Leon Strydom (1944–2021)

  • 0

Foto: verskaf

Gebore en getoë

Leon Strydom is op 27 Februarie 1944 op George gebore. Nelia Richter vertel meer oor die jong Leon op LitNet: “Leon was die jongste van vier kinders, en ’n laatlammetjie. Een van sy ouer broers, Matthys, onthou dat hy Leon eintlik eers aan die einde van sy eerste jaar op universiteit leer ken het.”

Matthys het aan Richter vertel Leon was vir lank ’n alleenkind omdat die ouer kinders reeds uit die huis was om te gaan studeer. Dus het hy en hulle ma ’n baie nou verhouding gehad. “Albei het geleef vir die dag dat hy ná sy twee jaar diensplig ontslaan sou word. Ongelukkig is sy ’n dag of twee voor sy ontslag oorlede, jonk, op 50. Leon was baie lief vir ons ouers, en danksy ons pa het hy sy lewe lank ’n groot liefde vir die see en hengel gehad. My ma se vroeë dood het sy lewe ontwrig, maar hy het daaroor gekom.”

Leon het aan die Hoërskool Outeniqua gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Leon Strydom was ’n baie skrander student. Ná skool is hy egter eers weermag toe en direk daarna, in 1963, is hy na die Universiteit Stellenbosch om in die Lettere en Wysbegeerte verder te studeer. Aan die einde van sy eerste jaar het hy egter ’n ineenstorting gehad, het Matthys aan Richter vertel: “Hy is deurgesit op grond van sy goeie prestasie en het sy studies daarna suksesvol voortgesit. In die drie maande waartydens hy by my op Heidelberg in die destydse Transvaal herstel het, het ek hom eintlik eers leer ken. Ons het saam muurbal gespeel en na kunsuitstallings gegaan, en dit is hier dat Leon se belangstelling en insig in kuns na vore getree het.

“Ons lewe lank was ons deur die kuns gekoppel. In 1999 het hy die galery op George oorgeneem nadat ek dit 30 jaar bedryf het. Daarna het ons baie oorleg gepleeg oor genooide kunstenaars. Hy het ’n baie eerlike, diep belangstelling in en liefde vir kuns gehad, ongeag medium of styl. As iets goed was, kon hy dit onderskei. Hy het ook ’n akademiese benadering tot kuns gehad, en na sy oorname van die galery kon ek baie by hom leer.”

Aan die US was Leon deel van professor DJ Opperman se bekende Letterkundige Laboratorium. Hy het in 1965 sy BA-graad verwerf en sy honneursgraad in 1966. In 1969 het hy sy MA-graad behaal met ’n verhandeling Oor die slampamperliedjies van CL Leipoldt.

Leon Strydom het in 1969 ’n pos as dosent in die Afrikaans en Nederlands-departement aan die US aanvaar. Daar het hy vir twee jaar gewerk en aan die einde van 1970 is hy na Nederland waar hy vir drie jaar – Januarie 1971 tot November 1974 – aan die Instituut voor Algemene Taalwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht studeer het. Tydens sy tyd in Utrecht (in 1973) het hy sy doktorale eksamen in die Algemene Literatuurwetenskap suksesvol voltooi.

Ná sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in 1975 sy DLitt-graad met professor AP Grové as sy promotor aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy tesis was getiteld Oor die eenheid van die digbundel. Dit is in 1976 deur Academica Uitgewers gepubliseer. Nadat hy vir ’n jaar lank ’n dosent aan die UP was, is hy in 1976 na Bloemfontein waar hy begin werk het as dosent in Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1978, op 33-jarige ouderdom, is hy bevorder tot hoogleraar.

Leon het in die laat 1990’s afgetree en teruggekeer na George waar hy sy broer, Matthys, se kunsgalery oorgeneem het en dit bedryf het. Leon het self ’n uitgebreide kunsversameling gehad. Sy versameling het tydens sy afsterwe bestaan uit 232 werke van kunstenaars soos onder andere Irma Stern, Alexis Preller, Maggie Laubser en Robert Hodgins.

In 1973 verskyn Leon Strydom se eerste digbundel onder die titel Geleentheidsverse en dadelik maak hy sy merk op die toneel van die Afrikaanse letterkunde. Hierdie bundel word in 1974 met die Eugène Marais-prys bekroon en in 1975 met die Ingrid Jonker-prys. Die beoordelaars van laasgenoemde prys was Lina Spies en JC Kannemeyer.

