe geknou. Sy kom uit ’n moeilike agtergrond en is ’n hoogs begaafde student aan die UCLA (Universiteit van Kalifornië) en het niemand om haar te beskerm of te ondersteun nie. Toe sy die aggressiewe toenadering van haar doktorale studieleier weerstaan, word haar doktorsgraad nie aan haar toegeken nie. Sy begin werk as laboratoriumassistent by die navorsingsinstituut Hastings en ontmoet daar die liefde van haar lewe. Met die chemie tussen haar en Calvin Evans is daar geen fout nie. Hy is haar sielsgenoot, hy praat op ooghoogte met haar. Sy wil egter nie trou nie. Sy wil haar onafhanklikheid behou en is oortuig dat ’n huwelik die einde van haar loopbaan sou beteken. Calvin sterf in ’n tragiese ongeluk en Elizabeth is swanger. Sy word afgedank en skep tuis in haar kombuis haar eie laboratorium. Haar dogtertjie word by die skool geboelie omdat sy ’n buite-egtelike kind is.
’n Televisieprogramvervaardiger ontdek Elizabeth en vermoed dat sy een van daardie mense is wat met selfvertroue voor ’n kamera kan optree. Hy dink ’n kookprogram uit waarin sy die TV-sjef is wat illustreer watter chemiese prosesse by die kookproses betrokke is. Sy praat nie net oor die transformasie van bestanddele nie, maar ook oor die transformasie van mense – sy deel lewenswyshede. Die lewenswyshede wat sy voor die kamera deel, is inspirerend, maar té vrydenkend vir die tydvak. Dit loop dus ook op probleme uit.
Elizabeth praat met die vrouens en spreek openlik die waarde van hul werk aan. En sy moedig vrouens aan: “Kook is chemie. En chemie is lewe. Jou vermoë om alles te verander – insluitend jouself – begin hier” (270). “Neem risiko’s. Moenie bang wees om te eksperimenteer nie. [...] Vreesloosheid in die kombuis word vreesloosheid in die lewe” (271).
Wanneer selftwyfel jou bekruip [...], wanneer vrees jou beetpak, onthou altyd dat moed die fondament vir verandering is. En ons is chemies bedraad om te verander. Maak dus môre, wanneer jy wakker word, hierdie voorneme: Geen valse terughouding meer nie. Geen onderwerping aan die opinies van ander wat vir jou wil vertel wat jy kan doen en wat jy nie kan doen nie. Laat nooit weer toe dat ander mense jou in betekenislose kategorieë soos ras, geslag, ekonomiese status en geloof indruk nie. Moenie dat julle talente tot niet gaan nie, dames. Skep julle eie toekoms. (425)
Op daardie tydstip was dit sekerlik ’n skandaal. Die 1960’s was ’n tyd toe mans in beheer was, maar vroue stadig maar seker teen hulle miskenning begin rebelleer het. Dit beeld ’n samelewing uit wat patriargaal in sy strukture is, waarin vroue nie toegelaat word om hulself in die wetenskap of in enige ander openbare sfeer te laat geld nie. Op ’n sensitiewe, geestige en by tye ietwat didaktiese wyse plaas die verhaal sy vinger op die seer plek, lig die griewe uit wat vandag nog deels merkbaar is, en roep om hervorming.
Aan die einde van een van haar uitsendings sê sy daar is nog tyd en dalk kan sy vrae beantwoord. ’n Vrou in die gehoor staan op, stel haar voor as Mrs George Fillis. Hulle raak aan die gesels en sy sê sy sou graag ’n dokter wou word, maar sy het vyf kinders gebaar en is net ’n huisvrou. Elizabeth sê: “Daar is geen vrou in die hele wêreld wat bloot ’n huisvrou is nie" (311). Sy spreek haar aan as “Mrs Fillis” om die feit dat ’n vrou op haar man se naam aangespreek moet word, te kritiseer. Sy moedig die vrou aan om te gaan studeer, wat sy dan ook doen. Mrs Fillis word uitgekies om die hoenderpastei wat Elizabeth gekook het, saam te neem huis toe. Aan die einde van elke uitsending sê Elizabeth altyd: “Kinders, gaan dek die tafel. Julle ma het ’n oomblik vir haarself nodig” (271).
Elizabeth Zott herinner my aan dr Temperance Brennan van die TV-reeks Bones. Temperance Brennan is ’n briljante deskundige op haar gebied en vir haar is dinge net verstaanbaar as hulle wetenskaplik ontleed kan word. Sulke mense word soms bleeksiele genoem. Feite en analitiese denke – dit is al wat tel. Dalk is Elizabeth Zott net so en leef in haar wetenskaplike kosmos en verstaan nie die samelewing se norme nie – sy bevraagteken hoekom dinge is soos hulle is en mans besluit hoe daardie dinge moet wees. Om dié rede doen sy dinge anders: Sy gedra haar anders en mense neem aanstoot dat sy nie by die samelewing se norme wil inpas nie. Sy is ’n chemikus, en natúúrlik kan sy as ’n chemikus werk. Punt.
Bonnie Garmus het ’n sterk, rebelse vrou geskep – niekonformisties, ongetem. Elizabeth het nie die tyd of die begeerte om ander te behaag nie. Verder het sy geen neiging tot konflikvermyding, manipulasie, leuens en pretensie nie. Sy vind dit te uitputtend. Sy is veglustig, eerlik, moedig en outentiek. ’n Vrou wat haar lewe in eie hande neem en die probleme wat opduik, aanpak. Sy speel nie met woorde nie, praat reguit en noem dinge op hul naam. ’n Deel van haar geaardheid is in stilte gehul. Sy hou dinge egter ook privaat omdat dit te pynlik is, en ook omdat sy weet dat die tyd nog nie daarvoor ryp is nie. Elizabeth Zott is ’n vrou wat in jou hart inkruip, aan wie jy verbind voel, saam met wie jy ly, hoop en voel. Sy laat jou nooit koud nie. Met haar eerlike, pragmatiese, selfversekerde houding raak sy jou op ’n pretensielose manier. Die tweede protagonis, ’n groot hond, hou alles bymekaar. Hy het ’n skerp sin vir mense, weet hoe hulle is, waarna hulle smag en wat hulle van hom nodig het.
Bonnie Garmus het ’n wonderlike boek geskryf en ek kan nie glo dat dit haar debuutroman was nie. Dit het in 35 lande verskyn.
En nou, kinders van al die lesende ma’s: Gaan dek die tafel. Julle ma’s het ’n oomblik vir hulself nodig.


