Lesersindruk: Gaan Suid-Afrika oukei wees? deur Jan-Jan Joubert

  • 1

Gaan Suid-Afrika oukei wees?
Jan-Jan Joubert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624087700
Epub ISBN: 9780624087717

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

In ’n resensie op LitNet deur Frans Rautenbach is daar kwaai kritiek uitgespreek op die nuutste poging van die veteraanjoernalis Jan-Jan Joubert. Baie dinge is geskryf wat ek nie wil herhaal nie. Deels ook omdat ek gedeeltelik verskil, hoewel Rautenbach interessante kritiek lewer. Kortliks kom dit daarop neer dat Joubert se boek nie geldige oplossings voorstel vir die uitdagings van die land nie, en selfs dat die boek nie by die kern van die land se probleme uitkom nie – dis nou volgens Rautenbach. Joubert skryf darem ook in sy slothoofstuk van die boek dat hoewel hy die 17 vrae as aanknopingspunt gebruik, hy glad nie voorgee om finale en klinkklare antwoorde te verskaf nie. Ek kry ook die indruk dat die "antwoorde" niks anders as voorgestelde vertrekpunte is van ’n diskoers oor die onderwerpe wat aangeroer word nie. Die politiek is tog ’n diskoers wat nooit sal eindig nie. Nie solank Homo sapiens nog op aarde vertoef nie.

Ek wil in die besonder die hoogtepunte van die boek uitlig, en dan kyk na wat vir my ook ’n bietjie vaag is.

Hoofstuk 6 is ’n absolute juweel. In hierdie hoofstuk bespreek Joubert Suid-Afrika se Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), en spesifiek die drama en omstredenheid rondom die 2019-verkiesing. Dan is daar hoofstuk 11 met as titel: "Hoekom bly mense vir die ANC stem?" Joubert se historiese agtergrond tree hier sterk na vore en hy is op sy stukke. Hoe dikwels kom hierdie vraag nie na vore onder die ANC se felste kritici nie? Dit gebeur tot vervelens toe, en die uiteensetting in hierdie hoofstuk verklaar eens en vir altyd hoekom die ANC se kiesers so lojaal bly.

Die hoofstuk oor Helen Zille is ook baie interessant, en so ook die hoofstuk oor die ANC en die EFF. Helen Zille se val van glorie is vir baie mense ’n bitter pil om te sluk, en die gesprek oor kolonialisme is definitief nog lank nie afgehandel nie. Trouens, dit sal waarskynlik nooit afgehandel wees nie. Dalk eers wanneer die menslike spesie in vergetelheid verval.

Dan is daar ook ander skaflike hoofstukke, wat onder meer die fokus laat val op jongmense, die rol van blankes en die toekoms van Afrikaans. In een hoofstuk kies Joubert die 12 beste parlementslede, van wie sommiges beslis die wenkbroue sal laat lig (bederfwaarskuwing: een van die 12 is lid van die omstrede EFF).

Die hoofstukke oor die DA en die VF Plus is minder interessant, veral die hoofstuk oor die VF Plus. Vir sy lesers is die onderwerp seker ’n brandpunt. Die groot debat onder blankes in verkiesingstyd, spesifiek vir Afrikaanse blankes, is die keuse tussen die VF Plus en die DA. Want dis die partye waarvoor die meeste van hulle stem. Maar in die trajek van die groter Suid-Afrika is die onderwerp ietwat van ’n beuselagtigheid. Mens kry die indruk daar is nie juis veel warmte tussen die VF Plus en die skrywer nie.

Behalwe die drama rondom die OVK was die 2019 algemene verkiesing se uitslae maar eintlik taamlik vervelig. Daar het nie juis veel gebeur nie. Die EFF het ’n bietjie stemme gewen. Die DA het ’n bietjie stemme verloor. En die VF Plus het ’n klompie stemme teruggekry. Waarskynlik maar net daardie klompie mense vir wie die DA voorheen vertel het dat ’n stem vir ’n klein party ’n vermorste stem is. Wat een van die grootste valshede is waarmee die DA vorendag gekom het en waarmee gewetenloos en ten alle koste stemme gewen is, met die gevolg dat daardie ondersteuners, wat konserwatiewe Afrikaanse mense is, se vertroue in die proses verwoes is. Wie onthou nog hoe die DA se ondersteuners reageer het na die 2019-verkiesing? Dit was amper soos ’n mens wat deur trauma gaan. Eers was daar die skok dat ’n ou klein deeltjie van hulle ondersteuners eerder vir die VF Plus gaan stem het. Toe verander die skok in ’n soort woede, wat die verlooptes van minderheidspolitiek beskuldig. En uiteindelik kom die aanvaarding. Later was baie van hulle dankbaar dat hulle party nou "gereinig" is van die "regses". Nou is hulle fondament darem soveel sterker, is daar breëbors verklaar. En toe, ’n paar maande later, pak die DA se leier sy tassies.

Ek vind ’n soortgelyke ambivalensie in Joubert se boek. Joubert verskaf ’n lys van redes hoekom ’n deel van die DA se kiesers vir die VF Plus gaan stem het. Hy skryf ook op bl 36 dat die DA moet ophou om alles vir almal te probeer wees. Hy gee dus toe dat die DA nie hierdie kiesers se belange op die hart gedra het nie, en waarskynlik ook nooit sal nie, maar bevraagteken dan later die VF Plus se rol. Hy rig byvoorbeeld die volgende waarskuwing aan die VF Plus, met verwysing na hulle "Slaan terug"-veldtog: "As jy so graag slaan, word jy teruggeslaan wanneer die groter ouens moeg raak vir die kywende kapokhaantjie – daar is gevolge aan dade" (51).

Joubert begin sy betoog in hierdie boek met ’n aanhaling uit die Bybel in Matteus 5:9: "Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word." Wat eintlik maar niksseggend is, want in hoofstuk 10 vers 34 van dieselfde Matteus waarsku Jesus dat hy self nie vrede bring nie, maar die swaard. Laat staan nog die daaropvolgende Evangelie volgens Lukas, waar Jesus sy volgelinge aanmoedig om hulle besittings te verkoop en swaarde met die geld te koop. Die motief van "geseënd is die vredemakers" word ’n aantal kere herhaal in die boek, ook in die slot.

Joubert span ook ander interessante pittighede uit die Afrikaanse letterkunde in, en illustreer daarmee sy belesenheid. Joubert se kennis van die politiek, eietyds sowel as histories, en veral sy genuanseerde en nierassige benadering wat telkens deurskemer, maak hom ’n belangrike stem. Die politiek is nou nie juis iets waaroor ons maklik gesels nie, want dit ruïneer menige vriendskap en familieband, maar as ’n nasie moet ons dringend leer om beskaafd te kan dink en redeneer oor ons land. Ons is dit verskuldig nie net aan onsself nie, maar bowenal aan die geslagte wat na ons kom.

Lees ook:

Resensie: Gaan Suid-Afrika oukei wees? deur Jan-Jan Joubert

Kyk ook:

Video: Cape Town launch of Will South Africa be okay? by Jan-Jan Joubert

  • 1

Kommentaar

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    'Die politiek is 'n diskoers wat nooit sal eiendig nie. Nie solank Homo sapiens nog op aarde sal vertoef nie.' ('in selfgovernance')

    Dankie Barend vir 'n netjiese verslag rondom hierdie vraag, 'n vraag wat globaal op al hoe meer partyplatvorms gevra word, ook rakende lande en hulle eie huishoudelike sake.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top