Hulle het gesê dat die Afrikaanse letterkunde met Geleentheidsverse ’n “sterk verrassende nuwe digterskap” ryker geword het: “Terwyl die Afrikaanse poësie ná 1964 deur die werk van Breyten Breytenbach oorheers word en heelwat digters van die afgelope tien jaar – in navolging van hom – ’n afgeleide tipe vers of ’n betreklik amorfe soort gedig met weinig bindingselemente beoefen, reik Strydom terug na die aardse, konkrete poësie van DJ Opperman en skryf hy ’n meer geslote vers met ’n hegter konstruksie, sonder dat daar van enige direkte navolging sprake is.

“In hierdie opsig is die strenger strukturering wat ons in sy verse aantref, ’n belangrike korrektief op die oper en soms vormloser gedigte van baie digters uit die sestiger- en sewentigerjare.

“Maar ook op ander wyses sit Strydom – weer eens sonder bewustelike navolging – die tradisie van Opperman voort. Afgesien van die konkreet-aardse, soms byna primitiewe woordgebruik waardeur hy taalmoontlikhede van Afrikaans verder ontgin, slaag hy telkens daarin om – soos onder andere Breytenbach voor hom – die geykte, bekende en tradisionele idioom in ’n nuwe verband te gebruik en daardeur die sluimerende betekenis opnuut te aktiveer of uit sy verdowing op te wek.

“Daarnaas toon hy ’n verdere ooreenkoms met Opperman deurdat die primêre vlak van die vers met subtiele oorgange na ’n ander, dieper betekenis gevoer word. Die resultaat wat hy só bereik en in gedigte soos ‘Genesis’, ‘Droogte’ en ‘Ontmaagding’ gestalte vind, is ’n wesenlike bydrae tot die hedendaagse Afrikaanse poësie.”

André P Brink was in Die Burger eweneens beïndruk met Geleentheidsverse van Leon Strydom: “Die titel is ’n voortreflike understatement, selfs doelbewus ‘misleidend’ in fyn ooreenstemming met die opset van die bundel. Want dit gaan nie hier om die berym of be-dig van min of meer historiese, openbare ‘geleenthede’ nie, maar om baie private geleenthede wat deurgrond en gesuiwer word tot poësie. Eintlik sou ’n mens kan sê: eerder as om uit geleenthede verse te maak, maak Strydom van elke vers ’n geleentheid. (…)

“Geleentheidsverse is, onder meer, een van die mees konsekwente en genadelose demitifiserende bundels in ons jonger poësie: al wat maklik aanvaarbaar geword het as ‘poëties’, alle romantiese omwasinge van beelde en ritmes, word hierin soos ’n neutedop gekraak. Ten opsigte van die beeldryke poësie van Sestig verrig Strydom hier in hoë mate die taak wat Opperman dertig jaar gelede verrig het om Dertig se ‘besielde retoriek’ en die kultus van die ‘mooi woord’ terug aarde toe te bring. (…)

“Hopelik sou reeds íéts van Strydom se werk (in Brink se bespreking) geblyk het, sodat ek dit as motivering kan sê: as die toon vir Sewentig hiermee aangegee is, dan lê daar opwindende jare voor. Geleentheidsverse is ’n geleentheid in ons poësie.”

Fanie Olivier het na Geleentheidsverse verwys as die “belangrikste en opwindendste” debuut van 1973: “Die rykdom in die taalspel, die integrasie van die kinderlike én die banale, die herhaalde konkretisering van die abstrakte, maar anders as by Breytenbach, én nuut, die vormvernuftigheid van die digter en veral die talle Bybelse verwysings en verwerkings dui op ’n talent en digterskap waarvan ons nog baie móét hoor.” (Beeld, 15 September 1988)

Ná ’n beduidende lang stilte van 15 jaar word Leon Strydom se volgende digbundel in 1988 gepubliseer onder die titel LS wat dubbelsinnig gesien kan word as sy voorletters of die afkorting vir lectori salutem of “heil die leser” in Afrikaans – “’n aanhef wat dui op die ironiese inslag van Strydom se gedigte,” het Gerrit Olivier in Die Burger van 19 Januarie 1989 geskryf.

