Leopold Scholtz se Kruispaaie, bruin mense en die huidige taalherrie

  • 17

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

Tydens apartheid het die digter en dramaturg Adam Small opgemerk dat die dag gaan aanbreek dat die Afrikaner die bruin mense nodig gaan kry.

Ek neem aan Small het bedoel dat die Afrikaner bruines gaan nodig kry vir hul politieke en kulturele oorlewing.

Die ekonomie sou na my mening uitgesluit wees, want bruines was nog nooit ten volle ʼn ekonomiese faktor in Suid-Afrika nie.

Onlangse studies dui daarop dat verreweg die meerderheid bruines werkersklas is en dat die grootste gros bruin jeug hulle veral vir bendeverwante misdaad in die tronk bevind. So ook is bruines die gemeenskap met die laagste deelname aan universiteitsonderrig.

Die geskiedenis sedert die vroeë 20ste eeu tot op hede bewys dat die Afrikaner suksesvol was om bruines polities te misbruik. In sy onlangs-gepubliseerde Kruispaaie – Afrikaner keuses in die 19de en 20ste eeu wys die reaksionêre joernalis en historikus Leopold Scholtz ons op dié waarheid.

Nie dat denkende bruines nie daarvan bewus was nie. Dit is egter ongehoord dat ʼn Afrikaner-nasionalis soos Scholtz die moed aan die dag lê om dié waarheid te sertifiseer.

Scholtz se “skuldbekentenis” is veral betekenisvol vir bruines in die aanloop tot die plaaslike verkiesings in Augustus en die huidige taalherrie oor of daar wel ʼn plek moet wees vir Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch.

Hy skryf hoedat bruines ‘n aandeel daaraan gehad het om die wit Bruckner de Villiers van die NP in 1929 en 1930 tot Stellenbosse NP-parlementslid te laat verkies. Volgens Scholtz sou De Villiers gesê het dit was altyd die standpunt van die NP om net die kleurlinge in te lig, dan is “hul stem te vinde vir die Boerenasie”.

Ook hoedat JBM Hertzog gesê het: “Die plek van die opgevoede kleurling is onder sy mense, en nie by die wit man nie.” John Vorster het gesê: “Ek dui vir die kleurlinge ʼn pad aan, weg van die blankes …”

Grondwetlik het bruines die NP altyd ʼn kopseer gegee, want “selfs die NP het ingesien dat ʼn bruin tuisland ʼn totale onpraktiese moontlikheid was”.

Scholtz merk tereg op dat die NP botweg geweier het om gelyke regte aan bruines toe te staan.

Ek verskil egter met Scholtz dat die NP die bruin stem selde aktief probeer werf het. Die beperkte grondwetlike toegewings – soos in 1969 met die totstandkoming van die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) en die driekamerparlement in 1983 – wat die NP aan bruines toegestaan het, was takties van aard om eendag die bruin stem te verseker.

So was dit in 1994 toe die bruin stem die NP van ʼn politieke dood by die stembus gered het.

Beide die Afrikaner en bruines bevind hulle in ietwat van ʼn politieke dilemma, veral omdat die magsbalans in die DA sedert die 2014 algemene verkiesing van die Wes-Kaap (bruin) na Gauteng (swart) verskuif het.

Die Afrikaners het dus op politieke gebied die stryd verloor. Hul fokus het nou na kulturele oorlewing verskuif met die beskerming van Afrikaans as onderrigtaal by Maties as die hooffokuspunt.

Afrikaners het egter ʼn probleem. As wittes sou hulle nie die regering kon oortuig om Afrikaans by die US te spaar nie. Hulle het ʼn legitieme bedingingsvennoot soos die bruines wat polities aanvaarbaar sou wees nodig.

Leidende bruines weet dit en is bewegingloos as Stellenbosse taalstryders hulle behoeftes projekteer op die “arm bruin studente” wat “sal krepeer as Afrikaans by Maties as onderrigtaal verdwyn”.

Ook omdat sommige Afrikaanse bruin studente uitgesluit voel by Maties oor dié universiteit se “wit institusionele kultuur”. Boonop is Maties ontoeganglik vir die meerderheid “arm bruin studente” omdat dit te duur is.

