Gaan Suid-Afrika oukei wees?
Jan-Jan Joubert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624087700
Epub ISBN:
Die titel impliseer dat die vraag beantwoord gaan word, maar dit is seker onbillik in hierdie dae om te verwag dat ’n skrywer van só ’n boek met ’n klinkklare antwoord vorendag sal kom. Maar die probleme wat Suid-Afrika al van vóór die COVID-19-inperking kortwiek, bestaan nog steeds, en mens verwag darem dat dáárdie probleme deeglik hanteer sou word.
Die boek bestaan uit 17 hoofstukke, wat elk ’n sleutelvraag binne die raamwerk van die toekoms van Suid-Afrika aanspreek.
Jan-Jan is ’n ervare joernalis, en dit is gou uit die lees van die boek duidelik. Die navorsing is deeglik en akkuraat, en die eerste en vyfde hoofstukke, "Kan die ANC homself red?" en "Ramaphosa: Redder of faustiese swakkeling?", al twee ’n uitstekende beknopte geskiedenis van die onderwerp wat aangepak word. Die boek sal daarom die leser wat nie so goed bekend is met Suid-Afrika se omstandighede nie, heel gou op die hoogte bring.
Die styl is onderhoudend en in die trant van ’n geselserige rubriek. Die skrywer is nie skaam om sy eie stem en menings te laat hoor nie, en so nou en dan tuisgemaakte beskrywings of -rate aan te bied nie. Die Bybel en die Afrikaanse digkuns figureer sterk as bron – in die toon van ’n geselsie om die braaivleisvuur:
Oor die Afrikaanse taalstryd: "Geseënd is die vredemakers, mos?" (bl 183).
"Dit was DJ Opperman wat in 'Negester en stedelig' gemaan het '... aan jou dade grens ’n ewigheid'" (131).
Of boerewysheid (oor Helen Zille): "Hy sou my verwerp, nie omdat ek verkeerd is nie, maar omdat ek simpel en aanmatigend is ... – omdat ek optree soos ’n krummeltjie wat brood geword het" (128).
Maar uiteindelik verwag mens insig in die vraag wat die titel vra. En ek was teleurgesteld.
Mens verwag darem immers antwoorde op dié vrae:
- Ten diepste, wat is fout met Suid-Afrika? Nie simptome soos werkloosheid, misdaad, korrupsie, rassisme en dies meer nie, maar wesenlik?
- En noudat ons weet wat fout is, hoe spreek ons dit aan? Prakties, watter hefbome gebruik ons om Suid-Afrika oukei te maak?
Daar is wel ’n oorvloed uiteensettings in die boek van wat mense verkeerd gedoen het: Ramaphosa, die DA, Helen Zille, Malema, wit mense en die Afrikaner byvoorbeeld. En ’n magdom voorskrifte oor hoe sulke mense hulle gedrag moet aanpas.
’n Neiging wat mens raaklees – trouens die naaste aan ’n oorkoepelende beginsel of leitmotif – is die idee van balans en kompromie. Die hoofstuk "Is die nasionale minimumloon ’n goeie idee?" word byvoorbeeld ingelei met die vermoedelik vanselfsprekende stelling: "Die ideaal is uiteraard om ’n balans te vind tussen regulering en uitbuiting ..." Uiteraard? Nee, dié uitgangspunt is nie "uiteraard" reg nie. Dit is juis wat ondersoek moet word. Soms is balans en kompromie nie vanselfsprekend nie.
Aanvanklik word die gevare van arbeidswette en gevolglike hoë werkloosheid met klaarblyklike insig uiteengesit; byvoorbeeld:
Die gevaar is dat ons land op ’n punt beland waar die grootste skeidslyn nie tussen geskoolde/ongeskoolde, hoog besoldig/laag besoldig of permanente/stukwerk gaan wees nie, maar tussen diegene met werk en diegene wat werkloos is en waarskynlik werkloos gaan bly. ’n Mens sien dit daarin dat Suid-Afrika se jeugwerkloosheidskoers volgens die Wêreldbank die hoogste ter wêreld is, terwyl die algehele werkloosheidskoers nie die hoogste ter wêreld is nie (185).