“Strydom dring ’n groot hoeveelheid verwysings, toespelings en dubbelsinnighede sonder enige interpunksie hoegenaamd binne enkele verse saam. Sodoende ontstaan ’n besondere digtheid, soms selfs duisterheid. Hier praat verbaasde en skeptiese stemme wat hulself gedurig in die rede val met uitroepe en idiomatiese uitdrukkings.

“Tussendeur is LS die literatuurwetenskaplike ook nog doenig met ironiese voetnote en kommentaar by die tekste. Party van hierdie aantekeninge het betrekking op die persoonlike situasie van die digter (of sy vrou wat menstrueer), maar meer dikwels word die spot gedryf met die vertoon van geleerdheid in die moderne poësie.”

Olivier het sy resensie afgesluit: “LS is plek-plek ’n vreeslik moeilike digbundel; ’n mens sal jou waarskynlik beter in die Bybel en Bloemfontein moet instudeer om al Strydom se grappe onder die knie te kry. Hier is egter geen sprake van die soort moeilikheid en skyn-geleerdheid wat baie ander poësie verpes nie. LS is ’n botviering van taal. ’n Mens kan hier ‘huil van die lag’ al vermoed jy slegs wat aangaan.”

Lucas Malan het in sy resensie in De Kat (Junie 1989) van LS vlugtig verwys na Geleentheidsverse as ’n “debuut wat opgeval het vanweë sy tegniese versorging en die verbeeldingrykheid waarmee die woord se funksies en moontlikhede benut is. Dié eienskappe het Strydom moontlik te danke aan sy skoling by DJ Opperman, maar nietemin staan sy debuut as selfstandige stem uit bo talle ander debute in daardie periode.

“Vyftien jaar later kom terg Strydom ons weer met ’n bundel wat die volle neerslag van sy bemoeienis met die literatuurwetenskap en die jongste neigings in die literatuur weerspieël. Die ongewone, eiewyse manier van doen, begin al by die titel van die bundel: LS. Hierdie afkorting kan enersyds die outeur se voorletters verteenwoordig, en andersyds die Latyn vir ‘Heil die leser’ wees – ’n aanbod wat die ingewikkelde verhouding tussen outeur en leser in die eietydse literatuur-benaderings aktiveer.

“Hierby sluit ook ’n breë spektrum intertekste aan, soos die opdragverse aan DJ Opperman en TT Cloete, die supplement op WEG Louw se gelyknamige ‘Om boer te wees’ en die talle verse met Bybelse inhoude as voorteks. (…)

“Die bundel LS het ’n digte tekstuur en bevat heelparty gedigte wat hoë eise aan die leser stel (vergelyk ‘Gustav Vigeland’ en ‘/Man van God/’ wat vir hierdie leser enigmaties is). Dit is nietemin die soort bundel wat bewondering afdwing en dankbare stof vir gevorderde literatuurstudie bied – en ongetwyfeld die soort werk wat op erkenning aanspraak sal maak.”

In Volksblad (10 Desember 1988) was TT Cloete die resensent van LS: “Met hierdie titel,” het Cloete begin, “wat die leser aanspreek en wat tegelyk die voorletters van die skrywer is, begin die spelelement in die bundel reeds, en die dubbelsinnigheid, wat deurloop tot in die slotgedig.

“Om ’n term van Vestdijk te gebruik, sou mens dit in ’n groot mate as musiese poësie kon bestempel, of selfs as ’n musikale vers. Daarvan getuig die baie duidelike tendens tot die refrein en allerlei ander vorme van herhaling, die vlot ryme, binneryme, alliterasies, assonansies en die groot klankrykheid in die algemeen. (…)

“Wat die taalhantering betref, is die gedigte oor die algemeen baie vernuftig en sinryk. Ons het hier egter nie met ’n maklike vers te make soos dit gewoonlik die geval is met die baie klankryke gedig nie. Inteendeel, dit is eerder ’n moeilike vers, met baie verwysings wat nie maklik agterhaalbaar is nie, en met baie versteekte betekenisse.”