Die vraag is of bruines gaan toelaat dat hulle (ook) kultureel deur die Afrikaner verneuk gaan word?

  • 17

Kommentaar

  • Ja, moeilike een, - sjoe - wat mag ek as wit Afrikaner sê sonder om veroordeel te word - niks kan mos reg wees nie, ongeag die antwoord - en al het ek in 1995 gematrikuleer.
    Die kort en die lank is – die Afrikaner wil deel van die oplossing en nie die probleem wees nie, en hy wil nie meer hê daar moet sommer namens hom besluit word, byvoorbeeld in die geval –
    Dat hy/ ek die bruin mens (dog jy is ook Afrikaner?) wil verneuk nie. Of moet ek nou maar eerder stil bly omdat ek in die minderheid is?
    Van die drastiese vrae wat mens kan vra:
    - Ag bruines hulself ook as Afrikaners?
    - Is die Afrikaner se eindbestemming/ intensie vir die opheffing van almal (of meer as dit van ‘ander’, terloops wat hulself nie as ’n groep wil identifiseer onder ’n party nie)?
    - Wil ons in ons leeftyd sien hoe die Afrikaner tot sy einde kom – gaan almal werklik beter af wees?
    - Het die Afrikaner verantwoordelikheid geneem vir sy omstandighede, of blameer hy ander – of probeer hy ongeag die beste vir homself (en ander waar hy dit kan bekostig) steeds te doen, met die bietjie wat hy toegelaat word om te hê/ gebruik ens? (ek praat nie hier van die 4x4-drywers wat jy elke tweede naweek op pad strand toe sien ry nie).
    - Was Afrikaners nie ook maar eintlik onderdruk nie – het hul nie ook in verlede maar gehandel/ gereageer uit vrees weens oorlog, vervolging ens nie? – is/ was hul werklik ‘verneukers’ ? – of was daar maar net ‘n paar magtige verneukers wat die massas gedwing het om saam te beweeg - gaan die Afrikaner dit weer toelaat? Gaan hy weer homself (vir die volgende paar eeue ten minste) as ’n bedreiging vir vrede laat sien (ongeag of dit waar of onwaar is)? Onthou, daar word ’n wanbeeld van die arme ding gegee – hy het inderdaad uiteindelik die politieke oorlog verloor.
    Of jy ander bloot wou uitlok vir gesprek kan ek wel respekteer – maar moenie namens my (en jou?) aannames maak nie.
    Ek is normaalweg besig om daagliks vir ’n stukkie brood te werk/ baklei vir my vrou en kinders; blameer nie ander vir my situasie nie – of dit nou my eie skuld is of nie – ek weet my aandag moet by my werk wees en nie ongegronde aannames nie. Ek as Afrikaner besef die finansiële implikasie van die skryf van die kommentaar in my etenstyd, eerder as om nou bietjie meer te gewerk het. En ek is nie skaam daaroor nie. Ek het geen bymotiewe nie, en ek praat - hoop ek, anders is ons regtig in die moeilikheid - namens meeste Afrikaners (wit en swart).

    • Ongelooflik goed opgesomde antwoord, dit bly 'n turksvy en jy het dit baie goed verwoord namens baie van ons.

  • Johannes Comestor

    Leopold Scholtz verwys nie na Adam Small nie. As Afrikaners op bruin steun gereken het, het dit in die geval van Small nie gebeur nie. Byvoorbeeld, hy is een van die bruin elite wat hom ondubbelsinnig ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) uitgespreek het. Small was en is sekerlik ook ten gunste van die eentalig verengelste Universiteit van Wes-Kaapland, wat in die jare sestig tot tagtig 'n oorwegend Afrikaanse universiteit was.

    Van wanneer af is Scholtz 'n "reaksionêre joernalis en historikus"? Hy doen baie moeite, ook in sy jongste boek, om polities korrek te probeer wees, veral teenoor die bruines. Hy begin hoofstuk 6, myns insiens heeltemal oordrewe, met hierdie sin: "Die keuse vir Afrikaans het gepaard gegaan met 'n keuse teen die bruin mense" (p 63). Lloyd beweer Scholtz het dit oor Afrikaners wat bruines polities misbruik het. In werklikheid wys hy veeleerder op hoe die Engelse blankes bruines polities misbruik het. Dit is algemeen bekend dat die oorgrote meerderheid bruines Sap (en nie Nat nie) was (71). Die Sappe het in hulle propaganda beweer "dat die NP slawerny sal herstel" (69). Die Afrikaansdislojaliteit waarin bruines in die huidige US-taalstryd uitmunt, is 'n voortsetting van hulle historiese rol: "In Januarie 1900 het 'n groep bruines lord Milner verseker van die 'firm and unalterable loyalty of the Coloured population of South Africa" (66).

