Titel: The Cedarville Shop and the Wheelbarrow Swap
Skrywer: Bridget Krone
Uitgewer: Catalyst Press
ISBN: 9781946395665)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
The Cedarville Shop and the Wheelbarrow Swap deur Bridget Krone is een van die boeke op die Junior Library Guild Gold Standard Selections-lys, ’n merietestelsel waarvolgens boeke van waarde uitgesonder word.
Wanneer die karakter Boipelo Seku hoor van ’n Kanadese man wat ’n skuifspeld vir ’n huis geruil het, begin hy ’n ruilhandelprojek van sy eie in sy klein dorpie Cedarville, Suid-Afrika. Dit het per ongeluk ’n hele gros goeie dade tot gevolg, wat sy gemeenskap vir altyd sal verander.
Die idee om eendag in ’n huis te woon wat groot genoeg is vir sy gesin, is net ’n verre droom. Maar Boi se ruilprojek begin met ’n klein kleikoei wat hy uit riviermodder gevorm het. Saam met sy beste vriend Potso ontdek hulle dat al skiet Cedarville so baie van die dinge wat die skuifspeldhandel moontlik gemaak het, af, die gemeenskap voller is as wat een van hulle ooit gedink het.
“Boi leer die mag van vriendskap en gemeenskap, en vind dat iets se waarde nie lê in wat jy daarvoor kan verruil nie, maar in die goedheid wat dit vir die mense bring. The Cedarville Shop and the Wheelbarrow Swap is wonderlike leesstof vir liefhebbers van The Penderwicks of klassieke musiek soos The Moffats,” vertel die persvrystelling.
Vir my gaan dit veel wyer. Dis meer as ’n baie goeie tienerboek; dit fokus jou aandag weer op die klein juwele in die lewe, wat so maklik deur die oorverdowende geraas van die alledaagse verdwerg word.
Daar is aanhalings waarvan die wyshede herinner aan Santiago, die skaapoppasser van Paulo Coelho se The Alchemist. Soos: “Ek het besluit dat sommige mense vure blus en die wêreld koud en hopeloos laat en ander beskerm die aansteek-vonkies, blaas soos ’n besetene en moedig die vlamme aan met alles wat hulle byderhand het – sodat almal sy warmte voel.”
Sy gewaarwording van drie kolganse wat so laag oor sy kop vlieg dat hy “die pragtige skoon whap-whap van hul vlerke kan hoor. ’n Klank soos dié was jou binneste soos ’n stroom vars water uit.”
Die beskrywing van Sesi, die meisie op wie hy heimlik verlief is, se stem as sy in die kerkkoor sing: “Sesi se stem sweef bo die harmonieë. Die klank herinner my aan ’n voël in vlug, soos ’n swaeltjie teen skemer, wat sy bekkie in die rivier doop om te drink.”
Maar van seerkry en grootword is daar ook genoeg. Sy beskrywing van hoe sy vriend sy rug op hom draai: “[H]y hardloop en los my om te voel asof ek in die gesig geslaan is. Maar met woorde.”
Of die woorde van sy pa: “Meeste mense se lewens is net lekkende emmers wat nooit sal vol word nie. Jy gooi jou hele lewe lank water in, wat net wegsyfer.” Waarop Boi dan skryf: “Die opwinding wat ek vroeër gevoel het, lek uit my uit – asof ek self ’n lekkende emmer is.”
En: “Jy maak ook nie ’n lekkende emmer met drome en simpel speletjies reg nie.”
...
Dis meer as ’n baie goeie tienerboek; dit fokus jou aandag weer op die klein juwele in die lewe, wat so maklik deur die oorverdowende geraas van die alledaagse verdwerg word.
...
Bridget Krone woon en werk in die klein dorpie Hilton net buite Pietermaritzburg, aan die voete van die Drakensberge. Haar kantoor kyk uit op ’n veld waar koeie in die winter wei en waar kraanvoëls (beide gekroon en blou) in die somer kuier.
Dié voormalige Engelse juffrou voor sy kort romans en Engelstalige handboeke vir skoolkinders begin skryf het. Haar debuutroman Small Mercies is deur Kirkus Reviews aangewys as die beste middelgraadboek van 2020 en verskyn op die 2021 Uitstaande Internasionale Boekelys van die Verenigde State se Raad vir Boeke vir Jongmense.
Die boek is teen R250 (ISBN 9781946395665) of R200 as e-boek (ISBN 9781946395733) beskikbaar; dit word deur Catalyst Press uitgegee en deur Protea Distribution versprei.

Lees ook:
Diving deeply inward to write fiction: Maryke Roberts chats to Bridget Krone


Kommentaar
Ek is mal oor hierdie storie! Ek geniet die kreatiewe ideas van ruilhandel wat die karakters in Krone se boek uitdink en hoe hulle dit wat hulle het gebruik of in iets anders omskep ... soos Mr. Tshezi. Hy is awesome!