In sy In memoriam-huldiging skryf Bernard Odendaal op LitNet as volg oor Leon se twee digbundels: “Hoewel die gedigte in Strydom se twee bundels nie noodwendig konvensioneel van vorm is nie, is dit hoofsaaklik heg van konstruksie, en word dit gekenmerk deur ’n vindingryke spel met woorde en met die taalidioom. Sluimerende betekenisse en dubbelsinnighede, dikwels wat betref seksuele en bybelse tematiek, word sodoende in werking gestel. Treffend ontluisterende en antiklimaktiserende effekte word met die deureenskuiwing van verhewenhede en alledaagshede bereik. Hoewel nie intellektualisties nie, is sy poësie tog soms, weens die taalspelkenmerke en sekere moeilik agterhaalbare verwysings daarin, in bepaalde opsigte ontoeganklik. Die betekenis- en verstegniese rykdomme wat egter in baie van sy verse skuil, word beklemtoon deur die feit dat Ina Gräbe juis ’n gedig uit sý debuutbundel benut het om teoretiese aspekte van poëtiese taalgebruik en vormgewing te illustreer in ’n hoofstuk in Teks. Leser. Konteks. Gedigte ontleed volgens eietydse metodes (redakteur: Jan Senekal, 1986).” (Die gedig word in Sêgoed aangehaal.)

Leon het nog gedigte geskryf, maar in sy lewe het daar nie nog ’n digbundel uit sy pen verskyn nie. Hy het hom veral besig gehou met sy broer se kunsgalery wat hy in 1999 op George oorgeneem het, soos reeds vroeër in die album genoem. Leon het die galery in 2011 aan Frank Kilbourn en sy vennoot, Anton Taljaard, verkoop. Hulle het dit weer in 2013 verkoop aan Stephan Welz se vorige onderneming, Stephan Welz & Company. Die laaste uitstalling was die George 45, die 45ste Somertentoonstelling, in Desember 2013. Die galery het sy deure in Januarie 2014 toegemaak, skryf Marlene Malan in die George Herald.

Op Maandag 4 Januarie 2021 is Leon Strydom in die Medi-Clinic op George aan Covid-19 oorlede. Sy broer, Matthys, het aan die George Herald gesê dat hy in Desember 2020 siek geword het en in die hospitaal opgeneem is: “Sedertdien kon ons hom nie besoek of met hom kommunikeer nie. Ons het geen toegang tot hom gehad nie.”

Sy dogters het in ’n verklaring ná sy dood gesê sy liggaam was as gevolg van onderliggende gesondheidsprobleme nie sterk genoeg om teen die virus te baklei nie. “Hy was nie lank in die hospitaal nie en rustig tot op die einde. Baie dankie aan elkeen wat deel van sy lewe was. Ons sal hom verskriklik mis.” (LitNet)

Leon Strydom laat sy eksvrou, Marianne, en twee dogters, Magriet van der Vyver en Helena van den Berg (ook bekend as die skrywer Anna Emm), agter.

Huldeblyke:

  • Matthys Strydom: “Leon het oor jare een van die mooiste en beste kunsversamelings opgebou. Hy het ’n ruk gelede vir my gesê dat hy sy hele kunsversameling aan ’n universiteit bemaak het, maar ek weet nie of hy intussen sy testament verander het nie. Hy was ’n uiters private mens, veral in die laaste jare. Na my mening was hy een van ons mees vooraanstaande digters, maar het nie die erkenning vir sy poësie gekry wat hy verdien het nie.” (George Herald, 6 Januarie 2021)
  • Daniel Hugo: “Leon Strydom was een van die beste vernufsdigters in Afrikaans, al het hy net twee digbundels op sy naam. Hy was ook ’n groot kunskenner, soos sy broer, Matthys, en een van ’n hand vol akademici wat die vak literatuurwetenskap in Suid-Afrika gevestig het.” (George Herald, 6 Januarie 2021)
  • Clare Menck, kunstenaar, skryf in haar huldiging: “Jy het toe al vir ’n hele aantal jare een keer ’n jaar aan my deur op die Weskus se plattelandse dorpie kom klop om werk op te pik vir jou galery te George. Jaarliks het jy onderneem om kunstenaars in jou wye kring te kontak en dan het jy met jou vantjie uit George gery van ateljee tot ateljee en ek neem aan meer as net tee en kuns by almal ook gesoek: Jy wou voel jy is soos een van ons. Jy was een van die laastes: ’n ouwêreldse kunsconnoisseur, en een van die laaste oorblywendes wat nog huisbesoeke onderneem het. Watter voorreg, in die konteks van ons wêreldwye mensevermydende sosiale tendense tans. Dit was kos vir jou siel.” (LitNet, 7 Januarie 2021)
  • Bernard Odendaal: “Strydom was voorts ’n kunsliefhebber en -kenner van formaat. Ná sy aftrede uit die akademie in die laat 1990’s het hy dié kundigheid uitgeleef deur ’n kunsgalery te bedryf op George, die dorp van sy grootwordjare. Ek onthou hoe die aantekeninge wat hy geskryf het as inleiding tot ’n reeks skilderye deur Frans Claerhout, gepubliseer in die mooie boek Die sonnevanger (1983), my as ’t ware geleer het om met nuwe oë na sekere eienhede van my geboorteprovinsie te kyk, naamlik deur die oë van ’n begaafde Vlaamse boorling wat die grootste deel van sy volwasse lewe as Rooms-Katolieke priester in die Vrystaat deurgebring het. Mense wat Leon Strydom beter as ek geken het, bevestig my indruk dat hy ’n private, selfs inkennige mens was. Ek het al gewonder of dit nie aan hierdie persoonlikheidstrek toe te skryf is dat hy nie méér diep spore as die bovermeldes in die Afrikaanse letterkundewêreld kon trap nie. Ek meen dat TT Cloete iets raak gesê het in hierdie verband aan die slot van sy bespreking van Geleentheidsverse in Die Afrikaanse Literatuur sedert Sestig (1980): ‘Iemand wat van so baie geleenthede in die werklikheid sulke gedigte kan maak soos in hierdie debuutbundel staan, het baie versmoontlikhede.’ Die verwerklikte moontlikhede van sy lewe en werk wat wel nagelaat is, koester ons met bewondering en dankbaarheid.” (LitNet, 7 Januarie 2021)
  • Hanli Meyer, ’n vriendin in George, onthou hom as ’n bobaasstorieverteller. “Hy kon die wonderlikste stories uit sy kinderdae opdiep. Een wat uitstaan, is oor hul kampeervakansies op Buffelsbaai – volgens Leon geen vakansie vir sy ma nie. As ywerige hengelaars het sy pa en broers heeltyd visgevang, terwyl sy ma deurentyd vis moes gaarmaak en inlê in die tent. In sy stadige trant sou hy dit afsluit deur te sê: ‘My ma het nooit vakansie by die see gehou nie.’” (LitNet, 7 Januarie 2021)
  • Nelia Richter: “Dwarsdeur die inperking het hy sin en struktuur verskaf deur skakels na aanlyn konserte en klassieke boeke wat aanlyn beskikbaar gestel is, en hy het ’n versugting gehad na letterkunde wat terapie onder die omstandighede kan verskaf in die gees van Boccaccio se Decameron se 100 stories van 10 vlugtelinge oor 10 dae wat hulle isoleer, waarna die ergste van die pes verby blyk te wees.

“By die laaste geleentheid waar ek hom gesien het, ses maande voor die inperking, het hy losgetrek met ’n vertelling oor navorsing oor begrafnisse, verassing, kiste en buitensporige pryse. Toe iemand verbaas vra waarom hy dit doen, het hy bloot gesê dit is belangrik om gereed te wees.

“Dit was ’n uitgerekte kuier en niemand wou loop nie. Leon het tot heel laaste bly talm, want hy het duidelik iets op die hart gehad. In swaar reën is ons na sy bakkie, waar hy in ragfyn papier ’n linosnee van Eleanor Esmonde-White oorhandig aan my dogter na die afsterwe van haar pa. Later skryf hy: ‘Ek hoop die houtsnee in haar kamer sal met verloop van tyd die wêreld bietjie laat uitdy vir Gretha.’ Vir haar en heelwat meer het hy vir ’n ruimer, veelkantiger en interessanter wêreld gesorg.” (LitNet, 7 Januarie 2021)

  • Matthew Partridge, ’n senior kunsspesialis Strauss & Co, wat die Strydom-versameling gekatalogiseer het: “Throughout his life as an academic, Professor Strydom had consistently surrounded himself by art and artists. The gallery provided him with a means to formalise this passion. He would famously drive from province to province in his bakkie, visiting artists and sourcing work for the gallery. Strydom gained a unique insight that he would later share with blossoming collectors, among them Strauss & Co’s future chairperson, Frank Kilbourn.” (Daily Maverick, 6 Augustus 2021)

Teen die einde van 2023 is Leon Strydom se volgende digbundel postuum uitgegee deur Imprimatur onder die titel mensig. Sy dogter en Retha Smit, Leon se suster, se seun het op die gedigte afgekom toe hulle sy huis skoongemaak het.