Uitstekend. Maar dan lees ons: "... ’n nuwe arbeidsbedeling is nodig. Ten einde uitbuiting te voorkom sal dit ’n loonstruktuur moet insluit wat ’n basiese minimum vereis, maar daardie minimum loon kan nie so hoog vasgestel word dit indiensneming bemoeilik nie ..." (189).
Dit laat my dink aan ’n tussenwerpsel deur voormalige premier John Vorster een jaar terwyl die opposisieleier, De Villiers Graaff, met sy mosie-van-wantroue-toespraak in die parlement besig was: "Ag nee, Div man, en jy het dan so goed begin ..."
Die uiteindelike voorstel is om die minimumloon aan ’n "nasionale minimum produktiwiteitsvlak en nasionale minimum kwaliteitstandaarde vir elke betrekking" te koppel (191).
As voorbeeld steun die skrywer dan op die Duitse stelsel, waar die Hartz-hervormings gelei het tot desentralisasie van loononderhandelinge volgens sektor en streek. Ooreenkomste só beding doen dan die loon-teenoor-produktiwiteit-afweging, en verseker op dié manier mededingendheid en werkskepping. Iets soortgelyks moet gevolglik in Suid-Afrika toegepas word.
Regtig?
Terloops, dit is nie net Duitsland wat ’n sukses van sentrale of streeksbedinging gemaak het om mededingendheid te bewerkstellig nie. Noorweë, Nederland, Swede en Ierland het almal ’n sukses daarvan gemaak.
Maar terselfdertyd het België, Spanje, Brasilië en Suid-Afrika so ’n stelsel, met tragiese gevolge. En die verskil? Al hierdie lande, Suid-Afrika inkluis, het etnies diverse samelewings, in teenstelling met die Europese voorbeelde hier bo. Trouens, daar is nie ’n enkele voorbeeld van ’n etnies diverse samelewing wat al daarin geslaag het om ’n suksesvolle arbeidsbedeling deur sentrale bedinging te bewerkstellig nie. Daarteenoor is daar hoogs suksesvolle etnies diverse lande soos Singapoer, Switserland, Mexiko, die Tsjeggiese Republiek, die VSA, Nieu-Seeland, Estland, Chili en die VK met vryemarkstelsels waar loononderhandelings op ondernemingsvlak plaasvind.
So wil mens dan jou hare uit jou kop trek as die hoofstuk eindig met: "Daarom moet die nasionale minimum loon aangevul word met sektorgedrewe en streekgedrewe produktiwiteitsooreenkomste en kwaliteitsooreenkomste, sodat die belegger en die eienaar teenprestasie kry vir die werker se oorwinning met die minimum loon" (193–4).
Dit, nadat die punt gestel is dat die vakbonde viervoet vasskop as dit by sulke ooreenkomste kom. Die vraag is tog seker: Hoe gaan ons dit regkry? Die naaste wat die skrywer aan ’n antwoord kom is: "Nogtans is dit doenbaar – soos enigeiets doenbaar is as mens net graag genoeg wil, en besef dat dit nie net wedersyds voordelig is nie, maar dat wedersydse ekonomiese oorlewing trouens daarvan afhang."
Dit laat mens onwillekeurig dink aan die perd in Orwell se Animal Farm wat homself gedurig vermaan: "I must just work harder."
’n Wesenlike frustrasie met die boek is dan uiteindelik dat dit so deurspek is met goedgelowige vermanings soos dié, wat nóg kant nóg wal raak om Suid-Afrika sistemies, op grootprentjievlak, oukei te maak: Ons moet dit net beter bedoel met mekaar. Ons moet mekaar net meer ter wille wees. Ons moet samewerking soek, en konflik vermy.
’n Goeie voorbeeld hiervan is die hoofstuk oor die rol van wit mense. Dié is gewoon deurtrek van sedelessies soos: "’n Sagte woord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn ontvlam" (113); "Ordentlikheid kos niks" (121); "Witmense moet daarteen waak om volkome negatief te wees" (121).