    Die punt is: Die wittes, bruines en Asiate is minderheidsgroepe in die nuwe Suid-Afrika wat deur die swart meerderheid verswelg word. Dit is myns insiens gemeen van Lloyd om te maak asof die Afrikaners (en nie Engelssprekende blankes nie) die bruines weer gaan verneuk. Daar is 'n gesonde kern Afrikaners wat vasbeslote is om hulleself, bv kultureel (insluitend hulle taal Afrikaans), te handhaaf. Dit is een van die dinge wat duidelik in bv die US-taalstryd is. Lloyd, daarenteen, het (sover ek weet) nog geen poging aangewend om vir Afrikaans aan die US in die bres te tree nie; eerder die teenoorgestelde. Vandaar sy benaming "taalherrie".

  • Pieter Haasbroek

    Die bestuur van die US het met verloop van tyd die US verengels. Dit is gedoen deur Engelssprekende dosente en student te werf, tot daar nou, gevolglik, 'n meerderheid Maties is wat dit so verkies. Hulle velkleur is irrelevant. As bruin studente waarde heg aan Afrikaans, sal hulle die hande moet vat van die wit voorstaanders van Afrikaans en saam 'n drukgroep vorm. Al hoe hulle gelyke kanse vir die twee tale kan verseker, is deur die politiek wat hulle saam sal bedryf.

  • Cilliers van Niekerk

    Ek is dit merendeels met jou eens, Jason; daar is inderdaad min te betwis in wat jy sê.
    Jou slot is egter dalk so effe kripties: Bedoel jy dat bruines (of bruin Afrikaners, na my nederige mening) die geleentheid behoort te benut om 'n baie lang vervreemding, veronregting en miskenning te beëindig teen die prys van steun vir Afrikaans as tersiêre onderrigtaal? As dit wél is wat jy bedoel is ek (as wit Afrikaner) dit roerend met jou eens, en hoop ek van harte jy plaas dit pront op die tafel, of 'n siel in die witter kamp doen dit vir jou (ons), of span met jou saam.
    As jy egter iets anders in gedagte het, verduidelik tog, tesame dalk met kommentaar op my (wan)interpretasie!

  • Matthys Strydom

    Ek het nog altyd gevoel, en gesê, dat die (wit) Afrikaner se grootste fout en sonde was die vervreemding van ons sogenaamde bruinmense. Hulle moes nooit "hulle" geword het nie. Die skeiding van ons kulture was en is kunsmatig en verfoeilik, 'n skande wat beslis sy tol gaan eis en dalk nooit vergewe sal word nie, alhoewel ek as gelowige daarvoor bid en glo dit kan. Ons toekoms in hierdie land kan net sáám suksesvol en gelukkig wees.

  • Hanno Visagie

    Dis hoog tyd dat binnelandse Boere-Afrikaner-politici (soos die VF+ en Afriforum) die kleurling/bruin/Khoi-San mense aanvaar soos hulle is: Hulle gaan nie die Afrikaanse taal of die Afrikanervolk help red nie. Hulle sal steeds Afrikaans as BEE-instrument benut, maar ook steeds hul kinders in Engels laat skoolgaan. Hulle is subtiel aan hul eie kant. Die probleem lê by naïewe of polities korrekte stemwerwende politici wat die Khoi-San as "bruin Afrikaners" probeer projekteer, asook by die Afrikaner-elite se ongeredde kutuurchristenskap, mammonaanbidding en (etniese) Afrikanervolksontkenning.