Martjie Bosman, uitgewer by Imprimatur, vertel meer oor die ontstaan van mensig: “Op Leon se rekenaar was ook ’n brief wat hy geskryf het aan een van sy geliefde kunstenaars. Daarin het hy gevra of die persoon te vinde sou wees om die omslag te ontwerp. Hy het die eerste twee en laaste twee gedigte met titels, asook die buiteblad se titel aangeheg om die regte gevoel te probeer aandui.

“Die keuse van die kunswerk op die voorplat was die digter s’n, en (die kunstenaar) Nel Erasmus het goedgunstiglik ingestem dat dit gebruik mag word. Die draaiende beweging van die geïsoleerde mensfiguur pas na my gevoel perfek by die titel.”

Strydom se suster, Retha, het vir professor Ina Wolfaardt-Gräbe oor die gedigte geskakel en dit was sy wat hulle na Imprimatur verwys het.

Die gedigte was met die hand geskryf en Martjie Bosman vertel dat dit nogal moeilik was om te ontsyfer: “Die meeste gedigte was heel leesbaar, maar enkeles het nogal tot ’n heen en weer skrywery gelei, en een woord kon ons glad nie ontsyfer nie. Dit is uiteindelik gepubliseer net soos dit in die manuskrip lyk.

“Die 34 kort verse, sommiges net twee reëls lank, het by rustige deurlees die deurslag gegee: Dit is vintage Strydom: kripties, veelduidig, met verwysings na die klassieke en die Bybel, vol woordspelings en onverwagse rym.”

Bosman wou dit publiseer, maar daar was nie genoeg verse vir ’n volledige bundel nie; dus is daar besluit om twee nawoorde in te sluit: een deur Wolfaardt-Gräbe en die ander deur Bernard Odendaal.

Bosman brei bietjie verder uit: “Omdat Leon Strydom se vorige bundels so lank gelede, meer as 30 jaar, verskyn het, het ek en Retha Smit vir prof Ina Wolfaardt-Gräbe gevra om ’n nawoord te skryf. Sy het in haar bydrae die lig laat val op Leon Strydom as akademikus, en het aanbeveel dat prof Bernard Odendaal oor Strydom as digter skryf, wat as tweede nawoord in die bundel ingesluit is. Dit is effens ongewoon, maar ek glo tog dat dié twee bydraes baie waardevol is: Ina s’n om ’n era te belig waarin die literatuurwetenskap in Suid-Afrika ’n hoogbloei beleef het en waarin Leon Strydom ’n groot rol gespeel het, en Bernard s’n as gids tot die verbluffende woordvernuf van Leon Strydom.” (Netwerk24, 30 Desember 2023)

Op Netwerk24 (10 Julie 2023) skryf Neil Cochrane só oor mensig: “Die waarde van ’n postume digbundel kan nie onderskat word nie. Dit ontruk nagelate werk aan die vergetelheid, lei tot ’n herwaardering van die digter se oeuvre en beskik oor ’n belangrike sluitingsfunksie. Ek dink net dat dit in dié geval beter sou gewees het om ’n versamelbundel te publiseer wat die vroeëre twee bundels en die nagelate werk bevat. Dan kan die leser ’n beter geheelindruk van die oeuvre vorm en kan die vroeëre werk weer nuwe asem kry omdat dit tans moeilik verkrygbaar is.

“Maar terug na die nagelate verse. ’n Uitstaande kenmerk van die verse is die weldeurdagte hantering van vorm, inhoud en digterlike tegnieke wat veral in die kwatryne opmerklik is. Kripties, gekondenseerd en afgerond.

“Hier is geen sprake van ellelange gedigte wat nêrens heen lei nie. Op die oog af lyk die gedigte bedrieglik eenvoudig, maar dit is eintlik redelik kompleks met ’n ryk netwerk van moontlike betekenisassosiasies. (…)

“Met mensig bevestig Strydom sy vakmanskap, maar terselfdertyd sluit die bundel ook sy beskeie oeuvre af. Dit laat enersyds ’n bittersoet indruk, want ’n mens wonder of daar meer gedigte sou wees indien Strydom langer geleef het.