Die olifant in die kamer word nie erken of aangespreek nie. Toe wit mense in 1652 hier aangeland het, was hulle eeue voor die plaaslike bevolking in terme van ontwikkeling. Hulle het tegnologie, kennis, boekgeleerdheid, sakevernuf en werkende bestuurs-, regs- en ekonomiese stelsels onder die knie gehad, en ’n gepaardgaande kulturele opset. Daarbenewens het hulle vir bykans 350 jaar nie gelykheid voor die wet in ’n vrye samelewing aan die swart inheemse bevolking gegee nie. Die gevolg is dat wit mense in 1994 steeds myle voor in die ekonomiese wedloop was.
Nou kom die probleem: Sedert 1994 het die inkomstegaping tussen wit mense en etniese swart burgers net groter geword, ten spyte van alle pogings van die regering by wyse van regstellensde optrede, swart bemagtiging, arbeidsreg en sosiale toelae. Witmense sien die armoede, werkloosheid, endemiese gesinsgeweld, groeiende misdaad, jaarlikse skreiende swak matriekuitslae en algemene gesukkel onder swart mense, en die gepaardgaande alomteenwoordige blaam- en slagofferkultuur. En wit mense sien hoe die regering dié kultuur voer met ’n struktuur van aalmoese, minimumlone, diensbillikheid, staatsdiensposte, skole wat alles doen behalwe leer en staatsondernemings wat as voerkrippe dien. Daarbenewens voel swart mense bedreig, onwaardig en verneder weens die gedurige herinnerings aan hulle eie onbekwaamheid. Beide rassegroepe se vooroordele ("Dis net hoe hulle is") moet eenvoudig in so ’n klimaat bevestig word, en gedy. In só ’n samelewing het almal rassevooroordele.
Dit is tog die groot prentjie. Hoe spreek ons dit aan? Met vermanings dat ons meer positief moet wees?
Dis nie dat die skrywer nie vele foute in die ekonomie en ander stelsels van die land raaksien nie. Of nie senstief is vir strukturele probleme wat dit onderlê of nie voorstelle maak wat dit aanspreek nie. Maar dan is sy raad rigtingwysers soos: Die regering moet beter projekbestuur aan die dag lê; die vakbonde moet onderneem om meer produktief te wees; die staat moet liewer nie produksie bestuur nie; die vakbonde moet ’n beter realiteitsbesef hê; staatsuitgawes moet besnoei word.
Maar hoe moet die groot struktuur verander in ons diverse samelewing waar die regering soveel belangegroepe probeer tevrede hou? Hoekom sal die regering dit wil verander, en nie soos altyd teruggly in die ondoeltrefende moeras van belangepolitiek nie?
En as die skrywer nie antwoorde op hierdie vrae kan verskaf nie, kán Suid-Afrika in sy beskouing dan hoegenaamd oukei wees? As ’n deurwinterde politieke joernalis moet hy tog uiteindelik moeilike vrae soos dié aanspreek.
Daar is nie ’n land ter wêreld waar elkeen spontaan doen wat sukses verseker nie. Nie eers naastenby nie. Veral regerings doen dit nie. Hulle is meestal ’n groot deel van die probleem. In suksesvolle samelewings werk gewone mense vir hulleself. Hulle reageer op strukturele aansporings wat in so ’n stelsel ingebou is. Om so ’n stelsel te bewerkstellig, is bitter moelik.
Om dan te eindig met die formule: "Alles sal regkom as elkeen sy plig doen. Dan sal Suid-Afrika oukei wees" (228), is darem net te lamlendig. Asseblief.
Kommentaar
Dit was 'n heerlike resensie om te lees. Baie van hierdie boeke wat so uit die hoek van die kristalbal geskryf word is boeke wat nie 'n goeie rakleeftydperk het nie. Dis haas onmoontlik om die toekoms te kan weet. Die skrywer sit basies sy of haar kop op 'n blok. Ek sal egter steeds graag hierdie boek wil lees, want soos die resensent opmerk, het Joubert altyd goeie insigte in die geskiedenis.