  • Ebert Terblanche

    Jason,
    Dankie vir jou skrywe, ek waardeer dit.
    Ek verstaan uit jou skrywe dat jy voel dat die bruines nie die wittes gaan help om die Afrikaanse kultuur te beskerm nie as straf vir die wittes se politieke verneukery van die bruines sedert 1920.
    Indien dit wel die geval is, dan is die bruines besig om hul eersgeboortereg (die reg om hul moedertaal as middel te gebruik om skaars vaardighede aan te leer wat hul in staat sal stel om armoede te ontsnap) te verruil vir 'n pot lensiesop (die geleentheid om wittes in die gesig te skop terwyl hulle op die grond lê).
    Hierdie toedrag van sake bekommer my baie weens twee redes.
    Eerstens omdat dit ons bly vasvang in 'n vernietigende siklus van wraak en weerwraak. Ons was voorheen hier en ons het niks daaruit gewen nie. Dink maar aan die gebeure by Slagtersnek in 1815 toe bruin soldate wit burgerlikes doodgeskiet het en die behandeling van wit krygsgevangenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Kaap getart is met "die boer sien sy moer" terwyl die wittes se vrouens en kinders in konsentrasiekampe gesterf het.
    Tweedens wonder ek wat die bruines dink hulle gaan wen wanneer Afrikaans uit al die skole, universiteite, polisiestasies, howe en werksplekke verdwyn? Gaan hul dan werklik beter af wees?
    Hoogagtend die uwe

  • Die afgestorwe Eugene Terblanche het dit eendag in ’n onderhoud met ’n Engelse joernalis duidelik gestel wat ’n Afrikaner is. Alhoewel dit sy persoonlike siening was, glo ek dat daar baie wit mense is wat daarmee saam stem. Afrikaans was dalk in die wit gemeenskap bevorder maar was afgedwing op andere. Die optrede van die apartheidregering en so ook wit mense in hul persoonlike kapasiteit het meer skade aan die taal se voorbehoud gedoen as wat enige optogte teen die taal ooit sal regkry. Bevordering van ander Suid-Afrikaanse tale is noodsaaklik maar dit sal nooit moontlik wees as Afrikaans nie sy ereplek, wat dit tans geniet, verloor nie.

  • conrad steenkamp

    Hier aan die einde raak Jason aan die kern van die saak: ondersteuning en toegang gaan hand aan hand. Sonder die een, kry mens nie die ander nie - geen redelike mens kan anders verwag nie.

  • Die beleid van die NP en die toepassing van die apartheidsbeleid na 1948 soos sekere werk en universiteite net vir blankes, Distrik 6 ens het die wittes (wat hulle die ware of regte Afrikaners noem) groot skade vir hulself en aan die kleurling (in hierdie geval) aangerig. Baie wil dat dit oornag moet weggaan. Vergewe en vergeet. Ander ontken dat dit nooit gebeur het nie. Hoe dit ook al sy dit sal nie oornag weggaan nie. Ek dink ons moet van die wittes se kant meer doen om te wys ons is eerlik en ernstig in ons bedoelings sonder om te kruip.