“Andersyds lewer die beperkte aantal nagelate verse steeds ’n definitiewe bydrae. Die waarde van Strydom se digkuns word gemeet aan kwaliteit en nie kwantiteit nie. Die Afrikaanse poësie word óók verryk deur digters soos Strydom met minder openbare aanhang en ’n kleiner aanbod.”

Joan Hambidge skryf op Versindaba: “Daar is min verse, maar dit neem jou terug na die hele oeuvre. Jy maak ’n bestekopname en wens daar was tog meer gedigte in hierdie bundel. (…) Party digters dig met ’n suinige hand; ander gee vir ons ’n stortvloed van woorde, meen hierdie leser. Die dank is groot aan Imprimatur.”

In Augustus 2021 is Leon Strydom se kunsversameling deur die kunsafslaer Strauss & Co opgeveil. Dit het werke van Maggie Laubser, Robert Hodgins, Irma Stern en Alexis Preller ingesluit. Oor haar pa se aandeel aan die destydse Strydom-kunsgalery het sy dogter, Anna Emm, aan Netwerk24 vertel: “My oom en my pa het baie saam na kunstenaars gegaan om kuns uit te soek. My pa het altyd op die kant gehelp, geadviseer en nuwe kunstenaars vir die galery gesoek. My pa was altyd op soek na simboliek en het geglo ’n goeie kunswerk moet jou ’n bietjie ‘pla’. (…)

“Hy het met dissipline, geduld en ’n fyn oog oor die jare sy kuns versamel. Hy het my op ’n slag aan Robert Hodgins voorgestel. Hy het werke gekoop wat hom gekonfronteer het – daar moes ’n misterie aan die werk wees. Dit was nie net omdat dit iets mooi is nie.”

Begin

​toe hulle begin​
​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ sien sy dit al​
​ ​ ​ ​ die reën wat neerstuif in die dal​
toe hulle begin​
​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ die moer wat stoel​
​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ botsels wat die wind bevoel​
​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ ​ en vrugte wat broei oor die bron​
​ ​ ​ ​ goudgeel vrugte versonke in die son​
toe hulle begin​
voel hy iets ouds​
wurm tussen hulle in​

(Leon Strydom, Groot Verseboek 2000, p 604)

Publikasies

Publikasie

Geleentheidsverse

Publikasiedatum

1973

ISBN

9780798103213 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 1974 Eugène Marais-prys
  • 1975 Ingrid Jonker-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Strydom bring beroering in Afrikaanse poësie. Die Burger, 10 Januarie 1974
  • Cloete, TT: Nuwe digbundels V. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1974
  • Steenberg, DH: Nuwe boeke. Die Vaderland, 16 Augustus 1974

 

Publikasie

Oor die eenheid van die digbundel: ’n Tipologie van gedigtegroepe

Publikasiedatum

1976

ISBN

0868740063 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Letterkundige kritiek (tesis)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Frans Claerhout: Die sonnevanger = Frans Claerhout: Catcher of the sun

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022935 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

LS

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798124547 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT: ’n Heel besonderse bundel. Volksblad, 10 Desember 1988
  • Hambidge, Joan
    • Bundel is vol ironie, grappe en parodieë. Beeld, 19 Desember 1988
    • Elke gedig het tog sy voetnoot [Kopstukke]. Beeld, 8 Februarie 2003
  • Leon Strydom maak weer so. Die Burger, 13 September 1988
  • Liebenberg, Wilhelm: Sonder geloof bly woord morsdood. Vrye Weekblad, 21 April 1989
  • Malan, Lucas: ’n Ongewone manier van doen. De Kat, Junie 1989
  • Olivier, Gerrit: ’n Botviering van taal. Die Burger, 19 Januarie 1989
  • Skugter digter verras weer. Beeld, 15 September 1988
  • Van Niekerk, Marlene: Drie digters. Die Suid-Afrikaan, Februarie 1989

 

Publikasie

mensig

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780639769790 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Imprimatur

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor en deur Leon Strydom

Leon Strydom se ATKV-skrywersalbum is oorspronklik op 2024-02-26 gepubliseer.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top