  • Gustaf Claassens

    In wese lyk dit my gaan die gesprek hier oor die "skuldlas" van die Afrikaner; of hy dit (hierdie skuldlas) nog moet dra (as 'n soort straf) en indien wel, hoe lank. Histories gesproke het die Afrikaner, individueel of in kollektiewe verband gedoen wat hulle geglo het reg was. Wat ook al gedoen was, was gegrond op spesifieke oorweegredes wat op daardie betrokke tydstip in die geskiedenis as belangrik geag is. Sommiges sal aanvoer dit die geval was terwyl ander tot die teendeel sal argumenteer, soos dit nog steeds die geval is. Terugwerkend gesien, is dit natuurlik altyd makliker om nou menings te waag.
    Die debat/gesprek oor taal is nie eietyds in 'n land soos SA waar mense en groepe nog vroetel, rondtas en trap om 'n soort staanplek te kry waarin hulle veilig en gelukkig voel nie. Emosies wat belangrik is moet gekalibreer word en vat tyd. So kan in ellelange debatte en beskuldigings verval word oor variasies van wat reg en verkeerd was. Die waarheid is mos immers dit wat die mens glo en daarom verskil ons ... terwyl die klok aanhou tik.
    Afrikaans as taal is beduidend en belangrik vir 'n groot groep mense in Suid-Afrika en diegene wat dit wil bevorder, waarvan ek een is, doen dit omdat dit saak maak. Ook omdat dit vir my/ons mooi is, omdat ek/ons daarin dink, skryf, droom en leef en bloot omdat dit lekka is ... sloesj, klaar! Waar oortree ek wat as ek dit sê? En hoekom kan ek nie daarop aanspraak maak en daarop aandring nie? Roem ons nie juis op ons land wat soort van 'n wonderwerk is waar demokratisering volvoer is sonder dat 'n skoot gevuur is nie? Ook dat dit 'n moderne demokrasie en geskoei is op waardes en normes wat universeel aanvaar word. 'n Grondwet wat sê dat elke taal belangrik is en dat moedertaalonderrig eweneens belangrik is. So belangrik dat dit inderdaad in die land se grondwet verskans moes word. Verskans wat by implikasie beteken dat iets soos taal 'n voorvereiste is vir orde, stabiliteit en vreedsame naas- en voortbestaan. Of is dit alles bloot lippediens en nie die papier werd waarop dit geskryf is nie ... soos in baie ander Afrikastate, state wat in flarde is ... Nêrens in hierdie gesprek/debat word gevra of gesê dat Afrikaans bevoordeel moet word of dan belangriker is as ander tale nie en op grond daarvan, spesiale behandeling of voorkeur moet kry nie.
    Die uitgangspunt is bloot dat iets wat as 'n kleinood ervaar en beleef word vir mense belangrik is. Nie vir almal nie want mense verskil soos hulle in hulle DNA verskil. Dit was en is so en sal altyd so wees en dit is 'n gegewe. Daar word kante gekies en groeperinge gevorm want dit laat die mens veiliger en sterker (ander weer meer braaf en slimmer) voel. Is dit op sigself en in beginsel dan verkeerd om te vra en aan te dring op gelykberegtiging van Afrikaans? Dit kan tog nie wees nie. As standpunte of beweegredes daarop neerkom om nie van iemand anders te wil wegvat of iemand anders se menswaardigheid te wil aantas nie, behoort daar mos na sulke mense/groepe geluister te word. Dis stiksienig om dit nie te doen nie. Inteendeel, dis 'n baie aanvaarbare en moderne standpunt en in pas met tendense wêreldwyd waar in algemene belang regeer word. Diegene wat hierin glo behoort en sal aanhou om hulle te beywer vir die gebruik van Afrikaans as taal op alle vlakke van die samelewing, daar waar dit saak maak en omdat dit die regte ding is om te doen. Ons behoort ons nie te laat intimideer met oorvereenvoudigde goedkoop beskuldigings van "rassisme" nie; of om dienstig te probeer wees vir politieke aanvaarding nie. Indien ons dit sou doen is die "dood in die pot" vir die Afrikaner/Afrikaanses en verdien die taal nie om as 'n taal in eie reg te "oorleef" nie.
    Oor twee weke word Jeugdag gevier, 'n dag wat juis gegaan het oor taal en waar talle met hul lewens geboet het. Hoekom wil ons nie uit foute van die geskiedenis leer nie. Is ons te domastrant of loop die haat nog werklik so diep dat dit gerieflikheishalwe uit die oog verloor word. Hopelik nie maar indien wel, voorspel dit niks goed vir 'n pragtige land soos Suid Afrika nie.

    • Breyten Breytenbach

      Dis 'n besonder wyse inskrywing, Gustaf Claassens. Ek is dit heelhartig eens met u ontleding en samevatting en deel die versugting.

  • Johannes Comestor jy moet darem reg lees jong. Ek verwys na Adam Small; nie Leopold Scholtz nie.

    • Johannes Comestor

      "Jong", ek het reg gelees. Ek het my in my eerste paragraaf uitdruklik los van Scholtz se boek gemaak en oor Small geskryf. "Jong", daar is heelwat in my skrywe waarop jy nie reageer nie.

      • Johannes Comestor dit sal help as jy jou identiteit bekend maak. Jong, hoekom is jy bang vir identiteit of dra jy 'n kopdoek? Jy lees ook nie reg nie; ook nie fyn nie ...

  • andre F van der Berg

    Partykeer met jou rug teen die muur en realiteite die enigste eggo kan mens maar net jou byl in die see gooi.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top